Suidoosterfees 2024: Ken jy vir Dewie? – ’n onderhoud met Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie

  • 0

Ken jy vir Dewie? is 24, 26 en 27 April 2024 by die Suidoosterfees. Foto: Gys Loubser

Ignus Rademeyer gesels met Margit Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie oor die toneelstuk, Ken jy vir Dewie? wat op 24, 26 en 27 April by die Suidoosterfees te siene is.



Hi, Margit en Ilne. Eerstens baie geluk met die vier Kanna-benoemings vir Ken jy vir Dewie? Dit is ’n enorme eer vir julle as vervaardigers, regisseur en skrywer, onderskeidelik. Julle is hierdie week op die planke by die Suidoosterfees.

Kan julle ons bietjie meer vertel waaroor Dewie gaan?

Ilne: Ken jy vir Dewie? handel oor die tienerseun, Dewald de Jager, se soeke na sy plekkie in die skool se hiërargie. Om in te pas. Om te belong. Dewie is ’n gewone ou. Hy is nie die tipe ou teen wie ma’s hulle dogters waarsku nie. Hy is nie die tipe ou wie se skoolbaadjie lyk soos ’n korporaal in die weermag nie. Hy is die tipe ou by wie jy ’n potlood of pen leen. Hy sit agter jou in die Wiskunde-klas. Jy praat nie regtig met hom nie, want jy kan nie sy naam onthou nie en dit is ongemaklik vir julle albei, want julle is al van graad 1 af saam in die klas.

........
Ken jy vir Dewie? nooi die gehoor terug na die skoolbanke, maar ook in die denke van die jong seun Dewie, waar hul sien hoe jarelange boeliery en onskuldige grappies manifesteer en groei tot iets wat onafwendbaar is.
........

Die titel sinspeel op die verwronge droom waarna Dewie strewe. Dat almal eendag sy naam sal ken en sal weet wie hy is, maar ook die groot vraag wat bly staan: Ken jy werklik jou kind? Weet jy wat in jou kind se lewe aangaan? Ken jy die leerder wat voor jou sit se seer of onsekerhede? Ken jy vir Dewie? nooi die gehoor terug na die skoolbanke, maar ook in die denke van die jong seun Dewie, waar hul sien hoe jarelange boeliery en onskuldige grappies manifesteer en groei tot iets wat onafwendbaar is.

Margit: In die drama Ken jy vir Dewie? word die gehoor bekendgestel aan Dewie de Jager. Die gehoor word binne genooi in Dewie se alledaagse lewe, sy psige, sy drome en sy daaglikse waarnemings en denke. Hulle word sy woordelose klasmaats, voyers wat toekyk, wat deel is van sy seer, sy frustrasie, sy haat en sy woede... hulle weet. Hy is saam met hulle in die klas, hy sit agter hulle, langs hulle... maar niemand sê iets nie. Soos wat dit dikwels die geval is.

Die toneelstuk gee die kyker ’n indiepte kykie na wie die ware persoon is wat agter die sluier van depressie, angs en die jarelange produk van verbale boeliery skuil. Wat dryf ’n doodgewone, stil en teruggetrokke jong seun tot sulke onmenslike dade? Alhoewel “skoolskieters” nog ’n onbekende term in Suid-Afrika is, is skolegeweld daagliks besig om teen ’n kommerwekkende spoed toe te neem.

Wat was die inspirasie vir Ken jy vir Dewie?

Ilne: Ek is geweldig geïnteresseerd in die psige van die mens. Ek dink as ek oor kon kies, sou ek liewer sielkunde wou studeer. Ek het nog altyd herkou en gewonder wat gaan werklik in ’n skoolskieter se kop aan? Hoekom doen hulle dit? Ek glo dat enige aksie lei tot ’n reaksie. ’n Mens tel nie net een oggend ’n geweer op en maai ’n klomp leerlinge af nie. Daar is ’n rede. Woede? Onbetrokke ouers? Die verwronge skoolsisteem? Boeliery? Wat dryf ’n persoon tot so ’n onmenslike daad? Dit is hier waar die idee aan my begin krap het. Ek het geweldig navorsing gedoen. Jody Picoult se Nineteen minutes. We need to talk about Kevin. Elephant. Zero Day. Die Columbine shooting het my destyds diep geraak en ek dink reeds toe is daar ’n saadjie geplant om eendag die storie te vertel.

