Stephanus Muller praat met Lizabé Lambrechts, uitvoerende bestuurder van Nuuseum

  • 1

Lizabé Lambrechts (foto: https://www.litnet.co.za/steedsdink-met-litnet-akademies-lizabe-lambrechts/); Stephanus Muller (foto: LitNet); Nuuseum (https://nuuseum.media/)

Lizabé Lambrechts werk tans as die uitvoerende bestuurder van Nuuseum, ’n maatskappy sonder winsbejag wat dit ten doel het om kultuurerfenis te bewaar en op ’n aanlyn platform toeganklik te maak (sien https://nuuseum.media). Sy het ’n agtergrond in musikologie en het gedurende die laaste dekade een van die grootse populêre musiekversamelings in Suid-Afrika – die Hidden Years Musiekargief – by Stellenbosch Universiteit byeengebring. Sy was grootliks verantwoordelik vir die befondsing, bestuur en beskikbaarstelling van die argief aan die publiek (sien https://hiddenyears.co.za). Sy is buitengewone medeprofessor aan die Africa Open Instituut (AOI), waar sy aan die spits staan van ’n multinasionale navorsingsprojek getiteld “Decay without mourning: future-thinking heritage practices”.

Stephanus Muller is professor in musiek aan die AOI by die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie onderhoud is tussen 13 Julie 2022 en 16 Februarie 2023 per e-pos gevoer.

Stephanus Muller: Wat verstaan jy onder die idee van ’n argief?

Lizabé Lambrechts: Hierdie is ’n moeilike vraag! Die een antwoord is maklik – ’n argief is die bewaarplek van materiaal, objekte en stemme, waarmee ons stories kan vertel en kan onthou.  

As sulks kan argiewe verskillende vorme aanneem – van instansies wat regsdokumente bewaar tot rotstekeninge wat die stories van jagters vasvang; van mondelingegeskiedenisvertellings tot objekte, musiek, weefwerk en foto’s. Wat dit moeilik maak, is dat binne so ’n beskrywing basies alles gesien kan word as ’n argief, maar nie alles ís nie. 

Daar is ’n onderskeid vir my tussen byvoorbeeld ’n laslappiekombers wat ’n storie dokumenteer en ’n laslappiekombers wat uit ’n mooi patroon bestaan. Dus is die stories wat moontlik gemaak word deur ’n objek vir my die deurslaggewende faktor. Hoe ek ’n objek verstaan, word wel beïnvloed deur my agtergrond, my kennis en ervaring, en twee argivarisse kan uiteenlopende besluite hieroor neem. 

...........
Daar is ’n onderskeid vir my tussen byvoorbeeld ’n laslappiekombers wat ’n storie dokumenteer en ’n laslappiekombers wat uit ’n mooi patroon bestaan. Dus is die stories wat moontlik gemaak word deur ’n objek vir my die deurslaggewende faktor. Hoe ek ’n objek verstaan, word wel beïnvloed deur my agtergrond, my kennis en ervaring, en twee argivarisse kan uiteenlopende besluite hieroor neem. 
.............

In ’n soortgelyke geval bewaar argiewe in die eerste plek unieke materiaal. Dit sluit gewoonlik gepubliseerde materiaal soos musiek en boeke uit wat ook op ander plekke gevind kan word. In ’n land soos Suid-Afrika, waar so baie verloor is tydens kolonialisme en apartheid, versamel ons egter wel gepubliseerde materiaal. Populêre musiek is byvoorbeeld nie belangrik geag om te bewaar nie, en as deel van versamelings oor Suid-Afrikaanse populêre musiek sal gedrukte plate ’n plek kan vind.

Hoe het jou belangstelling in argiewe begin?

As ek nou terugkyk, was daar ’n paar ooglopende oomblikke wat my belangstelling aangewakker het. Ek was al as kind gefassineer met ou objekte. Ek onthou ’n paar reise terug van my ma’le se familieplaas in Kenhart waar ek en my broers agter in die kar ingewurm was tussen al die ou tydskrifte en waskomme wat ek uit die plaas se rommelhoop “gered” het.

