Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): ’n onderhoud met Wyno Simes

  • 4

Wyno Simes is die kurator van NALN.

Wyno Simes is onlangs as die nuwe kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) aangewys.

Menán van Heerden het met Wyno gesels om meer oor die geskiedenis, literêre erfenis, dienste en oogmerke van NALN uit te vind.

Wyno, vertel vir lesers asseblief meer oor NALN. Wanneer en waarom is NALN gestig?

Verskeie inisiatiewe, soos boekweke (sedert 1935), kleinere dokumentasie- en literêre sentra (soos dié in meerdere biblioteke en skole), en ook wyle PJ Nienaber se verkenningsbesoeke aan die Nederlands Letterkundig Museum en Documentatiecentrum in Den Haag, asook die Archief en Museum voor het Vlaamse Cultuurleven in Antwerpen, het uiteindelik gelei tot die stigting van dokumentasiesentrums by die RGN (in 1970).

Intussen, in die Vrystaat, het die adviserende biblioteekkomitee van die Provinsiale Biblioteekdiens begin om ’n sogenoemde skrywersbiblioteek op die been te bring sodat die manuskripte, eerste uitgawes van boeke en personalia van die skrywers in hierdie provinsie nie verlore moes gaan nie.

Aangesien daar gou besef is dat hierdie inisiatief en die RGN se Dokumentasiesentrum vir Taal en Lettere sou oorvleuel, is Nienaber genooi om leiding te neem met die aanvoorwerk, ontwerp en stig van so ’n instansie.

Die produk was die totstandkoming van NALN op 24 Maart 1973, met Nienaber as die eerste heeltydse direkteur.

NALN (Bloemfontein) (Foto: Marief100 [CC BY-SA 3.0], via Wikimedia Commons)

Watter tipe argiefmateriaal/versamelings is beskikbaar? Is dit slegs boeke/letterkunde?

Die inhoud van die museum bestaan uit alle soorte materiaal wat op watter wyse ook al relevant mag wees ten opsigte van die skrywers wat kreatief in Afrikaans werk.

Dit beteken gevolglik: alle boeke deur ’n skrywer (en dan impliseer dit eksemplare van elke druk en uitgawe); alle inligting oor die skrywer, wat insluit primêre bronne, asook koerant- en tydskrifmateriaal; ikonografiese dokumente; oudiovisuele materiaal; persoonlike voorwerpe wat verband hou met die skryf- en leefwêreld van die skrywer; asook ’n omvattende tydskrifversameling. Dan is daar uiteraard ook ’n indrukwekkende versameling manuskripmateriaal wat interessanthede soos teksvariante, korrespondensie en uitgewersdokumente insluit.

Watter van die ouer/oudste argiefmateriaal is vir jou interessant? Uit watter jare dateer die vroegste dokumente? Hoeveel items bestaan daar altesaam? 

Tydskrifversamelings soos dié van Huisgenoot (wat van die eerste uitgawe in 1916 dateer) is uniek. Skrywersversamelings, soos dié van Ernst van Heerden, Gerhard Beukes, Deon Meyer, Elisabeth Eybers, PJ Schoeman, Mikro en tientalle ander is spesiaal, aangesien hulle omvattend is en ook aanskoulike elemente bevat wat nuttig en noodsaaklik vir uitstaldoeleindes is. Maar versamelings is soos ’n mens se kinders, nè – daar is nie onderskeid te tref nie!

Twee Gouda-vase uit PJ Schoeman se versameling.

Dit is natuurlik problematies om die getal items in ’n versameling soos dié van NALN te bepaal, maar ’n benaderde beraming sou ’n driekwartmiljoen wees. Aangesien daar letterlik daagliks tot hierdie getal bygevoeg word, is dit dus ’n geskatte getal wat sonder enige onderbreking toeneem.

In watter mate het jou loopbaan tot dusver jou vir hierdie pos voorberei?