Margit: Dewie kom nou al amper twee jaar aan. Die gesprek met Ilne het begin toe ons begin repeteer het aan Laerskool Noord. Ilne het genoem dat sy die idee van school shootings in haar kop het. Ek het dadelik gesê as sy iets skryf, wil ek die regie behartig. Ek het die KKNK genader en hulle was nie bekend met die idee van school shootings nie. Seker oor wapens nie so maklik beskikbaar is in SA soos in die VSA nie. Maar boeliery en selfdood is uiteindelike uitvloeisels van tieners se absolute weerloosheid. En nou is daar wel 2 jaar later ’n paar school shootings wat plaasgevind het. Dewie word toe voorgestel by Teksmark wat wonderlik was, want toe begin die gesprekke te loop. Die noodsaaklikheid van Dewie is bevestig.

Van die KKNK feesgangers het genoem dat die stuk afspeel in ’n klaskamer-ruimte? Hoe werk dit?

Ilne: My gunsteling-aanbiedingstyl is plekspesifieke toneel. Met Ken jy vir Dewie? bied ons dit aan as immersive theatre – meesleurende teater. Die gehoor word deel van die speelruimte, maar het ook die keuse of hulle interaksie met die akteurs wil hê. Daar is baie uitdagings. Ons bied dit aan in ’n skoolsaal met skoolbanke waarin die gehoor sit. Die voordeel daarvan is al jou sintuie word geprikkel; jy ervaar teater tot in sy suiwerste vorm; jy ruik die skoolruimte; jy sien, voel, hoor, proe toneel – dit word werklik. Jy is daar. In daardie oomblik. Margit se puik regie skep vir die akteurs ’n speelruimte voor en op die verhoog, tussen die gehoor; jy sit langs die akteurs, agter hulle; jy is terug op skool, die juffrou kyk jou naels wat ge-Cutex is. Dit ruk die gehoor uit die veilige ruimte van tradisionele teater – daar is nie donkerte om in weg te kruip nie.

........
Die produksie begin al in die straat af te speel soos wat die teatergangers in rye staan! Soos Ilne sê, dit is meesleurende teater en dit is verskriklike moeilike teater, want die akteurs is tussen die teatergangers en niks kan voorspel word nie.
........

Margit: Die produksie begin al in die straat af te speel soos wat die teatergangers in rye staan! Soos Ilne sê, dit is meesleurende teater en dit is verskriklike moeilike teater, want die akteurs is tussen die teatergangers en niks kan voorspel word nie. Elke vertoning is anders as die vorige een. Selfs met intense voorbereiding kan enige iets gebeur wat die hele storie kan omver gooi. Dit vat brawe en uitstekende akteurs om iets soos Dewie aan te pak, want die hele ervaring moet super realisties uitgebeeld word. Die gehoor is teen jou, saam met jou in die reis. Hulle kan aan die akteurs vat. Ons wil uiteindelik die stuk na skole neem en ’n verskil maak. Ons wil hê mense moet na die tyd gaan dink en hulself evalueer.

Hoe het julle as span saamgekom vir Dewie – die spelers en Margit as regisseur?

Ilne: Ek en Margit het saam gespeel in die komedie Laerskool Noord. Ek het tydens ’n repetisie in die Kaap vir haar vertel van my idee. Sy het dadelik ingestem as regisseur. Ek en Crystal-Donna Roberts het beide gestudeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Ons was al saam in studenteproduksies soos Skerpsin, Die Van Aardes van Grootoor en kinderteaterproduksies. Sy het ook al vir Margit gespeel in Vlooi. Robert Hindley is ook een van Margit se Vlooi-akteurs. Sy het hom dadelik voorgestel vir die rol van Dewie. En Joshwin Dyson het oor ons pad gekom na ons oudisies gehou het vir die rol van Kyle Scott. Die klasnar en grapmaker. Reeds met sy oudisie het ek en Margit sy ongelooflike talent en gemaklike aanslag; sy flink op sy voete dink in enige situasie; die gemak waarmee hy kan adlib en interaksie hê met ’n gehoor raakgesien. Die dinamika tussen hierdie span is ongelooflik en dit is ’n fees om saam met hulle te werk. En dan natuurlik ons verhoogbestuurder, Jeanne Steenkamp, wat ’n veilige vangnet vir ons akteurs skep. Haar fyn waarnemingsvermoë en detail waarmee sy elke produksie aanpak is verbysterend.

