Die jaar 1983 – drie boeke, drie denkers in ’n drempeltyd

  • 0

Jakes (GJ) Gerwel se proefskrif is in 1983 deur Kampen-uitgewers van Kasselsvlei gepubliseer as Literatuur en Apartheid. Dit is dieselfde jaar waarin die tweede band van JC Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (Academica) en André P Brink se Mapmakers. Writing in a state of siege (New York: Summit) verskyn het. Drie boeke, uitgegee deur ’n klein alternatiewe uitgewery, ’n gevestigde akademiese uitgewery en ’n buitelandse firma onderskeidelik (en dit op sigself vertel ’n verhaal).

Ek was destyds een van ’n span navorsers wat verbonde was aan die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Een van die projekte wat deur SENSAL geloods is, was ’n reeks jaaroorsigte van die Suid-Afrikaanse letterkundes. In my inleiding tot die gedeelte oor die Afrikaanse letterkunde in SA Literature/Literatuur 1983 skets ek die breër konteks waarbinne die letterkunde in daardie jaar geproduseer, versprei en onderrig is.

Die jaar 1983 was die een waarin die wit kieserskorps “ja” gesê het vir ’n “Nuwe Bedeling” wat kultuur segmenteer het as ’n “eie saak”. Die media het prominensie verleen aan die menings van Afrikaanse skrywers en literatore hieroor. Slegs enkele “nee”-stemme (vanuit “linkse” hoek) van die literêre establishment het teen die voorgestelde nuwe grondwet uitgegaan. Van die 181 akademici wat ’n verklaring onderteken het waarin beswaar daarteen gemaak is, was drie Afrikaanse letterkundiges (André P Brink, RH Pheiffer en AJ Coetzee). Jakes Gerwel lig in die pers die gevaar uit van die opstel van valse teenstellings (deelname aan die regering se grondwetinisiatiewe teenoor revolusie) terwyl die geloof in die ideaal van die demokratiese staat as iets verwesenlikbaar die vorige aantal jare sterk toegeneem het (Deurbraak, Februarie 1983).

In ’n tyd waarin ideologiese vraagstukke voorop gestaan het, word gevra: Beskou die bedrywers en beskrywers van die Afrikaanse letterkunde en literatuurwetenskap tekste nog as ’n outonome gegewe en vry domein waar die vak “suiwer” beoefen kan word, of word daar op relevante wyse ’n diskoers gevoer oor die verhouding tussen literatuur en konteks, literatuur en politiek?

Die toenemende bekommernis onder taal- en letterkundiges oor die “voortbestaan van Afrikaans” eggo in Kannemeyer se toespraak, oor “die huidige posisie van die Afrikaanse taal en letterkunde in hierdie land” tydens die bekendstelling van sy boek. Vir hom as geskiedskrywer was dit duidelik dat die Afrikaanse skrywers oor verskillende dekades heen ’n gesprek gevoer het waarin die (Afrikaanse) mens se posisie in hierdie land en vasteland en sy verhouding ten opsigte van ander mense verken is. In die fase van “blanke baasskap” is daar ’n weerstand teen Afrikaans as die taal van apartheid opgebou. Nou heers daar kommer oor die bestaansmoontlikheid, ontwikkelingsmoontlikheid, selfs oorlewingsmoontlikheid vir die taal en sy literatuur. Dit is dus noodsaaklik dat skrywers die “gesprek oor Suid-Afrika” moet volhou en dat die owerhede die ruimte skep waarin mense en volkere met mekaar kan praat (Standpunte, Februarie 1984).

Die “gesprek oor Suid-Afrika” vind in 1983 weerklank in die werk van gevestigde prosaskrywers (byvoorbeeld Elsa Joubert se Die laaste Sondag en John Miles se Blaaskans – die bewegings van Flip Nel), ’n groepie “tronkgeskrifte” (insluitende Breyten Breytenbach se eerste publikasies na sy vrylating uit die tronk), die werk van jonger skrywers wat gevoelig is vir die “staat van beleg” van hierdie era (die sogenaamde “uniformskrywers”, soos Etienne van Heerden, Alexander Strachan, Johann Lodewyk Marais). Hierdie gesprek word egter die welluidendste gevoer deur die jong swart digters en dramaturge, op die rand van die sisteem, wat hulle Afrikaanse werke opvoer of voorlees op die Kaapse Vlakte en in woonbuurte aan die Rand en deur ’n nuwe geslag swart skrywers wat wegbreek van die wit literêre establishment en hulle revolusionêre werk by die alternatiewe Engelse uitgewery Ravan, by klein onafhanklike uitgewerye (soos Blac) en in die “little magazines” publiseer (byvoorbeeld Hein Willemse, Frank Anthony, Willie Adams, Leonard Koza, Patrick J Petersen). By die geslag jong wit skrywers wat wegbreek van die literêre establishment (soos Dan Roodt, Johan van Wyk, André le Roux, André Letoit), en wat die “Tagtigers” genoem sou word, is daar ’n verwerping van die wit staatsbestel en ’n weiering om verantwoordelik te wees vir die wêreld wat hulle erf.

