Muzukidz is ’n groep vioolspelende skoolkinders wat op 2 Maart 2024 as openingskunstenaars direk voor die Wynlande Filharmoniese Orkes-uitvoering in die Endlersaal in Stellenbosch opgetree het. Naomi Meyer het Maria Botha, hul vioolonderwyseres, se telefoonnommer in die hande gekry. Vrae is gestuur en Maria het die antwoorde in die vorm van stemboodskappe verskaf.
Maria, ek het jou violiste nou die aand in die Endlersaal hoor speel en jy kon aan die gehoor se staande ovasie sien dat almal deur hul spel verower is. Ons is almal uitgehonger vir positiewe stories in die land; vertel asseblief waar Muzukidz begin het? En wie is jy, wat is jou agtergrond en hoe is Muzukidz gebore?
My agtergrond … Ek het jare lank oorsee gebly voordat ek teruggekom het Suid-Afrika toe. Ek is in 1984 uit die land … uit Pretoria, waar ek grootgeword het … en het vir amper 23 jaar in Frankryk gebly. Ek het grootgeword met ’n viool en het in die buiteland verdere opleiding in musiek ontvang.
Ek het opleiding gekry by Master Teacher and Teacher Trainer Christophe Bossuat, die hoof van die Suzuki Institute in Lyon, Frankryk. Ek het van 1998 tot 2006 by hom studeer. Ek kry steeds opleiding by hom. Dit sal lewenslank gebeur, tot hy nie meer viool kan speel nie.
Ek het in 2006 teruggekom na Suid-Afrika. Ek was baie verbaas om te sien hoe verskil privaat- en openbare skole. Toe ek uit die land was, was privaatskole nie so duur nie. Ek kan nie eens onthou dat daar veel privaatskole bestaan het toe ek weg is uit die land nie! Toe ek weg is uit die land, en in my eie kinderdae, was daar nog nie so baie privaatskole nie. Selfs die privileged community het na openbare skole gegaan. Toe voel dit vir my toe ek terugkom … so baie wit kinders is nou in duur, privaatskole. Ek sien omtrent al die wit kinders in privaatskole en hoofsaaklik swart kinders in openbare skole. Natuurlik is daar uitsonderings, maar dit was my waarneming toe ek terugkom as ma met twee kinders wat op soek was na skole.
Ek was betrokke by die Kaapstadse Filharmoniese Orkes toe ek terugkom. Toe moes ek ’n township outreach doen vir die Kaapstad Filharmoniese Orkes, en dit het geloop van 2009 tot 2015. Ek het baie gou uitgevind dat die vlak van onderrig in sekere openbare skole baie laag is. Ek het vir my eie musiekleerlinge begin soek na skole – dis nou die kinders uit townships. Ek wou hê my musiekleerlinge moet skoolonderrig van ’n hoë gehalte ontvang. Dit het vir my baie duidelik geword dat die kinders uit townshipskole baie kere onderrig van ’n baie swak gehalte ontvang. Ek het besef dat as ek vir my musiekleerlinge tafels vra of sekere leesvaardighede toets, hulle nie in staat is daartoe nie. Maar hulle is slim kinders en musikaal ook!
Ek het Muzukidz begin omdat ek voel al die kinders in hierdie land, kinders vanuit alle agtergronde, het onbeperkte potensiaal. Dit moet ontsluit word. Die kinders kan dit in die lewe maak as hulle wel goeie onderrig kry. Ek wou hulle in alles kon onderrig.
........
My gedagte was nie om kinders in townships te red nie. Hulle het as mense dit nie nodig om gered te word nie. Hulle beskik reeds oor al die potensiaal waaroor mense in beter omstandighede beskik. Baie mense in townships woon wel in omstandighede van geweld of stadige geweld … slow violence. My visie was my viool.
........
My gedagte was nie om kinders in townships te red nie. Hulle het as mense dit nie nodig om gered te word nie. Hulle beskik reeds oor al die potensiaal waaroor mense in beter omstandighede beskik. Baie mense in townships woon wel in omstandighede van geweld of stadige geweld … slow violence. My visie was my viool.
Maar ek is nie ’n onderwyser wat ander vakke gee as net musiek nie. Ek kan ongelukkig nie ’n skill develop met iets anders as met ’n viool nie. Maar dis tog ’n skill, ’n vaardigheid, is dit nie? En as ek met ’n viool dit kan regkry, dan kan ek aan iéts aandag gee.