Ek was nog altyd ’n ywerige leser en boekversamelaar. Voorgraads en nagraads het ek Afrikaanse, Nederlandse en Engelse letterkunde as hoofvakke gehad. My heel eerste werk was ook hier by NALN, as assistentmuseumgeesteswetenskaplike.

NALN is ’n instansie wat vanjaar sy 45ste verjaardag gevier het, en goed gevestig is. Met watter vernuwende idees en boeke-ideale kom iemand soos jy as kurator na hierdie museum? En hoe uitvoerbaar sou jy dink is sulke verwagtinge? 

Juis omdat die museum reeds in ’n sekere mate gevestig is, sou ’n mens versigtig met vernuwings en ingrypende veranderings moet omgaan. Maar dit beteken ook dat dit dalk tyd is om nuwe tendense in die museumwêreld te implementeer.

Waar daar kreatiewe werk ter sprake is, soos hier by NALN, met die Afrikaanse woord, is die vernuwingsmoontlikhede ook eintlik onbeperk. Die uitdaging vir enige verandering – en hopelik verbetering en vernuwing – sal weer eens in die aard van die infrastruktuur van die instansie lê, en sal sekerlik bepaal word deur hoe kreatief ’n mens met die beperkings van die realiteit kan omgaan.

Die balans lê in NALN tussen oud en nuut, gevestig en modern. Het jy enige planne om veral “ouer” skrywers weer opnuut by die versamel-ideaal van so ’n museum te betrek? En hoe sou jy die jonger generasies probeer betrek om hulle ook vir NALN te “wen”?

Die ouer skrywers het die grondslag van die Afrikaanse letterkundige toneel geskep en is as sulks steeds belangrik. Die uitdaging lê waarskynlik daarin om speurwerk oor enige “ouer” skrywers te doen en te sorg dat insamelwerk volgehou word.

’n Versameling is nooit afgehandel en voltooi nie. Die meeste tekste en tendense word ook deurlopend herlees en daar word nuwe interpretasies gemaak. Hierdie “beweging” en aktualiteit van die teks moet ideaalgewys ook sigbaar aan die museumpubliek deurgegee word.

Beeldjie uit ID du Plessis se versameling.

Om die jonger skrywers te betrek, word miskien vergemaklik deur die beskikbaarheid van sosiale media. Maar die aanvanklike kontak en kennismaking is maar ’n eerste en baie tentatiewe stap.

Daarna begin die “werk”-gedeelte: persoonlike kontak, moontlike besoeke, gesprekvoering, insamelversoeke; die museumkundige prosesse wat daarop volg en uiteindelik die meer sigbare bekendstelling van die skrywer aan die leserspubliek. Dis ’n lang proses en moet ook as ’n heeltydse projek aangepak word.

Wat is jou persoonlike bestuursmodel, en hoe gaan jy dit versoen met dié van ’n staatsinstelling?

Ek sou graag ’n demokratiese model wou volg, want ek glo verskillende menings dra konstruktief by tot besluitneming en beplanning. “Saam bereik ons meer.”

Tot watter mate sou jy sê is ’n vakkundige passie vir Afrikaans noodsaaklik binne ’n bestuurs- en kuratorspos?

Die bestuursaspekte van hierdie pos moet uiteraard beslis voorrang geniet. Maar ek glo nie ’n mens kan ’n instansie of saak doeltreffend dien as jy nie die spesialisgebied daarvan verstaan en kennis daarvan het nie. En natuurlik moet jy ook op die hoogte van ontwikkelings op die gebied probeer bly.

Is daar enige instellings, verenigings of steungroepe wie se bystand jy dink vir NALN se vooruitgang van besondere belang sou kon wees?

Enige groepering wat dieselfde sentimente ten opsigte van Afrikaanse skrywers en hulle werk, en die dokumentasie en bewaring daarvan het, behoort mense te wees wat ook NALN se visie en missie sou steun.

