........
Sodra die integrasie van die twee versamelings in ’n gevorderde stadium is, sal ’n katalogus van knipsels op LitNet beskikbaar gestel word sodat navorsers kan sien wat by NALN gehuisves word. Navorsers sal dan ’n lys van publikasies kan aflaai en by NALN aanvra.
........
Inleiding
Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en -Navorsingsentrum (NALN) is in 1973 deur PJ Nienaber in Bloemfontein gestig. Deur sy bestaan het NALN vele uitdagings ondervind, maar dit was veral sedert 2007, toe sommige van NALN se personeel onder meer herontplooi is na die Sesotho Literêre Museum, dat uitdagings skerp toegeneem het.

NALN (Bloemfontein) (Foto: Marief100 [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)
In 2009–2012 was ek betrokke by die digitalisering1 van NALN se bestaande knipselversameling, omdat hierdie versameling een van NALN se mees gebruikte versamelings is (Senekal 2011). Sedert 2017 was ek weer onder leiding van Cecilia Kruger, toe die hoof van die Erfenisstigting, betrokke by samesprekings oor hoe NALN bygestaan sou kon word. In 2020 het ek befondsing vanaf die Het Jan Marais-fonds deur middel van die Erfenisstigting bekom om verdere materiaal in ’n digitale formaat te versamel – ’n projek wat vanjaar deur die Dagbreek Trust befonds is. Tans werk ons nou saam met LitNet, die Dagbreek Trust, die Het Jan Marais-fonds, en Nuuseum om NALN by te staan.

Van links: Lizabé Lambrechts (uitvoerende hoof: Nuuseum), Wyno Simes (kurator van NALN), Burgert Senekal en Menán van Heerden (LitNet Akademies) by NALN in Bloemfontein
Hierdie artikel bespreek kortliks wat tans ten opsigte van die knipselversameling by NALN gedoen word.
Die integrasie van versamelings
Tydens die eerste digitaliseringsprojek het ons NALN se bestaande knipselversameling van 1993 tot 2009 ingeskandeer, en ’n personeellid van NALN is opgelei om knipsels wat sedert 2010 versamel is, in te skandeer. NALN het reeds oor metadata vir hierdie knipsels beskik deur middel van hul databasis.
Tydens samesprekings sedert 2017 het dit aan die lig gekom dat NALN steeds ernstige personeeltekorte beleef, wat gelei het tot ’n afskaling in versamelings. Met beperkte menslike hulpbronne het NALN voor die moeilike realiteit te staan gekom dat alles oor die Afrikaanse letterkunde nie meer versamel kon word nie, en daar is besluit om te konsentreer op ’n kernversameling rondom hoofstroom koerantpublikasies. Die voordeel van hierdie besluit was dat koerantpublikasies, wat die meeste ontwrig word deur veranderende toegangsbeleide van koerante en skakels wat verander of weggeneem word, wel bewaar is. Die nadeel is egter dat ’n baie groot hoeveelheid materiaal oor die Afrikaanse letterkunde, soos gepubliseer in akademiese joernale, op webwerwe soos LitNet en Maroela Media, en deur middel van persoonlike blogs, nie meer by NALN bewaar is nie. Ons nuwe projek sedert 2020 sou dan sulke publikasies terugwerkend gaan versamel, in ’n digitale formaat. Die nuwe digitale versameling van materiaal oor die Afrikaanse letterkunde sou hoofsaaklik konsentreer op materiaal wat nie meer deur NALN versamel is nie, maar sou uiteraard ook nuwe inligtingskanale betrek.
Daar sou ook ’n mate van oorvleueling met die bestaande versameling wees – ’n artikel wat in 2011 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het, sou byvoorbeeld tydens die nuwe projek versamel word, maar kon reeds deel uitgemaak het van NALN se bestaande versameling. Dit is heelwat minder hulpbronintensief om aan te neem dat die publikasie nie in NALN se versameling is nie en dit opnuut te versamel, en dan later met die bestaande knipselversameling te vergelyk, as wat dit sou wees om alle publikasies op alle platforms tydens die versamelingsproses een vir een met NALN se bestaande versameling te vergelyk. Boonop is die kwaliteit van materiaal wat in ’n digitale formaat versamel word, beter as materiaal wat ingeskandeer is, en daarom moet voorkeur gegee word aan die digitaal versamelde publikasie. Die uiteinde van die twee projekte is dat twee versamelings ontstaan het: die knipsels wat voorheen ingeskandeer is en waarvan metadata handmatig op NALN se databasis aangebring is, en nuwe knipsels wat digitaal versamel is. Die twee versamelings moes derhalwe geïntegreer word.
Sedert Junie vanjaar is daar met befondsing vanaf LitNet begin om die versamelings te integreer (via my en Tiaan de Lange) terwyl die digitale versamelproses voortgaan. Deurgaans word gepoog om die beste moontlike kopie te versamel, maar dit is reeds duidelik dat die meerderheid knipsels in NALN se besit nie meer aanlyn verkrygbaar is nie, wat juis dui op die waarde wat NALN vir navorsers inhou deur materiaal te bewaar wat andersins verlore (sou kon) gaan.