Omdat hulle nie goeie onderwysers kan kry akademies nie, kon ek my toespits op die viool. As hulle die beste onderwysers kry vir ten minste één aspek ...? Dis wat ek gedink het. En my talent is viool. En as ons van die standpunt af uitgaan dat alle kinders gelyk is en ons gee vir hulle die beste, dan gaan jou resultaat die beste wees … Kom ons kyk wat gebeur as ek vir hulle die heel beste vioolonderrig gee.
Die kinders wat julle hoor speel het nou die aand in die Endlersaal, is kinders uit bitter swak omstandighede wat baie goeie onderrig ontvang het. En wat al jare lank hard werk.
Hoe het jy geweet waar om die kinders te kry – kinders in townships wat viool wou speel? Of kón speel?
Ek was vyf jaar aan die hoof van die Cape Philharmonic Outreach, en daar was kinders wat reeds gekies was om musikante te wees. Dit was my eerste blootstelling aan musikante van die townships. Dis nou net toe ek teruggekom het van Frankryk af. Party van daardie kinders het al op negejarige ouderdom ongelooflike trauma beleef. Maar … ek het te danke aan die Cape Philharmonic besef watter potensiaal daar in die kinders is en hoe ongelooflik hulle is.
En ek het op ’n sekere tyd besef ek gaan meer kan bereik as ek op my eie werk. En as ek elke … ingredient … gebruik wat ek tot my beskikking het, gaan ek ’n ongelooflike resultaat kry. Ek wou die kinders kry terwyl hulle nog baie klein is. Twee jaar, drie jaar oud. Ek het in 2015 Muzukidz op my eie begin. Toe weet ek reeds hoe dit in baie van die kinders se lewens afspeel. Ek kon dit begin met ’n volle begrip van wat hul waarde is, ook waarmee hulle sukkel … die armoede.
Om viool te speel is baie moeilik. Jy moet maar agt of tien jaar wag om deur die leer van viool die resultaat te laat sigbaar word. Dis ’n lang tyd. Mens moet lank wag, en baie speel en baie leer en hard werk. Maar die resultaat is … jy kan nie glo nie. So ek kan sien … ek kan dit nie iets anders noem nie … daar is ’n total transformation of lives. Waar ek nou is. Jy begin met kinders so jonk soos hulle kan. Ek het gesien hoe die kinders hulle passie begin uitleef. Party van hulle peer group (die kinders van nou die aand … jy kon sien hulle is so 13 of 14 jaar oud) is verwagtend of op dwelms. Maar baie van die ander kinders wat nou in my groep is, het iets anders geword.
Education is … dit neem tyd. Dis nie ’n quick fix nie. Maar ek het geweet … as ek vir Suid-Afrika kan wys dat ’n townshipkind met die beste onderwys met die absolute toewyding en tyd om … enige skill for that matter … te wys, dan kan mense dalk anders dink.
Townshipkinders kom uit ander wêrelde. Dis hulle huis. Dis die plek waar hulle grootword. Waar hulle ouers is. Dis nie vir my om te sê kinders moet weggaan uit ’n township nie. Maar die standaarde van onderrig in die townships wat ek gesien het, is haglik. En baie kere kan dit baie gevaarlik wees in ’n township ook.
........
Ek het Muzukidz begin uit ’n soort woede vir die situasie. Al die ongelykheid in die land. Die armoede van baie mense.
........
Ek het Muzukidz begin uit ’n soort woede vir die situasie. Al die ongelykheid in die land. Die armoede van baie mense.
Sommige van die kinders se ouers is huiswerkers … baie van hierdie ouers is enkelma’s … hulle kan nie behoorlike onderwysers bekostig nie. ’n Huishulp, soos wat sommige van die ouers is, verdien R3 000 per maand. Hulle het soms drie of vier kinders in die skole. Dit kos hulle R100 per kind om in te kom … by die skool te kom … per dag. Hulle kan nie help betaal nie. Beslis nie vir musieklesse nie.
Ek het Muzukidz begin omdat ek wou sien, en vir ander mense wou laat sien, hoe ver kan kinders uitstyg as jy vir hulle die beste gee.
Waar het jy die geld gekry? Viole is nie goedkoop nie. Vioollesse is nie goedkoop nie.