Aanvanklik sou ek my meestersgraad geskryf het oor die kerkliedjies en psalms wat die trekboere in hulle dagboeke neergeskryf het nadat ek vir ’n paar dae by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein onbegeleid deur ou boekies in hulle versameling kon blaai, verwonderd daarin dat ek iets so oud kan vashou en dit kan ervaar.  

Tydens my jaar in Parys, waar ek as ’n Engels-onderwyseres gewerk het, het ek bewus geword van kuratorskap as ’n praktyk waarvolgens mense stories vertel, nie net deur wat uitgestal word nie, maar ook deur hoe materiaal uitgestal word, en met my terugkeer na Suid-Afrika het ek besluit om in te skryf vir ’n PhD. 

In die soeke na ’n onderwerp het my studieleier (jy!) my verwys na die boek Refiguring the Archive, en alles het bymekaargekom. Met kritiese argiefstudies kon ek na alles kyk: teorie, geskiedenis, musiek, kuns, kuratorskap - dit was prakties dog teoreties, en die veld het my soos ’n handskoen gepas. 

Jou PhD was ’n belangrike keerpunt vir jou toekomstige werk, omdat dit gelei het tot jou kennismaking met David Marks en die Hidden Years Music Archive (HYMA). Kan jy iets sê oor die dinge waaroor jy geskryf het in jou proefskrif, en hoekom die HYMA jou verbeelding so aangegryp het dat jy sedertdien nooit weer ophou werk het daaraan nie?

My PhD was ’n besliste keerpunt in my denke rondom geskiedskrywing en argiewe. Ek het na vyf musiekargiewe in Suid-Afrika gekyk: die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie se radio-en-klank-argief, die Gallo-platemaatskappy-argief, die International Library of African Music in Makhanda, die Dokumentasie Sentrum vir Musiek in Stellenbosch, en die Hidden Years-musiekargief in KwaZulu-Natal. Elkeen van hierdie argiewe het ander kwessies ontbloot, van staatsinstellings (SAUK), tot privaat (HYMA) en kommersiële argiewe (Gallo). My PhD het die prosesse ontbloot waarvolgens argiewe geskep word, prosesse wat beïnvloed word deur die mandaat van instansies, die persoonlike ideologieë van argivarisse, en sosiale en ekonomiese faktore.

...........
My PhD het die prosesse ontbloot waarvolgens argiewe geskep word, prosesse wat beïnvloed word deur die mandaat van instansies, die persoonlike ideologieë van argivarisse, en sosiale en ekonomiese faktore.
...............

Argivarisse maak byvoorbeeld daagliks keuses oor watter materiaal bewaar word en wat weggegooi word, of hoe om materiaal te beskryf. Dit is alles faktore wat bepalend kan wees vir hoe gemeenskappe en hulle tradisies benader word. As ’n mens argiefwerk só verstaan, verander die algemene siening van argivarisse as neutrale rolspelers na een waarin argivarisse krities en met sorg aktief moet omgegaan met die skep, onderhou en toeganklik maak van versamelings. 

............
Argivarisse maak byvoorbeeld daagliks keuses oor watter materiaal bewaar word en wat weggegooi word, of hoe om materiaal te beskryf. Dit is alles faktore wat bepalend kan wees vir hoe gemeenskappe en hulle tradisies benader word. As ’n mens argiefwerk só verstaan, verander die algemene siening van argivarisse as neutrale rolspelers na een waarin argivarisse krities en met sorg aktief moet omgegaan met die skep, onderhou en toeganklik maak van versamelings. 
..............

Deur hierdie sorg, en deur aktief versamelings bymekaar te maak wat in die vorige bedeling nie as waardevol genoeg geag is om te bewaar nie, kan argivarisse ’n toonaangewende rol speel in prosesse van transformasie. So baie van Suid-Afrika se erfenis is nie as waardevol geskat nie, en om hierdie materiaal stelselmatig toe tot die historiese rekord te voeg, stel dit nie net beskikbaar vir navorsing nie, maar gee ook erkenning en waarde aan die bydraes van alle Suid-Afrikaners in die skep van ons land se geskiedenis en kultuur.

