Titel: Nagmusiek
Outeur: Stephanus Muller
Uitgewer: Fourthwall Books
ISBN: 9780992226343
Koop Nagmusiek by Fourthwall Books
’n Biografie het pas verskyn oor die Stellenbosse komponis Arnold van Wyk – ’n enigmatiese man wie se musiek ons vandag maar min hoor. Wie was hierdie man wat tog as een van Suid-Afrika se belangrikste komponiste beskou word? Wayne Muller en Stephanus Muller, skrywer van Nagmusiek, gesels oor die komponis, sy musiek en die fiktiewe biograaf.
Arnold van Wyk se slank, gekrulde hande op die omslag van Nagmusiek vertel verhale. Dít weet die fiktiewe biograaf Werner Ansbach, want ook hy had “pianistieke hande”, soos sy ma altyd gesê het. Met Van Wyk die pianis en komponis se hande is musiek geskep, maar van daardie musiek wat van hom in sy tyd ’n gerekende komponis gemaak het, hoor ons vandag min.
Musiek in ons konsertsale word, soos in die res van die wêreld, oorheers deur werke van komponiste soos Mozart, Beethoven, Verdi, Wagner en hul tydgenote. Tog, van Verdi weet die Italianers alles, en oor Wagner kan die Duitsers jou veel vertel. Ken Suid-Afrikaners hul komponiste so goed?
Saam met Hubert du Plessis (1922–2011) en Stefans Grové (1922–2014) word Van Wyk (1916–1983) deur musikoloë gereken as een van die land se belangrikste komponiste en deel van die eerste generasie wat Westerse kunsmusiek hier gekomponeer het. Die drade van wie Van Wyk was, lê opgesluit in die dagboeke, briewe, notas, lesings, foto’s, plakboeke, konsertprogramme en koerantuitknipsels wat by die Dokumentasiesentrum vir Musiek by die Universiteit Stellenbosch (US) geargiveer word. Dis hoe die musikoloog Stephanus Muller die onderwerp van sy biografie Nagmusiek leer ken het.
Die komponis
Wayne Muller: Jou pas verskene biografie oor Van Wyk, Nagmusiek, is ’n lywige stuk werk: drie volumes oor 916 bladsye. Trouens, dis die mees omvattende biografie nóg van enige Suid-Afrikaanse komponiste. Maar wie is hierdie Arnold Van Wyk wat in Stellenbosch gewoon het en al die “profeet van Suid-Afrikaanse musiek” genoem is?
Stephanus Muller: Van Wyk was ’n plaasseun uit Calvinia wat in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu met min hulp begin klavier speel en later begin musiek skryf het. Hy was ’n natuurlike musikus wat ’n instinktiewe begrip en waardering gehad het vir die soort klanke en vorme wat die klavier hom toegelaat het om te verken. Sy musikale verbeelding was dus Westers-georiënteerd en op maniere gevorm deur ’n laat-19de-eeuse Europese verbeelding wat nie ongewoon was in plattelandse dorpe in Suid-Afrika in die eerste dekades van die 20ste eeu nie. Selfs nadat Van Wyk in Engeland gestudeer, gewoon en begin opgang maak het (hy het in 1946, ná die oorlog, na Suid-Afrika teruggekeer), het sy musikale voorkeure altyd hierdie tradisionele herkoms van sy kunstenaarskap weerspieël.
WM: Tog, hoekom juis so ’n omvattende biografie oor Van Wyk?
