
Die mooiste mooi. (Foto: Ena Stegman)
Vanjaar, ter viering van die Suidoosterfees (SOF) se 21-jarige bestaan, is SOF Junior, ’n mini-kunstefees vir skoliere, onderwysers en ouers, van stapel gestuur. Dit het op 22 April afgeskop en gaan aan tot en met 26 April 2024 by die Artscape-teatersentrum in Kaapstad.
Op 22 April, die eerste dag, het 1500 piepklein kindertjies uit die armer dele van Kaapstad die fees bygewoon.
Marieta Nel, ’n inhoudspesialis by Penguin Random House SA en oudonderwyser, sê dit was die mooiste gesig om die operasaal stampvol klein kindertjies te sien. Jana Hattingh, die hoof van die Suidoosterfees, het glo by geleentheid na Marieta oorgeleun en gefluister: “Verbeel ek my, of is dit werklik?”

Nana, ’n reusemarionet op ’n driewiel (Foto: Ena Stegman)
Die storie agter hierdie storie
Vanaf Maandag 22 April tot Donderdag 25 April besoek 6000 leerders van die Kaapse Vlakte die Suidoosterfees. Hulle word daagliks bederf met drie skrywers, ’n gratis vertoning en ’n kospakkie.
Om elke dag 1 500 kinders te vervoer, kos baie geld en logistieke steun. Golden Arrow borg hierdie deel van die program.
Maar daar is meer: Hierdie jongmense kom uit skole waar daar danksy voedingskemas elke dag aan hulle kos voorsien word – vir baie is dit die enigste maaltyd van die dag.
Marieta Nel het besef dat, hoe groot die geleentheid ook al vir die kinders en jongmense is om na die teater te gaan, dit onverantwoordelik sou wees om hulle sonder kos huis toe te stuur.
Toe begin sy bel.
Iets soos daardie mooi verhaal oor die brood en die vissies het gebeur:
- Capespan, ’n internasionale verspreider van sagtevrugte, het appels geskenk aan elke leerder.
- Vyf verskillende gegoede skole spring en sê hulle help.
- Curro, die privaatskoolgroep, het vrugtesap geborg vir elke leerder wat SOF Junior bywoon.
- Verder het ouers en onderwysers van vier gegoede skole ingespring om self toebroodjies te maak en kospakkies te pak: Laerskool Jan van Riebeeck, Hoërskool The Settlers, Laerskool Eversdal en Laerskool Welgemoed het elkeen aangebied dat hulle sou sorg dat nie ’n enkele kind sou honger ly nie.
’n Mens wil hieroor ook vra: “Verbeel ek my, of is dit werklik?”

Die kantoor van Hoërskool The Settlers se skoolhoof op 22 April (Foto: Verskaf)
Meer oor SOF Junior
Die SOF Junior-program is beskikbaar op suidoosterfees.com en bestaan uit drie afdelings: Klein Suidoosterfees, met teaterproduksies vir leerders in verskeie grade; Storierak, aangebied deur NB-Uitgewers; en Dis duidelik!, aangebied deur LAPA/Penguin Random House en die AON.
In LAPA/Penguin Random House se Dis duidelik!-afdeling kom 20 skrywers van Afrikaanse en Engelse kinder- en jeugboeke op 23 April op die verhoog byeen vir ’n heerlike bederfsessie vir bibliotekarisse van laerskole, hoërskole en openbare biblioteke. Van die skrywers wat in Biblioteekdag optree, is Antjie Krog, Zuléka Smit, Felicia Snyman-Du Toit, Makhosazana De Wette Dludla, Wendy Maartens, Anzil Kulsen, Eldridge Jason en André Trantraal.
In Toegerus vir lees gaan Wilna van Rooyen, die AON se vakspesialis, onderwysers en ouers van graad R- tot graad 6-leerders touwys maak oor hoe om kinders te help om nie net gemaklik te kan lees nie, maar ook om sommer verlief te raak op lees!
Graad 7- tot graad 12-Afrikaans-onderwysers sal juig oor Alles visueel, vindingryk en vernuftig vir vraestelle. In dié opleidingsessie verduidelik die legendariese onderwyskenners Marieta Nel, Karin Tomlinson en Kathie Viljoen hoe vraestelletyd vir onnies van ’n nagmerrie na ’n plesier kan verander.
Ouers, drama-onderwysers en leerders van graad 10 tot 12 kan uitsien na Drama en stories in NB-Uitgewers se Storierak-afdeling. In dié sessie gesels Tanya Viviers oor Om teen treine te skree, ’n bundel met dramatekste vir skole. Deidre Jantjies, skrywer van Stories in die wind, gesels ook oor volksverhale van die Nama-mense en die belangrike rol wat orale storievertelling speel.
Gewilde kinder- en jeugboekskrywers van beide uitgewershuise kom gesels oor hul boeke waarvan baie vir skoliere voorgeskryf is.
Uit die NB-stal kom praat Francois Bloemhof, Leon-Ben Lamprecht en Heléne de Clercq oor avontuurverhale, terwyl William Oosthuizen en Troula Goosen gesels oor hul boeke, Wim Vermaak maak ’n plan en Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis. Katherine Graham, Joha van Dyk, Elrien Scheepers en Fiona van Kerwel is ook op die program. Vir die heel kleintjies is Paula Fourie teenwoordig met Die hond met die stert sonder swaai.
LAPA bring vir Zuléka Smit, Felicia Snyman-Du Toit en Makhosazana De Wette Dludla om oor hulle boeke vir jong lesers van graad RR tot graad 3 te gesels. In Stories vir almal! kan graad 4- en 5-leerders saam met hul ouers en onderwysers kennis maak met Anzil Kulsen, Wendy Maartens, André Trantraal en Verushka Louw.
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: Speed politics for bewildered South Africans – an interview with Marianne Thamm
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke
Persverklaring: Suidoosterfees se Onder ’n bloedrooi hemel ’n "kragveld van kreatiwiteit"
Suidoosterfees 2024: Theo Kemp oor die Jakes Gerwel Stigting by die fees

