Wanneer 'n groot vriend sterf, kom gedagtes by jou op van die tye waar julle saam was, Dan onthou jy meer en meer, en dan raak die onthou seer.
As ek oor Jakes dink, onthou ek hoe ons saam op UWK gewerk het: hy as rektor en ek as professor in die Departement Afrikaans-Nederlands. 'n Departement wat hy opgebou het tot die grootste Afrikaans-departement in die land. So het ons gespog!
Hy het my as 't ware by Wits kom haal in die laat tagtigerjare om by hulle aan te sluit. Dit is die grootste eer in my lewe. Daar het ek meer gepolitiseerd geraak as wat ek was, omdat ek toe aan die diep kant ingegooi is. Saam het ons gestry teen apartheid, saam op die kampus gevlug vir die traangas van die polisie. Saam gebou aan 'n universiteit. Saam Dakar toe in 1987, saam bly oor die bevryding wat op hande was. Maar toe nie gekom het nie. Jakes het egter aangehou glo: sy jare saam met Madiba het 'n lojaliteit by hom gelaat wat hy nie kon verloën nie.
Jakes was lief vir die Afrikaanse letterkunde. Hy het voor enigeen van ons die verhouding tussen letterkunde – veral prosa – en die politiek besef; en daaroor nagevors. Sy proefskrif, “Literatuur en Apartheid” (1983) was die bewys van 'n toegewyde navorser en akademikus. Sy liefde vir die letterkunde het tot aan die einde by hom gebly. Toe ons onlangs gesels het, was hy besig om John Kannemeyer se biografie oor JM Coetzee te lees. Ek wonder of hy dit klaar kon lees.
En hy was ook 'n kultuurmens. Die kunswerke wat in sy huis hang, is 'n bewys van sy liefde vir kuns. Anne-Ghrett het hom spesiaal genooi na die uitstalling van Willie Bester se beelde en skilderye in die Breytenbach Sentrum op 17 November. Hy was gretig om te kom, omdat hy van Willie se werk gehou het, nie net om die versetwaarde daarvan nie, maar omdat hy geweet het dat dit goeie kuns is. “Daarna kan ons paartie hou,” het hy met sy ernstig-spottende hoogdrawendheid gesê. 'n Paar dae voor die uitstalling het sy sekretaresse gebel om te sê dat hy siek is en nie sou kon kom nie. Ek het toe self met hom gepraat. Hy het gepraat van sy bloeddruk wat hoog is, en veral van sy suikersiekte wat besig was om sy oë aan te tas, en dat hy na 'n oogarts toe moes gaan, omdat hy nie meer goed kan sien nie: “Hoe kan ek na kuns kyk as ek nie kan sien nie?” Ons onthou hoeveel teelepels suiker hy in sy koffie en tee gegooi het. “Dis die bruin mense se heroïne,” het hy spottend, maar ernstig, gesê.
Hy was 'n eerlike mens, met integriteit, openhartig en besorg oor mense – én met 'n skalkse sin vir humor. Gespot met sy eie mense, met die Afrikaner, en met die Engelse. Maar nooit kwetsend nie, en dikwels sonder glimlag – maar nog altyd snaaks. Ek onthou nou dat hy nie eintlik baie geglimlag het nie! Altyd ernstig gelyk; maar met 'n glimlag in die oog – en baie gelag.
As een van die motto's in sy boek oor die letterkunde en apartheid, staan daar 'n aanhaling uit 'n gedig van Breyten:
Nie die hoop dan, barse broer, dat jy te klein was om op te
neem
tog iewers in ons groot land nog opneembaar is
en dat jou beste stigmas soos hiërogliewe
teen die klippe sal bly pryk.
Ek is hartseer, my broer - en ek waardeer dit nou nog dat jy ons klein seuntjie “klong” genoem het.
Die hartseer van Phoebe en Hein kan ek nie besef nie; maar ek kan net vir hulle sterkte toewens.
Ampie
Klik hier om nog huldeblyke aan Prof. Jakes Gerwel deur die volgende skrywers te lees:
Huldeblyk deur Francis Galloway
Huldeblyk deur Steward van Wyk
Huldeblyk deur Henry Jeffreys
Sien ook die Twitter-huldeblyke aan Prof. Gerwel
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.