Ek dink een van die redes hoekom HYMA my verbeelding so aangegryp het, was juis die obsessie waarmee David Marks materiaal versamel het wat nie belangrik geag was deur die mense met mag van daardie tyd nie. Hy het die sangers opgeneem wat in die koffieklubs en tydens lewende konserte gespeel het, musikante wat groot gehore gelok het maar wie se musiek gesien is as of té polities of té onkommersieel om platekontrakte te kon losslaan. As dit nie vir sy opnames en foto’s was nie, sou ons van vele van hierdie kunstenaars vergeet het of nie van geweet het nie. David het amper nooit iets weggegooi nie, en deur sy werk het hy vir ons ’n beeld bewaar van ’n counter-culture in Suid-Afrika waaroor daar nog baie min geskryf is.

David is ook ’n wonderlike storieverteller, en tydens my heel eerste week saam met hom in 2011 het ék obsessief elke gesprek opgeneem, bang dat ek iets gaan vergeet of ’n detail gaan mis. Ek het hiermee voortgegaan en ek besit tans honderde ure se gesprekke en stories van hom. Van die begin af kon ek nie verstaan hoekom hy nie beroemd was nie, hoekom ons nie almal van sy argief geweet het nie. Hy het dan die eerste opnames van Johnny Clegg en Sipho Mchunu gemaak, Laurika Rauch se weergawe van “Kinders van die wind” opgeneem in 1979, Ladysmith Black Mambaso bespreek om vir die eerste keer voor ’n wit gehoor in die Markteater op te tree, ’n platemaatskappy, Down South, saam met Hugh Masekela begin. Boonop was hy een van twee Suid-Afrikaners by die Woodstock-musiekfees in Amerika in 1969 en bring hy dié klanksisteem na Suid-Afrika in 1970 waarmee hy die eerste buitelugkonserte met klankversterking in Suid-Afrika opgestel het. Hy het vir Madosini in die Transkei gaan opneem in 1974 met die eerste mobiele klankateljee in Suid-Afrika en vanaf 1971 die Free Peoples-konserte by Wits gereël.

Ek wou al die stories lees en met ander deel, en terwyl ek al ’n paar artikels oor sy lewe en die argief geskryf het, is daar nog so baie om te ontdek. Ek hoop ek kan nog lank by die argief betrokke bly.

Kan jy miskien iets sê oor van die vernuwende dinge wat jy in jou werk aan die HYMA-projek gedoen het? Ek dink byvoorbeeld aan die wyse waarop jy David Marks as konsultant in die projek behou het, en op hierdie manier ’n soort etiek van die argief beoefen het, en kundigheid in die ontsluiting van die argief oor baie jare behou het?

Dit was van die begin af vir my belangrik om David Marks deel te maak van die Volkswagen Stiftung-navorsingsprojek waardeur ons die Hidden Years Musiek-argief en argiefwerk befonds het by Africa Open. David het sy lewe daaraan gewy om die argief te versamel en dit te beskerm en ek wou erkenning gee aan sy werk. Ek het ook besef dat die projek nie sal werk as ek dit oorneem en in ’n akademiese omgewing situeer sonder dat die gemeenskap wat lewe aan die materiaal en die stories gee, welkom voel in die nuwe argiefspasie nie. Hy was dus vir die agt jaar terwyl die projek deur Volkswagen befonds is, werksaam as ’n konsultant vir die projek en het ons gehelp om materiaal te identifiseer en navrae te hanteer. David is ook as ’n konsultant ingeskryf in daaropvolgende navorsingsprojekte. 

Een van die gevolge van die noue samewerking met David is dat sy gesin en familie die werk begin ondersteun het; familievriende het opgedaag om my te help materiaal rondskuif, en die netwerk rondom die argief het geweldig uitgebrei. Uiteindelik het dit nasionale, sowel as internasionale musikante, musiekvervaardigers en individue ingesluit. Deur hierdie netwerk is daar oor ’n dekade talle waardevolle versamelings geskenk om onder die sambreel van die Hidden Years-projek ’n tuiste te vind: die argiewe van Shifty Records, Roger Lucey, Darius en Catherine Brubeck, Des en Dawn Lindberg, Jeremy Taylor, en die Silver Creek Mountain Band, om ’n paar uit te sonder. Ek kon ook hierdie netwerk aktiveer om David en Frances finansieel by te staan toe sy siek word, asook verskeie ander musikante in hierdie netwerke help wat hulp nodig gehad het.

