Foto: verskaf deur die Jakes Gerwel Stigting
|
Sêgoed van Jakes Gerwel Op ’n vraag in 2004: Wie is Jakes Gerwel? “Ek het in 58 jaar nog nooit geweet hoe om dié vraag te beantwoord nie. Maar die ras of etnisiteit wat aan my toegeskryf word, sal nie hoog op feature nie.” (Die Burger, 10 September 2004) Waar pas Afrikaans in? “Die feit dat ek Afrikaanssprekend is, was nog altyd vir my belangrik, maar nie so dat ek deur my Afrikaanssprekendheid geketting word nie. Dis ’n manier waarop ek relate tot die wêreld, maar dis nie ’n afkamping nie.” (Die Burger, 10 September 2004) “Ek weet party van my tydgenote het bewustelik verengels. Maar vir my sou dit net ’n verdere toegewing aan onderdrukking wees. Ek het nooit enige twyfel gehad dat dit my taal is nie. Inteendeel; die behoud van my outentisiteit was deur Afrikaans. My kinders is Afrikaans, dis ons huistaal, dis die taal waarin ek grootgeword het.” (Sarie, 14 Januarie 1998) In 1994: “Geluk is nie iets waarvoor jy werk wat jy ééndag gaan kry nie. Wat jy nóú doen, moet jou geluk verskaf. En as jy sekere veranderinge moet maak, dan moet jy dit nóú doen.” (De Kat, Augustus 1994) “Politiek is die gedurige manipulering, beweging en ordening van veral magsverhoudinge. Dit moet gebeur deur die bewustelike begrip dat jy besig is met die uitoefening van magsverhoudings. Daar is nie iets soos onbewaakte oomblikke en stiltes tussen oomblikke nie. Jy moet die hele tyd jou rug dophou, jy moet ander mense dophou sodra hulle hul rug draai, sodat jy jou ding kan doen. You can’t take people on face value.” (De Kat, Augustus 1994) Op sy 65ste verjaardag het Hanlie Retief hom gevra of hy enige verjaardagwens het: “Nee, ek het ’n goeie lewe gehad, my wens is eerder vir my land as myself. Jy weet, ons het in 1994 ’n merkwaardige oorgang gemaak, maar daarna het dinge nie noodwendig altyd so goed gegaan nie. My hoop is dat die land die beste wat in hom is, sal verwesenlik.” (Rapport, 20 Januarie 2011) As hy iets vir sy kleinkinders kan leer: “Uiteindelik soek ’n mens na ’n soort tevredenheid wat jy net in jouself kan vind. Soveel mense strewe na materiële dinge, iets wat vir hulle geluk sal bring. Ek dink jy moet leer om te kan lewe met die besluite wat jy geneem het, en daarby berusting vind.” (Sarie, 14 Januarie 1998) “’n Mens verlang na daai amper oortrotse euforie van die land op daai tyd (net na 1994). Ons het rêrig gedink ons is ’n spesiale land en ’n spesiale klomp mense wat reggekry het wat óns kon. In daai kabinet van nasionale eenheid, byvoorbeeld, was daar drie létterlik strydende partye – die ANC, die Nasionale Party en Inkatha. En hulle het saamgewerk op ’n manier waaroor ’n mens net amper nostalgies kan word as jy terugdink aan daai eerste periode. As iemand in die kabinetkamer ingestrompel het sonder om te weet wat daar aangaan, sou hy nie kon sê dis drie oud-strydende partye daai nie ... Die gees van nasionale eenheid, die poging om nasionale eenheid te bevorder en om saam te werk en natuurlik Madiba se leierskap daarso – dít is merkwaardig.” Oor sy betrokkenheid in die sakewêreld: “Ek vra altyd as mense my vra om in direksies te dien: ‘Hoekom? Wat verwag julle van my?’ Ek dink die sakewêreld deesdae is gretig om kundigheid bo en behalwe net die finansiële te bekom. Hopelik bring ek een of ander inset. Vir ’n ou marxis om nou daar in direksies te sit ... Ek glimlag soms maar ’n bietjie ironies vir myself.” “My eie hoop is dat Afrikaanssprekendheid ’n bevrydende aanwesigheid in Suid-Afrika kan word as hy hom losmaak van die ou wense en herinneringe van maghebber-wees. Afrikaans is een van Suid-Afrika se skatte. Daar is ander skatte ook, maar Afrikaans het ’n besondere geskiedenis, ’n baie menslike geskiedenis. Daarom dink ek die sprekers van die taal het alle reg om te werk vir die taal se voortbestaan.” Willemien Marais wou weet of sy direkteurskap van Naspers nie ’n “heulery met ’n voormalige vyand” is nie: “Die nuwe Suid-Afrika is júis ’n gedurige geheul met die voormalige vyand. Dis wat ons maak wat ons is: Voormalige vyande wat die wêreld verras deur met mekaar te praat. Naspers is eintlik ’n sonderlinge, internasionale multimediamaatskappy wat vir ons ’n goeie analogiese voorbeeld bied van hoe om Afrikaans te wees in die wêreld.” (Die Burger, 10 September 2004) |
Gebore en getoë
Gert Johannes (Jakes) Gerwel is op 18 Januarie 1946 op Somerset-Oos in die Oos-Kaap gebore. Hy was een van tien kinders – ses seuns en vier dogters. Sy pa, wat in 1976 oorlede is, was ’n boer wat die plaas vir ’n wit boer bestuur het en ook vir homself geboer het op een van die eienaar se plase.
Jakes het nie verskriklike herinneringe van individuele vernederinge as gevolg van apartheid nie. Hy was gelukkig en kon nie gruwelstories daaroor opdis nie. “Ons het alleen op die plaas gewoon en die naaste bure was baie ver. My pa was verantwoordelik vir die boerdery. Dit was eintlik ’n beskutte en beskermde kinderlewe. Mense het my pa gerespekteer. Hy kom uit ’n ou, gevestigde familie van daardie gebied, gesiene mense wat nie die wrokkige onderskeid tussen wit en swart en bruin ervaar het nie.
“Ons gesin het altyd geweet die politieke stelsel is verkeerd en dit sal eendag verander. Ons het van kleins af met die idee grootgeword: eendag as ons oorneem. My jongste sussie het altyd gesê: ‘Ek wonder wie gaan dan met die aeroplanes ry as ons oorneem?’” (Sarie, 14 Januarie 1998)
En hy het verder vertel: “Ja, as ek my arm-pet wil opsit, dan kán ek inderdaad. Ek kan nou (1994) terugskouend sê ons was arm, maar ons het dit nooit so ervaar nie. Ons het nie as arm of armoedige mense grootgeword nie. My pa het die plaas vir die eienaar bestuur. Hulle het alleen daar gebly. Ons het nooit grootgeword in daai onmiddellikheid van onderdrukking en dies meer nie. My kinderervaring was nie een van minderwaardigheid en verdrukking nie. In ’n sin was ons beskerm daarteen. Ek het nie ’n chip on the shoulder van kindertyd nie. Dis waarskynlik ook waarom ek nie ’n agggressiewe mens is nie.” (De Kat, Augustus 1994)
As kind in die Kommadagga-streek in die Somerset-Oos-distrik het hy die idee gehad álmal in die wêreld praat Afrikaans, omdat dit die lingua franca van daardie gebied was. Dit was eers later dat hy van die minderheidstatus van Afrikaans bewus geraak het. (Die Burger, 10 September 2004)
Die landskap waar hy grootgeword het, het ’n fisiese soort herinnering by hom gewek wat hom later die meeste bygestaan het. “As ek verlang, dan verlang ek na daardie omgewing. Ek ry so een maal per jaar daarheen,” het hy aan Suzette Truter (Sarie, 14 Januarie 1998) vertel. “Ek het herinneringe aan ’n wêreld wat minder ingewikkeld was, ’n ongereptheid. Ek kom uit ’n groot gesin en die huis was altyd ’n sentrale punt waar almal bymekaargekom het.
“Ek was ’n baie lui kind, het my ouers altyd gesê. Ek was lief vir lees, van kleins af. Plaaswerk het my nie aangestaan nie, en só kon ek wegkruip. In ’n groot gesin was dit nie moeilik om weg te kruip nie. Ek was nommer ses – ek sê altyd ek is die oudste van die jongstes.”
Aan Murray la Vita (Die Burger, 23 Julie 2010) het Jakes vertel: “So dit was nie rýk kinderdae nie. Inteendeel. Maar dit was ’n baie gelukkige, soliéde tyd. Ek praat nou die dag met David Kramer oor memoires en die goeters, en oor hoe broos die geheue is en oor hoe ’n mens maklik kan romantiseer. Ek het baie geïsoleerd grootgeword. Ons het nie bure gehad binne loopafstand nie. Groot gesin, en dit was eintlik baie lekker gewees. Maar ek is van vroeg af kosskool toe. In die begin het jy darem naweke huis toe gekom en later hier van standerd ses af maar net aan die einde van die kwartaal huis toe gekom. Ek spot altyd en sê miskien is dit waarom ’n mens ’n gelukkige kindertyd gehad het, want as jy by die huis was, was jy so bly om by die huis te wees jy het nie tyd gehad om woedes en agonieë teenoor jou ouers op te bou nie.”
Hy was in standerd ses in die kosskool op Uitenhage en het begin skryf. “In ’n klein swart hardebandboekie. Aan iets. Maar toe is ek en my broer met ons trommels op die trein op pad huis toe. En toe word die trommels met die boekie gesteel. Nog nooit weer het ek probeer nie, al weet ek ’n mens moet seker verantwoordelikheid aanvaar om jou ervarings neer te skryf.” (aan Johan van Zyl in Die Burger, 11 Julie 2003)
Sy ouers het die kinders ’n sin van eiewaarde gegee. Sy pa het as diaken in die kerk die plaaslike laerskool en kosskooltjie self begin. En al tien kinders het daar hul primêre opleiding begin. Hy het dit deur die jare onderhou met die hulp van die skool se “kosrekening”, waarvoor hy persoonlike verantwoordelikheid aanvaar het. (De Kat, Augustus 1994)
Hy het aan die Hoërskool Paterson in Port Elizabeth gematrikuleer. Hy het later gesê dat Port Elizabeth nie net die stad was waar hy sy matriek gekry het nie, maar ook die plek “waar ek my eerste soen gekry het, my eerste sigaret gerook het, my eerste glas Ship Sherry gedrink het en die eerste keer wat ek ’n klas gebunk het om my eerste kriekettoets te gaan kyk.” (Die Burger, 19 April 2008)
Verdere studie en werk
Ná skool is Jakes na die Universiteit van Wes-Kaapland, waar hy hom aanvanklik vir die graad BSc ingeskryf het, aangesien sy ouers wou gehad het dat hy ’n mediese dokter moes word. Maar voor die jaar baie ver gevorder het, het hy besef hy het ’n fout gemaak en dat hy eerder BA moes doen.
Ná die eerste jaar is Jakes huis toe na Somerset-Oos, waar hy ’n tyd lank onderwys gegee het aan die Primêre Skool Bracefield. Tussenin het hy sy pa, John, gehelp met die boerdery, en in 1964 het hy hom ingeskryf aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vir die BA-graad. In 1967 behaal hy sy graad met Afrikaans-Nederlands en sosiologie met lof en in 1968 sy honneursgraad in Afrikaans-Nederlands.
In 1971 kry hy ’n beurs om aan die Universiteit van Brussel te studeer, waar hy ’n graad in Germaanse filosofie en ’n doktorsgraad in literatuur en filosofie van die Vrije Universiteit van Brussel met die hoogste onderskeiding (magna cum laude) vir sy tesis, “Literatuur en apartheid: konsepsies van ‘gekleurdes’ in die Afrikaanse roman tot 1948”, behaal. Dit het van hom die eerste bruin man gemaak wat ’n doktorsgraad in Afrikaans behaal het. (Rapport, 30 September 1979)
Oor sy proefskrif het prof Gerwel aan Die Burger (1 Desember 1979) gesê: “My proefskrif het gehandel oor die Afrikaanse literatuur en apartheid van 1875 tot 1948. Volgens my proefskrif is die gekleurde in die tydperk aanvanklik as ’n narfiguur en later as agtergrondsfiguur uitgebeeld.
“Vandag is die toestand anders. André P Brink is een van die skrywers wat Afrikaans verruim en ’n nuwe dimensie aan die taal gegee het. Dis nou vir die nie-Afrikaners in groter mate moontlik om hulle ook met Afrikaans te identifiseer.
“Afrikaanssprekende aanhangers van die Swart Bewussyn het geleer om hulself pleks van ‘wit’ te wees en gee in Afrikaans uiting aan dié denke.”