Margit: Ek het eerstens dadelik vir Ilne gesê ek het ’n Dewie in Robert Hindley wat al ’n paar jaar vir my speel in Vlooi. Hy is nie net ’n verskriklike knap akteur nie, maar ook ’n verkleurmannetjie. En hy het ’n beeldskone weerloosheid aan hom wat nodig is vir ’n Dewie. Ek het geweet hy is Dewie. Beide ek en Ilne het ook dadelik saamgestem oor Crystal. Joshwin se pad het gekruis met ons toe ons oudisies begin doen het. Sy absolute toewyding het ons oorwin. Die drie saam lewer ongelooflike ensemble-spel en is hou-vir-hou saam in die ding. O, en ek het myself ingewurm as regisseur! Die tema en kinders lê my baie na aan die hart.

Met boelie as ’n tema, wil ek graag weet of julle enige ervaring daarmee het?

Ilne: Ek het ervaring daarmee. Ek was die vet dogtertjie op skool. Ek is vir jare geboelie oor my gewig en het later in hoërskool besef as jy mense kan laat lag, dan hou hulle van jou. Ek dink dit is daar waar ek my liefde vir komedie ontdek het. In ’n mate was dit seker op ’n manier my saving grace. Op universiteit het ek deurgeloop onder dronk mans se aanmerkings en opmerkings. Ek het jare later in my loopbaan ’n eenvrouvertoning gedoen Vettie BoemBoem waar ek openhartig praat oor die letsels van boeliery. Dit is tot vandag toe een van my moeilikste vertonings om te doen. Dit is nie lekker om terug te gaan na daardie herinneringe nie, maar dit is ook een van my gewildste vertonings. Ek doen dit gereeld by vroueoggende, by tienerkampe en het dit selfs as deel van ’n dominee se preek in ’n kerk opgevoer. Die hartseer ding is dit beteken nie die dag as jy klaar is met skool, jy is vrygespreek van boeliery nie. Daar sal altyd boelies wees – selfs as volwassene. Daar is altyd daai een kollega, daai een baas of narsistiese vriendin of vriend, ’n verhouding of selfs ’n geliefde. Al verskil is ’n mens is ouer en wyser. As tiener het jy nie die emosionele ervaring om so iets te kan hanteer of verwerk nie.

Margit: Ek kan met dankbaarheid sê dat ek nooit ’n teiken was van boelies nie. Ek dink deesdae is boelies baie meer versteek as in my dae. Destyds was boelies nogals obvious. Die venynigheid en lelikheid was baie meer in jou gesig. Vandag is dit baie erger. Kinders word gebombardeer met geweldige groepsdruk. Ek het self ’n tiener in die huis. Vandag se kinders moet net begin besef dat baie ander kinders voel ook soos hulle. Niemand is alleen nie.

Hoekom dink julle is dit vir kinders wat geboelie word, so ’n skande om vir hulle ouers en selfs vriende daarvan te vertel en om hulp te vra?

Ilne: Want jy kry skaam. Jy voel soos ’n niks. Een van die lyne wat ek vir Dewie geskryf het is:

“Ek is ’n vlieswolkie. Te klein om te reën – te min om skaduwee te maak. Ek is deurskynend. Soos ’n handvol spookasem in ’n glas water [...].”

Dit is die gevoel wat ek ervaar het. Jy is alleen. Almal kyk deur jou. Ek het grootgeword in ’n tyd waar jy nooit ’n volwassene bevraagteken nie, waar jy nie huil en kerm oor “nonsens” nie. Die raad was stap dit af. As jy jou arm gebreek het – stap dit af. Tough love.

........
Ons het nie grootgeword in ’n era van selfone en sosiale media nie. Jy het maar gewens jy lyk eendag soos Cindy Crawford en het vir jou ’n moesie geteken met ’n koki. Deesdae met sosiale media is die speelvlak van boeliery reusagtig.
........

