In Memoriam: Jakes Gerwel

  • 0

Die ontydige dood van Jakes Gerwel is ’n geweldige slag vir die hele land, maar veral vir sy gemeenskap – die bruin mense.

In dié gemeenskap was hy altyd bekend as ’n rigtinggewende leier en wysgeer wat op ’n medemenslike manier klarigheid wou gee oor die mees komplekse element van hul bestaan – naamlik hul identiteit.

Hy het onwrikbaar – soos Van Wyk Louw – geglo dat ’n mens ’n “veelvuldige identifikasie” moet aanneem eerder as om in ’n “statiese identiteit” vasgevang te wees.

Etniese veralgemening van “ons en “hulle” was vir hom ’n onding, omdat polarisasie daarin verskans is.

Hy het in so ’n mate deur sy lewe teen dié dwaling van etniese-identiteitsvorming gepraat, dat hy homself as “’n slegte kleurling” beskryf het.

Dié konsekwente standpunt en lering van hom het menige bruines gehelp om klarigheid oor komplekse politieke en identiteitskwessies te kry. Andere, veral die bruines met ’n hunkering na witheid, het hom gesien as ’n “bruin afvallige”.

Gerwel se enorme bydrae tot Suid-Afrika het egter regoor politieke, kleur- en etniese grense gestrek. Reeds daarom sou dit onvanpas wees om hom uitsluitlik as ’n bruin leier te verkla.

Sy grootste bydrae was toe hy in 1987 rektor van UWK geword het. Onder sy leierskap is die anti-apartheidstryd veral op kampus verskerp. Ook sodoende was die UWK ’n teelaarde vir die UDF wat in 1983 tot stand gekom het – wat beskou kan word as ’n direkte uitvloeisel van sy verklaring dat die universiteit die “intellectual home of the left” was.

Hy was onder meer saam met Franklin Sonn en Desmond Tutu in die 1980’s ná verskeie optogte aangehou.

Gerwel het die deure van UWK vir swart studente oopgegooi en die kurrikulum vernuwe om plek te maak vir vernuwende navorsing en uitreikingsprogramme.

Op so ‘n wyse het hy die beeld van UWK dramaties verander met kursusse wat studente van internasionale gehalte gelewer het. Baie van dié studente speel vandag ’n belangrike en invloedryke rol in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld.

Met sy aanstelling as direkteur-generaal (DG) in oudpres Mandela se kantoor in 1994 het Gerwel ’n belangrike rol gespeel om die oorgang van apartheid na ’n grondwetlike demokrasie te bestuur. Tot sy dood was hy ’n gerespekteerde en invloedryke vertroueling en raadgewer van Madiba.

Na sy termyn as DG het hy die sakewêreld betree en miljoene rande verdien deur op verskeie maatskappy-direksies te dien. Hy was onder meer voorsitter van Media24 en ’n Naspers-direksielid.

Omdat sy deurlopende tema altyd “nierassigheid in Afrikaans” in sy rubrieke en toesprake was, bestaan daar nie konsensus oor sy invloed in Media24 en Naspers nie. Veral omdat hy twee jaar gelede geskryf het dat “bruin mense hulle oor die algemeen nie in die hoofstroom Afrikaanstalige media herken of hoor nie”.

Sedert Polokwane het hy toenemend sy frustrasie met die ANC-regering op ’n subtiel-genuanseerde manier in sy rubrieke weergegee – “maar ek kan ook nie my identifikasie met daardie beweging ontken nie.”

Gerwel was besonder lief vir Afrikaans en het fyn daarmee omgegaan. Sy tydlose, “soomlose” Afrikaanse stem sal altyd gemis word.


 

Huldeblyk deur Ampie Coetzee
Huldeblyk deur Steward van Wyk
Huldeblyk deur Henry Jeffreys
Twitter-huldeblyke aan Gerwel
Huldeblyk deur Francis Galloway
.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top