By sy terugkeer na Suid-Afrika vanaf Brussel is hy aangestel as onderwyser aan die Hoërskool Grassy Park in Kaapstad. In 1972 word hy senior lektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), in 1980 professor. In 1981 word hy dekaan van die Fakulteit van Wetenskap en Kuns, tot 1986.
Jakes Gerwel het in 1976 tydens die byeenkoms van die Afrikaanse Skrywersgilde te Broederstroom as volg gesê (Die Transvaler, 21 Mei 1976): “Die beeld van die Afrikaner wat die meeste na buite geprojekteer word, is dié van ’n eng Nasionaal-stemmende, Afrikaans-biddende broederskap van rassiste. Dis natuurlik ’n growwe stereotiep, maar rokies ontstaan nie uit die niet nie. (…)
“Die vraag is of Afrikaans homself gaan vrymaak van die ongure heerserstaak en of hy gaan wag dat hy deur antagonistiese magte daarvan onthef word; of hy Afrika gaan ontmoet en of hy hom trompop teen die kontinent gaan werp; of hy gaan reageer op die ou wysheid – dat hy wat alles wil behou, alles sal verloor – en sodoende baie mense saamsleep na die mishoop. Niks dui daarop dat die Afrikaner sy magsposisie sal wil laat vaar nie.”
In 1985 vertel Gerwel: “Ek het na die UWK gekom in ’n stadium toe dit geheel en al weens sy apartheidsaard vir mense onaanvaarbaar was. Studente het soontoe gegaan onder protes.” (Rapport, 15 September 1985)
Hy het die Departement Afrikaans-Nederlands by die UWK uitgebou tot die grootste Afrikaans-departement aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit – en dit in ’n tydperk toe daar in die radikale bruin gemeenskap intense verset en weerstand teen Afrikaans as die “taal van die verdrukker” was.
Russel Botman vertel later, in sy huldeblyk nadat Gerwel oorlede is: “In 1976 I was the Public Relations Officer of the Student Representative Council of the University of the Western Cape with some of the great student leaders of that time. When we heard about the tragic deaths of school children in Soweto on 16 June 1976, the SRC called a mass meeting. Everybody was angry at the National Party and specifically at the late Minister Andries Treurnicht’s explanation: ‘We pay, we dictate.’ A motion served that the students of UWC should act immediately in solidarity with the learners in Soweto. I still remember how angry the meeting was at my suggestion that we should first develop our own understanding of what was happening in the country in order to respond appropriately. Somehow agreement developed that the SRC be mandated to consult Jakes Gerwel in the Afrikaans and Dutch Department. We met in his office. Jakes advised the SRC to call a symposium of all students and invite a number of speakers to address the meeting. He was one of the keynote speakers.
“He told us that we were on the threshold of taking a new step in our social consciousness. Being Coloured and Afrikaans was not a matter of race, as apartheid wanted the country to believe. It was instead a matter of consciousness. Our social consciousness should connect us to all people of South Africa and especially to the most vulnerable and oppressed people. With others he helped us to understand that we were more than a classification, so we felt empowered to take on the apartheid system for our own reasons, which were embedded in a national thrust for unity and justice.”
In 1980 is Gerwel en ses ander personeellede van die UWK deur die veiligheidspolisie in hegtenis geneem. Die voorsitter van die Skrywersgilde, Abraham de Vries, het namens die Gilde ’n beroep op die destydse minister van polisie, Louis le Grange, gedoen om Jakes Gerwel onmiddellik vry te laat of hom te verhoor. Hulle is later vrygelaat. (Beeld, 29 Mei 1980)
In Mei 1980 het die Stellenbosch Aktuele Aangeleentheidskring (SAAK) Jakes Gerwel genooi om met die studente op Stellenbosch te kom praat oor die krisis in swart onderwys. Nadat hy aanvanklik die uitnodiging aangeneem het, het hy later laat weet dat ná ernstige oorweging van die regering se houding teenoor swart onderwys, hy nie sy weg kon oopsien om hulle wel toe te spreek nie. (Cape Herald, 10 Mei 1980)
Tydens sy professorale intreerede in 1983 het Gerwel gesê literêre kritiek is nie ’n ideologies onskuldige dissipline nie. “Die dade van diegene wat hulle veral aan die universiteite toespits op literêre kritiek, het altyd ’n politieke inhoud, en is verwant aan, ’n funksie van of gekondisioneer deur ’n breë ideologiese beskouing. (…)
“Die Afrikaanse literêre kritiek het myns insiens al hoe meer formalisties geword, waardeur faktore buite die letterkunde geen belangrikheid het nie en daar na die teks gekyk word as outonome struktuur. (…) Die strewe van sy departement, en spesifiek diegene wat hulle met die letterkunde besig hou, sou wees om die formalistiese benadering te verwerp en aan die letterkunde ’n sosiologiese oriëntasie te gee.” (Die Burger, 18 Junie 1983)
Sy doktorale tesis, “Literatuur en apartheid: konsepsies van ‘gekleurdes’ in die Afrikaanse roman tot 1948”, is in 1983 deur die UWK uitgegee, met ’n herdruk in 1988. Die werk behandel in die besonder die kleurpolitiek en die Afrikaanse letterkunde. Dit ondersoek veral die beeld van gekleurdes in verskillende baanbreker-prosawerke van die jare dertig. Daarin verwerp hy die siening van ’n teks as ’n “geïsoleerde verskynsel wat in ’n literêre museum ’n plek vir die nageslag moet kry”. In sy studie word die teks benader as ’n “dinamiese medewerker aan die ideologie van die Afrikaner, dialekties deel van die denkproses wat apartheid gemaak het”.
André P Brink (Rapport, 12 Februarie 1984) het in sy resensie geskryf dat hierdie studie van Gerwel ’n stuk baanbrekerswerk op literatuursosiologiese gebied is. “In sy studie het Gerwel probeer vasstel hoe die Afrikaner in die jare vóór geïnstitusionaliseerde apartheid probeer het om die feit van die Kleurling te verwerk, met die doel om lig te werp op die struktuur van die betrokke literêre tekste, maar óók op die sosiale konteks waaruit geen teks ooit losgedink kan word nie.
“Wat die verhandeling met sy klare dialektiek vir my doen,” het Brink voortgegaan, “is om na buite uit die literatuur te bewys hoedanig apartheid as sosiale struktuur en lewenswyse gevestig was lank voordat dit wetlike beslag gekry het, en bloot te lê hoe literêr skeef daar geoordeel word en die leser/kritikus vraagloos die sosiale etos van hierdie baas-en-klaas-werke aanvaar het. Gerwel het byvoorbeeld aangedui watter strukturele uitwerking dit het as bepaalde figure nie as romanfigure nie, maar as komponente van die ruimte voorgestel word, soos meermale met bruin karakters gebeur het. Van die verrassendste onthullings in die werk is sy gefundeerde herwaardering van ‘klassieke’ werke in Afrikaans.
“Hierdie studie was een van die nodigste wat geruime tyd in verband met die literatuur verskyn het; en dit was in daardie situasie ook so belangrik dat niemand wat oor ‘ons toekoms’ wou saampraat, eintlik kon bekostig om nie van hierdie blik op ons verlede en hede kennis te neem nie.”
In 1985 het die voorsitter van die Raad van die Universiteit van Wes-Kaapland, prof JC de Villiers, aangekondig dat prof Jakes Gerwel vanaf Januarie 1987 die nuwe vise-kanselier en rektor van die UWK sou word. Hy het prof Richard van der Ross wat afgetree het, opgevolg. Hy het die posisie tot 1994 beklee.
Jakes Gerwel wat toe ’n jeugdige 39 jaar oud was, het aan The Argus van 6 September 1985 gesê dit is vir hom ’n groot persoonlike eer: “My sense of personal gratification is, however, severely dampened by the state in which the country finds itself. (…) I wish to pledge my principalship to the advancement of that search for fundamental change in our society.”
Gedurende sy tyd as hoof van die Afrikaans-Nederlandse departement aan die UWK het hy dit uitgebou tot die grootste Afrikaanse departement by ’n Suid-Afrikaanse universiteit, skryf Sybelle Albrecht. (Die Vaderland, 13 September 1985) “En dit in ’n tyd toe daar in die radikale bruin gemeenskap intense verset en opstand was teen Afrikaans as die ‘taal van die verdrukker’.”
Oor sy toekoms as rektor het hy aan Albrecht vertel: “Genadiglik het die UWK die stigma van ’n apartheidsinstelling en boskollege afgeskud en is dit waaragtig universiteit. Ek wil nie graag praat van ’n groot taak wat ek myself wil oplê nie. Van Wyk Louw het trouens lankal daarteen gewaarsku. Maar as ek dan vir my ’n taak móét oplê, sal ek graag die akademiese bedrywighede op die kampus sinvol wil versoen met die studente se politieke strewes. Dit is vir my ’n uitdaging om te sien dat die akademie sinvol in verband staan met lewens en ‘strewes van die studente’.”
Die Burger het ook vir prof Gerwel voorspoed toegewens met die gedugte taak wat vir hom voorgelê het: “Ons wens hom welslae in die nuwe taak toe. Dit sal dikwels nie maklik gaan nie. (…) Studente het nog altyd prof Gerwel se empatie met hulle en hul saak sterk aangevoel. Hopelik maak dit sy taak makliker. Die groot toets wat vir hom voorlê, is of die UWK onder sy leiding ’n selfs kragtiger opvoedkundige instelling kan word as wat dit reeds is. Terselfdertyd sal hy moet toesien dat akademiese debatvoering op die hoogste vlak plaasvind, dat behoorlike standaarde gehandhaaf word en dat normale studentebedrywighede nie tot nadeel van groot getalle studente ontwrig word soos in die laaste tyd gebeur het nie.” (Die Burger, 10 September 1985)
Gerwel het aan Zelda Jongbloed (Rapport, 8 September 1985) gesê dat hoewel hy baie bly is oor die aanstelling, is hy diep onder die indruk van die onstuimige tye waarin hulle daardie tyd gelewe het. “Van ons studente is in aanhouding, ander is reeds dood of beseer. My goeie vriend en studenteleraar van die UWK, dr Allan Boesak, is in aanhouding en die dreigement van aanhouding hang oor studente. Ek hoop die universiteit sal bydra tot die bevordering en moontlike bereiking van ’n vrye, nie-rassige demokratiese Suid-Afrika.”
Gedurende sy tyd as rektor van die UWK het hy verreikende veranderinge aan die kurrikulum gedoen.
Oor daardie tyd het hy later aan Karin Coetzee (De Kat, Augustus 1994) vertel dat die eerste paar jaar as rektor baie rof was. Hy het ses jaar lank op adrenalien geleef. “Dit was in die PW Botha-era: onderdrukkend, ’n voortdurende konfrontasie met vyandiges. Daar was woelinge en storm en drang in die universiteit. Elke klein dingetjie was ’n versteekte krisis, om elke draai ’n moontlike toi-toi. ’n Gedurige gekolk op my maagsenuwees.
“Dis nie ’n ding wat ek baie oor praat nie,” het hy aan Coetzee vertel. “Ek kon nie verstaan hoekom mense so heftig oor die UWK-projek gevoel het nie. Dit het iets te doen gehad met die vermoede wat so baie mense het, maar waaroor niemand my ooit uitgevra het nie, dat ek lid was van die Kommunistiese Party, dat ek ’n kommunis is. Daai ding het baie ontstig. En toe ek nog praat van UWK as die intellectual home of the left! Dit het al die anti-kommunistiese, aktivistiese, primitiewe emosies uitgebring.
“Ons het baie oproepe gekry en briewe en ag, daar was die keer toe ons karre uitgebrand is – dit het druk op my gesin uitgeoefen. Dit was vir my die grootste ding. Vir myself, jy weet, ’n mens kan dit eintlik hanteer as jy in die middel van ’n ding is. Wanneer dit so woes gaan, is daar ’n stil plek iewers daar in die oog van die storm. Maar dit is die mense wat buite staan en waarvoor jy verantwoordelik voel, wat ek gevoel het ly.”
In 1986 was Jakes Gerwel deel van ’n delegasie van 12 lede van die UWK en die Universiteit van Kaapstad wat deur die Universiteit van Zambië genooi is om spesifiek oor die krisis in die opvoedingstelsel in Suid-Afrika te praat. Hulle het ook kontak gemaak met leiers van die destyds verbanne ANC. Op die aanloopbaan van die lughawe het hulle Oliver Tambo, die destydse president van die ANC, ontmoet, en ook later gepraat met Alfred Nzo, toe sekretaris-generaal van die ANC.
