Persverklaring: Suidoosterfees 21 – hutspot van eg Kaapse musiek en stories

  • 0

Foto’s uit Roem, Karamonk en Twak: verskaf

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgermeester, beskryf die Suidoosterfees as die Moederstad se “hutspot van talent” waar kunstenaars van verskeie dissiplines elke jaar sorg vir ’n onvergeetlike ervaring.

Kaapstad is reeds vir 21 jaar die Suidoosterfees se tuiste, en die fees vier sy mondigwording van 26 April tot 1 Mei by Artscape in die hart van die Moederstad. Stories, mites en die geskiedenis van die Kaap word met musiek en komedie vermeng op vanjaar se NATi Musiekteaterprogram, en feesgangers kan hulle verlustig in ’n kreatiewe herverbeelding van die stad se geskiedenis.

In Twak: Van Hunks, die Duiwel en ander twak, kom bekende historiese en fiktiewe figure uit die Kaap se geskiedenis bymekaar vir ’n hoogs vermaaklike vertoning. Die kettingroker Van Hunks is op die verhoog, en ook Jan van Riebeeck en Herrie die Strandloper. En natuurlik die ou Duiwel self.

In ’n herinterpretasie van die legendariese rookkompetisie tussen Van Hunks en die Duiwel, wat daartoe lei dat Tafelberg in ’n wolkkombers gehul is, wedywer dié bekende karakters opnuut op die Suidoosterfeesverhoog. Dié keer meet hulle kragte vir ’n gesogte Clifton-erf as prys. Terwyl hulle mekaar al stokend opdreun, kom krap ’n rits ander karakters sake verder deurmekaar, onder meer Van Riebeeck, Herrie, ’n Kaapse Klops, ’n bergie en ’n blommeverkoper.

Hierdie komiese musiekteaterproduksie, wat deur die Johann Brink Trust ondersteun word, is deur Johan Falck bedink, Francois Toerien het die teks geskryf en Frazer Barry is verantwoordelik vir die musiek. Basil Appollis, Deon Lotz, Nicole Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Gary Naidoo, Liandé Valentyn, Frazer Barry en Deniel Barry is almal op 28 en 30 April, en op 1 Mei op die feesverhoog.

Nog ’n musiekteaterproduksie wat Suidoosterfeesgehore gaande gaan hê is Roem: die musiekblyspel. Deon Meyer en Coenie de Villiers se kreatiewe kragte is die fondament waarop dié produksie gebou is. Roem is ’n verhaal wat wegspring in die Karoo en uitspeel in die glans van die grootstad se liggies.

Van die land se heel beste akteurs en musikante is in Roem op die verhoog: Anrich Herbst, Eldon van der Merwe, Daneel van der Walt, Nelandi Boshoff, Ryan Truter en Blake Hellaby. Die regie word deur Nicole Holm behartig, terwyl Coenie de Villiers vir die musiek sorg. Ná De Villiers en Meyer se ongelooflike sukses met hul Karoo Suite-vertonings, is daar eenvoudig geen keer aan dié geniale tweemanskap se drif en ywer nie.

Roem is ’n KKNK-produksie en word by die Suidoosterfees aangebied met die ondersteuning van NATi, Hombrew Films en Netwerk24. Kaartjies kos R130 en vertonings vind plaas op 25 en 27 April, en op 1 Mei.

Bianca Flanders se splinternuwe eenvrouvertoning Karamonk maak sy buiging by vanjaar se fees. Dié “kabaret waarin genres verbuig en versmelt” word, beloof “kontemporêre skryfwerk en heerlike visuele oordaad”. Die gevierde Jemma Kahn is in die regisseurstoel en die teks is saamgestel uit die skryfwerk van Ronelda Kamfer, Megan Choritz, Mikayla Brown, Jemma Kahn, Daneel van der Walt, Tertius Kapp, Lebogang Mogashoa en Bianca Flanders.

Met die wenkombinasie van uitstekende skrywers, ’n liefling-aktrise op die verhoog en ’n briljante regisseur, is Karamonk iets om nie mis te loop nie. Die première vind op 26 April om 16:30 plaas, en daar is ook vertonings op 28 April en 1 Mei.

Die NATi Musiekteaterfees is een van drie afdelings van die Suidoosterfees se musiekprogram. Nog opwindende produksies in verskeie genres is gelys in die Musiek- en Fluweelklanke-segmente van die program. Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.com. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.

Klik hier om vanjaar se volle program af te laai.

Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top