SM: Daar is verskeie moontlike antwoorde op hierdie vraag, almal gedeeltelik waar. Hier is wat eerste by my opkom: Arnold van Wyk verdien ’n boek; (van) Arnold van Wyk se musiek moet uit die vergetelheid ontruk word; Arnold van Wyk se literêre nalatenskap bied stof vir 20 boeke; Arnold van Wyk se werk bied ’n venster op kunsmusiekproduksie in die apartheidsera; Arnold van Wyk laat ons dink oor Stellenbosch as dorp en universiteit; Arnold van Wyk kompliseer die (grootliks) literêre konstruksies van Afrikanerkultuur; Arnold van Wyk nooi ons uit om te besin oor die geskiedenis van Afrikaanse gaykultuur. Ek kan aangaan. Miskien nog net dit: Stephanus Muller het ’n onmoontlike projek gesoek en dit gevind in die voorneme om ’n boek oor Arnold van Wyk te skryf.
WM: Waaruit bestaan hierdie drie volumes?
SM: Die boek se drie volumes word aangebied in ’n foedraal (ook soms genoem ’n glydoos, ’n skuifdoos, ’n glipkoker of ’n gly-omhulsel). Volume 1 is ’n volledige katalogus en werklys van Van Wyk se musiek en manuskripte. Deur net dit te lees kan die leser reeds die hele lewensverhaal uitpluis vanuit die puntenerig-optekende werk. Volume 2 bestaan uit 806 eindnotas wat die tekste in Volumes 1 en 3 aanvul en kommentarieer (soms relativeer en satiriseer), sowel as algemene en werkgerigte bladwysers. Volume 3 bestaan uit 98 fragmente, wat ook as hoofstukke beskryf sou kon word. Onder hierdie fragmente tel drie groot chronologieë wat as ’n soort dokumentêre biografie diens doen en drie akademiese referate.
WM: In die soeke deur Van Wyk se dokumente, manuskripte, foto’s, plakboeke, programme, koerantuitknipsels en lesings, hoe het jy hom leer ken?
SM: Ek was te jonk om Van Wyk ooit te geken het. Ek was 12 toe hy oorlede is en het niks van die wêreld waarin hy betekenisvol was, geweet nie. Toe ek aan die boek begin werk het, was Arnold van Wyk vir my die komponis van wie feitlik alle Suid-Afrikaanse musiekmense van ’n sekere generasie en ras een of ander anekdote of staaltjie vertel het – altyd teen die agtergrond van sy onbetwiste prominensie as die vader van die Suid-Afrikaanse toonkuns, soos dit verstaan is as ’n eksklusiewe wit erfenis. Die man wat ek leer ken het, was slim, vertwyfeld, sensitief, wanaangepas, progressief, patrioties, snaaks, gebroke, gewoon, eksentriek, onvervuld, beskaafd, skaam en menslik. As ek hom geken het, dink ek, sou ek vir hom lief gewees het. Voor ek begin werk het, was hy vir my Arnold van Wyk. Nou noem ek hom Nols.
WM: Jy noem dat Van Wyk se lewe en werk ons laat besin oor Afrikanerkultuur. Op watter wyse sê sy musiek iets oor Afrikanerkultuur?
SM: Die vraag maak dit moontlik om belangrike dinge te sê, daarom gaan ek nie die term Afrikanerkultuur probeer kwalifiseer of problematiseer nie. Van Wyk se musiek is nie deel van Afrikanerkultuur nie, want sogenaamde wit Afrikaners het die waarde en bestaan daarvan grotendeels geïgnoreer. ’n Mens kan selfs die woord denigreer gebruik, as ek dink aan sy universiteitsloopbaan en die skande daarvan dat hy as lektor afgetree het aan die US. Daar is egter uitsonderings: enkele musikoloë, soos my afgetrede kollega Izak Grové, het reeds van vroeg die vakkundige belang van die werk erken in hul navorsing. Van Wyk se musiek was ook belangrik tydens apartheid, toe dit gesien is as ’n toonbeeld van die kulturele lewenskragtigheid en kosmopolitiese veelsydigheid van wit Afrikaners.