Die stand van akademiese literêre kritiek (en die heersende literatuuropvatting) word ’n besprekingspunt, onder andere in ’n debat in Standpunte (Oktober 1983). Vir die meeste bydraers tot die debat bly die verhouding politiek/kritiek steeds ’n netelige kwessie. In teenstelling met Gerwel (Die Burger, 18 Junie 1983), wat meen dat literêre kritiek nié ’n ideologies onskuldige dissipline is / kan wees nie, voer ander kommentators aan dat letterkundige skeppings “op eie meriete” beoordeel moet word en dat die groeiende politisering/ideologisering van die literêre kritiek ’n wesenlike gevaar vir die letterkunde is. Dit word egter toenemend duidelik dat daar ’n verskuiwing ten opsigte van die reeds lang ingeburgerde literatuurbeskouing wat die literêre kunswerk tot ’n outonome woordwêreld verhef het, plaasvind.

Tydens die bekendstelling van Gerwel se Literatuur en Apartheid sê André P Brink dat die Afrikaanse literatuurbeskouing té lank gebuk gegaan het onder die juk van ’n ivoortoring en van “close reading”. Gerwel se boek (die eerste in ’n beoogde reeks “Taal-en-Politiek” deur die uitgewery) is volgens Brink nie ’n politieke of sosiologiese werk nie, maar eerder ’n “oproep om die sosiale, ekonomiese, politieke en ideologiese konteks van taal en letterkunde pertinent ter diskussie te stel”. Volgens hom verwerp Gerwel die siening van die teks as “’n geïsoleerde verskynsel wat in ’n literêre museum ’n plek vir die nageslag moet kry”; hy benader die teks as “’n dinamiese medewerker aan die ideologie van die Afrikaner, dialekties deel van die denkproses wat apartheid gemaak het” (volgens die agterbladteks van die boek).

Op 2 November 1983 word die nuwe grondwet deur ’n tweederde-meerderheid van wit kiesers aanvaar. Watter invloed dit op die skeppende werk van die Afrikaanse skrywers sou hê, sou afgewag moes word, maar die woelinge om die referendum en die gepaardgaande opbloei van groeperinge soos dié rondom die United Democratic Front (wat op 20 Augustus 1983 geloods is) het reeds neerslag gekry in voorlesings, opvoerings en publikasies van jong swart skrywers.

In hierdie tyd van politieke verandering en aanpassing word die rol van die Afrikaanse intellektueel en skrywer binne die Suid-Afrikaanse gemeenskap ’n dringende debatspunt. Dit kom veral ter sprake in die pas-gepubliseerde sosiopolitieke essays en toesprake van André P Brink. Hiervolgens is dit die skrywer se verantwoordelikheid om die publiek ingelig te hou en “to explore the human condition as it is lived in South Africa: a grappling with essentials, with the fundamentals of human experience and human relationships” (Mapmakers, p 152).

’n Terugblik op die Afrikaanse literatuursisteem van 1983 en die verhouding daarvan tot die wyer sosiopolitieke konteks laat twee indrukke. Aan die een kant het die literêre establishment via die “ja”-stem van verligte skrywers en denkers sy geloof in hervorming onder leiding van die Nasionale Party bevestig. Aan die ander kant het ontwikkeling in buiteparlementêre politiek en binne die literatuur self die sisteem-ewewig bedreig. Watter een van hierdie pole die deurslaggewende faktor sou word ten opsigte van die karakter van die literêre bestel, sou afgewag moes word.

Jakes Gerwel se Literatuur en Apartheid staan as baken en padwyser geplant in die jaar 1983. Dit fokus op die Afrikaanse prosa wat in die sowat driekwarteeu tussen die ontwaking van Afrikaner-nasionalisme omstreeks 1875 en die triomf daarvan in 1948 verskyn het. Aan die hand van ’n sosiaal-bewuste literatuurbeskouing belig dit, in sy woorde, “Afrikaners se literêr-verwoorde konsepsies van ‘gekleurdes’ en van aspekte van die ‘kleurverhoudingstruktuur’”. Een resensent dui aan dat hierdie literatuurbeskouing, hier onderlê deur “feitelike en wetenskaplike interpretasie en noukeurige beredenering”, aandui dat die literatuur meer as die som van sy dele is – volgens Jeanette Ferreira (Die Vaderland, 2 April 1984) slaag die skrywer uitmuntend in sy doel om ’n kritiese gesprek te ontlok, en hierdie studie kan as een van die belangrikste studies oor die Afrikaanse literatuur gereken word.

Bron

Galloway, F. 1987. Inleiding. Afrikaanse literatuur. SA Literature/Literatuur 1983. Pretoria: HAUM-Literêr.

Klik hier om nog huldeblyke te lees:

Huldeblyk deur Ampie Coetzee
Huldeblyk deur Steward van Wyk
Huldeblyk deur Henry Jeffreys
Sien ook die Twitter-huldeblyke aan Prof. Gerwel

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top