Jakes Gerwel: 18 Januarie 1946 – 28 November 2012

  • 1

 

Die afsterwe van Jakes Gerwel is ’n reuse-verlies vir Suid-Afrika en vir Afrikaans in die besonder. Dit is nie vergesog om ’n vergelyking te tref met die verlies van iemand soos NP Van Wyk Louw nie. Soos Louw het Gerwel ruim en vrydenkend in die lewe omgegaan. ’n Mens sien dit in die klem wat hy in sy Rapport-rubriek geplaas het op besinning oor die wyse waarop ons oor dinge met mekaar praat en die feit dat daar altyd ander perspektiewe en moontlikhede is. In sy onlangse hulde aan Adam Small het hy ook gewag gemaak van die twyfel as lewenswaarde wat hy as student van Small geleer het.

Uit my studiejare onder hom onthou ek sy uitgangspunt dat die werk van die intellektueel, en dus die student van die letterkunde, in ’n sosiopolitieke konteks plaasvind en ons in staat moet stel om die samelewing beter te verstaan en verandering teweeg te bring. Sy lesings het menige student in die struggle-tyd gehelp om sy verhouding tot Afrikaans krities uit te leef en aan die hand van Swart Bewustheid ’n trotse selfdefinisie te gee.

Sy doktorale studie oor konsepsies van gekleurdes in die vroeë Afrikaanse roman was baanbrekerswerkop die terrein van die ideologie-kritiek. Hy het daarmee die Afrikaans-departement by die UWK gevestig as ’n belangrike kritiese stem waaruit grensverskuiwende werk voortkom. Sy aanhang van die Marxistiese literatuurteoretiese werk van Fredric Jameson, Terry Eagleton, Walter Benjamin en Lucien Goldman spruit uit sy behoefte om die histories-materialistiese onderbou van kulturele uitings diepgrondig te verstaan. Gerwel het nie aan maklike, voor die hand liggende analises geglo nie. Hy sou op ’n pynlik noulettende wyse die lae van die teks afskil om by ’n verrassende beskouing uit te kom. Hy het ’n aanvoeling vir stilistiese vaardigheid gehad en het die dig-gekonstrueerde sinne van iemand soos Rob Antonissen besonder hoog aangeslaan.

Gerwel het ’n groot aangetrokkenheid tot die werk van André P Brink, Breyten Breytenbach, Elsa Joubert, Jan Rabie, Karel Schoeman en Adam Small gehad, vanweë die Afrika-gerigtheid en die worsteling met Suid-Afrikaanse kwessies in hulle werk. Hy het Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in ’n ruim Suid-Afrikaanse en Afrika-konteks geplaas en bygedra om dit van ’n benouende ingekeerdheid te bevry.

Dieselfde ruim denke onderlê sy werk as rektor van die UWK. In sy dienstyd is die universiteit finaal bevry van die stigma van etniese apartheidsinstelling en as nasionale universiteit geposisioneer. Sy tipering van die universiteit as “the home of the left” het ‘n ikoniese beskrywing geword. Dit reflekteer op die intense, progressiewe, intellektuele debatte waarmee die apartheidsdenke geopponeer is en daar vorm en inhoud aan die Nuwe Suid-Afrika gegee is.‘n Hoogtepunt was die debat tussen Gerwel en Neville Alexander oor die nosie van “home of the left”. Watter tragedie, dus, dat ons twee denkers van hierdie formaat in een jaar verloor het!

Kort voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het UWK die tuiste geword van menige uitgeweke anti-apartheidsintellektueel, onder wie Kader Asmal en Vernie February, asook ’n smeltkroes waarin die huidige geslag rektore, ministers en sakeleiers gevorm is.

Die Departement Afrikaans en Nederlands huldig Jakes Gerwel as ’n gewaardeerde kollega, dosent en mentor en grondlegger van die departement. Ons wat onder hom studeer het en met hom saamgewerk het, is dankbaar vir die voorreg om in die kragveld van sy ryk gees te kon leef.

 Klik hier om nog huldeblyke te lees:

Huldeblyk deur Ampie Coetzee
Huldeblyk deur Francis Galloway
Huldeblyk deur Henry Jeffreys
Sien ook die Twitter-huldeblyke aan Prof. Gerwel

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 1

Kommentaar

  • Theresa Papenfus

    'n Besonderse mens –   begaafd, beskeie, beskaafd. 
    Hy was 'n aanwins vir die land en vir Afrikaans. .

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top