Deesdae is die spektrum van boeliery soveel wyer. Ons het nie grootgeword in ’n era van selfone en sosiale media nie. Jy het maar gewens jy lyk eendag soos Cindy Crawford en het vir jou ’n moesie geteken met ’n koki. Deesdae met sosiale media is die speelvlak van boeliery reusagtig. Jy weet as jy geboelie word, jy is anders. Jy kry skaam, jy pas nie in nie. En hoe meer jy lig daarop werp, hoe groter word die vergrootglas waarmee jy dopgehou word. En dit is juis wat jy nie wil hê nie. ’n Brandmerk of ’n label. Die weird een. Die klikkiebek. Die softie. Die cry baby. Dan bly jy liewer net stil en verdwyn tussen die massas.

Margit: Ek dink mense se beweegredes om dit nie te openbaar nie, is verskillend. Party, byvoorbeeld, sien dit nie as ’n skande nie. Sommige kinders wil nie ekstra stres vir hulle ouers gee nie, want ouers is deesdae besig. Daar is nie tyd om stil te staan en te luister nie. Die samelewing het so geraak dat ouers net kop bo water wil hou met stresvolle werke en finansies. Die kinders wat dit ervaar as ’n skande, voel dalk dat hulle gemerk word as anders. En ek dink op die ou einde wil almal net behoort. Niemand wil erken dat hulle nie êrens behoort nie. Kinders moet op ’n manier begin besef dat skool nie alles is in die lewe nie. Eendag as mens groot is, is ’n handjievol goeie, goeie vriende al wat jy nodig het.

Wat beteken die erkenning van die Kannas vir julle as ’n span?

Ilne: Ek dink hierdie is beslis die hoogtepunt van my loopbaan. Dit is iets waarvan ek al droom van studentedae af. Jy kyk na groot produksies en jy dink eendag wil ek dit ook doen. Ek skryf al vir amper 17 jaar toneelstukke. Dit was ’n lang pad en baie harde werk, baie teleurstellings en baie weer probeer. Hierdie vrugte wat ek uiteindelik pluk, is soeter as wat ek ooit kon droom. Ek is so trots op elkeen van die spelers. Dit beteken baie vir die stuk se speelvak vorentoe. Die grootste kompliment is die nominasie vir beste ensemble, hulle verdien dit deur en deur.

........
Ek sê altyd vir jong akteurs dat as jy werk vir ’n prys, is jou missie verkeerd. Werk vir petrol in jou kar. Werk vir jou passie.
........

Margit: Ek is nooit ’n groot voorstander van teaterpryse of pryse soos die Oscars of Emmy’s, byvoorbeeld, nie. Ek sê altyd vir jong akteurs dat as jy werk vir ’n prys, is jou missie verkeerd. Werk vir petrol in jou kar. Werk vir jou passie. Met die Kanna-nominasies was ons almal dit eens dat nou is daar net nog meer kans om die boodskap verder te vat. Ons hele span is ingestel op die boodskap waarmee ons gegun is.

Ilne, jou oeuvre as skrywer is enorm. Waar kry jy al die tyd en inspirasie? Vertel bietjie meer van jou proses as skrywer en wie jou mentors is.

Ek is MAL oor stories skryf en stories vertel. Ek dink dit is te danke aan my pa wat my reeds as jong dogtertjie geregistreer het by die JAPSNOET LEESKLUB, die destydse junior lidmaatskap van Leserskring. My pa was mal oor lees. Ek het grootgeword met Storieman en in die biblioteek geboer. Ek het wonderlike herinneringe van ons dorp se biblioteek. Ek onthou jy het ’n geel kaartjie gekry as jy onder 13 was, dan kon jy een boek uitneem. Met ’n rooi biblioteekkaartjie kon jy drie boeke uitneem. Ek het op 11 my ma se kaartjie gevat en vir my ’n klomp boeke van Die Uile-reeks gaan uitneem. Ek het dit deurgelees in ’n naweek. Daai Maandag toe gee die biblioteektannie vir my my eie rooi kaartjie en kon ek grootmensboeke ook uitneem. Jy moes ook jou ID-boekie wys as jy Griet skryf ’n sprokie wou uitneem. Ek het standerd 6 vir ’n maand lank ’n matriek se tas gedra net sodat sy vir my die boek kon gaan uitneem. Ek het in standerd 8 opstelle geskryf en vir R10 verkoop – gewoonlik aan die rugbyseuns wat op die rugbyveld geboer het.