Ek was naïef en ek was oorweldig deur die begeerte om vir die kinders klas te gee. Ek het gedink dit kon nie so duur wees nie. En ek het baie kontakte uit Europa gehad. Ek het ’n baie goeie vriend wat geld geskenk het, al was dit net ’n paar rand per maand, sodat ek kon kos koop vir my. (Ek ontvang nie geld vir die lesse wat ek aanbied nie, en hierdie skenking veroorsaak dat ek kan oorleef.) En ek het tien viole gehad toe ons begin het.
My twee seuns was nie meer van my afhanklik toe ek Muzukidz begin het nie. Ek het bevoorreg grootgeword en toe eerste in Europa gaan toer en op straat musiek gespeel en oorleef met ’n rugsak op my rug. Ja, later het ek nog meer formele opleiding as onderwyser ook ontvang. Maar iets van my het altyd bly terugdink aan hoe ek dit kon máák in Europa. Met niks nie. Waarom kon ek nie op hierdie soort manier leef terug in my eie land nie? Mense hier in Suid-Afrika … hulle dink altyd aan watter kar jy ry, of jy ’n groot swembad het, so baie besittings. Ek het dit nie nodig nie. As ek kos het om te eet, is ek tevrede.
Maar hoe vind mense uit oor julle?
Ek is dankbaar oor elke stuk blootstelling in die media. Iemand het in The Strad (dis ’n Britse musiektydskrif) oor my geskryf, en dit het so baie gehelp. Brenda Brenner het geskryf. Sy is die mededirekteur en vioolprofessor by die Indiana University Jacobs School of Music in Bloomington.
Daar is baie sulke name wat ek kan noem. Kontakte veroorsaak dat nuwe kontakte vorm. Mense hoor van jou. Daar is altyd iemand wat viole kom skenk of geld gee. Maar dis nie maklik nie en dis nie goedkoop nie. Die laaste ruk het ek eerliker geraak oor wat dinge kos.
Waar het jy plek gekry om vir die kinders klas te gee? Met ander woorde, prakties: Waar gee jy die vioollesse?
Ek het in townships rondgery en vir kinders klas gegee in townships, maar later het ek meer rondgery as wat ek klas gegee het. Toe gaan ek na die openbare skole in die stadsentrum … hier is daar baie kinders vanuit die townships wat daar skoolgaan … hulle maak gebruik van publieke vervoer om daar uit te kom … en vra of ek vir die kinders vanaf graad R kan klas gee.
Ek het skole gevra of hulle vir my toegang sou gee dat ek vir hul graad R’e kon kom klas gee. As mens die kinders kry as hulle groter is, is hulle te oud. Dan het hulle klaar te veel trauma beleef. Die skole waar ek gaan aanklop het, bied nie buitemuurs aan nie. Ek het net gevra kan ek kom les gee, dit kos niemand iets nie. Baie van die skoolhoofde kon nie verstaan hoekom wil ek hulle graad R’e laat viool speel nie. Maar ek het twee skoolhoofde aangetref wat gesê het: Oukei. Jy kan inkom met jou viole onder jou arm en ons gee vir jou ’n klas waar jy kan les gee. Dit was ’n ruk lank so.
........
Baie van die skoolhoofde kon nie verstaan hoekom wil ek hulle graad R’e laat viool speel nie. Maar ek het twee skoolhoofde aangetref wat gesê het: Oukei. Jy kan inkom met jou viole onder jou arm en ons gee vir jou ’n klas waar jy kan les gee.
........
Ek het huur begin betaal by een skool om ’n lokaal te huur en daar vir die kinders klas te gee. Die skool sit nou maar met my opgeskeep …! Die laerskool is op dieselfde terrein waar ek viool gee, en ek het toegang tot die kinders wat daar skool gaan. Ek het begin klas gee op ’n plek waar die kinders reeds is.
Musiek is universeel, maar watter soort musiek onderrig jy? Klassieke musiek?