............
Die werk was dus nooit net ’n navorsingsprojek nie, maar die argief en die navorsing was die middelpunt vir die skep en bou van ’n gemeenskap van omgee en sorg.
.............

Die werk was dus nooit net ’n navorsingsprojek nie, maar die argief en die navorsing was die middelpunt vir die skep en bou van ’n gemeenskap van omgee en sorg. Talle studente het kom leer hoe om met argiewe te werk, en hoe belangrik die take van argivering – soos die skep van metadata – is; nagraadse studente het geleer hoe harde werk en intuïsie tot groot en belangrike werk lei; musikante het deur hulle versamelings kom blaai en hulle stories gedeel. Deur die musikante, navorsers, kunstenaars, DJ’s, studente, kollegas en vriende wat hierdie argief laat lewe het, was dit ’n wonderlike projek en professionele ruimte. 

Ek het baie geleer uit die etiek van werk: ure en ure se werk wat ander se navorsing en studies gebaat het terwyl my eie skryfwerk noodgedwonge moes stilstaan. As ’n jonger navorser het dit my soms gefrustreer, maar ek het deur die jare besef watter voorreg dit is om met hierdie materiaal te kon werk en dit te leer ken. Ek kén die argief. Ek ken die bokse en die stories. Waar my gunstelingplate staan of waar navorsers moet begin kyk vir waarna hulle soek. Hierdie intieme kennis is ook ’n besonderse gevoel. 

Met my rol wat nou verander in terme van Hidden Years – ek nie meer so direk daarby betrokke nie – is ek natuurlik bekommerd oor hoe hierdie dinamiek in stand gehou kan word: Argiefwerk is nie net die funksies van organisering nie; dit is ’n durende insamel van kennis oor die materiaal waarmee jy werk, ’n doelbewuste aktivering van materiaal sodat die publiek daarvan weet, die bou van netwerke en die kultivering van ’n sensibiliteit om die aspirasies van daardie netwerke te leer ken en daarvoor te kan sorg. Argiewe is plekke waar gemeenskappe bymekaar kan kom en welkom voel, waar vernuwing en transformasie gedryf kan word deur werk en die bou van netwerke van sorg en omgee.

Watter soort intellektuele koördinate – boeke, idees, argiewe, uitstallings – het jou idee van wat “die Argief” is, gevorm? 

.............
Daar is geweldig baie, maar ek sou sê van die grootste en eerste vormingstekste was Refiguring the archive en Jacques Derrida se Archive fever. In beide hierdie tekste word daar krities na die argief gekyk, dat dit iets is wat gebou en onderhou word om politiese, sosiale en ekonomiese redes, dat daar ideologiese besluite lê agter watter materiaal waardevol geag word om te bewaar en watter nie.
...............

Daar is geweldig baie, maar ek sou sê van die grootste en eerste vormingstekste was Refiguring the archive en Jacques Derrida se Archive fever. In beide hierdie tekste word daar krities na die argief gekyk, dat dit iets is wat gebou en onderhou word om politiese, sosiale en ekonomiese redes, dat daar ideologiese besluite lê agter watter materiaal waardevol geag word om te bewaar en watter nie. Hiermee saam het die werk van Verne Harris, Lara Ann Stoler en Matilda Burton oor die koloniale-en-apartheid-argief in Suid-Afrika my met ’n groter bewustheid na argiefversamelings laat kyk wat groot dele van ons bevolking uitsluit, of op sekere maniere bewaar en verteenwoordig, maniere wat bepalend was vir diskoerse wat onkrities met die versamelings gewerk het.