Tyd is nie altyd daar nie, gelukkig is ek ’n naguil. Met groot skrywersprojekte soos hierdie skryf ek soms deurnag, maar die inspirasie is altyd daar – ALTYD. Ek kyk na mense en sien stories. Soms is daar nie ’n proses nie, daar is nie ’n reg of verkeerd nie, daar is nie ’n diepe wroeging of handeling van waar die storie uitbroei nie – jy moet net gaan sit en begin skryf. Dit is al hoe ’n mens werklik begin skryf. Gaan sit. Ek is ’n boekwurm. Jy kan nie skryf as jy nie lees nie. Ek lees alle genres.

Die skrywers wat die grootste invloed op my gehad het, is Annelie Botes, Nataniël, Dalene Matthee, Deon Meyer, Marita van der Vyver, PG du Plessis, Pieter Fourie, Chris Barnard, Athol Fugard, Marlene van Niekerk... Genade, dit is omtrent ’n hele biblioteek vol skrywers! Ek het een keer die voorreg gehad om Pieter Fourie te ontmoet. Ek het vir hom gevra: “Pieter, hoe kry ’n mens nuwe stories? Ek bedoel, julle het alles klaar gesê wat gesê kan word... Wat as die stories opraak?” Hy het sy pyp opgesteek en geglimlag. “Moenie fokus op die stories nie. Kyk na die mense. Waar daar mense is, sal daar altyd stories wees.”

En dit sal ek nooit vergeet nie. Dit is my dryfkrag.

Margit, jy het die afgelope tyd baie regiewerk gedoen. Wat is die lekkerte van regie vir jou?

Regie is vir my moeilik in die sin dat as als klaar is, is dit als jou verantwoordelikheid wat voor jou gebeur. Maar dis ook die lekkerte, want jy het die sê om die prentjie finaal af te rond met almal se gawes en talente wat saam met jou werk. Teater is dan nou ook skrikwekkend in die sin dat jy niks kan verander as die bal eers aan die rol is nie. Al wat jy kan doen, is om jou akteurs te koester en so veilig as moontlik te hou deur tyd te maak vir vrae en genoegsame repetisies. Met Dewie het ons ’n week in Januarie, ’n week in Februarie en ’n week in Maart gerepeteer sodat als kon insink en week. Ek as regisseur hou nogals van die werksproses om nie vier weke aaneen te repeteer nie. Dit gee almal tyd om tussenin al die materiaal ordentlik te verteer. Ek is baie moeër ook as ek regie doen, want jy moet al die gate, foute en onsekerhede sien. Jy moet die uitkoms bepaal en hoe die gehore dit gaan interpreteer. Dit is baie uitdagend, tog bevredigend as al die legkaartstukkies op die einde bymekaarkom.

Hoekom moet mense kom kyk na Dewie by die Suidoosterfees en wat is julle uiteindelike boodskap?

Ilne: Ouers moet dit sien. Onderwysers moet dit sien. En selfs volwassenes wat letsels dra van die verlede. Ons boodskap: Luister na jou kind. Wees daar. Reik uit. Wees teenwoordig.

Margit: Ons wil sê dit gebeur meer as wat jy dink. Ons wil sê dit gebeur met mense soos ek en jy. Ons wil sê dat boeliery nie verbeter het nie, maar by die dag vererger. Ons wil in mense se koppe klim en ’n verskil maak. Almal moet dit sien.



Ken jy vir Dewie?
Met: Crystal-Donna Roberts, Robert Hindley en Joshwin Dyson
Teks: Ilne Fourie
Regie: Margit Meyer-Rödenbeck
Tegnies en verhoogbestuur: Jeanne Steenkamp
Vervaardigers: Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie
Taal: Afrikaans
Venue: Die Klaskamer
Datum en tyd: 24 April 11:00, 26 April 14:00 en 20:00, 27 April 09:00
Tydsduur: 75 min
Prys: R130
Kaartjies: Webtickets

Lees ook:

SOF Junior: 1500 kinders per dag kry kuns en kos

Suidoosterfees 2024: Theo Kemp oor die Jakes Gerwel Stigting by die fees

Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke

Suidoosterfees 2024: Speed politics for bewildered South Africans – an interview with Marianne Thamm

Suidoosterfees 2024: Burger King Konsert van Hoop – ’n onderhoud met Anna Davel

Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Reginald Hufkie en Herschelle Benjamin oor Op die kruin van Shôdeville

Suidoosterfees 2024: ’n Onderhoud met Miché C van Wyk oor Konsistorie: ’n kabaret

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top