Jakes Gerwel wou einde 1995 uittree as rektor en dan ’n navorsingspos aanvaar, sodat hy navorsing kon doen oor onder meer kwessies soos samelewing en kultuur. Toe hy nog lid was van die komitee wat pres Mandela se inhuldiging as president moes reël, het hy ’n oproep gekry dat die President hom wou spreek. Hy is die pos van direkteur-generaal in die kantoor van die President aangebied en moes binne vyf dae sy sake afhandel en begin werk. “Dit was onverwags, maar dit was ’n ongelooflike eer en ’n mens sê nie nee vir só iets nie.” (Sarie, 14 Januarie 1998)
Hy is aangestel as direkteur-generaal in die kantoor van oudpresident Nelson Mandela, asook as kabinet-sekretaris van die regering van nasionale eenheid van 1994 tot Junie 1999.
Oor die nuwe tydperk wat Suid-Afrika ná 1994 binnegegaan het, het hy hom as volg uitgelaat teenoor Karin Coetzee: “’n Paar jaar gelede het ons gesit, tand en klou teenoor mekaar, en nou skielik is dit ’n wonderlike Suid-Afrikaansheid wat almal aan bou, almal aan saamwerk.
“Daar is ’n groter ontspannenheid. Dit is opvallend hoe lekkerder en makliker mense deesdae Afrikaans met mekaar praat. Dit is nie ’n issue dat jy sal sterwe vir Afrikaans nie. Ek sal waarskynlik sterwe vir Afrikaans.”
In sy amp moes hy sorg vir stewige, betroubare administratiewe strukture wat die President en die kabinet ondersteun. Hy was ook gemoeid met die regering se program van rekonstruksie en ontwikkeling. “Aan die begin was die pos vir my soos ’n swak roman met ’n baie sterk episodiese inslag, ’n klomp interessante anekdotes. Maar dit het nog nie beteken dat ek die meesternarratief, of wat hulle in die letterkunde sê, die bindende struktuur, ontdek het nie.” (De Kat, Augustus 1994)
Om vir Nelson Mandela te werk, was vir Jakes Gerwel ’n eer én ’n groot verantwoordelikheid en sy personeel moes alles só bestuur dat hy sy verantwoordelikhede kon nakom sonder dat hy hom sou ooreis. Hy het Mandela beskryf as ’n wonderlike mens met ’n besondere wysheid en medemenslikheid. “Maar dis nie ’n wekerige, heilige soort trek nie. En hy het die kuns verstaan om mag uit te oefen. Hy het warmte te midde van ’n politieke omgewing met politieke werklikhede.” (Sarie, 14 Januarie 1998)
In 1999 het Jakes by die destydse Naspers aangesluit as onafhanklike nie-uitvoerende direkteur, en in dieselfde jaar het hy die Orde van die Suiderkruis (Goud) van Mandela ontvang vir sy aandeel aan die uitlewering van die Lockerbie-skuldiges. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, het gesê Gerwel het met hom kundigheid saamgebring wat Naspers tot groot voordeel kon wees. (Die Burger, 3 Julie 1999)
Vanaf 1999 tot 2012 was hy voorsitter van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, asook voorsitter van die Geesteswetenskappe-afdeling en bekleër van die Nelson Mandela-leerstoel in Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Hy sou ondersoek doen met betrekking tot die verskillende tale en hulle letterkundes in Suid-Afrika en in die besonder aandag skenk aan die werk van Karel Schoeman. Hierdie leerstoel is ’n gesamentlike navorsingspos van die Universiteite van Kaapstad en die Wes-Kaap. (Zuid-Afrika, Junie 2000)
In 1999 is hy aangewys as die kanselier van die Rhodes Universiteit in Grahamstad. Hy was die opvolger van Gavin Relly, wat oorlede is nadat sy sewejaar-termyn as kanselier in 1998 geëindig het. “Gerwel is ’n baie ervare akademikus. Sy aanstelling sal groot aansien vir Rhodes bring en sy raad en leiding sal hoog aangeslaan word,” het David Woods, visekanselier, gesê toe die aanstelling bekendgemaak is. Gerwel was die eenparige keuse van Rhodes se senaat, universiteitsraad en ander bestuursliggame.
Hy was ook nie-uitvoerende voorsitter van die Life Healthcare-groep vanaf 2003 en voorsitter van die SAL vanaf 2004, asook nie-uitvoerende voorsitter van Aurecon en Brimstone Beleggingsmaatskappy.
Hy was voorsitter van die Raad van Trustees van die Nelson Mandela-stigting, die Mandela Rhodes-stigting en die Allan Gray Orbis-stigting en ondervoorsitter van die Peace Parks-stigting.
Jakes Gerwel was een van die sprekers op ’n jaarlikse konferensie vir Afrikaans onderwysers op Stellenbosch. Hy was daardie tyd van mening dat indien Afrikaans meer as net bloot ’n spreektaal wil bly wees, dit baie nodig is dat daar ’n “nie-rassige, intellektueel stimulerende debat in Afrikaans gevoer moet word”.
Hy het voortgegaan: “Vir my is die betekenis van Afrikaans geleë in die waarde wat in die taal tot stand gebring is deur mense soos Van Wyk Louw, Degenaar, Versfeld en andere. Afrikaans het ’n nasionale bate geword, en die hele nasie sal verarm as Afrikaans sou agteruitgaan.” (Die Burger, 2 Maart 2000)
Gerwel is in 2001 aangestel as hoof van ’n informele groep om aandag te skenk aan die taalkwessie op universiteite.
In 2004 is Gerwel aangestel as toesighouer oor die Mandela-Rhodes-trust. Dit het in 2003 ontstaan met die 100-jarige viering van die Rhodes-trust se bestaan. En, sê Jan-Jan Joubert (Beeld, 16 Julie 2004), daar is ’n stewige skoot ironie te put uit die samevoeging van die imperialis en die vryheidsvegter se name.
“Dit is sekerlik nie iets wat voor die hand lê nie,” het Gerwel erken. “Die Rhodes-trust se geld kom juis van Cecil John Rhodes se nalatenskap – geld wat hy nagelaat het omdat hy gemeen het dit is beskawend vir mense (veral uit die VSA!) om aan Brittanje blootgestel te word.
“Madiba se sin vir geskiedenis en historiese versoening het hom laat toestem dat die twee name ná ’n eeu gekoppel word. Dit is die sluiting van ’n politieke sirkel, van twee mense wat op verskillende maniere impak op die geskiedenis gehad het.”
Hy was ook vir tien jaar lank voorsitter van die Burger-Suidoosterfees. Hy het aan Johan van Zyl (Die Burger, 11 Julie 2003) as volg vertel oor die ontstaan van dié fees: “Die gedagte van die fees is deel van die voortgaande gesprek oor Afrikaans, die diverse uitdrukkings van Afrikaans, hoe die taal lyk, hoe die taal hom gedra. Kunstefeeste is een van die verskynings van Afrikaans-wees.
“Daar is al heelwat gepraat oor hoe die onderskeie feeste diversiteit hanteer, en as jy hierby voeg gesprekke oor Afrikaans of die rol van dié feeste, val dit vreemd op dat daar nie ’n Kaapse fees was nie. Jy dink tog eerste aan die Kááp as jy tob oor begrippe soos Afrikaans, kosmopolities en metropolitaans.
“Die Kaapse Vlakte is demografies ’n Afrikaanse swaartepunt, maar ook een van die taal se groeipunte. Deur die voorbrandfees (destyds) by UWK en die fees by die (destydse) Technikon Skiereiland aan te bied, skep ’n mens ruimte om dié inrigtings as kulturele groeipunte te ontwikkel.”
Die bedoeling met die Suidoosterfees was hoe om Afrikaanssprekendes van verskillende kleuragtergronde byeen te bring, maar op ’n minder kunsmatige manier as wit en swart en bruin. “Die vraag is of ’n mens hoegenaamd ’n Afrikaanse kunstefees soomloos en nie-rassig kan maak ... die Suidooster, wil ek glo, is minstens ’n póging,” het Jakes aan Johan van Zyl gesê.
Die tiende Suidoosterfees, wat in 2013 plaasgevind het, was ’n huldeblyk aan Jakes Gerwel.
Jakes het gereeld besoeke aan Ierland gebring, “die land buite Suid-Afrika wat ek die beste ken en waarvoor ek die liefste is,” het hy aan Johan van Zyl vertel. Sedert die vroeë 1970’s, nadat hy ’n Ierse non leer Afrikaans praat het, gaan hy – en soms ook sy gesin – byna elke jaar soontoe. Jakes het ook in Tony O’Reilly, die Ierse voorsitter van die Independent-groep, se internasionale adviespaneel gedien, wat mense insluit soos die voormalige Kanadese premier, Brian Mulroney, David Dinkins, voormalige burgemeester van New York, Peter Mandelson, raadgewer van die Britse premier, en Ben Bradlee, redakteur van The Washington Post tydens die Watergate-skandaal.
Hy het vir hom ’n kliphuis uit die jaar 1825 op Somerset-Oos gekoop, om “sentimentele redes”. In 2003, tydens die jaarlikse Biltongfees op sy geboortedorp, het die Nelson Mandela-stigting aan hom ’n koei geskenk wat na ’n korporatiewe landbouprojek verskuif is waar haar nageslag jaarliks opgeveil sal word ter stywing van die fonds.
In April 1998 het Jakes gedurende ’n roerende plegtigheid die nuut-geboude klaskamers by die Bracefield Congregational Primary School, sy ou kerkgebaseerde plaasskool in die Oos-Kaap, geopen. Dit was ook die eerste keer dat Xhosa- en gekleurde Afrikaanssprekende jeugdiges dieselfde skool op dieselfde terrein sou bywoon. Gerwel het ook gelukwense vanaf Nelson Mandela na die gemeenskap gebring. Hy het belowe om die projek met Mandela te bespreek en verdere bystand vir die geïsoleerde landelike gemeenskap te versoek. Die distriks- en provinsiale onderwysbeamptes, sowel as Gerwel se vrou, Phoebe, het hom vergesel.
Gerwel het die nuwe klaskamers, met baie spasie, wat deur die Vusisizwe Trust gebou is, opgedra aan die herinneringe van sy ouers, John en Sarah Gerwel, wat die skool in 1941 begin het. Hy het vertel hoe die skool “’n deurslaggewende komponent tot sy eie ontwikkeling” was. Die Bracefield-projek – die bou van vier klaskamers, ’n kantoor, ’n pakkamer en vyf nuwe toilette – het nege weke vroeër begin en R32 8038 gekos. Dit sou 70 Bracefield-jongelinge huisves en was ’n groot verbetering op die nabygeleë modderhut en kerk wat tot in daardie stadium as tydelike klaskamers gebruik is.
Die gemeenskap was vol hoop dat Gerwel se besoek hulle in staat sou stel om fondse te bekom vir elektrifikasie en om die skoolkoshuis te vergroot. Gerwel en sy nege broers en susters het hier skool bygewoon. “Mense van dié gemeenskap het ’n trotse geskiedenis om mekaar te help, en dié is ’n trotse en betekenisvolle dag vir julle almal,” het Gerwel gesê.
Jakes was ’n groot rugby- en krieketliefhebber en in 2003 was hy voorsitter van die beleidskomitee van die Wêreldbeker-kriekettoernooi. In 1999 is hy verkies tot die direksie van die Westelike Provinsie Krieketunie. In 2000 is hy gekoöpteer as lid van die bestuur van die Suid-Afrikaanse Rugby-Voetbal-unie (Sarvu).
Oor sy liefde vir krieket het hy in 2011 aan Hanlie Retief (Rapport, 30 Januarie 2011) vertel: “My liefde vir krieket is in die Oos-Kaap gebore. Op die plaas waar my pa bestuurder was en op klein skaal geboer het, het ek en my nege sibbe altoos viere en sesse oor die vlaktes geslaan, diep onder die indruk van die befaamde krieketkommentator Charles Fortune se verbeeldingryke inkleding van die spel.”
Mense onthou vandag nog hoe Jakes in sy jonger jare elke Saterdag langs Bonteheuwel se krieketveld gesit het. By die Ravensmead-klub, Tigers, was hy verantwoordelik vir junior krieket. “As die vervoer nie opdaag nie, het ek sommer al elf spelertjies in ’n kar gebondel.”
Sy gunsteling-kolwers? Spelers soos Kepler Wessels, Michael Atherton, Steve Waugh – “ouens wat dinge tot op die been kon sny. Dis daardie fraiingloosheid van hulle. My kinders sê dit vertel iets van my eie droëheid, hierdie aangetrokkenheid tot sulke onflambojante kolwers.” Dalk is dit maar net die droë Karoo-wêreld waar hy grootgeword het.
