Amanda Strydom vereer vir lewenslange bydrae tot musiek

  • 2

Amanda Strydom (Foto: Merwelene van der Merwe Photography)

Amanda Strydom is onlangs met die Kunste Onbeperk- en KKNK-toekenning vir lewensbydrae tot musiek vereer vir haar dekades lange loopbaan as teks- en liedjieskrywer, komponis, sangeres en aktrise.

Sedert 1986, toe sy ’n "skandaal" ontketen het deur met gebalde vuis die swartmag-teken te gee tydens ’n kabaretopvoering, het haar loopbaan van krag tot krag gegaan. Vanjaar vier "Amandla Amanda" haar 40ste jaar in die bedryf en 25ste optrede by die KKNK, waar haar produksie Miss Mandy debuteer het.

Sy vertel meer oor haar loopbaan.

Amanda, jy het die Kunste Onbeperk-prys vir lewensbydrae tot musiek ontvang – wat beteken dié toekenning vir jou?

Dit is uiteraard ’n groot eer vir my, wat nie ’n noot musiek kan lees nie, nie ’n instrument kan speel nie en geen sangopleiding het nie.

Hoekom musiek? Waar kom jou liefde vir musiek vandaan?

Ek is ’n aktrise wat kan sing. Ek het my graad in drama in 1978 aan die Universiteit van Pretoria ontvang en is onmiddellik aangestel by die destydse Kruik se hooftoneelgeselskap. Ek was van kleins af lief vir musiek en het ’n paar klavierlesse geneem, maar het klaaglik misluk, omdat ek nie die note kon lees nie. Ek het op gehoor gespeel en toe die juffrou my uitvang, het sy my oor die kneukels gewiks met ’n liniaal en dit was die einde van my loopbaan as pianis. Mamma het my toe vir dramaklasse ingeskryf en ek het tot in matriek naskools by tannie Mari Mocke se Dramaskool en Kinderteater opleiding gekry. Ek het gesing in die kerk, in die skoolkoor en later op skool- en kerkkampe. Dit was vir my heerlik om te sing, maar ek het nooit gedroom dat ek ’n loopbaan in musiek sou hê nie. Nou kan ek my skaars ’n lewe sonder musiek voorstel.

Amanda Strydom ontvang haar toekenning (Foto: Naomi Bruwer)

As jy nou vinnig moet dink, wat is van die hoogtepunte van jou loopbaan wat vir jou uitstaan?

Daar is so baie, maar ek sal probeer. Die rol van die Poolse sangeres Elzbietha Karski in die dramareeks 1922, Hennie Aucamp se kabaret Met permissie gesê, die drama Voor ek vergeet met Hannes van Wyk, my optredes in Nederland van 2007 tot 2013, die Misa Criolla en Navidad Nuestra van Ariel Ramirez met die Puk-koor en die Libertaskoor olv onderskeidelik Awie van Wyk en Johan de Villiers. My ontmoeting met Nelson Mandela by die KKNK 2001. Elke nuwe vertoning wat ek jaarliks aanpak, is vir my ’n hoogtepunt.

Wat is van die belangrikste lesse wat jy oor die jare geleer het met betrekking tot jou loopbaan?

Minder is meer.

Die wêreld draai nie om my nie.

Ek kan net myself wees.

Dra plat skoene.

Amanda, wat is in die pyplyn vir jou vir die res van die jaar?

Die Oppiwater Kunstefees is volgende. Ek en my pianis, Coenraad Rall, doen my bekende State of the Heart, asook Amanda Strydom in konsert. My produksie Stadig oor die klippers, wat vanjaar met die Fiësta-toekenning bekroon is, sal by die Vrystaatfees in Julie te sien wees. My nuwe produksie, Miss Mandy, is in Augustus by Die Boer. Ons hoop om Miss Mandy vanjaar ook na Aardklop te bring.

Amanda Strydom sing na afloop van die toekenningsgeleentheid (Foto: Gerrit Rautenbach)

...........................................

Gebore en getoë in Port Elizabeth. Amanda Strydom ontvang in 1978 haar graad in drama aan die Universiteit van Pretoria. In 1979 skryf sy haar eerste liedjie, “Ek loop die pad”, en in 1981 verskyn sy ook vir die eerste keer op die verhoog as aktrise in Hennie Aucamp se kabaret Met permissie gesê by die Johannesburgse Markteater. Tot op hede het sy geen formele musiekopleiding gehad nie en kan sy nie musiek lees nie.

Lees ook 

Playwright Athol Fugard receives award for lifetime contribution to theatre

"Bizzie Lizzie" vereer vir diens aan die kunste

Foto's: KKNK25 word bekendgestel

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    'n Ikoon met onbeperkte talent. Enige iets of toekenning wat Amanda ontvang is of sal welverdiend wees.

  • Avatar
    Herman Meulemans

    Vanaf de eerste keer dat ik haar Pelgrimsgebed hoorde – over Vader God, Moeder God, pelgrims en zwervers – nu toch enkele jaren geleden, ben ik grote fan geworden Amanda Strydom. Haar poëtische taal roept bij mij de Mauthausen-liederen van Mikis Theodorakis op. Amanda Strydom is een grande dame, een kleinkunstenares van het topniveau van Liesbeth List. Strydoms sensuele stem, die soms aanvoelt alsof ze opstijgt uit een diepe spelonk, soms de zachtheid zelve is, doet me denken aan Marlene Dietrich. Wat een mysterieuze uitstraling toch heeft Amanda Strydom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top