Tiaan de Lange doen sedert 2020 vryskut werk, onder meer die argivering van Afrikaanse akademiese en nuusbronne. Hy is verder betrokke by die katalogisering van wyle Jaap Steyn se boekversameling. Hy was voorheen werksaam in die verkoopsbedryf nadat hy die Suid-Afrikaanse Weermag in 2009 verlaat het. Tiaan studeer tans sagteware-ontwikkeling en programmering.
Om die proses te bespoedig, word die lys van NALN se knipsels rekenaarmatig met die nuwe lys van digitale knipsels vergelyk en verskille word outomaties uitgelig.
Anders as wat voorheen die geval was by NALN, word metadata tans rekenaarmatig onttrek. Soos voorheen genoem, het NALN ’n ernstige personeeltekort, en wanneer die proses van versameling, berging en ontsluiting op een persoon neerkom – boonop in die tyd van die inligtingsontploffing – kan daardie persoon dit gewoon nie alles behartig nie. Sedert 2017 onderneem ek daarom eksperimente met verskeie maniere om dokumente rekenaarmatig te ontsluit, ook met die hulp van Eduan Kotzé by die Departement Rekenaarwetenskap en Informatika aan die Universiteit van die Vrystaat. Sommige prosesse is nog in ’n beta-fase, terwyl ander reeds by die proses geïntegreer is.
Figuur 1 dui die skrywers en ander Afrikaanse rolspelers aan oor wie materiaal reeds tydens die huidige projek ontsluit is, met skrywers se name groter aangedui indien daar meer materiaal oor hulle ontsluit is.

Figuur 1. Rolspelers oor wie materiaal reeds ontsluit is
Die nuwe digitaal versamelde knipsels is tans reeds beskikbaar aan NALN se personeel om navrae deur middel van voltekssoektogte te hanteer, en die voorheen geskandeerde knipsels word nou by hierdie versameling gevoeg. Hierdie voltekstoegang sal NALN in staat stel om meer inligting vinniger te vind, wat hopelik daartoe kan bydra dat ’n beter diens aan navorsers gelewer kan word.
Sodra die integrasie van die twee versamelings in ’n gevorderde stadium is, sal ’n katalogus van knipsels op LitNet beskikbaar gestel word sodat navorsers kan sien wat by NALN gehuisves word. Navorsers sal dan ’n lys van publikasies kan aflaai en by NALN aanvra.
Slot
Die knipselversameling is natuurlik net een van NALN se versamelings, en daar word tans samesprekings gevoer oor die digitalisering van meer versamelings. Indien ons Afrikaans se literêre erfenis wil behou, sal hulp van privaat Afrikaanse instellings en individue nodig wees. Die goeie nuus vir NALN is dat daar tans goeie werksverhoudinge met LitNet, die Dagbreek Trust, Nuuseum, en die Het Jan Marais fonds bestaan, en in Julie vanjaar is ’n taakspan saamgestel wat juis hierdie bystand verleen.
Bibliografie
Senekal, BA. 2011. Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde, LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 8(2):46–65.
Eindnota:
1 Ek gaan nie hier op terminologie ingaan nie. Breedweg word hier met digitalisering bedoel die omskakeling vanaf ’n sigkopie (“harde kopie”) na ’n digitale kopie, waar karakterherkenning toegepas is en metadata toegevoeg is.
Lees ook op LitNet Akademies en LitNet:
Die ontwikkeling van ’n koste-effektiewe en byderwetse multimedia digitale argief by EPOG in Orania
Lees ook op Voertaal:
Lewende, gesaghebbende digitale biblioteek vir Afrikaanse letterkunde
Persbericht: Archieven Surinaams-Nederlands slavernijverleden binnenkort digitaal te raadplegen
Frieda Steurs (INT): "Een taal die niet digitaal ondersteund wordt, gaat dood"
“Wat gestolen is, zal terug moeten gaan” – Wat te doen met koloniale roofkunst?