Jakes en sy vrou, Phoebe, ’n maatskaplike werker en ’n nooi Abrahamse van Grassy Park, met wie hy op 22 Augustus 1970 getroud is, het vanaf 1975 in Belhar in die suidelike voorstede van Kaapstad gewoon saam met hulle kinders, Jessie en Hein. Albei het sekere dele van hul seun se opvoeding aangevul. “Toe Heinrich kleiner was, het Jakes baie vir hom gelees.” Jakes Gerwel was besonder lief vir kinders. In 1976 het hy en Phoebe hulle ontferm oor ’n hawelose meisiestudent van Port Elizabeth en haar nie-amptelik aangeneem. Phoebe was toe 27 jaar oud, en vertel dat die aanpassing om skielik “ma” te word van ’n 17-jarige nogal ’n vreemde gevoel was. Heinrich was toe een jaar oud. “Ek en Jessie het baie gou ’n wonderlike ma-dogter-verhouding gehad,” het Phoebe aan Mercy Morkel vertel. “Sy is intussen getroud en het ’n seun, Roger, oor wie Jakes, ek en Heinrich gaande is. Heinrich het nooit gevoel hy is die enigste kind nie.” (Die Burger, 31 Maart 1987)
Uit die Oos-Kaapse wêreld het Jakes ’n verstrengeldheid met skilpaaie styf teen sy hart aangedra. In sy studeerkamer het daar bykans 200 realistiese en abstrakte skilpaaie gestaan en in sy tuin het daar ook skilpaaie rondgeloop. En uit daardie wêreld het ook die wete gekom dat sosiale ongelykhede reggestel gáán word en dat dit sy lewenspad vir hom bepaal het. Amper soos ’n skilpad wat móét vorentoe, móét aanhou. “Dit was vir my altyd baie duidelik gewees. Mense praat van wanneer hulle tot politieke bekering gekom het. My gesin het grootgeword met die sekerheid eendag gaan dinge ander wees. En ons, bedoelende swart mense of álle mense, gaan die land regeer.”
Oor die ding met die skilpaaie het Jakes vertel dat dit toevallig is dat hy skilpaaie versamel. “Dit kom van my dekaandae af. Kollegas het my aandrang op kantoorure –UWK het nie altyd baie ure gehad nie! – met ’n skilpad vergelyk en vir my een gegee. En toe nog ’n keer ’n skilpad vir ’n sommerso geskenkie. En toe’t ek begin skilpaaie sien en skilpaaie kollekteer en begin lees oor skilpaaie en boeke oor skilpaaie en skilpaaie bymekaarmaak. Hulle het gedink ek is net soos ’n blêrrie skilpad. Hoekom weet ek nie.
“My ma het altyd die storie vertel dat toe hulle jonk was, hulle op ’n slag skilpaaie in die Karoo bymekaargemaak het omdat daar ’n vraag na skilpaaie was. Ek is seker dit is ’n apokriewe storie, maar sy het dit vir die goddelike waarheid vertel. Hulle het ’n hele trop skilpaaie versamel en my ma sê, aangejaag stasie toe, maar ek kan my dit beswaarlik voorstel: skilpaaie aanjaag!” (De Kat, Augustus 1994)
Oor sy betrokkenheid by die private sektor het hy in 2004 aan Willemien Brümmer vertel (Die Burger, 10 September 2004): “My hele agtergrond en vorming was redelik links, met ’n sterk sosialistiese inslag. My houding en persepsies oor die private sektor en sakeondernemings wat daarop uit is om wins te maak, was sterk daardeur gekleur.
“Ná 1994 het die ideologiese landskap egter verander. En as daar nie suksesvolle maatskappye met ’n winsoogmerk was nie, het die hele ekonomie en die res van die samelewing daaronder gely. Ek neem aan die rede hoekom ek genader is, was in elk geval nie omdat ek ’n financial wizard is nie. Dit was omdat ek kan help om ’n groter klem te plaas op die sosiale aspekte van ’n sakeonderneming.”
Wanneer ’n mens die van Gerwel gehoor het, het mense gewoonlik aan politiek gedink, terwyl hy nooit ’n politikus was nie en eintlik in die “hogere kuns” geskool was. “Maar,” het hy aan Johan van Zyl verduidelik, “as jy uit ’n polities bewuste huis kom, en gegewe die Suid-Afrikaanse situasie, is dit onmoontlik – selfs immoreel! – om sonder daardie bewussyn deur die lewe te gaan. As polities betrokke student met Afrikaans en Nederlands en sosiologie as hoofvakke kon ek my liefde vir die letterkunde deel hou van die groter sosiale bewustheid. En later, as rektor, het die politiek deurgedring tot in ’n mens se diepste wese.”
Jakes se gunsteling-skrywers was Karel Schoeman, vir hom ons land se grootste romanskrywer vanweë sy mymerende vertellinge waar min gebeur, maar tog ook baie op emosionele vlak. Internasionaal het hy Milan Kundera gekies, omdat hy ’n storie vertel en filosofeer sonder dat dit gedwonge is. En die Suid-Amerikaanse skrywer Isabel Allende, oor die magiese, die vreugdevolle in haar stories, al skryf sy oor verdrukkende dinge. (Sarie, 14 Januarie 1998)
Ná die uittrede van Ton Vosloo in 2006 as voorsitter van Media24 is hy deur Jakes Gerwel opgevolg. Jakes was terselfdertyd voorsitter van Welkom Yizani Beleggings, Media24 se swart ekonomiese bemagtigingsprogram.
Jakes het op ’n gereelde grondslag boekresensies vir koerante geskryf en was ook beoordelaar van skryfwedstryde soos Insig se Groot Romanwedstryd in 2007. In 2005 het hy die 10de DJ Opperman-gedenklesing gelewer met die titel “Vertrekpunt vir die vorming van ’n nuwe Akademie vir Afrikaans”.
En in 2004 het hy die 23ste DF Malherbe-gedenklesing in Bloemfontein gelewer getiteld “Eindes, eindigheid, einders: gedagtes by NP Van Wyk Louw en Karel Schoeman”. Gerwel het onder meer gesê: “Dit is vir die hele samelewing van belang dat Afrikaans bly voortbestaan, maar Afrikaners moet ook versigtig wees om die taal nie ’n kwelpunt in die nuwe Suid-Afrika te maak nie. Soos Van Wyk Louw en Karel Schoeman voorspel het, het Afrikaans ook nou aan die einde van ’n era gekom. Dit is nou die hele Suid-Afrika se plig om Afrikaans, soos die Grondwet aandui, te laat voortbestaan.
“Tye het verander. Die Afrikaanse politieke oorheersing is verby en daarom moet Afrikaans nou by die nuwe Suid-Afrika inpas en groei. Die taal moet as’t ware nie-rassig en inklusief word. (…) Die jeug is waarskynlik reeds moeg gewroeg oor die voortbestaan van Afrikaans. Hulle wil die taal praat.” (Volksblad, 20 Mei 2004)
In 2007 was Jakes saam met Franklin Sonn die eerste bruin mense wat as erelede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangewys is. Die kriteria vir hierdie eerbewys is diens aan die Akademie, diens aan Afrikaans en diens aan Suid-Afrika. Volgens Hennie van Coller, destydse voorsitter van die Akademie, is beide Gerwel en Sonn uitnemende mense. Gerwel het gesê dat dit vir hom ’n eer was om benoem te word en hy het dit graag aanvaar. “Ons kom almal uit ’n bepaalde geskiedenis. Ons lewe in nuwe omstandighede en dinge verander,” het hy gesê. (Volksblad, 5 April 2007)
Hoogtepunte wat vir hom in sy loopbaan uitgestaan het (in 1998), was toe hy sy doktorsgraad in Brussel, België, met die hoogste onderskeiding behaal het. Dit was vir hom ’n intellektuele prestasie. En daar was die agt opwindende jare as rektor by UWK. Dit is deur mense van buite as moeilike jare beskou en dit was ’n moeilike tyd in ons land, maar dit was vir hom bevredigend om werklik ’n verskil te kon maak. (Sarie, 14 Januarie 1998)
Dan was daar ook sy vyf jaar as regterhand van oudpresident Nelson Mandela. “Dit was ’n voorreg wat niemand verdien het nie. Om in dié tydperk van verandering so na aan die President te kon werk, was ’n unieke, uitsonderlike geleentheid,” het hy gesê. Hy het Mandela leer ken as ’n man met ’n soort “hoër wysheid”.
“Almal van ons verkry met verloop van tyd ’n sekere soort wysheid in ons optrede. Mnr Mandela beskik oor ’n soort gelouterde wysheid. Hy het blykbaar die vermoë om homself ’n hele paar jaar in die toekoms te projekteer en terug te kyk en te sien watter effek huidige besluite en optredes gaan hê.”
Eretoekennings
- Orde van die Suiderkruis – Goud
- Orde van Goeie Dade – Libië
- Koning Abdulaziz Sash – Saoedi-Arabië
- 1986 – Doktor in Geesteswetenskappe, College of Clarke
- 1990 – Doktor in Geesteswetenskappe, New York-universiteit
- 1995 – Eredoktorsgraad, Universiteit van Kaapstad
- 1995 – Eredoktorsgraad, Universiteit van die Wes-Kaap
- 1995 – Johan Fleerackersprys van Vlaandere vir besondere verdienste op kultuurgebied saam met Elize Botha
- 1998 – Eredoktorsgraad Rhodes Universiteit, Grahamstad
- 1999 – Orde van die Suiderkruis (goud) vir sy bydrae in die uitlewering van die twee Lockerbie-verdagtes
- 1999 – Vryheid van Somerset-Oos
- 2001 – Eredoktorsgraad in die Regte, Universiteit van die Witwatersrand
- 2002 – Eredoktorsgraad in die Menswetenskappe van die Universiteit van Missouri-Columbia (MU) in Amerika. Volgens MU was Gerwel se reputasie as internasionale bemiddelaar welverdiend. In 1998 en 1999 was hy die Verenigde Nasies se hoofbemiddelaar. In 1986, as rektor van die UWK, het hy ’n vennootskap met die MU aangevoor wat die eerste van sy soort tussen ’n Amerikaanse en ’n histories swart Suid-Afrikaans universiteit was. Die vennootskap het gelei tot meer as 300 akademiese uitruilings tussen die twee instellings.
- 2002 – Eredoktorsgraad in die Regte, Universiteit van KwaZulu-Natal
- 2003 – Eredoktorsgraad in die Filosofie, Universiteit Stellenbosch
- 2005 – Eredoktorsgraad, Universiteit van die Vrystaat
- 2008 – Eredoktorsgraad in die letterkunde, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
- 2012 – Eredoktorsgraad in die Regte, Monash-universiteit, wat in Melbourne, Australië gebaseer is en ’n kampus in Suid-Afrika het.
Einde 2012 het Jakes Gerwel ’n hartomleidingsoperasie ondergaan, waarna hy ernstig siek geword het. Hy is op 28 November 2012 in Kuilsrivier oorlede. ’n Gedenkdiens is by die Universiteit van die Wes-Kaap gehou en hy is veras. Trevor Manuel het die gedenkdiens gelei. Gerwel word oorleef deur sy vrou, twee kinders en vier kleinkinders.
