“A life unexamined is not worth living.” Sokrates
Ek het altyd gehoop dat Jakes Gerwel ‘n outobiografie die lig sou laat sien.
Daar was vir my interessante teenstrydighede in sy lewe en ek sou graag wou gehad het dat hy self konteks daaraan sou gee – die grys en dowwe kolle inkleur, moontlik ophelder. Ongelukkig is hy intussen oorlede en ek broei steeds op talle onbeantwoorde vrae.
Dat Gerwel in sy leeftyd tog óók oor hierdie teenstrydighede gedink het, en daarmee moes geworstel het – soos dit enige intellektueel van sy formaat sou betaam – kan gesien word uit ‘n onderhoud met Murray la Vita (“Oop kaarte”, Die Burger, 23/07/2010), waarin hy die volgende opmerking maak: “Vir ’n ou marxis om nou daar in direksies te sit ... Ek glimlag soms maar ’n bietjie ironies vir myself.”
Ironies ... inderdaad. Vir ‘n man wat nie juis voorheen bekend was as fakkeldraer vir die ideologie van wins, die diktatuur van markkragte en die knypgang van kapitalisme nie.
Gerwel se voorliefde vir die werk van NP Van Wyk Louw is alombekend en ek het gedink dat dit gepas sou wees om te probeer bespiegel aan die hand van dan juis Van Wyk Louw se werk.
Veral twee opstelle (soos opgeneem in die bundel Versamelde Prosa 2) staan vir my voorop.
Eerstens, sy bekende “Oop gesprek”: Daar sal sekerlik nou diegene wil wees wat dit onvanpas sal vind dat vrae gevra word oor hoe Gerwel (‘n man met ‘n diepliggende en onbeskaamde voorliefde vir die marxisme, en akademikus, hom uiteindelik in die korporatiewe wêreld, met wins as die oorwegende dryfveer, kon bevind. In die proses sou hy ook die onbenydenswaardige eer verkry deur op ‘n stadium posisie nommer 86 te beklee op Sunday Times se jaarlikse lys van die rykste mense in Suid-Afrika (Sunday Times, Business Times, 16/09/2012).
Die oop gesprek, soos bepleit deur Van Wyk Louw, vereis juis dat ons in hierdie tydsgleuf, waar daar selektief en met ‘n oor-die-skouer-kyk-mentaliteit bevraagteken mag word, krities met leiersfigure moet omgaan – ook met intellektuele en ander meningsvormers. Die vaders moet, waar nodig, tot verantwoording geroep word. Daar is nie heilige koeie nie.
Was Gerwel verkleurmannetjie wat hom na die veranderende Suid-Afrikaanse werklikheid geskik het, of was hy meer soos die skilpaaie, waarvoor hy so ‘n voorliefde gehad het – die dop het die grootste deel van hom verskans en het hy homself nooit werklik ontbloot of blootgestel nie?
My tweede aanhaling is uit die ander opstel, oor “‘Self-made’ manne”. “Daar is geen frase in die Engelse taal wat meer verward is as die frase ‘a self-made man’ nie. Gewoonlik dink ons by hierdie uitdrukking aan ‘n man wat arm begin het en deur sy eie knapheid of werkkrag ryk geword het. Ook Cecil John Rhodes het homself nie ‘gemaak’ nie. Hy is gemaak – of liewer toegelaat – deur ‘n ekonomiese stelsel ...”
In die korporatiewe wêreld sowel as in die politiek gaan dit veral oor “networking” – daardie gekoesterde broederskap op die gholfbaan het meer te doen met die opvul van die reeds oorvol vaatjie en volgepakte skuur as net met die salige invloed van die groen setperk, die wit bal en die kuier by die 19de putjie.
Met Gerwel se politieke reikwydte (werklik of gewaand) – en hy moes bewus gewees het daarvan – sou sy onderdompeling (mens sou selfs kon praat van koöptering) in die korporatiewe wêreld dus veral gesien kon word as synde ‘n poging deur van die maatskappye (veral dan Naspers) as ‘n manier om te ontpop as die drywers van ‘n transformasieagenda en ook om polities gekonnekteerd te wees met die nuwe magselite.
Gerwel kon dus deur sy nuwe sakevennote gesien gewees het as ‘n belangrike skakel na Die Party, die corporate whisperer to the New Power? Of wat presies was Gerwel se agenda?
Neville Alexander skryf in sy Some are more equal than others. Essays on the transition in South Africa onder andere die volgende: “In other words, people like Gerwel, then as now, despite their important contributions in so many different spheres of life in South Africa, fudge the central question of power. They make the classical mistake of believing that because we are able to take office we have in fact taken power.”
Gerwel praat oor sy uittog uit die akademie in die La Vita-onderhoud: “Ek was amper al tien jaar rektor en het toe met die universiteit begin onderhandel: Kan ek nie maar uit die aanstelling kom nie? Jy weet ek het gevind ek het as ’n veranderingsgesinde rektor daar gekom en baie dinge verander. Maar ná so sewe, agt jaar as jy na jouself luister, vind jy uit jy begin posisies verdédig eerder as aanval en verander, en ek dink dit is ’n slegte teken.”
