Die nuus was nie onverwags nie. Net voordat Ivor Price, die Monitor-joernalis, op Woensdagoggend 28 November 2012 ’n raps na ses gebel het, het Survivor, ons kat, ’n tortelduif gevang en haar prooi onder ’n struik ingesleep. Skrywers en letterkundiges sou ietwat meer betekenis aan so ’n toevalligheid geheg het, want katte is immers in talle kulture die draers van simboliese waardes: enigmaties, intelligent, onafhanklik, afsydig ...
Dit is waardes en ingesteldhede wat nie onvanpas by Jakes Gerwel sou wees nie, maar miskien moet ’n mens nie oral simbole inlees nie. Jakes het skilpaaie in sy tuin aangehou ... en watter simboliek sou hulle inhou: wysheid, oorwoënheid, geduld ...? ’n Mens kom nie weg nie. Ook dié tradisionele waardes sou in sy geval nie onvanpas gewees het nie.
Vir meer as ’n week of wat het ons geweet van sy siektetoestand en die hartomlyningsoperasie, die terugslae en toe die koma. ’n Mens het gehoop: mag daar beterskap wees. “As Jakes gesond word, sal hy nie weer dieselfde wees nie,” het my vrou gesê.
Jakes was nie ’n mens vir die groot gebaar nie. Hy was ’n introvert wat hom desondanks dikwels op openbare verhoë bevind het. In al die jare wat ek hom geken het, het ek altyd die gevoel gekry dat hy die openbare lewe verduur en nie behoorlik daarby aangepas het nie. Opswepend, uitbundig of demagogies is nie karaktertrekke wat ’n mens aan hom sou toedig nie. Beskeie, eerbaar, verdraagsaam en onbaatsugtig wel.
Ek het Jakes van naderby leer ken as ’n jong student aan die Universiteit van Wes-Kaapland. In die middel-sewentigs, in die dae van opstande en stryd. Een van ons studenteblaaie het onder die aandag van die owerhede gekom toe iemand gekla het oor die politieke en godslasterlike aard van ons skryfsels. En Jakes moes ’n vertroulike verslag oor die “letterkundige waarde” daarvan skryf om te verhoed dat ons studentevereniging se fondse afgesny word. Na regte moes die administrasie die vereniging vir ons swak poësie toegemaak het, maar Jakes het al sy virtuositeit uitgestal en gewys dat daar letterkundige meriete agter al die Sturm und Drang geskuil het.
Daarna het ons gereeld gepraat, en ons derdejaars het later selfs op sy aandrang ’n afskeidspartytjie by sy huis gehad waar Gerhard Botha teen die einde van die aand ’n heildronk wou instel: “Kom ons drink op mnr Gerwel!” Toe hy hoor dat geen drank meer oor is nie, spring Gerhard om met die gevleuelde woorde: “Kom ons dink op mnr Gerwel!”
Dit is by Jakes dat ek die waarde van letterkunde as sosiale kunswerk geleer het. Anders as sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse eweknieë het hy die sosiale en politieke vrae gevra wat ons as studente wou vra, maar nie die begrippe-apparaat of die vaardigheid voor gehad het nie. By hom het ek geleer dat kritiek nie aggressiewe teenstand beteken nie, maar geordende en gefundeerde denke.
Hy was ’n “droë” voorgraadse dosent, nie ’n performer nie, maar veral in ons nagraadse seminaarklasse, waar gesprekvoering en worsteling met idees saak gemaak het, was hy ’n goeie gespreksleier. Sy manier om sy linkerhand oor sy gesig te laat gly en sy bokbaardjie te streel, was altyd sy teken van verdere vraagstelling of indringender ondersoek van ’n bepaalde kwessie. Ek onthou hoe hy eendag tydens ’n honneursklas op ’n gloeiende opmerking oor die Marxisme indringende vrae gevra het wat feitlik die basis daarvan ondermyn het en hom na ’n pienk liberaal laat klink het, en dit terwyl hy in die openbaar juis ’n gerekende kenner van die literêre en Westerse Marxisme was. Ek het daardie klas onthou toe ek reeds ’n jong dosent was en hy ’n departementele vergadering geopen het met ’n triomfantelike uitroep na aanleiding van François Mitterand se eerste presidensiële oorwinning: “Die sosialiste het gewen!”
Sy Literatuur en apartheid was die eerste studie wat aangetoon het dat Afrikaanse romans die vroeg-twintigste-eeuse stereotipes van gekleurde mense help bestendig en hoe die Afrikaanse literatuur meegewerk het aan die skepping en rugsteuning van apartheid. Ek onthou my eerste jare as ’n jong dosent waar ons as lede van die Departement Afrikaans op UWK ’n ander kyk op die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde wou skep. Ons wou ’n Suid-Afrikaanse komparatisme vestig met ’n meer sosiaal-kritiese benadering – ’n beweging wat gedokumenteer is in Marianne de Jong se ’n Ander Afrikaanse letterkunde. Dit is met waardering dat ek vandag my eksemplaar van Literatuur en apartheid van die rak gehaal het, waarin Jakes ’n inskripsie geskryf het: “Aan Hein – Dankie vir jou medewerking en ondersteuning in die literêre eksperiment waarmee ons besig is. Jakes 18/10/1983”.
Hy was in hart en niere ’n akademikus, en meer as een keer het hy teenoor my gebieg dat hy in sy latere bedrywige administratiewe lewe die analitiese gestoei met ’n literêre teks en die lees van letterkunde mis. Van sy romans het dikwels uitvoerige potloodaantekeninge en verwysings bevat. Ek onthou dat hy in sy eksemplaar by die openingsparagraaf van André P Brink se Gerugte van reën, by die beskrywing van muggies op die hoofkarakter se motorvoorruit, ’n aantekening met ’n uitroepteken gemaak het: “Ai André dis so voorspelbaar!”
