
Foto van Theo Kemp: verskaf
Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, praat met Naomi Meyer oor die Jakes Gerwel Stigting se betrokkenheid by die Suidoosterfees.
Theo, jy is die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting. Op watter wyses is die Jakes Gerwel Stigting by vanjaar se Suidoosterfees betrokke – en waarom is die fees juis vir die JGS belangrik?
Die JGS se vennootskap met die Suidoosterfees is om verskeie redes belangrik. Op een vlak, omdat die fees die breinkind van Jakes Gerwel was, maar dan ook omdat die twee organisasies tot ’n groot mate dieselfde visie het, naamlik om jong talent te ontwikkel van individue wat voorheen nie die geleenthede gehad het nie en om stem te gee aan diegene wat vir te lank stemloos was. Van stemloos na soomloos – dis wat ek glo ons in slaag. Om oor verskillende grense heen mense ’n verhoog te bied. En gepraat van verhoog: Paulet Huis is tot ’n groot mate ’n soort broeikas – of dalk dan eerder ’n kweekhuis (jammer vir die clichés) – waar ons dan die mooi talent in die Kaap kan kom wys. So maak ons met die skrywers en met die jong dramaturge wat deel is van ons gesamentlike projek met die Suidoosterfees, NATi en Artscape.
........
Van stemloos na soomloos – dis wat ek glo ons in slaag. Om oor verskillende grense heen mense ’n verhoog te bied.
........
Verder bied die fees vir die stigting ’n baie belangrike platform waar ons dialoog, die ope gesprek, kan fasiliteer. Dis nie ’n seepkis waar mense vir mekaar gil nie. Daar word hopeloos te veel geskree. Ons wil – in die gees van die intellektuele Gerwel – denkers en skrywers en meningvormers byeen bring om saam te gesels. Wat vir my belangrik is, is dat die Jakes Gerwel-gesprekke nie net as ’n bemarkingsoefening vir uitgewers en hul skrywers moet dien nie. Dit moet ’n plek wees waar gesprek gestimuleer word; waar die stem van die gehoorlid net so belangrik is as dié van die persoon met die mikrofoon op die verhoog. Ons moet leer dat ons mekaar mag aanvat, en behoort te verskil, want ons bly in so ’n ingewikkelde land, maar dit beteken nie ons haat mekaar nie. Inteendeel. Na ’n vurige sessie stop ons jou ’n koffie in die hand; dan praat ons verder.
Ek het oor die fees gevra, en nou vra ek oor Jakes Gerwel. Vertel my asseblief wat jy oor die jare wat jy al by die stigting betrokke is, omtrent hom en sy vrou, Phoebe, geleer of uitgevind het? Enige interessante brokkies: van liefde vir skilpaaie, tot aktivistiese én versoeningswerk?
Ek het nooit die voorreg gehad om Jakes Gerwel te ontmoet nie. Maar na al die jare wat ek vir die stigting werk, was daar nog nooit iemand wat iets sleg oor sy menswees gesê het nie. Regtig niemand nie. Skinderstories oor dit en dat ja, maar daar is nie ’n mens wat onaangeraak was deur sy diepe intellek en sy raaksien nie. Eendag vra ek vir Hein Gerwel hoe dit moontlik is dat sy pa soveel vriende kon hê! Want oral waar ek kom, vertel mense my staaltjies van hul vriendskap met die man. Toe kyk Hein my so en sê: “My pa het almal laat voel hy is daai een se beste pel.”
........
’n Hele huis vir skrywers, net so op ’n skinkbord.
........