Die boustene is klassiek, maar dis vir my baie belangrik dat hulle hul eie musiek speel en sing. Die African medley wat julle in die Endler gehoor het, is deur die kinders gekomponeer. Dis nog nie ge-score … op skrif gekomponeer ... nie. Die kinders is gevra: Wanneer wil julle sing, wanneer wil julle dans, hoe is die ritme? Ek het vir hulle Ierse musiek, ander musiek ook, geleer. Onder andere ook Oosterse musiek. Hulle moet ook klassiekemusiekonderrig hê, want as hulle eendag self kies om musiek te speel in ’n orkes, dan kan hulle dit doen en in ’n orkes speel. Ek vlieg mense in van my kontakte van oorsee af … Hulle moet goed wees om klassieke musiek te kan speel. Van ouderdom 14 tot 18 jaar is nou baie … crucial. Hulle moet baie goed musiek kan maak.
........
Die boustene is klassiek, maar dis vir my baie belangrik dat hulle hul eie musiek speel en sing. Die African medley wat julle in die Endler gehoor het, is deur die kinders gekomponeer.
........
Hoe leer jy die kinders viool speel?
Ek werk met die Suzuki-metode. Dis baie kompleks en mense se reaksie is dikwels: “O, dis darem ’n oulike manier om kindertjies in die township viool te leer.” Amper asof hulle dink dis iets makliks. Daar is wel in Europa ’n hele paar Suzuki-skole, en dit gee vir kinders ’n baie goeie fondament om te leer viool speel. Dit is juis ’n baie erkende metode om te leer viool speel. Dalk het Suid-Afrika in die isolasietydperk nie mooi tred gehou nie en weet mense min van die Suzuki-metode. Hierdie metode kan ’n leerling baie ver en tot op professionele vlak bring.
Maar dis baie werk, dis die hele tyd indiensopleiding. Mens hou nooit op met leer nie. Maar dis op ’n manier asof jy ’n resep het vir ’n fabulous chocolate cake … en as jy al die bestanddele bymekaar sit, dan hét jy daardie fabulous chocolate cake.
Ek self leer so baie, en ek hou aan om te leer. En ek kan die boustene waarmee ek self besig is, passievol aan die kinders oordraai. Ons lewens draai rondom die uitruil van kennis en om dit oor te dra en toe te pas. Daar is baie filosofie agter die metode. Ongelóóflik belangrike filosofie hieragter. Well-being. Daar is baie sielkundige aspekte hieragter.
Daar is omtrent niemand in die Kaap wat die Suzuki-metode behoorlik bestudeer het nie. René van der Westhuizen … sy is ook onderrig in die Suzuki-metode. Sy werk saam met my.
Daar is nog mense van Stellenbosch-universiteit wat ook help. Annien Shaw, betrokke by die Universiteit Stellenbosch, is ook betrokke.
Hoeveel kinders speel by jou? Watter personeel is by jou?
Daar is Xhosa-onderwysers in Kaapstad en in Port Elizabeth. Daar is agt Xhosa-personeellede aan wie ek werk verskaf. Drie van hulle is onderwysers. Een is ’n voltydse onderwyser en twee van hulle is ad hoc-onderwysers. Die res van die Xhosa-personeel vervul ander rolle, maar is ook werksaam by Muzukidz.
Daar is meer as 200 kinders wat by my klas neem. Dis baie … dit gee mens energie. Dit is die grootste energy boost.
My skole is nou al 'n sinergie en 'n spanpoging. Ek het ingekom met die viool, maar nou maak die Xhosa-werkster die skedule en sy laat wit teachers verstaan wat hul werk is vir die dag.
Dit moet ’n Xhosa-projek word, ultimately. Alles sal uit hul eie mense begin operate.
As mense kom kuier, wil hulle betrokke raak.
Hierdie kinders wil iets wees in die lewe. Hulle wil ’n verdienste hê. Hulle wil nie huiswerkers word nie. Nie dat daar iets daarmee verkeerd is nie … maar hulle wil iets doen wat ’n verskil gaan maak. Hulle wil nie meer in shacks bly nie, hulle wil in ’n veiliger plek bly … as hulle dit wil doen. Die viool kan hulle uit moeilike omstandighede vat.
Het jy video’s waar die ouers van die kinders hulle persoonlike stories vertel?
Ek deel graag ’n video van een van die kinders se ouers wat oor haar ervaring praat. Die video word met toestemming gedeel. Luister tot die einde; sy spreek kragtige woorde nadat almal hande geklap het.
Lees ook:
COVID-19 and violin lessons for township children: an interview
Somerset East and the Walter Battiss Museum: an interview with Ros Turner
Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum