Jakes Gerwel "’n uitstaande rolmodel"

  • 1

 

Die heengaan van Jakes Gerwel is ’n gevoelige slag vir die land en veral vir die gemeenskap vanwaaruit hy gekom het.

Hy was vir talle mense, spesifiek in die bruin gemeenskap, ’n uitstaande rolmodel. Sy leierskap was ’n inspirasie vir duisende in die akademie, eers as Afrikaans-Nederlandse dekaan en later as visekanselier aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hy was die aktivis-professor wat nie geskroom het om sy plek in die voorste linies in te neem teen die onregte en vergrype van apartheid nie.

Sy rol in die apartheidstryd was van ’n stil, beheerste, maar gefokuste aard met wye impak. Hy was ook ’n versoener, want dit is waaroor die stryd teen apartheid vir hom gegaan het.

Hy het die kabinet van oudpresident Nelson Mandela geanker en ’n onmisbare, dog onbesonge rol gespeel in die vestiging van die nuwe demokratiese regering. Sy rol in die relatief gladde oorgang wat Suid-Afrika uniek in die wêreld gemaak het, kan nooit geringgeskat word nie. 

As redakteur van Die Burger was dit vir my ‘n eer en ‘n voorreg om saam met hom te kon werk in sy hoedanigheid as voorsitter van Media24. Ek het hom dikwels opgesoek as klankbord. Sy raad was altyd wys en vol insig. Min mense het die kompleksiteit van my taak as eerste swart redakteur van Die Burger so goed begryp as hy.

In die afgelope jare was hy die gesig en stem van die Suidoosterfees, wat ’n klein en onseker begin op die kampus van die UWK gehad het, maar vandag een van die land se uitstaande Afrikaanse kunstefeeste is. Die Suidoosterfees is maar een van ‘n indrukwekkende lys van sy erflatings wat die samelewing nog lank sal dien.

Uiteindelik sal hy onthou word as ’n ware seun van hiér – die Oos-Kaap, die Kaapse Vlakte, Suid-Afrika en Afrika.

 Klik hier om nog huldeblyke te lees:

Huldeblyk deur Ampie Coetzee
Huldeblyk deur Francis Galloway
Huldeblyk deur Steward van Wyk
Sien ook die Twitter-huldeblyke aan Prof. Gerwel

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    "Afrikaans-Nederlandse dekaan?" Jeffreys verstaan klaarblyklik min van die akademie.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top