Ek is dankbaar om Phoebe oor die jare heen beter te kon leer ken. Die dag met die opening van Paulet Huis sal my altyd bybly, want daai dag besef ek iets van Phoebe. Sy is in haar en Jakes se huis, en sy dwaal rond. Die meubels is anders; dis mooier as toe hulle hier gewoon het, prys sy my later. Ons neem ’n foto van haar by die goue bordjie by die voordeur om vir haar dankie te sê vir die reuse skenking. ’n Hele huis vir skrywers, net so op ’n skinkbord. Dan nog met Jakes se bakkie ook in die pakkie. Sy maak haarself mooi vir die gaste; dis hare en grimering. Maar met die mooimaak soos net sy kan, besef ek later Phoebe se weerloosheid, die skaamheid, die amperse soort senuagtigheid. Die gaste is hier, en waar is Jakes dan? En so moet sy al vir jare lank ma staan. Vrou uit eie reg. En daarom was ek so begeesterd toe Phoebe my eendag bel om te sê dis tyd om haar storie te vertel, en sy kort hulp. En daar om die kombuistafel in haar en Jakes se huis vertel sy haar lewensverhaal aan Rachelle Greeff. En is dit nie ’n storie om te hoor nie. Phoebe se storie gaan nie net oor ’n lewe met Jakes Gerwel en die politieke verskrikkinge en onstuimighede van die verlede nie, dit gaan ook oor haar stryd met gemoedstoornisse. ’n Mens vergeet hoe erg onderdrukkend daai tye was, nie net oor jou velkleur nie, maar ook die diskriminasie oor mense wat sukkel met iets soos bipolêre depressie. Maar dis ook nie net ’n tranedal van ’n boek nie, want Phoebe vertel ’n storie daar in die kombuis dat jy lê van die lag. Sy is skerp en snaaks, en as sy eers begin vertel van al die paarties wat in die huis gehou is ...
Die Jakes Gerwel-gesprekke is elke jaar op die Suidoosterfees se program (en kaartjies is gratis). Waaroor word vanjaar gepraat? Een van die Jakes Gerwel Stigting se projekte is om skrywers in Paulet Huis in KwaNojoli (Somerset-Oos) te laat tuisgaan om vir ’n maand lank daar te skryf. In hierdie huis is daar al soveel boeke gebore. Is die Suidoosterfees ’n uitstalruimte vir sommige van hierdie skeppings? Is dit ook waaroor sommige van die gesprekke sal handel?
Dis verkiesingsjaar, so daar is ’n hele paar gesprekke oor hoe die politieke landskap na 29 Mei daar gaan uitsien; oor hoe ons die land herbou; oor wat wel in die afgelope 30 jaar van demokrasie goed was ... en so meer. Dan is daar gesprekke oor die opkoms van KI en hoe ’n mens jou vrees daarvoor moet omskep in iets wat jy tot jou voordeel kan inspan. Ons praat oor die oorlog wat woed aan die anderkant van die mooie Tafelberg – ek meen, daar is dan nou al sprake van koeëlvaste speelparke vir kinders. Hoekom is mans so gewelddadig? vra ons in ’n ander gesprek. En dan is dit altyd ’n groot trots om die skrywers wat by Paulet Huis was, te betrek. Vanjaar is Gaireyah Fredericks daar om te gesels oor haar boek Een voet innie kabr. Sy was verlede jaar een van die JGS / PEN Afrikaans-residente. Nathan Trantraal – ook ’n voormalige inwoonskrywer – kom gesels oor sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang, wat handel oor die grusame kindermoorde deur die destydse treinspoormoordenaar (Railway Ripper). So praat Lebo Mazibuko – ook deel gewees van ons mentorskapsprogram – met medeskrywers Wisani Mushwana, Megan Choritz en Alistair Mackay oor hulle uitbeelding van ruimte en veral stede in hul onderskeie romans.
En natuurlik word Phoebe. ’n Lewe saam met Jakes Gerwel hier bekendgestel. Alhoewel Phoebe ongelukkig nie self daar sal wees nie, praat Haidee Muller-Isaacs met Rachelle Greeff oor die boek.
Alhoewel die gesprekke gratis is, moet mense asseblief bespreek. Van die sessies, soos Caster Semenya s’n, is reeds volbespreek. Dis maklik – jy doen dit op Webtickets. Die boeke sal by die venue te koop wees. Enige vrae kan aan my gerig word – theo@jgf.org.za.
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke