"Bizzie Lizzie" vereer vir diens aan die kunste

  • 0

Lizz Meiring (Foto: Verskaf)

Lizz Meiring, aktrise, komediant, skrywer, dramaturg, regisseur, is onlangs vereer met die Kunste Onbeperk- en KKNK-toekenning vir diens aan die kunste. Die KKNK vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.

Sy staan nie verniet bekend as "Bizzie Lizzie" nie, want na 35 jaar in die bedryf is sy besiger as ooit!

Sy is ook betrokke as raadslid by die Teaterbystandsfonds, ’n hulpfonds wat op die behoeftes van mense fokus wat in die vermaaklikheidsbedryf gewerk het en hulle finansieel ondersteun.

Lizz, jy het onlangs die Kunste Onbeperk-prys vir diens aan die kunste ontvang – wat beteken dié toekenning vir jou?

Weet jy, ek is baie dankbaar daarvoor en ek is dankbaar vir die erkenning. Die groter betekenis van die toekenning vir my is dat ons bewustheid kan skep van die kunste en dat mense regtig in nood is, asook wat hulle behoeftes is. As dít dan ’n bewustheid van die Teaterbystandsfonds kan skep, dan is dit vir my baie belangriker as wat dit iets persoonlik vir my is.

Van waar jou liefde vir die kunste?

Dis geneties. Dis in my DNS, ek is daarmee gebore. Ek het ouers gehad wat my bewus gemaak het van die kunste van jongs af. Letterkunde, teater, argeologie, mitologie, argitektuur, geskiednis, visuele kuns, ballet, drama, musiek… My ouers het al daai dinge in my wakker gemaak, dis die gesin waaruit ek kom. My ouers het nie beroepe in die kunste gehad nie, maar soos ander mense dalk langs die rugbyveld of in die wildtuin grootgeword het, het ek grootgeword met ’n liefde vir die kunste.

Die Kunste Onbeperk-prys vir Diens aan die Kunste is toegeken aan Lizz Meiring (Foto: Naomi Bruwer)

Lizz, jy staan nie verniet bekend as Bizzie Lizzie nie – waar kry jy die tyd vir alles wat jy aanpak?

Mens maak tyd vir dit wat jou hartstog is. HARTSTOG. Die korrekte word is hartstog, nie passie nie. Passie beteken “lyding”. Dit kom van passione, Italiaans en Latyn. Wanneer iets ’n mens se prioriteit is, wanneer dit jou suurstof is, is dit jou hartstog en maak jy tyd daarvoor. Die dinge wat ek aanpak, is my suurstof, my asemhaal – hoe sal ek nie tyd hê om asem te haal nie?

Wat is jou raad vir mense wat ’n loopbaan in die kunste wil volg?

Eerstens, sorg dat jy ordentlik formeel opgelei word. Jy moet ’n alfabet hê – daar is nie ’n if what of ’n maybe daaroor nie. Hou aan nuuskierig bly, hou aan waag, hou aan skep, hou aan werk en moenie dat enigiemand jou afsit nie. Moet jou nie steur aan hierdie nonsens van "dis nie ’n veilige beroep nie”, want wat is dan nou vandag kamstig ’n veilige beroep? Maar doen dit om die regte redes. Doen dit om kreatiwiteit te dien en jou kunsvorm te dien, nie vir hierdie celebrity nonsens nie, want dan doen jy dit vir die verkeerde redes.

...........................................

Lizz Meiring is afkomstig van Pretoria en ontvang in 1983 haar graad in drama aan die Universiteit van Pretoria. As student doen sy reeds radiowerk en TV-werk vir die SAUK, en verskyn in verhoogproduksies by Truk. In haar 35 jaar in die bedryf verskyn sy onder meer in talle verhoogproduksies, televisiereekse en rolprente. Sy vestig haarself ook as skrywer, regisseur en vervaardiger. Vir meer inligting oor die Teaterbystandsfonds waarby sy betrokke is, besoek hulle webwerf.

Lees ook

Amanda Strydom vereer vir lewenslange bydrae tot musiek

Playwright Athol Fugard receives award for lifetime contribution to theatre

Foto's: KKNK25 word bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top