Hy was ’n formidabele intellektueel wat idees ernstig opgeneem het. Ek onthou hoe hy my een dag uitgenooi het om saam met Jan Rabie, Marjorie Wallace en Richard Rive die bekendstelling van ’n nuwe wyn op Boschendal by te woon. Op pad het hy gepraat oor ’n roman van Dostojewski wat hy aan ’t herlees was en hoe ons JM Coetzee se “jongste roman”, The Life and Times of Michael K, in ons vergelykende-letterkunde-kursus kon invoer. Jare later, tydens ’n Naspers-direksiebesoek aan Moskou, het ek ’n foto van hom by die Dostojewski-standbeeld voor die Lenin-biblioteek geneem en hom herinner aan sy Dostojewski-aanhaling daardie dag, dat “die tweede helfte van ’n mens se lewe net bestaan uit die gewoontes wat hy in die eerste deel opgebou het”. (Terloops, daardie dag sal ek ook vir iets anders onthou, naamlik dat Jan volstrek geweier het om die “goeie wyn” in die spoegbak uit te spoeg, en dat ons hom en Marjorie later die aand met beklemde harte afgesien het. Ons het gevrees dat Jan in sy toestand, na ’n halwe dag se wynproeëry, nie die groen Morrissie sonder teenspoed oor die berge en dale van Pniel na Onrus sou kon maneuvreer nie.)
As literator kon Jakes soveel meer gelewer het, maar die universiteitswese en die landsadministrasie het geroep. Ek onthou dat hy in sy eerste paar jaar as dekaan probeer het om weekliks een dag af te staan vir navorsing, en dan kon ons informele gesprekke oor die literatuur en die politiek voer. Later het sy kantoordeur gesluit gebly en is sy kantoor ontruim. Die eise van die administrasie het begin oorneem en later het Jakes sy weg gebaan na die poorte van Nelson Mandela se nuwe Suid-Afrika.
As rektor het Jakes Gerwel legitimiteit aan die Universiteit van Wes-Kaapland gegee. Die universiteit is as die sonde van apartheid opgerig en as instelling moes dit dikwels stry teen die vooroordele van gevestigde universiteite en akademici, en meer nog kwaai teenstand uit sy veronderstelde voedergemeenskap. As Richard van der Ross die eerste groot tree vir toenemende gemeenskapsaanvaarding gegee het, was dit Jakes Gerwel wat dit gekoppel het aan groter akademiese vryheid en ’n oriëntasie wat uitgesproke nierassig, anti-apartheid en anti-establishment – the university of the left – was. Dit was opwindende jare in die wordingsgeskiedenis van UWK: aartsbiskop Desmond Tutu is aangestel as kanselier, nuwe indrukwekkende geboue is opgerig, jong weerbarstige akademici is aangestel, van die fakulteite het dramatiese stygings in hul publikasie-uitsette gelewer, en die nuwe politiek van die nuwe Suid-Afrika was tasbaar voordat dit in die res van die land gevoel kon word.
Jakes was nie ’n bulderende leier nie. Hy het gelei deur sy eie voorbeeld en sy verdraagsaamheid, en met sy ingebore nederigheid het hy gesprekvoering en oortuiging vooropgestel. Dit is daardie vaardigheid wat hy op alle ander lewensterreine – die politiek, die diplomasie en die sakewêreld – ten toon gestel het.
In talle van die huldeblyke wat in die paar uur na sy dood versprei is, word sy rol as nasionale politieke figuur beklemtoon. Met reg, maar dit sou onjuis wees om te dink dat hy die partypolitiek geniet het. Vir hom, soos vir elke denkende Suid-Afrikaner, was politieke betrokkenheid ’n noodwendigheid. Vir hom het Suid-Afrika en Suid-Afrikaansheid saak gemaak sodat waardigheid en menslikheid kon seëvier. Hy was byna onvoorwaardelik verbonde aan die ANC, wat hy sedert die bevrydingstryd leer ken het, en sy verbondenheid aan Nelson Mandela is welbekend. Vir Thabo Mbeki het hy die grootste respek as intellektuele leier gehad, maar die laaste paar jaar het hom onrustig gestem. Sy kritiek teen die vuige optrede van politici, hul korrupsie en hul onbeteuelde taalgebruik en gedrag het dikwels in sy Afrikaanse koerantrubrieke opgeduik. Ek onthou dat ek hom onlangs ná ’n rubriek met versigtige kritiese stellings terloops raakgeloop het en onder meer gesê het: “Jakes, moes jy nie ’n bietjie meer krities gewees het nie?” Sy lakoniese antwoord was: “Hoe beveg jy teleurstelling? Met lojale verset.”
Suid-Afrika het ’n groot gees verloor, en in talle raadsale, op die krieketveld en op talle ander terreine sal sy verlies gevoel word. In sy huis in Belhar sal sy stille aanwesigheid gemis word. Vir sy vrou Phoebe, hul kinders Jessie en Heinrich, hul gades en kleinkinders sal sy verlies onvervangbaar wees.
Dit was ’n voorreg om Jakes Gerwel, die Mensch, te ken. Kom ons dink op hom.
Klik hier om nog huldeblyke te lees:
Huldeblyk deur Ampie Coetzee
Huldeblyk deur Steward van Wyk
Huldeblyk deur Henry Jeffreys
Twitter-huldeblyke aan Gerwel
Huldeblyk deur Francis Galloway
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Baie dankie, Hein. Ik heb Jakes Gerwel niet persoonlijk gekend, maar dank zij uw In Memoriam heb ik nu een idee van wat hij betekend heeft.