Dit is toe bevorder en ondersteun, weliswaar op beperkte basis en grotendeels as gevolg van Anton Hartman se ywer en patronaat en die filantropiese betrokkenheid van die Rupert-gesin. Van Wyk se liedere vir solosangstem, veral die “Vier weemoedige liedjies” en “Van liefde en verlatenheid”, het Afrikaans ook as kunsliedtaal tot ’n nuwe vlak verhef en die liedere is deur generasies puik Suid-Afrikaanse sangers en begeleiers as kanoniese kultuurgoedere gevestig. Geen van sy ander werke, selfs nie die Vyf elegieë vir strykkwartet of die magistrale werk vir klavier, Nagmusiek, het hierdie prominensie te beurt geval nie. Om nie eens van die simfonieë, of die Eerste strykkwartet of die Missa in illo tempore te praat nie. Laasgenoemde werk is al 35 jaar oud en is nog nooit weer uitgevoer ná die eerste twee uitvoerings in 1979 nie.
Dit is juis omdat Arnold van Wyk hierdie ambivalente posisie in Afrikanerkultuur beklee (binne, maar buite) dat sy lewe en werk sulke belangrike perspektiewe bied op die verskuiwingslyne in Afrikanerkultuur. Sy binnestanderskap sê iets van die kosmopolitiese ambisies van daardie kultuur; sy buitestanderskap iets van die parogialiteit daarvan.
Die musiek
Saterdagaand 2 Augustus staan die blink swart vleuelklavier gereed in die US Konservatorium se Fismersaal, waar familie, vriende, kollegas en musiekliefhebbers die bekendstelling van Nagmusiek bywoon.
Maar eers is dit tyd vir Van Wyk om self aan die woord te wees in sy eie Nagmusiek – deur die vingers van die Suid-Afrikaanse pianis Daniel-Ben Pienaar. Min musiekstukke het so ’n gepaste titel soos Nagmusiek – die klavier se klanke tower iets magies op, wys donkerte, gly oor verlate vlaktes, maak jou oneffe, laat jou slange vang, gee jou ’n tintelende vrees, laat jou veilig voel.
WM: Soos hierdie musiekstuk, is die titel van jou biografie ook Nagmusiek. Dis nogal ’n woord wat mooi beelde oproep, maar hoekom het jy dit as titel gekies?
SM: Nagmusiek was vir Van Wyk ’n baie spesiale werk. Tot kort voor sy dood het hy nog gehoop om die werk vir oulaas self te kan speel, die nag as’t ware tegemoet te speel. ’n Mens kan daaruit iets van die werk se bemoeienis met die dood aflei, en die dood was inderdaad van jongs af vir Van Wyk ’n werklikheid. Maar die stuk is ook opgedra aan ’n groot liefde van sy lewe, die pianis Noel Mewton-Wood, wat in 1953 sy eie lewe beëindig het deur gif te drink. Die skakeling van die liefde en dood in en deur musiek is dus groot temas van hierdie werk. My boek is ’n uitvoering van Van Wyk se Nagmusiek. Dit kon dus nie ’n ander titel hê nie.
WM: Soos enige ander kunstenaars in hul werk doen, verklank komponiste seker ook in hul musiek iets omtrent die wêreld waarin hulle hulle bevind. Wat sê Van Wyk se musiek oor die tyd waarin hy geleef het spesifiek, en dan die aard van kunsmusiekproduksies in daardie era?
SM: Van Wyk se musiek maak gebruik van die retoriese idiomatiek (nie net die tegniese middele nie) van die 19de eeu. Dit sê miskien minder van die Suid-Afrika van sy tyd as van die bestaan van veelvuldige moderniteite in die 20ste eeu. Maar dit sê nie níks oor die Suid-Afrika van wit rasse-oorheersing en Afrikaner politieke wasdom nie. Van Wyk het geskryf vir en vanuit daardie gemeenskap en geïsoleerd van (indien dan nie téén nie) die breër Suid-Afrikaanse sosiale konteks. Hy was bewus van hierdie spanning, maar het dit nooit ’n sentrale probleem van sy kunsuiting gemaak nie. Miskien moet ek dan sê: sy kreatiewe werk in hierdie spanningsveld het ’n spesifieke Suid-Afrikaanse modaliteit.