Huldeblyke
- Breyten Breytenbach: “Jakes het sy kant gebring deur haglike en donker tye. Ons kan trots wees daarop dat ons sy idealisme kon deel en iets van sy betrokkenheid en standvastigheid aanvoel. Sy besadigde invloed en sy idealisme – altyd in die rigting van groter menslike begrip en ’n meer beskaafde omgang met emosies en konsepte, ook as kwintessensiële denker – het van hom ’n waardige leier gemaak.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Koos Bekker (uitvoerende hoof van Naspers): “Die ding wat my die meeste van Jakes getref het, is sy aura van algemeen-menslikheid. In ’n gesprek het hy die manier gehad om sy kop effens skeef te draai en deur jou oë in jou siel in te kyk. Dan voel jy asof sy effens weemoedige blik dít reflekteer wat hy daar in die dieptes sien – en jy neem jou voor om volgende week ’n beter mens te wees.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Adam Small: “Ek het gehuil toe ek verneem my vriend en kollega aan die UWK, Jakes Gerwel, is ’n kritieke toestand in die hospitaal. Ek het weer gehuil toe ek vanoggend vroeg verneem Jakes is dood. Ek sal hom nooit vergeet nie en kan op die oomblik maar net die woorde van die digter herhaal: Stil broers, daar gaan ’n man verby.” (Volksblad, 29 November 2012)
- André P Brink: “Oor die baie jare wat ek Jakes Gerwel geken het, was hy een van die skerpste literatuurkenners met wie ek ooit te doene gekry het, en iemand van die hoogste integriteit en eerbaarheid, ’n man met ’n sin vir humor en ’n perspektief. Uit sy hout is daar min gesny. In elke denkbare opsig is hy onmisbaar.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Wilmot James (voorsitter van die DA): “Jakes Gerwel was, vandat ek 13 jaar oud was en hy en my pa kollegas geword het, soos ’n ouer broer vir my. Sy wysheid, ironiese skerpsinnigheid, liefde vir kinders (en skilpaaie!), liefdevolle sorgsaamheid jeens sy vrou, gesin en vriende sal ek altyd onthou. Onlangs het ek en Jakes saam begin werk aan ’n maatskaplike geskiedenisprojek oor die Khoisan, waarvan ons boek, Grape, die eerste produk is. Ons wou nog soveel doen. Hy was ’n Suid-Afrikaanse intellektueel in hart en niere, en ’n verstommend slim man.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Jacob Zuma, destydse staatspresident van Suid-Afrika: “Jakes Gerwel sal immer onthou word vir die stewige administratiewe grondslag wat hy vir ’n nierassige en vrye Suid-Afrika geskep het. Hy was saam met die hoofde van staatsdepartemente die dryfveer agter die regering se visie van heropbou en ontwikkeling.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Oudpres FW de Klerk: “Gerwel was ’n onwrikbare opponent van apartheid en ’n ware vegter vir ’n nierassige demokrasie. Sy grootste bydrae was waarskynlik sy werk as direkteur-generaal in oudpres Nelson Mandela se kantoor, waar hy ’n belangrike rol gespeel het in die oorgang na ’n nuwe demokrasie, asook sy liefde en betrokkenheid by Afrikaans.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Oudpres Thabo Mbeki: “Jakes Gerwel was een van die grootste Suid-Afrikaners wat ek geken het. Hy was een van die voorlopers wat die pad na ons demokratiese bedeling aangewys het.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Ton Vosloo: “Jakes was ’n geronde mens. ’n Ontsaglike bron van wysheid met ’n fyn aanvoeling vir die strominge in die land. Hy was ’n waardevolle lid van die Naspers-direksie asook ’n puik voorsitter van Media24. Min mense weet watter sleutelrol prof Gerwel gespeel het as die eerste sekretaris van pres Nelson Mandela se kabinet. Hy was ’n konstruktiewe skakel tussen die vorige bewind en die heel eerste verteenwoordigende kabinet van die nuwe Suid-Afrika.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Jacques van der Elst, destyds van die Afrikaanse Taalraad: “Die raad betreur die heengaan van een van Suid-Afrika se grootste seuns. Gerwel was een van die belangrikste figure in Afrikaans en die Afrikaanse akademiese wêreld. Hy sal onthou word as ’n vryheidsvegter wat geglo het hy kan in sy moedertaal, Afrikaans, vir sy vryheid veg.” (Volksblad, 29 November 2012)
- Hein Gerwel, Jakes se seun: “Hy was die pa wat my in die agterplaas leer krieket speel het. Hy het gesê ’n mens moet dit reguit hou – wanneer jy kolf of in jou lewe. Hy het nie daarvan gehou om windmakerig te wees nie. Ek weet mense sê hy het nie geglimlag nie, maar hy het altyd geglimlag wanneer daar kinders om hom was.” (Beeld, 3 Desember 2012)
- Njabulo Ndebele, oudrektor van die Universiteit van Kaapstad: “Sy glimlag was in die manier van hoe hy gedink het, nie noodwendig om sy lippe te beweeg en tande te wys nie. Ek het Gerwel geken toe hy nog in 1976 ’n Afro-haarstyl gehad het wat gewys het hy is ’n aktivis met ’n doel – ook al die jare sedertdien met Gerwel se hare wat al hoe meer agtertoe gekam is en gryser geword het.” (Beeld, 3 Desember 2012)
- Ampie Coetzee: “Hy was ’n eerlike mens, met integriteit, openhartig en besorg oor mense – én met ’n skalkse sin vir humor. Gespot met sy eie mense, met die Afrikaner, en met die Engelse. Maar nooit kwetsend nie, en dikwels sonder glimlag – maar nog altyd snaaks. Ek onthou nou dat hy nie eintlik baie geglimlag het nie! Altyd ernstig gelyk; maar met ’n glimlag in die oog – en baie gelag.
“As een van die motto’s in sy boek oor die letterkunde en apartheid, staan daar ’n aanhaling uit ’n gedig van Breyten:
Nie die hoop dan, barse broer, dat jy te klein was om op te
neem
tog iewers in ons groot land nog opneembaar is
en dat jou beste stigmas soos hiërogliewe
teen die klippe sal bly pryk.
“Ek is hartseer, my broer – en ek waardeer dit nou nog dat jy ons klein seuntjie ‘klong’ genoem het. Die hartseer van Phoebe en Hein kan ek nie besef nie; maar ek kan net vir hulle sterkte toewens.” (LitNet, 28 November 2012)
- Brian O’Connell, rektor en visekanselier van die UWK: “Ek en Gerwel het in 1987 by die hekke van die UWK gestaan met die polisie 10 m verder. Ons is met traangas gebombardeer. Een ding wat ons nie voor dit geweet het nie, is hoe vinnig Jakes kon hardloop. Dit was verstommend. Hy het skoon uit sy een skoen gehardloop.” (Beeld, 3 Desember 2012)
- Ahmed Kathrada: “I first met Prof Gerwel in 1993 when he and his colleagues invited me to open a Robben Island exhibition in Cape Town. Our years of close association began when he was appointed Director-General, and Cabinet Secretary during President Mandela’s presidency; I was Parliamentary Counsellor in the Office of the President. We worked closely together for five years. It was the very first time that a person who was not white was given such a senior position in government. Prof Gerwel acquitted himself with distinction and his association with President Mandela continued almost literally until a couple of months before his death. I also had the privilege of serving as Trustee of the Mandela Foundation under Prof Gerwel’s chairmanship. In all our interaction, I found him to be a brilliant, caring, modest and committed person. He was quickly able to master the capacity to face the challenges before us. He was decisive, and where necessary, did not allow formalities to stand in his way. Prof Gerwel’s family, his colleagues, comrades and his country as a whole will be poorer because of his passing. He indeed was a champion of non-racialism and a man who believed in the power of good leaders to transform society. We will miss his leadership, his commitment, his brilliance and his humanity. He leaves behind a rich legacy that needs to be emulated by all.” (Nelson Mandela Foundation, Ahmed Kathrada pays tribute to Prof Jakes Gerwel)
- Russel Botman: “Mark Albion refers his readers to an old story of three Africans who tried to answer the question: How do you know when night ends and day begins? The first one says: ‘When I can distinguish the olive trees from the fig trees.’ A second one responds: ‘When I can see the forms of the animals across the Serengeti.’ A third replies: ‘When we see a black woman and a white woman and call them both “sister”, when we see a poor man and a rich man and call them both “brother”, then the darkness of night has lifted and the light of day has come.’ The third African could have been Jakes Gerwel. He always saw more than the obvious. He looked deeper than the mere activist. He could always see beyond the normal events of the day. Throughout his life he envisioned a nation united and equal.
“He once wrote an article asking himself what he would want a President to say to the nation at the opening of Parliament. He decisively argued that he wished the President would proclaim the unity of the nation and remind us of our common responsibility to achieve justice for all. Such is the wisdom of an African thought leader.
“Gerwel became an agent of this national aspiration quite early in his own life. He returned from his studies overseas as this talented scholar of Dutch and Afrikaans literature, grounded in progressive social thought. With Adam Small and others they helped form a critical consciousness among the students of the University of the Western Cape in the early 1970s. While everybody else indulged in their hippy lifestyles, they taught their students to read the signs of the times accurately and act as critical citizens timeously.” (SUN, 3 Desember 2012)
- Shaun Johnson (uitvoerende hoof van die Mandela Rhodes-stigting): “In the last 10 years of our friendship, which began long before, Jakes was my boss. But he was also especially my literary friend. He was the first to read a draft of my first novel. He also liked the fact that this Engelsman, me, had inherited from my own linguist father a deep love of the Afrikaans language. Whenever he thought we might be taking things, and ourselves, too seriously, he would send me an appropriate verse from the great canon of NP Van Wyk Louw. I will close with this quatrain from the collection Tristia:
Ons was so aan die gaan gewend
Dat ons gemeen het: gáán is goed.
Maar elke gáng word: sterf-orent
Die end is bitter. En dis end.
“Rest, rest dear Jakes: you earned it over and over in your time with us.”
- Beeld: “Prof Jakes Gerwel se afsterwe laat ’n leemte waarvan die ware omvang eers later stelselmatig besef sal word, want hy het nie te koop geloop met sy deugde nie. Ons meelewing gaan aan mev Phoebe Gerwel en gesin, wat hom aan die res van ons gegun het. Wat is die enorme leemte wat Jakes Gerwel laat?
“Mens sou sy rol in die protespolitiek, akademiese bestuur, die Mandela-kabinet en die sakewêreld kon uitlig. Kom ons fokus vandag net op sy rol vir Afrikaans, en sy nalatenskap. Oor 35 jaar was sy resensies oor die Afrikaanse literatuur rigtinggewend danksy sy belesenheid, skerp oog, vloeiende skryfvermoë en onbevange denke. Hy het Afrikaans altyd op uitsonderlike wyse bevorder, voor 1994 en daarna.
“As rektor het hy in die 1980’s al die Universiteit van Wes-Kaapland in Afrikaans (en nie slegs in Afrikaans nie) verbind tot die bevrydingstryd en demokrasie. Dit het help keer dat selfs meer van Afrikaans se bruiner kinders vervreem raak van hul moedertaal.
“Ná 1994 was sy rol in belang van Afrikaans, in veranderde omstandighede, ewe uitsonderlik en altyd positief. Hierin het sy styl en geloofwaardigheid uit die apartheidsera ’n groot rol gespeel. Dit is hy wat gesorg het dat Ingrid Jonker se gedig ‘Die Kind’ so sentraal in pres Nelson Mandela se eerste staatsrede staan. Dit is hy wat in 2001 die geleentheid geskep het om Afrikaans as onderrigtaal in twee universiteite te waarborg. ’n Gestry in Afrikaanse geledere het sy plan gesink en ’n gulde kans verspeel.
“Hy was een van diegene wat ingegryp het teen die Taalwet vroeër vanjaar. Min mense weet dit, want anders as ander het hy nie die kollig gesoek nie. Maar as Afrikaans hulp nodig gehad het, was hy slaggereed en verstommend effektief. Hierin lê sy nalatenskap en voorbeeld: ’n hoflike, nederige beginselvastheid en strydvaardigheid wat ons almal kan nastreef. Dit sal die beste huldiging vir prof Jakes Gerwel wees.” (Beeld, 28 November 2012)
- ATKV: “Dit is met medelye en hartseer dat ons verneem het van die heengaan van prof Jakes Gerwel. As Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging is ons opreg dankbaar vir die onbaatsugtige bydrae wat prof Gerwel veral op die terreine van die Afrikaanse letterkunde en hoër onderwys gemaak het. Hy was ook direkteur-generaal in die kantoor van ons eerste demokratiese president Mandela waar hy die land nasionaal met voortreflikheid gedien het. Dit is ons bede dat sy diep voetspore behoorlik erken en nagevolg sal word.”
- Hein Willemse: “Jakes was nie ’n bulderende leier nie. Hy het gelei deur sy eie voorbeeld en sy verdraagsaamheid, en met sy ingebore nederigheid het hy gesprekvoering en oortuiging vooropgestel. Dit is daardie vaardigheid wat hy op alle ander lewensterreine – die politiek, die diplomasie en die sakewêreld – ten toon gestel het.” (LitNet, 3 Desember 2012)
- Jason Lloyd: “Gerwel was besonder lief vir Afrikaans en het fyn daarmee omgegaan. Sy tydlose, ‘soomlose’ Afrikaanse stem sal altyd gemis word.” (LitNet, 7 Desember 2012)
- Jonathan Jansen: “He inspired a generation of young scholars through his example of linking political activism to academic excellence in ways that enhanced both. I regard him as my senior mentor, and I am forever grateful for the example he set, which I hope to emulate.” (Twitter gons oor Gerwel se dood – LitNet)
- Michael le Cordeur: “Ons (eerstejaarstudente aan die UWK in 1977) eerste kennismaking met die akademie was met ons Afrikaanse-letterkunde-dosent. ’n Klein, maer mannetjie wat ’n pienkerige baadjie gedra het en met ’n effense deurmekaar Afro-haarstyl gespog het. Ons was uit die staanspoor gefassineer deur hom, toe nog net ’n meneer sonder titels en die baie verantwoordelikhede wat hom later jare so afgetakel het. En dit was nie lank nie of die meeste van ons het ’n Afro-haarstyl gekweek, die uwe inkluis.
