
Frazer Barry, Deniel Barry en Charlton Davids tree saam op in Lipkap op by die Suidoosterfees 2024.
In Lipkap kombineer Frazer Barry, Deniel Barry en Charlton Davids die “vreeslose” genres van rymklets en kabaret op ’n “ondersoekende” wyse in Afrikaans én Khoekhoegowab.
Jannike Bergh het met Frazer Barry gesels oor hierdie kultuurryke produksie wat op 26, 27 en 29 April by die 21ste Suidoosterfees opgevoer sal word.

Frazer Barry (Foto: Izak de Vries)
Suid-Afrika ken van verskille en versoening. Wat het julle laat besluit om kabaret en rymklets saam te laat speel?
Die Afrikaanse teaterwêreld is gedurig besig om te groei en die afgelope 30 jaar het Afrikaans rymklets ook aansienlik gegroei op demografiese vlak, sowel as in populariteit. Rymklets, net soos kabaret, is uitdagend en vreesloos, daarom was dit vir ons persoonlik ’n logiese stap om hierdie twee mediums te ondersoek deur dit saam te voeg. Die feit dat dit ’n onbekende terrein is, maak dit baie opwindend. Ons het nie verwag dat ons noodwendig die formaat 100% uit die staanspoor sal regkry nie, maar dat ons wel ondersoekend in ons omgang met die twee mediums wou wees. Ons is egter verskriklik opgewonde oor wat die moontlikhede en die toekoms van die kombinasie inhou.
Wie maak musiek, skryf, rymklets en gesels almal saam in hierdie produksie?
Konsepsueel het ek (Frazer) die idee gevorm en aanvanklik verskeie musikante, digters, rymkletsers genooi om deel te vorm van die skeppingsproses. Charlton Davids is ’n sanger/rymkletser en is op klavier met oorspronklike komposisies wat hy bygedra het. Deniel Barry is op perkussie, sang en digkuns wat sy bygedra het. Ons almal was dus uit die staanspoor betrokke by die skeppingsproses en almal het waarde toegevoeg tot bogenoemde dissiplines van skryf, rymklets, teks, digkuns, ensovoorts.
Watter temas word aangeraak in hierdie produksie?
Die oorhoofse tema is beslis kommunikasie. Die mens se lyftaal, hoeveel dit tot ons spreek. Wat ons sê. Hoe ons dit sê. Hoekom ons dit sê. Die komplekse proses van informasie versamel, idees en gedagtes vorm wat woorde en ’n taal word en uiteindelik op aksie uitloop.
Waaruit bestaan die produksie se repertoire? Is alle musiek vir die produksie nuwe komposisies, of is daar ook bestaande materiaal wat byvoorbeeld herinterpreteer word deur Lipkap se unieke aanslag?
Ons het uit die staanspoor besluit op nuwe komposisies, aangesien ons onsself as kunstenaars wou uitdaag. Daar is Khoekhoegowab (Khoi), ballades, rymklets en digkuns plus ’n sterk teenwoordigheid van teks (idees) wat die verskeie elemente van die musiek met mekaar verbind.
Daar word mos gesê dat gedigte en liedjies lank ná ons sal (oor-) leef. Lipkap is ’n meertalige produksie wat Khoekhoegowab ook in sangvorm insluit.
Kan julle ’n gesegde of ’n versreël of so met ons deel en die betekenis aandui, sodat ons ’n idee kan kry hoe die taal lyk en klink en hoe Afrikaans en Khoekhoegowab mekaar iewers ontmoet?
Ons het besluit om met die klanke van Khoekhoegowab te speel sodat ons dit teenoor Afrikaans kon opstel om die kontrasterende effek van kommunikasie uit te wys. Dit is moeilik om Khoekhoegowab se betekenisvolle klanke tot sy reg te laat kom deur dit te verduidelik in Afrikaans of in enige geskrewe taal. Die Khoekhoegowab-taal in die produksie word voorgehou as ’n ervaring in plaas van ’n verduideliking. Die taal se klanke is geweldig kompleks en ons het Jan van Riebeeck se “mis-vat” van die Khoi-Khoi-klanke as voorbeeld.
Die naaste klank of woord wat hy kon vorm vir die komplekse klanke van die Khoi-taal nadat hy dit gehoor het, was Hot-en-Tot, wat die ritmiese aspek sonder die klieks probeer saamvat het. Natuurlik het hy liederlik daarin gefaal omdat Hollands beperk was en is wat daardie fonetiese aspekte betref. Die produksie was voorheen ’n 70 minute produksie en ons moes dit aanpas tot 21 minute, daarom kon ons nie soveel Khoekhoegowab byvoeg soos ons aanvanklik wou nie, aangesien die 21 minute verskriklik vinnig verbygaan!
Meer inligting oor Lipkap by die Suidoosterfees:
Met: Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry
Teks: Frazer Barry, Charlton Davids en Deniel Barry
Regie: Frazer Barry
Taal: Afr, Khoekhoegowab
Venue: ATKV-Isibaya
Datum en tyd: 26 April 21:15, 27 April 21:15, 29 April 13:00 en 19:00
Tydsduur: 21 min
Prys: R21
Kaartjies: Webtickets
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: Theo Kemp oor die Jakes Gerwel Stigting by die fees
Suidoosterfees 2024: Ken jy vir Dewie? – ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke
Suidoosterfees 2024: Speed politics for bewildered South Africans – an interview with Marianne Thamm