WM: Hoekom het Van Wyk se musiek in die vergetelheid beland?
SM: Daar is ’n wye spektrum redes wat ’n mens hiervoor kan aanvoer. Die embargo wat op die Van Wyk-materiaal geplaas is ná sy afsterwe in 1983, het beslis daartoe bygedra dat sy werk uit die oog van navorsers verdwyn het. Soos alle Eurosentriese kuns in Suid-Afrika – in hierdie geval werklik Eurosentriese kuns wat gekoester is en gedy het in die sogenaamde wit enklawes van die konsertsaal en min aantoonbare bewussyn getoon het van sogenaamde swart kulture en moderniteite – is die musiek strategies sleg getref deur die einde van Afrikaner politieke oorheersing. Van Wyk se werk is ook nie van só ’n aard dat dit ooit wye populêre aanhang sal geniet nie; daarvoor is dit te elitisties, verfynd, intiem en wroegend. Met die druk waaronder die intellektuele en artistieke gemeenskap verkeer waarvoor en waaruit hierdie werk geskep is, het die moontlikheidsvoorwaardes vir die beduidende bevordering en waardering van hierdie musiek ook grootliks verdwyn.
Die fiktiewe biograaf
Toe Stephanus Muller hom verswelg onder Van Wyk-materiaal en in die maalkolk van ’n grootse taak bevind het, het hy hom na fiksie gewend. Werner Ansbach het hom aangemeld. Die leser ontmoet dié fiktiewe musikoloog aan’t werk aan ’n Van Wyk-referaat terwyl hy ure gelede gehoor het sy ma ly aan Alzheimer se siekte.
Ansbach stap die pad saam met die leser deur die hordes materiaal oor Van Wyk en ontmoet daarlangs ’n verskeidenheid karakters wat die biograaf laat dink oor die aard van biografie.
Dié tegniek noem Nagmusiek se uitgewer, Bronwyn Law-Viljoen van Fourthwall Books, een wat die konsep van biografie as genre op sy kop keer – ’n genre wat op feit berus word nou met fiksie vermeng.
WM: Hoe het Werner Ansbach die harde werk van hierdie biografiese navorsing vir Stephanus Muller makliker gemaak?
SM: In baie opsigte het hy dinge móéiliker gemaak. Stephanus Muller moes hom byvoorbeeld leer ken en heelwat tyd is verspil weens sy moederkompleks en obsessies met onbenullighede soos molle en komkommerkruidtee. Maar Werner Ansbach het ook Stephanus Muller se oë oopgemaak vir die soort kwesbaarheid en ambivalensies op allerlei vlakke wat so déél was van Van Wyk. Sy Quichotiese impulse is sjarmant.
WM: Watter lesse oor die kuns van biografie kon die skrywer Muller van die fiktiewe biograaf Ansbach leer?
SM: Ek het so veel by hom geleer deur wat hy gedoen het as deur wat hy bepaald nie gedoen het nie. Maak lyste van alles, werk netjies, moenie grasperke probeer onderhou én ’n biografie skryf nie, voer e-pos-onderhoude, hou altyd ’n sakdoek byderhand, “beware of young girls wistful and pale”. Die belangrikste is miskien dít: lewens word nie in boeke gelewe nie.
WM: Met drie volumes oor Van Wyk se werk en lewe en die era waarin hy hom bevind het, wat bly oor om te verken van Van Wyk en sy musiek?
SM: My boek is ’n oorskryding van grense en ’n ontdekkingstog van sertifiseerbare ambisie. Dit volg dan dat daar aan die einde van hierdie boek nog niks afgehandel is nie en alles nog gedoen moet word. Die toekomstige werk oor en met Van Wyk skeur en lek en bars uit elke bladsy van Nagmusiek.