Tot watter mate het Gerwel in die korporatiewe omgewing “posisies aan(ge)val en verander”?
Media24 se Welkom Yizani-bemagtigingskema (Welkom Yizani Beleggings Beperk), onder voorsitterskap van Gerwel, het uiteindelik tot groot ongelukkigheid onder beleggers gelei. Van die goeie voornemens met die aandeel se loodsing het daar dadels gekom (die aandeel word jare later teruggekoop teen gemiddeld R10, dieselfde deposito wat in 2006 betaal moes word vir die aandele) – ‘n ander groepering maak egter obsene winste met die groei in die prys van die Naspers-aandele – met bemagtiging het die armes hier beslis die pot lelik misgesit.
Dit is ook veelseggend dat daar na Gerwel se afsterwe nie juis verslag gedoen is oor sy substansiële welvaart wat sedert sy toetrede tot die korporatiewe wêreld “toegelaat” is om op te bou nie; ek kan nie onthou dat daar selfs berig is oor die omvang van sy boedel nie.
Hoeveel van sy miljoene het hy filantropies bemaak? ‘n Dawerende stilte ... ons weet nie.
Hierteenoor het die koerante berig oor die Rabie-Wallace-egpaar se boedel van net oor die R3 miljoen wat bewillig is vir ‘n beursfonds vir skrywers.
Moontlik het Gerwel, soos baie in die huidige bestel, uiteindelik besef dat werklike mag nie in die hande lê van die vele wat die kruis trek nie, maar eerder in die hande van die uitgelese groep wat bepaal waarheen die kapitaal vloei.
Bronne
- Some are more equal than others, essays on the transition deur Neville Alexander, aanlyn beskikbaar by: https://www.marxists.org/archive/alexander/some-are-more-equal.pdf
- The Rich List, Sunday Times, Business Times, bl 7, 16 September 2012, aanlyn beskikbaar by: http://cdn.bdlive.co.za/images/pdf/Sunday%20Times%20Rich%20List%202012.pdf
- Bewegings op Welkom Yizani-aandele, gemiddeldverhandelde pryse by: https://www.welkomshares.co.za/ Die aandeelprys het vir ‘n kort periode gedurende die afgelope 12 maande rondom R25.00 verhandel en is tans weer terug op vlakke van by die R10.00.
Kommentaar
Clinton Du Plessis die artikel oor Prof Jakes Gerwel is die belangrikste en mees insiggewende na die dood van Gerwel in 2012. Dit is onderskeidend, gelykmatig, ongekook en ʼn interessante dekonstruksie van die ordinêre konstruksies (veral deur die media) van die persona van Gerwel.
Soos ek Gerwel geken het sou hy jou skrywe omarm het en so droogweg daaroor geglimlag het.
Dié artikel is ook betekenisvol op die vooraand van die 4de Swart Afrikaanse skrywersberaad wat oor die naweek by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gehou word. Soos jy weet was Gerwel instrumenteel in die organisering van die eerste beraad wat in 1985 by UWK gehou is.
Ek hoop jou artikel verleen impetus aan die nodigheid om ʼn debat te voer oor die nalatenskap van een van die belangrikste intellektuele, letterkundiges, sakereuse en akademici van ons tyd.
Gerwel was ʼn voorstaander van ʼn robuuste openbare diskoers en ek hoop van harte dat meer mense sinvol en konstruktief aan die gesprek sal deelneem. En ek hoop ook dat deelnemers aan so ʼn gesprek – soos Gerwel altyd geskryf het – sou let op die “toon en aard” van die gesprek.
Gerwel was as openbare figuur en intellektueel ʼn komplekse kreatuur omdat sy beskawings-bydrae te veeleisend was om genuanseerdheid daaraan te verleen. Maar die aktualiteit lê reeds in dié ongenuanseerdheid afgesonder en daag ons in die denkende wêreld opnuut uit om nuut en vars te dink oor die legaat van Gerwel – om ons wêreldbeskouing ietwat te verbreed.
Geluk ou maat vir jou waagmoed en integriteit. Jou deelname en insiggewende insette in die soeke na antwoorde vir die kompleksiteit waarin ons wandel het ek nog altyd hoog op prys gestel.
Jy gee die intellektuele gesprek ʼn goeie naam.
Die robuuste gesprek moet nie net oor Gerwel se kommunisme/kapitalisme handel nie, maar ook oor sy Afrikaans/Engels; Afrikaans van huis uit en as dosent, maar die hoofaanstigter van bv die verengelsing van die Universiteit van Wes-Kaapland. By implikasie moet dit Gerwel se lojaliteite opweeg. Wat het die swaarste geweeg, Afrikaans of ANC-politiek? Die antwoord is voor die hand liggend.