“En toe maak hy sy mond oop … en van daardie oomblik af het ons aan sy lippe gehang. Heel eerste het hy ons herinner waarom 16 Junie 1976 plaasgevind het: omdat Afrikaans, sy geliefde taal, aan swart kinders opgedwing is. Ons het ons eerste lewensles op ons eerste dag gekry. Jou moedertaal is joune, wees lief daarvoor, vertroetel dit. Maar moet dit nooit, maar nooit aan ander opdwing nie. Op dié manier het hy by ons begrip gekweek vir ander se taalbehoeftes terwyl hy geen steen onaangeraak gelaat het om ons trots op ons taal te maak nie. In sy kenmerkende klokhelder stem het hy ons gelei om in Afrikaans ons verset te verwoord teen die apartheidstelsel. (…)
“Jakkie (Jakes) is weg, dit was die Here se wil, en ons, sy studente, sal maar moet sien dat ons regkom. Hy het ons mooi gewys, maar verdomp, Prof, jy kon maar jou ontydige afskeid bietjie uitgestel het!” (Rapport, 2 Desember 2012)
- Henry Jeffreys: “Hy was vir talle mense, spesifiek in die bruin gemeenskap, ’n uitstaande rolmodel. Sy leierskap was ’n inspirasie vir duisende in die akademie, eers as Afrikaans-Nederlandse dekaan en later as visekanselier aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
“Hy was die aktivis-professor wat nie geskroom het om sy plek in die voorste linies in te neem teen die onregte en vergrype van apartheid nie. Sy rol in die apartheidstryd was van ’n stil, beheerste, maar gefokuste aard met wye impak. Hy was ook ’n versoener, want dit is waaroor die stryd teen apartheid vir hom gegaan het.
“Hy het die kabinet van oudpresident Nelson Mandela geanker en ’n onmisbare, dog onbesonge rol gespeel in die vestiging van die nuwe demokratiese regering. Sy rol in die relatief gladde oorgang wat Suid-Afrika uniek in die wêreld gemaak het, kan nooit geringgeskat word nie.
“As redakteur van Die Burger was dit vir my ’n eer en ’n voorreg om saam met hom te kon werk in sy hoedanigheid as voorsitter van Media24. Ek het hom dikwels opgesoek as klankbord. Sy raad was altyd wys en vol insig. Min mense het die kompleksiteit van my taak as eerste swart redakteur van Die Burger so goed begryp as hy. (…)
“Uiteindelik sal hy onthou word as ’n ware seun van hiér – die Oos-Kaap, die Kaapse Vlakte, Suid-Afrika en Afrika.” (LitNet, 28 November 2012)
- Steward van Wyk: “Die Departement Afrikaans en Nederlands huldig Jakes Gerwel as ’n gewaardeerde kollega, dosent en mentor en grondlegger van die departement. Ons wat onder hom studeer het en met hom saamgewerk het, is dankbaar vir die voorreg om in die kragveld van sy ryk gees te kon leef.” (LitNet, 28 November 2012)
- Graça Machel: “Jakes Gerwel was ’n steunpilaar vir my en my man. Hy was altyd daar vir ons, en het ons selflose wysheid en kalmte gebied wat vir ons ’n veiligheidsnet was.” (Rapport, 2 Desember 2012)
- Franklin Sonn: “Toe Jakes 60 word, het hy aan my gesê hy gaan nou sy lewe terugneem en in ’n kleiner kring uitleef. Hy wou meer by Phoebe, Heinrich en sy kleinkind Gerard wees en sy tyd verdeel tussen die stad en die Karoo van sy geliefde land. Hy wou wonder en dink oor sy geloof, sy taal, die verdruktes en sy medemens. Natuurlik altyd op die insluitende en intrekkende manier wat sy styl was.
“Hoewel Jakes Gerwel bedrewe in Engels was, was hy essensieel Afrikaans. Die taal wat hy by moedersknie geleer het. Sy egtheid as mens het hy in sy moedertaal, Afrikaans, uitgedruk. Dit was die taal van sy omgang, maar ook van intellektuele diskoers en sy professie. Sy belewenis van sy taal was sonder bymotiewe of strydlustigheid. Dit was veel eerder die medium van sy menslikheid; die instrument waardeur hy die maklikste sy drang na geregtigheid teenoor almal verwoord het.
“Hierdie is ’n erfenis wat waardig is om te behou, ’n erfenis wat ons kinders moet volg en inspireer. Nie net dit nie – bowenal moet dit uitgeleef word.
“’n Diep mens het ons ontval. ’n Man wat sy bepaalde tydvak grondig beïnvloed het. Wat vir diegene wat oorbly stilweg die opdrag van sy erfenis gee wat ons elkeen moet voel soos in die woorde van Van Wyk Louw: ‘Maak my die wig die koevoet wat U inslaat in die eeu om hom te breek ...’” (Beeld, 28 November 2012)
Koos Bekker het ook gesê: “Gerwel was die teenoorgestelde van ’n rassis. Hy was die een mens wat dit kon regkry om die wêreld altyd vanuit verskillende perspektiewe te beskou. Hy het geglo ’n nasie kan net groei as ’n mens kan sien deur die laag van pigmentasie tot binne-in die hart van menslikheid.” (Rapport, 2 Desember 2012)
Op 28 Augustus 2014 het die Universiteit van Wes-Kaapland sy oudstudente wat rektors en kanseliers geword het, vereer vir hulle belangrike bydraes tot verdere onderwys. Phoebe Gerwel het haar man, wyle Jakes Gerwel, se toekenning ontvang. Ander ontvangers van ’n toekenning was Richard van der Ross, Russel Botman, Franklin Sonn en Derrick Swartz.
In 2015 het die Kaapstadse munisipaliteit prof Gerwel vereer deur Vanguardrylaan in Mitchellsplein te verander na Jakes Gerwelrylaan. Oudminister Trevor Manuel het die geleentheid ter ere van Gerwel bygewoon.
In 2016 was die Suidoosterfees se vlagskipproduksie die drama Kristalvlakte deur Amy Jephta. Die opdrag is aan jong dramaturge gegee om Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder as beginpunt te neem en dit in ’n Kaapse storie te verwerk. Dit was ’n opdragwerk van Naspers ter viering van die lewe en werk van wyle professor Jakes Gerwel. Marí Borstlap was die regisseur en Ilse Klink het die hoofrol vertolk. (Die Burger, 14 April 2016)
Tydens bogenoemde Suidoosterfees is daar op die jaarlikse bal ’n veiling gehou waartydens besittings van wyle Jakes Gerwel opgeveil is. (Die Burger, 19 April 2016)
Vyf jaar ná Gerwel se afsterwe op 28 November 2017 is ’n huldeblyk vir hom gehou. Tydens die huldigingsgeleentheid in Kaapstad is Gerwel gedenk deur ’n poësievoorlesing, ’n uitvoering deur ’n strykkwartet en ’n paneelbespreking oor “Hoop, die geliefde land”. David Kramer het ook opgetree. (Die Burger, 30 November 2017)
Die Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans het in 2019 ’n skrywersresidensie in Somerset-Oos in die Oos-Kaap begin. Die residensie is in die voormalige huis van Jakes Gerwel en is gerestoureer. ’n Skrywer kan ’n maand lank gratis daar woon en voorkeur sal gegee word aan skrywers wat aan die begin van hul loopbaan staan, maar nie heeltemal ’n debuutskrywer is nie. (Beeld, 6 Maart 2019)
Jakes Gerwel se seun, Hein, het ook in 2017 as deel van die huldeblyksviering as volg oor sy pa geskryf (Rapport, 26 November 2017): “Dis nou vyf jaar sedert Jakes Gerwel ons verlaat het. Die pyn raak minder en die hartseer is byna geheel. Die herinneringe aan ’n diep lojale vriend, onverskrokke vryheidsvegter, baanbrekende akademikus en liefdevolle familieman is egter steeds tasbaar.
“Hierdie stil, beskeie mens was ’n intellektuele reus wat sy land en wêreld liefgehad het. Ek het al voorheen geskryf oor sy liefde vir sport, veral krieket, maar ek dink my pa se grootste liefde, naamlik vir familie, was uitsonderlik. En met familie verwys ek nie na die algemene opvatting van genetiese nabyheid of bloedfamilie nie. Jakes het die mensdom as ’n verenigde familie gesien.
“Hy was vasbeslote om ons as ‘familie’ – wat soveel skel met mekaar opgetel het – te help om te versoen; om ’n beter wêreld te skep vir veral dié generasies wat ná hom sou kom.
“As een van 11 kinders (my ouma en oupa het tien natuurlike kinders, en een aangenome kind op ’n plaas in Kommadagga in die Oos-Kaap grootgemaak) was die begrip van familie van kleintyd af ’n belangrike aspek in my pa se lewe. (…)
“Dit was met hierdie morele standvastigheid van wat dit beteken om as familie te ‘behoort’, wat Jakes my en my suster, Jessie, geleer het om altyd die beste in mense om ons te probeer sien en dit te help verwesenlik. (…)
“Diegene wat hom geken het, sal kan getuig dat hy ’n ieder en elk dieselfde behandel het, met groot respek en ’n intieme manier van luister wat jou laat voel asof jy die enigste is wat saak maak. Hierdie manier om menslikheid in selfs die armsaligste van ons moeilike samelewing te sien en te help verwesenlik, is wat sy nagedagtenis deernis gee.
“Jakes Gerwel was nie net ’n Suid-Afrikaanse held nie; hy was ’n mens wat die hoop op menslikheid van die hele wêreld nagestreef het. (…)
“Die Jakes wat ek ken, was ’n kampvegter vir hoop. Hy was ’n man wat gelykheid, broederskap en vryheid nagestreef het in al sy weë. My pa was ’n mense-mens, soos hy na baie van sy vriende verwys het. Hy sou nie opgegee het op die droom dat daar ’n dag sal kom dat ons almal as medeburgers kan saamwerk om ’n beter en meer voorspoedige samelewing as wat ons tans beleef, te kon verwesenlik nie.
“Ná vyf lange jare sonder sy leiding het ek besef dat die wêreld ’n koue en harde plek is. Dog het ek die voorreg gehad om in die 37 jaar wat ek by my pa kon wees, te leer dat daar altyd hoop is. Die stryd is nooit gewonne nie; die goeie sal kan seëvier.”
Publikasies:
Publikasie |
Literatuur en apartheid: konsepsies van “gekleurdes” in die Afrikaanse roman tot 1948 |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Letterkunde |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Eindes, eindigheid, einders: gedagtes by NP Van Wyk Louw en Karel Schoeman |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0868866857 (sb) |
Uitgewers |
Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat |
Literêre vorm |
Letterkunde (DF Malherbe-gedenklesing 23) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Jakes Gerwel as samesteller:
- Crossing over: new writing for a new South Africa. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Kwela, 1995 [ISBN 0795700016 (sb)] (Afrikaanse titel: Keerpunt)
- Crous, Marius: Verhaalbundel laat hoor stemme oor grense heen. Die Burger, 22 Oktober 2001
- De Vries, Abraham H: Vertellers van begrip. Die Burger, 5 Julie 1995
- Fourie, Johan: Grape bring kwessies uitdagend dog verteerbaar na vore
- Gouws, Tom: Keerpunt verryk leeservaring. Beeld, 31 Julie 1995
- Grape: Stories of the Vineyards in South Africa. Saam met Jeanne Viall en Wilmot James. Kaapstad: Tafelberg, 2011 [ISBN 9780624049388 (sb)]
- In the rapids: new South Africa stories. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Kwela, 2001 [ISBN 079570125X (sb)] (Afrikaanse titel: Stroomversnelling)
- Introducing Grape: Stories of the Vineyards in South Africa
- Keerpunt: nuwe verhale vir ’n nuwe Suid-Afrika. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Kwela, 1995, 2007 [ISBN 0795700024 (sb)] (Engelse titel: Crossing over)
- Nie almal sal waarheid oor wingerdvrug sluk. Die Burger, 26 Mei 2011
- Stroomversnelling: nuwe Suid-Afrikaanse stories. Saam met Linda Rode en vertaal deur Ettie Williams en Linda Rode. Kaapstad: Kwela, 2001 [ISBN 0795701241 (sb)]
- Van der Merwe, Kirby: Slawerny, SEB ... en sauvignon blanc. Die Burger, 21 Mei 2011
- Venter, LS: Nuwe verhale ’n opwindende leeservaring. Beeld, 21 Januarie 2002
Jakes Gerwel as redakteur:
- Swart Afrikaanse skrywers: verslag van ’n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville op 26-27 April 1985. Saam met Julian F Smith, Alwyn van Gensen en Hein Willemse. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 1985 [ISBN 0909075990 (sb)]
- Toerien, Barend J: Swart skrywers praat. Die Burger, 13 November 1986
’n Keur van artikels oor Jakes Gerwel:
- Adamastor, pseud: Gerwel, Belcher het verengels [brief]. Beeld, 4 Julie 2002
- Afrikaner ’n rassis – Gerwel. Die Transvaler, 21 Mei 1976
- Albrecht, Sybelle: ’n Kampusrebel word rektor van UWK. Die Vaderland, 13 September 1985
- Barnard, Marelize:
- Eerste bruin mense deur Akademie as erelede aangewys. Volksblad, 5 April 2007
- “Gerwel het met denkwyse geglimlag”. Beeld, 3 Desember 2012
- Bevry Gerwel, eis Gilde. Beeld, 29 Mei 1980
- Black, Marguerite: Diverse identiteite: tog, man uit een stuk
- Booysen, Hayley: Prof Jakes Gerwel: foto-album. Sarie, 8 Augustus 2001
- Botman, Russel: Jakes Gerwel dáár om te dien. Die Burger, 30 November 2012
- Breek rassisme in onderwys af, sê Gerwel. Die Burger, 2 Julie 1992
- Breytenbach, Jan: Eerste doktor in Afrikaans. Rapport, 30 September 1979
- Brümmer, Willemien:
- En jy, prof Gerwel: Wie is jy? Die Burger, 10 September 2004
- In die skoene van ’n beeldestormer. Die Burger, 30 September 2005
- Carlin, Johan: Professor Jakes Gerwel: Mandela’s unsung hero
- Coetzee, Ampie: In memoriam: Ampie Coetzee onthou Jakes Gerwel. LitNet, 28 November 2012
- Coetzee, Karin: Jakes Gerwel: meer as ’n blêrrie skilpad. De Kat, Augustus 1994
- Dan groet ons maar, Prof. Beeld, 30 November 2012
- Davis, Gaye: “Students must have a role in running UWC”. The Argus, 10 September 1985
- Davis, Rebecca: Remembering Jakes Gerwel. Daily Maverick, 29 November 2012
- Du Plessis, Clinton V: Jakes Gerwel – poster boy vir die marxisme, Naspers of die liberal elite? LitNet, 29 September 2015
- Du Plessis, Tim: Tyd ryp vir ’n “nuwe droom”. Rapport, 1 Desember 2012
- Gerwel “buitengewoon professor” UCT. Zuid-Afrika, Junie 2000
- Gerwel druk op SA Akademie se nommer. Die Burger, 15 September 2001
- Gerwel en fees nou 10 jaar saam. Die Burger, 18 September 2012
- Gerwel, Hein: A son’s tribute to Jakes Gerwel: My pa is ’n Afrikaan. Mail & Guardian, 28 November 2012
- Gerwel in intreerede: UWK vol spanning weens vernuwing. Die Burger, 6 Junie 1987
- Gerwel in Mandela-leerstoel. Beeld, 27 Augustus 1999
- Gerwel in Naspers direksie aangestel. Die Burger, 3 Julie 1999
- Gerwel “is beïndruk met Kubane”. Die Burger, 26 Julie 1989
- Gerwel kry sewende doktorsgraad in VSA. Volksblad, 10 Mei 2002
- Gerwel open klaskamers op sy heimat Bracefield. Die Burger, 17 April 1998
- Gerwel “trots” op SED-inisiatief. Die Burger, 28 September 2006
- Gerwel volgens smeerpamflet ’n “Bosrektor”. Die Burger, 6 Augustus 1988
- Gerwel vra “nie-rassige” taaldebat. Die Burger, 2 Maart 2000
- Gerwel-memorabilia opgeveil op feesbal. Die Burger, 19 April 2016
- Groot gees Gerwel laat reuse-leemte. Die Burger, 2 Desember 2012
- Hudson, Mari: Pos in Presidentskantoor ’n “unieke geleentheid”. Die Burger, 14 Mei 1994
- Hughes, KR: Detentions no solution to our problems [letter]. Cape Times, 4 Junie 1980
- Jakes Gerwel
- Jakes Gerwel 5 jaar ná sy dood gehuldig [foto]. Die Burger, 30 November 2017
- Jakes Gerwel kritiek in hospitaal ná operasie. Volksblad, 27 November 2012
- Jakes Gerwel nou prof. Die Republikein, 28 Januarie 1980
- Jakes Gerwel se lewe was ’n voorbeeld. Beeld, 28 November 2012
- Jakes Gerwel sien rooi oor selfoonlisensiebewerings. Volksblad, 2 April 2001
- Jakes Gerwel snubs Matie students. Cape Herald, 10 Mei 1980
- Jakes Gerwel to be new head of UWC. The Argus, 6 September 1985
- Jeffreys, Henry: Jakes Gerwel “’n uitstaande rolmodel”
- Jongbloed, Zelda:
- Gerwel wil die akademie en politiek by UWK versoen. Rapport, 15 September 1985
- Skadu hang oor Gerwel se rektorskap. Rapport, 8 September 1985
- Jordaan, Willem: Gerwel aanvaar UK pos. Die Burger, 1 Julie 1999
- Joubert, Jan-Jan:
- Afgetree … al kan hy nie by die huis bly sit nie. Beeld, 16 Julie 2004
- Gerwel sal taalkwessie by instellings ondersoek. Die Burger, 14 Maart 2001
- Jakes Gerwel dies aged 66. News24, 28 November 2012
- Jakes Gerwel se groot wens. Beeld, 29 November 2012
- Kathrada, Ahmed: Ahmed Kathrada pays tribute to Prof Jakes Gerwel
- La Vita, Murray: Die glimlag van ’n ou “marxis”. Die Burger, 23 Julie 2010
- Lautenbach, Dale: The total Lusaka experience. Weekend Argus, 20 September 1986
- Le Cordeur, Michael: “Jakkie is weg, maar ons sal regkom”. Rapport, 2 Desember 2012
- Lloyd, Jason:
- Gerwel sou taalswaai waardeer. Rapport, 13 Januarie 2012
- In memoriam: Jakes Gerwel. LitNet, 7 Desember 2012
- Melvyn Whitebooi en Jakes Gerwel. LitNet, 6 Desember 2013
- Louw, Nicolene: “Twak” – Gerwel oor balsem-Madiba. Beeld, 26 Julie 2003
- Makliker om Afrikaans te wees, dr Gerwel. Die Burger, 1 Desember 1979
- Malan, Mariana: “Kristalvlakte” is ’n drama vir hier en nou. Die Burger, 14 April 2016
- Malan, Marlene: Gerwel se waardigheid geloof. Rapport, 1 Desember 2012
- Miles, John: Oor taal spreek Gerwel halssnoeroordeel uit [brief]. Rapport, 15 Augustus 2004
- Morkel, Mercy: Phoebe is haar man se klankbord. Die Burger, 31 Maart 1987
- Naidu-Hoffmeester, Rivonia: South Africa mourns Prof Jakes Gerwel. UNISA News, November 2012
- O’Connor, Michelé:
- Gerwel lewer gedenklesing. Volksblad, 10 Mei 2004
- Hulde stroom in ná Gerwel se dood. Volksblad, 30 November 2012
- “Moenie taal kwelpunt maak”. Volksblad, 20 Mei 2004
- Odendaal, Jan: Viva Gerwel-nalatenskap! Viva die riel! [brief]. Die Burger, 5 Desember 2012
- Olivier, Riëtte: Jakes Gerwel vereer met graad. Die Burger, 19 April 2008
- “Ons prof” was ’n groot denker, mentor en vegter. Die Burger, 29 November 2012
- Oosthuizen, Nikky: Toekoms van Afrikaans by US “meer somber as tevore”. Die Burger, 22 April 2009
- Opperman, AJ:
- Skrywers kan in Gerwel-huis gaan skep. Volksblad, 4 Maart 2019
- Skrywer kan vir maand wegbreek na Gerwelhuis. Beeld, 6 Maart 2019
- Painter, Desmond: Die tye en teenstrydighede van Jakes Gerwel
- Philander, Rusana: Gerwel beskryf droom vir “nuwe” akademie. Volksblad, 25 April 2005
- Pienaar, Jackie: SA Akademie omskep vir almal. Volksblad, 3 Maart 2005
- Potgieter, Marelize en Jan Gerber: ’n Seun van Suid-Afrika. Die Burger, 30 November 2012
- Prins, Gavin: Gerwel kry US-doktorsgraad. Rapport, 6 April 2003
- Prof Gerwel awarded honorary doctorate by Monash University. Monash News, 2012
- Prof J Gerwel lewer intreerede [foto]. Alpha, Augustus 1983
- Rector of UWC [hoofartikel]. Cape Times, 9 September 1985
- Retief, Hanlie:
- Die beskeie en pretensielose “baas” van die Presidensie. Rapport, 7 Maart 1999
- Mandela “is eintlik 65…” Rapport, 30 Januarie 2011
- Rooi, Jacob: Die einde van ’n era breek aan vir dr Jakes Gerwel. Rapport, 4 Julie 1999
- Shisana, Olive en Judith February: Gerwel: a true son of the soil. Sunday Independent
- Sixties activist is new rector. Cape Times, 9 September 1985
- Sonn, Franklin: Knielende voor die waarde-regbank. Beeld, 28 November 2012
- Sonn, Heather: We deserved a leader like Jakes Gerwel. City Press
- Steyn, Constant: Doelgerig op pad na “heel nuwe” akademie. Volksblad, 29 April 2005
- The life of Jakes Gerwel
- The Times Editorial: In a time of great wrong, Gerwel put us on right track. TimesLIVE
- Toerien, Herman: Gaan Gerwel-leemte politieke landskap verander?