My praktiese ervaring van hierdie idees tydens my werk by die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus) het die fondasie gevorm van my argiefpraktyk vandag. Ek het by Domus begin werk as ’n nadoktorale genoot en later as ’n Volkswagen Stiftung-navorsingsgenoot. Met die ontvangs van die Hidden Years Musiek-argief in 2013 was Domus reeds agt jaar aan die gang en het dit onder jou leiding ontwikkel in ’n lewendige argief gedryf deur ’n navorsingsimperatief. Hierdie imperatief het ten doel gehad om verandering te dryf deur aktief argiefmateriaal in te samel wat verteenwoordigend is van Suid-Afrikaanse musiek in die breë. Die aktiewe manier waarop versamelings gesoek en ingeneem is, die tipe kreatiewe projekte en navorsingsprojekte wat geloods is aan die hand van die versamelings in die argief (ek dink hier aan die werk van Hilde Roos, Willemien Froneman, Paula Fourie, Annemie Behr, Ester-Marie Pauw, Pakama Ncume, Ashrudeen Waggie, om maar ’n paar te noem) – hierdie werk het gewys hoe navorsing anders kan lyk en hoe ons dissipline anders kan lyk met vernuwende kurrikulums. Die projekte by Domus het gewys hoe die argief ’n generatiewe spasie kan wees en dit het ’n bepalende invloed uitgeoefen op hoe ek myself as ’n erfenispraktisyn posisioneer.

Werk wat gedoen is rondom “Do it yourself”-argiewe in marginale gemeenskappe en aktivistiese groepe, het my laat dink oor toegang en hoe argiewe opgestel moet word om die gemeenskappe wie se materiaal hulle bewaar, te dien. So ’n benadering verg dat ons anders begin kyk na argiewe wat nog steeds opgestel is as elitistiese instansies waarin alles netjies en met handskoene hanteer word, en die gedagte versterk dat ons argiewe meer toeganklik moet maak vir mense om materiaal te kan ontdek en op nuwe maniere met materiaal te kan omgaan. Dit dra natuurlik risiko’s – materiaal kan beskadig word, of selfs gevat word – maar terselfdertyd moedig dit ons aan om te vra: As die materiaal nie gebruik word nie, hoekom bewaar ons dit dan?  

Hiermee saam was die wegbeweeg van die idee dat ’n argief of ’n argivaris ’n neutrale rolspeler is, belangrik, en die werk van Verne Harris, ’n prominente argivaris in Suid-Afrika, Terry Cook en Elizabeth Kaplan was deurslaggewend. Argivarisse neem besluite oor wat hulle bewaar en wat hulle nie bewaar nie; hulle neem besluite oor hoe materiaal beskryf word op lyste en in katalogi; instansies het mandate, en argiefwerk is dus nie neutraal nie, en kán dit ook nie wees nie. As mens hierdie stellings aanvaar, het argivarisse ’n verantwoordelikheid teenoor die materiaal wat hulle versamel, bewaar, beskryf en toeganklik maak. Argivarisse sien dus hulle werk as ’n vorm van sosiale, kulturele en politieke aktivisme en beweeg weg van die idee dat argiefwerk bestaan uit sorteer en lyste maak. 

In niefiksie het ek besondere aanklank gevind by José Saramago se All the names – die lang, nimmereindigende sinne wat soms oor hoofstukke strek het vir my nuwe betekenis gekry toe ek self begin werk met argiefversamelings en die eindeloosheid van die werk begin insink. Die geheime wat bewaar word in die argief is vir my nog altyd iets fassinerend – ek dink ek droom ook, soos enige ander akademikus, van die groot vonds, die groot geheim waarop ek sal afkom – en ek verlustig my in tekste wat hieroor skryf. 

Meer onlangs vind ek baie raakpunte met new materialism en die idee dat materiaal en objekte nie net staties is nie, maar ook deel is van die prosesse wat hulle vorm en agentskap in hierdie prosesse het. Hier dink ek byvoorbeeld aan The distintegration loops van William Basinksi. Basinski was besig om van sy ou bande te digitaliseer en in die proses kom hy agter dat die band besig is om te vergaan. Pleks daarvan om die proses te stop om die band te bewaar, hou hy aan om die band te speel en neem die proses van stelselmatige disintegrasie op. Dit is roerende om na te luister, en begin my gedagtes vorm rondom die mens se vrees vir verganklikheid, die drang om te bewaar en te hou.

