Visuele kuns: Een-en-twintig
Kunstenaars Louis Jansen van Vuuren, Marieke Prinsloo, Michele Nigrini, Alisa Farr, Estelle Marais, Paula van Coller, Anton Brink, Kobus Coetzee, Shui-Lyn White, Susan Grundling, Gustav Bester, Sandra Hanekom en ander
Kurator Anne-Ghrett Erasmus Coetzee

Tydens die Suidoosterfees se 21ste verjaarsdag deel 21 kunstenaars hulle “rykdom en skoonhede” (Uys Krige) met ons. As inspirasie word stip gekyk na Jan Rabie se kortverhaalbundel 21, wat in 1956 die Afrikaanse literêre landskap onherroeplik verander het. In Jan Rabie se woorde word feesgangers uitgenooi om hierdie uitstalling van hul gevoelens te laat besitneem “soos ’n huwelik vol vreemde, gefluisterde betekenis.”
Gedurende die fees in Artscape-foyers
Onafhanklikheid: uitstalling
Visuele kunstenaars Zainab Davids, Willie Bester, Kobus la Grange en Liam van der Heever
Kurator Carin Bester

’n Multimedia-uitstalling wat visuele en vertoonkuns kombineer. Die kunstenaars gee uitdrukking aan hul siening en ondervinding van die begrip onafhanklikheid. Wat is onafhanklikheid? Vryheid van beheer, invloed, ondersteuning of hulp van ander? Onafhanklikheid is ’n mensereg. Tog is die vraag: is ons werklik onafhanklik en geniet ons volwaardige menseregte in Suid-Afrika en in die wêreld?
Gedurende die fees in Artscape-foyers
Onafhanklikheid: optreekuns
The people should govern
Met Qondiswa James

In hierdie vertoonkuns-aanbieding verteenwoordig die tragiese hanswors die skimme van mense wat deur die stelsel onsigbaar gelaat is. Dié onsigbaarheid word nou ’n mantel waarmee die hanswors dwaal, op soek na bevryde ruimtes binne ’n landskap waar die staat jou oral dophou – daar waar dit dalk moontlik is om mekaar raak te sien. Deur poëtiese gebare van solidariteit probeer die bekroonde kunstenaar en aktivis Qondiswa James ’n manier vind waarop ons met mekaar kan praat, oor ons.
26 April 19:00, 28 April 15:30, 30 April 16:00 | Piazza | Durational | Gratis
Blinkers
Met Eddie Newman
Belemmer deur die oogklappe wat hy gedwing word om te dra.

Eddie Newman se ondervindinge as ruiter in die perdebedryf het dié vertoonkuns-aanbieding geïnspireer om die magswanbalans tussen werkgewer en werknemer te verken. Die krag van fisieke uitdrukking word ingespan om te besin oor onderdrukking, klasongelykheid en die individu se stryd om deur ingeperkte horisonne te breek. Newman vier diversiteit en kultuur terwyl weerstand in sy aanbieding opklink.
28 April 13:00, 29 April 20:30, 1 Mei 19:00 | Piazza | 20 min | Gratis
Livestock
Met Carin Bester

Mensehandel is die wêreld se snelgroeiendste bedryf, met jaarlikse profyt van ongeveer R2,8 triljoen. Dit maak geen onderskeid tussen geslag, ouderdom of ras nie, en dit raak sowat 40 miljoen slagoffers in elke land. Met hierdie optredekunsinstallasie laat Carin Bester die kollig val op dié wêreldwye humanitêre krisis.
27 April 17:30, 29 April 21:30, 1 Mei 13:30 | Piazza | 40 min | Gratis
Paul Alberts: In die skeppende oomblik
Saamgestel deur Charmainé Alberts
Aangebied in medewerking met Melvyn Minnaar
Gallery F-verteenwoordiger Gavin Furlonger

Paul Alberts (Foto: David Goldblatt)
Die fotograaf Paul Alberts wat in 2010 oorlede is, het hom in die sewentiger- en tagtigerjare daaraan toegewy om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke te dokumenteer. Hierdie tentoonstelling, ’n tydige herbesoek aan sy kuns, gee ’n dinamiese oorsig van die kultuurbedryf destyds. Talle foto’s het in sy 1979-boek In Kamera verskyn. Kom waardeer die klassieke self-opdrag van ’n groot fotograaf wat ’n unieke klomp kunstenaars voor sy lens vasgevang het.
Gedurende die fees in Artscape-foyers
Still moving
Kunstenaars Annehette Troost, Gys Loubser, Lindsey Appolis, Terence Visagie en ander
Kurator Marie Vogts

Suidoosterfees se jaarlikse foto- en kunsuitstalling wat dansmomente visueel vasvang. Saam met hierdie uitstalling waarin beweging in tyd gevries word, kom deel dansorganisasies, skole en geselskappe hul wêrelde met feesgangers. Kom meer te wete oor die dansbedryf of, as jou voete vir niks verkeerd staan nie, sluit selfs aan!
Gedurende die fees in Artscape-foyers
David se skepe
Aangebied deur die Suidoosterfees, ondersteun deur BASA
Met David Gara en studente van Dance for All
David Gara is ’n Zimbabwiese migrant wie se pragtige modelskepe, volledig geskep uit herwinningsmateriaal en sy verbeelding, skoonheid verleen aan Johannesburg se strate. Sy kunswerke is die vertrekpunt vir ’n meditatiewe vertoning van lig en beweging saans op die Piazza. David se skepe plaas die klem op Kaapstad se immigante-geskiedenis en die teenwoordigheid van immigrant-kunstenaars in Suid-Afrika vandag.
Saans op die Piazza

