Operasangeres Lynelle Kenned gesels oor veelsydigheid in die kunste

  • 0

Lynelle Kenned (Foto: Verskaf)

Lynelle Kenned is vereer met die Kunste Onbeperk- en KKNK-toekenning vir ’n jong stem, en veelsydig is daardie stem beslis!

Nie net is Lynelle ’n operasangeres nie, sy is ook ’n musiekteaterkunstenaar, aktrise, aanbieder, oorklankingskunstenaar en motiveringspreker. Sedert sy haar studie voltooi het, het sy gou opgang gemaak met rolle in operas en musiekspele.

Boonop is sy al vereer met pryse soos ’n Fleur du Cap, ’n Naledi en ’n kykNET-Fiësta.

By vanjaar se KKNK het sy die stuk 1/1 Lynelle Kenned debuteer waarin sy die vergestalting van vrouwees en menswees verken.

Sy vertel meer oor liefde vir haar die kunste.

Lynelle, jy het die Kunste Onbeperk-prys vir "jong stem" ontvang – wat beteken dié toekenning vir jou?

Dit was ’n groot verrassing, maar ook ’n wonderlike validation dat my werk ’n impak het. Ek kom al hoe meer agter dat representation saak maak – ek kon nie as kind droom van hierdie uiteenlopende loopbaan nie, omdat ek geen blootstelling daartoe gehad het en iemand soos ek verteenwoordig gesien het nie. But we are becoming the change we want to see in the world, om vir die volgende generasie te bemoedig dat hulle ambisies geregverdig is.

 

Lynelle Kenned by die toekenningsgeleentheid (Foto: Naomi Bruwer)

Jy sing opera – van waar jou liefde vir opera?

Opera het gekom van my liefde vir die stem as instrument, my liefde vir musiek, vir storievertel, vir teater. My eintlike eerste liefde was vir koorsang – gewyde musiek, klassieke musiek. Daar is ’n eerlikheid en ’n skoonheid wat deurstraal in daardie kunsvorme.

Behalwe dat jy opera sing, is jy ook onder andere musiekteaterkunstenaar, aktrise, aanbieder, oorklankingskunstenaar en motiveringspreker. Jy is taamlik veelsydig! Is dit vir jou belangrike om veelsydig te wees en verskillende passies na te streef?

My veelsydigheid is eintlik as gevolg van my ewige rusteloosheid en nuuskierigheid. Ek het geluk aan my kant – al die nuwe dinge wat ek oor die jare aangepak het, is komplementêr tot mekaar. Ek vind hoe meer ek as kunstenaar verbeter, hoe beter is ek as aanbieder, aktrise, MC. Maar loopbaan opsygesit, my menswees en my lewenservaringe is vir my die belangrikste – om bande te vorm, om te reis. My loopbaankeuses maak hierdie geleenthede moontlik.

Lynelle Kenned ontvang haar toekenning (Foto: Naomi Bruwer)

Vertel meer oor jou betrokkenheid by vanjaar se KKNK – waarmee was jy alles doenig daar in Oudtshoorn?

Vanjaar was my vyfde KKNK. Sedert 2005 het ek al backing vocals vir Randall Wicomb gedoen, met die SA Soprane opgetree, in Heidi die rol van Klara vertolk, kom MC en onderhoude voer. Vanjaar was die debuut van my eerste eenpersoonsvertoning, tesame met ’n optrede op die hoofverhoog in die Kuier-buurt met Jannie Moolman, Corlea, Craig Lucas en die Soweto String Quartet.

Wat is jou raad vir ander jongmense wat graag ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf wil volg?

Meer as enigiets, maak seker dat jou loopbaan nie jou lewe word nie – die bedryf is te onvoorspelbaar en wreed. Kies ’n leefstyl wat jy graag wil hê, en neem besluite rondom dit. Ja, daar is kunstenaars wat meer ambisieus as ek is, maar my sukses lê in my geluk. En ek was nog nooit so gelukkig, rustig en gestimuleerd as wat ek nou is nie. Vanuit hierdie gevoel is enigiets moontlik. Be bold and be flexible enough to keep reinventing yourself.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Reis, groter projekte, meer kreatiwiteit. Ervaringe, vreemd en uitdagend. Meer selfontdekking en dankbaarheid.

Lynelle Kenned sing by die toekenningsgeleentheid (Foto: Naomi Bruwer)

...........................................

Lynelle Kenned het in 2010 haar studie aan die Operaskool van die Universiteit van Kaapstad voltooi en sedertdien die vermaaklikheidsbedryf op horings geneem. Sy was al in verskeie verhoogproduksies te sien, en ook onlangs in die rolprente Twee grade van moord, Wonderlus en Playboyz. Sy was ook al aanbieder op onder andere Pasella, Jý Geld en 123 Fixit op Via.

Lees ook

"Bizzie Lizzie" vereer vir diens aan die kunste

Amanda Strydom vereer vir lewenslange bydrae tot musiek

Playwright Athol Fugard receives award for lifetime contribution to theatre

Foto's: KKNK25 word bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top