NALN is die enigste van sy soort bewaarplek, en dit brei sekerlik daagliks uit ten opsigte van skenkings. Dit is seker ’n reuse-uitdaging om so ’n spesialis-instelling ten opsigte van die nodige infrastruktuur aan die gang te hou. Hoe pak jy hierdie uitdagings aan?

Ruimte is gewis ’n probleem. Ek dink ’n mens sal dalk meer selektief moet wees ten opsigte van die tipe voorwerpe (soos meubels) wat NALN in die toekoms in sy versameling insluit.

Kan jy ’n paar gedagtes oor literêre erfenis en die noodsaaklikheid daarvan met ons deel?

Ja, een van die mees “alledaagse” ervarings hier by NALN is die besoeke wat ons van skrywers se gesins- en familielede kry. Hulle kom kyk na dit wat ná ’n leeftyd van skryfwerk agtergebly het.

Dit is ’n vereenvoudigde antwoord op jou vraag, maar dit bevat ’n kernwaarheid, naamlik dat mense steeds terugloop op die spore van iemand wat op die een of ander manier ’n bydrae tot ons geheue gelewer het.

’n Kultuurbewaarplek poog om dít wat vir die individu, maar veral ook vir die kollektiewe geheue van mense belangrik is, op te pas, te dokumenteer, te ontsluit, navorsing daaroor te doen, dit bekend te stel.

'n Skildery deur Ingrid Winterbach.

Slegs in ’n instansie soos NALN kan die navorser, met behulp van die regtig groot verskeidenheid inligting ter hand, bestek opneem van neigings en gebeure wat bygedra het tot die breër verloop van ’n kultuurerfenis.

Skrywers is die optekenaars van bepaalde geslagte se leeftogte, en die maatskaplike, politieke en persoonlike invloede en reaksies. Boeke is dus tyddokumente, en is noodsaaklike bronne wanneer ’n mens na die impak van bepaalde gebeure op soek moet gaan.

Vertel meer oor die Sotho-afdeling en die ontwikkeling daarvan? Is dit deel van die Afrikaanse afdeling? Wat is in die Sotho-afdeling te vinde? 

Die Sotho-museum is in 2010 gevestig en funksioneer as ’n afsonderlike museum naas NALN, hoewel dit in wese dieselfde doelwitte as NALN voor oë het: die bewaring van enige teks, skriftelik of mondeling, in Sotho.

Die aard van die versameling is dus dieselfde as by NALN, hoewel dit in hierdie stadium aansienlik kleiner in omvang is. Daar is uiteraard ook eiesoortige probleme, maar die basiese uitdagings ten opsigte van infrastruktuur en organisasie is dieselfde as by ons.

Vertel meer oor die toestand van die gebou: Is dit herstel tydens die vroeë 2000’s, en is die argiewe/versamelings veilig?

Die gebou het gedurende die tydperk net na 2006 ’n algehele restourasie ondergaan en het in 2010 ook ingrypende bystand van die Erfenisstigting gehad, met geld wat van die publiek ontvang is.

Instandhouding van ’n reusegebou soos hierdie voormalige Ou Goewermentsgebou bly natuurlik ’n kwessie en verg voortgesette aandag.

Ingrid Jonker-medalje as deel van die Ingrid Jonker-prys.

Tans is daar inderdaad probleme ten opsigte van sekere gedeeltes van die gebou, en is ons hard besig om vordering te probeer maak met herstelwerk.

Die inhoud van die museum was egter nog nooit in enige gevaar nie, en word so goed en veilig as wat menslik moontlik is, bewaar en versorg. Ons grootste behoefte in hierdie stadium is waarskynlik die beskikbaarheid van die nodige spesialisposte sodat hierdie versameling na behore geprosesseer kan word.

Wat het die transformasie van NALN in die nuwe demokrasie behels?

Die oorspronklike missie van NALN was om totaal inklusief te wees ten opsigte van almal wat in Afrikaans kreatiewe skryfwerk lewer. Hierdie riglyn was bepalend vir die insameling van materiaal en het ook, toe die nuwe demokrasie aangebreek het, reeds bewys dat die gees waarin PJ Nienaber die museum ontwerp het, in die kol was.

Ons het nie nodig gehad om inderhaas enige polities korrekte aanpassings te maak nie. Trouens, die besonderse versamelings wat ons het van onder meer skrywers soos Arthur Fula, Adam Small, Peter Snyders, Mathews Phosa, Patrick Petersen, en ander, is ’n bewys van die inklusiwiteit van die versameling.

Wat wél ons werk bemoeilik, is die toenemende mate waarin skrywers self publiseer. Dit is ’n speurverhaal op sigself om met hierdie boekespoor tred te hou en te probeer om van elke titel minstens één kopie in die hande te kry!

Wat behels die Vriende van NALN-vereniging?

Die missie van die vereniging is om NALN se permanente voortbestaan en beste belange op kort, medium- en lang termyn te dien deur die museum in die uitvoering van sy stigtingsdoel en -oogmerke te ondersteun by wyse van, onder meer, belangstelling, kundigheid, dienste en middele.

Vertel meer oor die dienste wat NALN aanbied. Waarop fokus die lesings en praatjies byvoorbeeld, en die uitreik-aksies en opvoedkundige projekte?

Een van ons belangrikste dienste is die verskaffing van inligting oor die letterkunde en die skrywers aan enige persoon wat dit benodig: skoolleerders, studente, dosente en onderwysers, navorsers, leeskringe en so meer.

Lesings en boekpraatjies en leeskringbesprekings word ook na behoefte en op aanvraag gedoen, weer eens so wyd as wat die navrae mag strek.

Ons doen verskeie uitreik-aksies na skole in en om Bloemfontein self, maar veral ook op die Vrystaatse platteland. Die ideaal sou wees dat daar landwye uitreik-aksies moes wees, maar dit probeer ’n mens maar ondervang met uitnodigings na skrywersgeleenthede, artikels en berigte ... en hoop dit bereik ook mense wat in ons doendinge belang stel.

Volgens NALN se webtuiste bewaar NALN ons Afrikaanse woorderfenis. Hoe sou jy “ons Afrikaanse woorderfenis” beskryf?

Enige vorm van skeppende skryfwerk in Afrikaans.

Is die Leeskringbesprekings tans aan die gang?

Ja, dit geskied op ’n deurlopende grondslag, net soos wat boekbekendstellings ook gereeld by NALN aangebied word. Een projek wat ek graag wil aanpak, is om die destydse Leeskringseminaar wat op Welkom aangebied is, te laat herleef.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    NALN is 'n “asemhalingsmasjien” vir Afrikaans en Afrikaanses. Dis 'n bate en kultuurskat van wat en wie ons is. Dis 'n museum wat stories, verhale en staaltjies lewendig hou en ons bestes se werke onder een dak beskikbaar maak. Die gebou is 'n “monument” op sigself, argitektonies indrukwekkend met 'n eiesoortige karakter.
    Die klein personeel "boks bo hulle gewig," dien ywerig en is entoesiasties. Dit is 'n instelling wat 'n natuurlike aanspraak behoort te maak op testamente van hulle wat 'n premie plaas op Afrikaans en ons kultuur en erfenis in die algemeen; 'n soort finansiële versekeringspolis om aanslae hierteen af te weer. En aan diegene wat hierdie Desember tuis bly, bied dit nostalgiese reise in die vorm van wonderlike en interessante stories in ou Huisgenote, Brandwagte en menige ander tydskrifte asook uitstallings en ornamente van bekendes.
    Voorspoed aan Wyno Simes wat die aflosstokkie oorgeneem het ...

  • Baie dankie, NALN is bevonk en 'n GROOT en kosbare instelling vir ons Afrikaanses en ons taal se blink toekoms!

  • Baie dankie, NALN is bevonk en 'n GROOT en kosbare instelling vir ons Afrikaanses en ons taal se blink toekoms!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top