Jy praat van die verliese tydens kolonialisme en apartheid, en jy sonder populêre musiek uit, maar hoe moet mens dink oor argiewe wat in koloniale en apartheidstye tot stand gekom het? Moet dit bewaar word, en indien wel, hoe? En, aansluitend hierby, is die postapartheid argief, of die idee daarvan, meer inklusief, en minder prekêr in terme van institusies en befondsing?

Argiewe regoor die wêreld is prekêr – dit is duur om te onderhou, en moeilik om die onkostes in ’n besigheidswêreld te laat “klop”. Ek dink wel dat dit van kardinale belang is om onderhou te word. 

............
Argiewe regoor die wêreld is prekêr – dit is duur om te onderhou, en moeilik om die onkostes in ’n besigheidswêreld te laat “klop”. Ek dink wel dat dit van kardinale belang is om onderhou te word. 
.................

Argiewe is die plekke waarheen ons gaan om antwoorde op vrae te gaan ontdek, om ou vraagstukke vanuit nuwe hoeke te ondersoek, om epistemologies en ontologies te verstaan hoekom daar op ’n sekere manier gedink word. Om dit te kan doen, het ons toegang tot die primêre bronne en materiaal nodig. Die geskiedenis is nooit klaar geskryf nie, en elke nuwe generasie kom met nuwe invalshoeke na die materiaal toe. Om hierdie rede is dit belangrik om koloniale en apartheidsmateriaal te bewaar. 

Ek dink wel dat argiewe wat met koloniale en apartheidsmateriaal sit, nie net passief die materiaal kan bewaar nie, maar aktief mense moet aanmoedig om hiermee te werk. Interessante en kritiese navorsingsprojekte kan geloods word, navorsers kan geaffilieer word aan sulke instansies sodat die materiaal op kritiese maniere oopgemaak kan word. Argiewe word gereeld gesien as “stortterreine” vir ongewenste of problematiese geskiedenis – verwyder die standbeelde en gee dit vir ’n argief of ’n museum. Argiewe wat hierdie materiaal ontvang, moet dit nie net opgaar in stoorkamers nie, maar moet met hierdie materiaal werk.

My ervaring van die postapartheid argief is as ’n problematiese instansie. Alhoewel daar uitsonderings is, is baie min van die ontologiese of epistemologiese denke of werkswyses van die apartheidsargief ontbind. Met die aanbreek van demokrasie is daar oppervlakkige veranderings gemaak sonder om die onderliggende strukture te bevraagteken.  

..............
My ervaring van die postapartheid argief is as ’n problematiese instansie. Alhoewel daar uitsonderings is, is baie min van die ontologiese of epistemologiese denke of werkswyses van die apartheidsargief ontbind. Met die aanbreek van demokrasie is daar oppervlakkige veranderings gemaak sonder om die onderliggende strukture te bevraagteken.  
...............

Die beskrywingsisteme is grootliks – nog steeds – gegrond op patrone wat opgestel is volgens internasionale standaarde en noodwendig nie deur die bank gepas is vir Suid-Afrikaanse materiaal nie; argiewe word nog steeds op rigiede maniere bestuur met sterk hiërargieë, en bykans geen argief is reg vir die digitale wêreld nie. Terwyl daar vir ’n tyd nuwe materiaal versamel is nádat ons ’n demokrasie geword het, is die materiaal grootliks nasionalisties van aard en gefokus op bevrydingsdiskoerse. Dit laat ’n groot deel van ons land se bevolking nog steeds onverteenwoordig in institusionele argiewe en skep ook die indruk dat as iets nie protes was nie, dit nie belangrik is om te bewaar nie. 

Jy is verlede jaar aangestel as die eerste hoof- uitvoerende beampte van Nuuseum. Kan jy miskien iets sê oor Nuuseum se oogmerke, jou rol in hierdie inisiatief, en hoe dit verstaan kan word in terme van jou denke oor die postapartheid argief as problematiese instansie?

Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe uitdaging. Nuuseum is in 2017 gestig deur Karen Meiring, Herman Binge, Albert Geldenhuys en Christoff Pauw, en ek is in 2022 aangestel. Die doel van Nuuseum is om ’n opvoedkundige hulpbron en ’n interaktiewe argiefplatform daar te stel vir die behoud van ’n diverse Afrikaanse kultuurerfenis. Nuuseum se missie is om as ’n aktiewe argiefinstansie te verseker dat alles wat in Afrikaans geskep is en geskep word, digitaal bewaar word en ook om hierdie erfenis toeganklik te maak vir almal. 

’n Verslag wat opgestel is deur die Universiteit van Kaapstad in samewerking met die Nelson Mandela-stigting in Johannesburg in 2015 het daarop gewys dat argiewe steeds nie toeganklik is vir die breë publiek nie en dat argiewe nie ingerig is om digitale materiaal te bewaar nie. Met dit in gedagte, en ook met die lesse wat ons tydens Covid geleer het oor die belangrikheid van die digitale wêreld, wil ons intree en ’n diens aan die Suid-Afrikaanse publiek lewer.

Die bou van netwerke met bestaande instansies, argiewe, museums, biblioteke en galerye is belangrik om ondersteuning te bied vir die bewaring en toeganklikheid van materiaal. Soortgelyk is daar die besef dat daar ongelooflik baie materiaal is wat nie tans bewaar word nie. Van hierdie materiaal is tydens kolonialisme en apartheid nie van waarde geag om te bewaar nie, en ondanks die mandaat wat aan argiewe gegee is post-1994 om materiaal van die hele Suid-Afrikaanse bevolking te bewaar, het politiekery en grootskaalse verval daartoe gelei dat die oorgrote meerderheid van hierdie materiaal steeds nie bewaar word nie. Dit is vir my belangrik om netwerke te bou en individue te nader om deel te word van ons projek sodat ons ook hierdie materiaal digitaal kan bewaar en beskikbaar kan stel. 

Met die argiefplatform wat ons ontwikkel, sal skakels toegang verleen tot versamelings. Die kopiereg en eienaarskap sal die betrokke instansies en individue bly, maar deur die portaal kan instansies meer sigbaarheid en beter toeganklikheid vir hulle materiaal skep. Dit is hier waar ek die potensiaal sien dat Nuuseum ’n wyer diens aan die Suid-Afrikaanse publiek kan lewer deur tegnologie te ontwikkel en beskikbaar te stel: vertalingsmoontlikhede, komplekse soekfunksies, speletjies, en so meer. 

Ons digitaliseringsateljee is ook besig om te groei, met gesofistikeerde nuwe tegnologie, en ons sal binnekort verskeie digitaliseringsdienste kan lewer, insluitend die skep van materiaal wat vindbaar is deur die gebruik van optiese karakterherkenningstegnologie. Ek voorsien dat ons op hierdie manier ook binne die wyer Suid-Afrikaanse erfeniswêreld ’n diens sal kan verrig om na materiaal om te sien. 

Lees ook:

SteedsDink met LitNet Akademies: Lizabé Lambrechts

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag

’n Oorsig oor enkele digitiseringsprojekte in Afrikaans: ’n Vertrekpunt vir Afrikaans se digitale toekoms

Onderhoud met Stephanus Muller

Toekomst van Ingrid Jonkers nalatenschap ligt nu bij Erfenisstigting, zegt Nederlandse museumdirecteur

Openingstoespraak: tentoonstelling Ingrid Jonker ‒ Literatuurmuseum, Den Haag

Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde

Die mense wat ’n sterwende taal opgeteken het

  • 1

Kommentaar

  • Johannes D. Froneman

    As iemand wat reeds dekades wy aan die versamel, bewaring én ordelike beskikbaarstelling van koerante en tydskrifte (op my webblad Mediamense.com) is ek verheug oor die werk wat Lizabé en medewerkers doen. Haar werk blyk primêr argivering te wees, terwyl Mediamense.com uit en uit 'n digitale museum is wat fokus op nuus (en die mense wat nuus geskep het). Besoek dit gerus.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top