- Tolsi, Niren: Jakes Gerwel: the epitome of integrity and courage. Mail & Guardian, 30 November 2012
- Ton Vosloo tree uit ná 22 j by Media24. Volksblad, 23 November 2006
- Truter, Suzette: Krieket-verslaafde. Sarie, 14 Januarie 1998
- Twitter gons oor Gerwel se dood
- Uitdaging vir UWK [hoofartikel]. Die Burger, 10 September
- UWC lecturers detained. Daily Dispatch, 28 Mei 1980
- UWK vereer alumni vir hul bydraes [foto]. Die Burger, 30 Augustus 2014
- Van Niekerk, Piet: In nuwe SA sal UWK “intellektuele tuiste vir linkses” bly. Die Burger, 29 September 1992
- Van Wyk, At: Gerwel se droë humor gedenk. Beeld, 29 November 2012
- Van Wyk, Jacques: ’n Tikkie humor, maar weersin in apartheid. Die Burger, 17 Januarie 1987
- Van Wyk, Joylene: Diversiteit het steeds plek in SA, sê Gerwel op Orania. Volksblad, 22 Oktober 2005
- Van Wyk, Steward: Jakes Gerwel: 18 Januarie 1946–28 November 2012. LitNet, 28 November 2012
- Van Zyl, Johan: Die koei, die skilpad en die taal sonder some. Die Burger, 11 Julie 2003
- Vosloo, Ton: Kameraad, ons ween diep in ons harte. Die Burger, 29 November 2012
- Western-Cape awards honorary degrees. CSD Bulletin, September 1995
- Wiese, Gerwel aangestel by lugdiens. Die Burger, 26 Oktober 2006
- Willemse, Hein: Gert Johannes (Jakes) Gerwel: 18 Januarie 1946–28 November 2012. LitNet, 3 Desember 2012
- Wyngaard, Heindrich: Jakes Gerwel: die wording van ’n legende. LitNet, 18 Julie 2022
’n Keur van artikels deur Jakes Gerwel:
- 10 jaar gelede was SA gesprek wellewend. Rapport, 15 November 2010
- Afrika se jonges gee mens hoop vir die toekoms. Rapport, 11 Oktober 2009
- Afrikaans en Afrikaners staan nog stewig. Rapport, 8 Desember 2002
- Afrikaans het ’n interne verskeidenheid. Rapport, 14 Oktober 2001
- Afrikaanssprekendes versteen in die verlede. Rapport, 13 Julie 2003
- Alliansie móét kyk na ongelykhede. Rapport, 10 Maart 2012
- ANC kan dit bekostig om tuin van gees te wees. Rapport, 17 Mei 2008
- ANC laat eenheid uit hande glip. Rapport, 6 April 2012
- ANC moet ná feestyd skoonmaak [Die ander kant]. Rapport, 8 Januarie 2012
- ANC toon ubuntu ná PW se dood. Rapport, 12 November 2006
- ANC-leiers moet sentrum herstel. Rapport, 8 Oktober 2006
- Anti-rassisme verg aktiewe optrede. Rapport, 11 Julie 2011
- Baie kan ons tot kollektiewe skande stem. Rapport, 14 September 2003
- Besieling uit Ierland vir Suid-Afrika. Rapport, 8 Julie 2001
- Besin oor die gebruik van kleur en etnisiteit. Rapport, 16 September 2008
- Betekenisvolle stemgewing is nou nodig. Rapport, 11 Mei 2003
- Bly kalm en glo in ons jongmense. Rapport, 19 Oktober 2012
- Book on history of UWC
- Brief – so in die lug – aan ’n vriend in die Midde-Ooste. Rapport, 13 Augustus 2006
- Daar is vele probleme, maar ook hoop. Rapport, 15 Junie 2010
- Daar lê nog baie praat voor in dié land. Rapport, 5 Maart 2000
- Daar’s hoop vir denkende mense se oop gesprek. Rapport, 11 Januarie 2004
- Daar’s tekens van ’n nuwe nasionale opwinding. Rapport, 13 Januarie 2009
- Demokratiese inspuiting net die regte medisyne. Rapport, 19 Mfei 2009
- Die ANC het nie ’n morele reg om te regeer nie. Rapport, 8 Junie 2008
- Die ANC hét vir vryheid geveg. Rapport, 14 Januarie 2007
- Die ANC moet sy morele kern herstel. Rapport, 19 Oktober 2003
- Die buitestander met ’n geesdrif vir wysbegeerte. Rapport, 14 Julie 2009
- Die dag toe Mandela in Hustler was [Die ander kant]. Rapport, 10 Junie 2012
- Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small
- “Die mense” steeds tot als in staat [Die ander kant]. Rapport, 13 Mei 2012
- Die nie-rassige boodskap kort verfyning. Rapport, 16 Desember 2009
- Die president slaag goed daarin om kalmte te bring. Rapport, 13 Augustus 2009
- Die saak vir swart bemagtiging. Rapport, 8 April 2007
- Die strewe om ’n wennasie te wees, kan herleef. Rapport, 12 Februarie 2006
- Die taaldebat wemel van misverstande. Rapport, 11 Junie 2006
- Dié vryheid is die verskil tussen ons, Zim. Rapport, 9 November 2003
- Dié woelinge kan net die demokrasie dien. Rapport, 14 Oktober 2008
- Die Zuma-geval: só groei ons demokrasie. Rapport, 12 Junie 2005
- Dís tog beter as Roodt se ligsinnigheid. Rapport, 9 April 2000
- Dit kan help in gesprek oor bruines. Rapport, 13 November 2005
- Dominante party moet “teenstand” help skep. Rapport, 8 Februarie 2004
- Ek sien uit na sokker en nasietrots. Rapport, 11 Mei 2010
- Etniese mobilisasie, ook deur bruines, is ’n onding. Rapport, 11 September 2005
- Gaan ons nou terugval in ons ou maniere? Rapport, 13 Julie 2010
- Gedagtes oor die Khoi-San, Kebble en Mbeki. Rapport, 9 Oktober 2005
- Geloof in moontlike kan ons gróót maak. Rapport, 8 Oktober 2000
- Gesoek: een wat ANC kan belig. Rapport, 10 Oktober 2011
- Gesprek oor ras, klas weer aan die gang gesit. Rapport, 9 Februarie 2003
- Gevaarlik om etnisiteit só uit te buit. Rapport, 9 Julie 2000
- Gewone mense moet ook húl kant bring. Rapport, 12 Januarie 2003
- Gewone mense moet ook húl kant bring. Rapport, 12 Januarie 2003
- Ghaddafi se sin vir ironie het verras. Rapport, 22 November 2011
- Hanteer met erns: Is ons nog tuis in SA? Rapport, 12 Januarie 2010
- Hier is ’n nuwe plan vir die krieketkwotas. Rapport, 10 Februarie 2002
- Híér kan die party homself toets. Rapport, 16 Augustus 2007
- Hier kom dalk ’n nuwe ruimte van gees. Rapport, 9 Desember 2001
- Hiérvoor behoort ons VSA te beny [Die ander kant]. Rapport, 11 November 2012
- Hiervoor het Tshwete geveg, gely, gelewe. Rapport, 12 Mei 2002
- Hoe praat ons oor, met mekaar, van onsself? [Die ander kant]. Rapport, 12 Augustus 2012
- Hoop op ’n sinvolle plan beskaam nie [Die ander kant]. Rapport, 12 Februarie 2012
- In 2011 net twee wense vir dié geliefde land. Rapport, 11 Januarie 2011
- Is dit dalk ’n nuwe lente vir Afrika? Rapport, 11 November 2001
- Israel oorskry alle perke in Midde-Ooste. Rapport, 14 April 2002
- ’n Jaar se viering wys demokrasie vorder goed. Rapport, 12 Desember 2004
- Jansen timmer nie net bolangs nie. Rapport, 12 November 2009
- Kader, mag die aarde liggies op jou lê. Rapport, 28 Junie 2011
- Kalmte is wat kort in die US se taaldebat. Rapport, 9 April 2006
- Keer dat die leuen hom tuismaak. Rapport,11 Maart 2007
- Kom laat ons in gesprek tree oor vryheid. Rapport, 10 Augustus 2010
- Kwela bou oor grense aan ’n leeskultuur. Die Burger, 13 Mei 1995
- Laat die wonderwerk voortduur! Rapport, 11 April 2004
- Laat ons terugkeer na die ordentlike gesprek. Rapport, 9 Maart 2008
- Lees-lees leer ons beter met mekaar saamleef. Rapport, 14 Augustus 2005
- Letterkunde as politiek [intreerede]. Die Burger, 18 Junie 1983
- Maak “andersheid” deel van nasieskap. Rapport, 14 Mei 2000
- Maak besinning oor Afrikaans praat nog saak? Rapport, 9 Augustus 2004
- Maak SA ’n tuiste en voorbeeld vir almal. Rapport, 9 Julie 2006
- Madiba bly ’n vryheidsvegter. Beeld, 11 Februarie 2010
- Madiba se respek vir Grondwet word gemis [Die ander kant]. Rapport, 12 Desember 2010
- Malema se uitsprake ongeskik, maar verdedigbaar. Rapport, 22 September 2009
- Mandela en Mbeki is nié aan die twis nie. Rapport, 10 Maart 2002
- Mandela glo mense is wesenlik goed. Rapport, 23 Julie 2008
- Manuel baan weg vir ope rasgesprek. Rapport, 14 Maart 2011
- Marx is dood en begrawe, maar wat van die armes?. Rapport, 8 September 2002
- Mbeki het die Republiek vooruit laat gaan. Rapport, 10 Julie 2005
- Moenie gister se swaarkry vergeet nie [Die ander kant]. Rapport, 14 Maart 2010
- Ná ’n week soos dié vra die land vir versoening. Rapport, 12 April 2009
- Nasate van slawe en Khoi-voorsate. Rapport, 9 September 2001
- Nederlands in een veranderend Zuid-Afrika. Nederlandse Post, Maart 1982
- Nou kan die Ierse vrede óns inspireer. Rapport, 8 Julie 2007
- Nou kom ons nader aan plan vir Afrikaans. Rapport, 10 November 2002
- O, om ’n paar uur net te kan speel. Rapport, 13 Mei 2007
- Om ’n waarnemer in Suid-Afrika te wees. Rapport, 12 Januarie 2008
- Ommekeer hier nodig soos in Amerika. Rapport, 9 November 2008
- Ons moet meer weet van hierdie planne. Rapport, 12 Augustus 2007
- Ons moet veg vir ’n nie-rassige land. Rapport, 25 Januarie 2010
- Ons stelsels werk – al lol dit soms. Rapport, 12 Maart 2006
- Ons verbintenis teenoor eenheid neem af [Die ander kant]. Rapport, 10 April 2011
- Ons vorder goed met eenheid en versoening. Rapport, 14 Mei 2006
- ’n Oomblik van stilte in ’n jaar van geraas. Rapport, 10 Desember 2007
- Oorlopery was ’n onverkwiklike spektakel. Rapport, 13 April 2003
- Orde moet uit die regerende alliansie kom. Rapport, 14 September 2010
- Percy Sonn het ingegryp oor sy “ongeduld”. Rapport, 13 Januarie 2002
- “Polokwane” het ’n nuwe betekenis gekry. Rapport, 14 Desember 2008
- President vlotter, maar staat kort kennis. Rapport, 15 Februarie 2011
- Proteas het rede om selfvoldaan te wees. Rapport, 17 Februarie 2010
- Ras, etnisiteit te maklik by politiek betrek. Rapport, 8 Mei 2005
- Regte van Afrikaans is toets vir demokrasie. Rapport, 14 Julie 2002
- SA Akademie by kruispad. Die Burger, 30 April 2005
- SAKP verwoord soeke na solidariteit. Rapport, 8 Julie 2001
- Skep regte klimaat, dan volg werk. Rapport, 11 Februarie 2012
- Skikking misluk as geweld ’n keuse bly [Die ander kant]. Rapport, 9 September 2012
- So ’n klein land, met soveel wenners! Rapport, 14 Desember 2003
- Só moet ons ’n nuwe Afrikaner-denkwêreld bou. Rapport, 14 Maart 2004
- Só skep ons orde uit chaos. Rapport, 13 Oktober 2002
- Soomlose Afrikaanse gemeenskap. Rapport, 13 Augustus 2011
- Soveel dae, soveel dinge – en woorde [Die ander kant]. Rapport, 8 Julie 2012
- ’n Stem vir Afrikaans in idioom van nederigheid. Rapport, 13 Maart 2005
- Sterk leiding is nou nodig in land én ANC. Rapport, 11 Desember 2005
- Sterk leiding is nou nodig in land én ANC. Rapport, 11 Desember 2005
- Suid-Afrikaanse krieket het inderdaad verander. Rapport, 10 Augustus 2003
- Taal se gesondheid ook deur sprekers bepaal. Rapport, 13 Junie 2004
- Tálle identifikasies eerder as statiese een. Rapport, 5 November 2010
- Toelatings tot universiteite vanuit ’n nasionale perspektief. Die Burger, 12 Maart 1991
- Tussen die harwar is daar ook redelike stemme. Rapport, 13 Augustus 2008
- Tyd om te besin ná komplotpetalje. Rapport, 13 Mei 2001
- ’n Tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Rapport, 11 Februarie 2009
- Uitdagings van regstelling en versoening. Rapport, 11 Julie 2004
- Verkiesings wys SA is ’n geordende nasie [Die ander kant]. Rapport, 29 Mei 2011
- Vier ons verskeidenheid en word heel. Rapport, 12 April 2010
- Vloeibaarheid ná Polokwane goed vir demokrasie. Rapport, 10 Februarie 2008
- Vryheid van spraak is nie ’n luukse, sê Gerwel. Die Burger, 23 September 2010
- Waak teen etniese veralgemening van “ons” en “hulle”. Rapport, 10 September 2006
- Waar gaan die wêreld heen? Rapport, 30 Maart 2003
- ’n Wag voor die mond steeds beste. Rapport, 12 Desember 2011
- ’n Wag voor die mond steeds die beste [Die ander kant]. Rapport, 11 Desember 2011
- Wat gaan in u kop aan, pres Zuma? [Die ander kant]. Rapport, 11 September 2011
- Wat NNP nou in Wes-Kaap moet doen. Rapport, 9 Junie 2002
- Welkom aan die nuwe (ou) Thabo Mbeki. Rapport, 9 Mei 2004
- ’n Woord aan die Afrikaanses wat so kwaad is. Rapport, 12 September 2004
- Zuma se tradisionele ankers voorspel tot iets nuuts. Rapport, 14 Junie 2009
Jakes Gerwel se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2013-02-17 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Ek het (Prof) Jakes Gerwel in 1979 in Bel Har ontmoet. (Toe nog Dr Jakes Gerwel.) Stil, effens teruggetrokke man wat hom kon verluister na my Rehobothse Afrikaans.