...
"Tydens die era van modernisme en kolonisasie het Westerse medici geglo dat jy enige iets met ’n pil moet kan behandel. In die era van die postmodernisme en die bestuur van diskoerse om dekolonisering, word omgewingsfaktore deeglik in ag geneem."
...
Droomwerk
Skrywer: Pieter Odendaal
Vervaardiger: US Woordfees en Pieter Odendaal (River Mouth Projects)
Ontwerper en regisseur: Kanya Viljoen
Mededirekteur: Lwanda Sindaphi
Akteurs: Jill Levenberg, Ben Albertyn, Johann Nel, Noluthando “Tyrish” Mili en Johann Vermaak
Verhoogbestuurder: Miliswa Mbandazayo
Kostuumontwerp en vervaardiging: Yonela Makoba
Klankontwerp en komposisie: Jannous Aukema
Instrumentasie: Jannous Aukema & Sumalgy Nuro
Produksiebestuurder: Marí Stimie & Bamanye Yeko
Die teks van Droomwerk het reeds in 2021 die ATKV-Woordveertjie vir beste nuwe Afrikaanse toneelstuk gewen, nog voor dit opgevoer is. Dit is nou vir die eerste keer opgevoer by die Nasionale Kunstefees. Interessant genoeg is dit gedoen saam met die US Woordfees.

Pieter Odendaal
As ’n mens Odendaal se gedigte ken, is die grawe in die familiegeskiedenis en die ondersoek van skuld ’n bekende gegewe. So skryf hy in sy debuutdigbundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie die volgende strofes in ’n gedig wat hy opdra aan Adam Small:
my pa was ’n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ’n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god
maar oukei met als gewees
hy’s ’n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil
Odendaal het in 2019 die Ingrid Jonker-prys gewen met hierdie bundel.
In Droomwerk speel hy weer bewustelik met die moontlikheid dat hierdie verhaal na aan sy eie familie kon wees.

Johann Nel as die oupa
Die hoofkarakter is Petrus Odendaal en dié karakter se oupa is ’n oud-senator wat nog moeite doen om apartheid goed te praat.
Meer nog, die stuk klim bewustelik in die Odendaals se familiestamboom rond.
’n Kort opsomming van die stuk
In breë trekke ontmoet ons die hoofkarakter waar hy in ’n psigiatriese hospitaal lê. Hy word in sy drome besoek deur ’n slavin wat beweer dat sy ’n voorouer, dalk selfs stammoeder, is van die Odendaals in Suid-Afrika.
Hy probeer met sy pa gesels hieroor, maar die pa wil niks hiervan weet nie. Die oupa nog minder. Die oupa is ook in die hospitaal en dra gereeld lang, keurige toesprake voor ter verdediging van apartheid.

Ben Albertyn as Petrus Odendaal, Johann Vermaak as die psigiater
Die psigiater word al hoe meer bekommerd oor die jonger Odendaal se gesondheid, en wil elektriese skokke toedien. Een van die susters in die hospitaal is egter ook ’n tradisionele heler, en sy besef dat die jong man deur sy voorouers gekontak word.

Noluthando “Tyrish” Mili as die verpleegsuster met ’n dieper insig
Sy stel dan ’n tradisionele ritueel voor wat die jong man moet deurgaan.
Reiniging deur tradisionele genesers
In Afrikaans is daar nog min geskryf oor reinigingsrituele deur tradisionele genesers.
Tienie Swanepoel het daarmee gewerk in sy boek My hart wil Afrika.
In my kortverhaal, wat in Die Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem is (“Ons moet vir jou ’n bees slag”), verduidelik ek die term umnyama as “vuil” of “besoedel”. In die Afrika-geneeskuns kan ’n disjunkte verhouding met die voormense ’n sodanige besoedeling teweeg bring, en daar is maniere om dit te genees.
Droomwerk vertoon hierdie besoedeling uitstekend. Die reinigingsritueel is smaakvol gedoen, maar is nie ’n poging om realisties te wees nie. So ’n ritueel duur ure lank en sou nie in hierdie stuk werk nie.
Reiniging vs die Westerse medisyne
Tydens die era van modernisme en kolonisasie het Westerse medici geglo dat jy enige iets met ’n pil moet kan behandel. In die era van die postmodernisme en die bestuur van diskoerse om dekolonisering, word omgewingsfaktore deeglik in ag geneem.
My geliefde het gespesialiseer in huisartskunde, ’n dissipline wat in Engels eintlik ’n beter naam het: family medicine. ’n Goeie huisarts is iemand wat na die individu binne gesinsverband kyk. My goedige grappie oor gespesialiseerde huisartse is dat as iemand ’n knie het wat nie gesond wil word nie, begin ’n goeie dokter die konsultasie met: “Vertel my van jou oupa.”
Odendaal se Droomwerk speel direk hierop in. My geliefde sou die stuk baie geniet het.
Die jonger Odendaal is skynbaar weerstandig teen die medisyne wat die psigiater aan hom verskaf. Skokterapie lê voor. Dit is die swart suster wat agterkom dat hier iets veel dieper is, dit is sy wat hom lei deur ’n helende ritueel.
Of dalk droom hy dit net? Later meer hieroor.
Ek het die stuk alleen gesien, maar ek sal bitter graag my geliefde wou saamvat. Sy sou ook geweldig kon identifiseer met die jong man wat deur die spesialis soos ’n objek behandel word op die saalrondte. In die ware lewe sal kundiges hulle pasiënte voordra aan studente – dit gebeur in alle tersiêre hospitale en dit gebeur té gereeld dat daar oor ’n pasiënt gepraat word, nie met die pasiënt nie. As hierdie stuk ook in die Baai sou speel, sou my geliefde dalk die hele mediese skool wou dwing om dit sien.
Odendaal se Droomwerk beeld die spanning tussen modernistiese geneeskunde en pragmatiese, postkoloniale denke oor gesondheid uit.
Soms is skokterapie die enigste opsie, dit sal enige goeie psigiater bevestig, tog is die vraag of die jong man se herhaalde versoeke om vrede te maak met sy voormense nie dalk baie waarde hou nie?
Droomwêrelde in Droomwerk
Die stuk is gesitueer in ’n psigiatriese hospitaal en ons weet die jong Odendaal ervaar erge drome.
Ons as die kyker is dus nooit seker of dit wat voor ons afspeel, werklik is en of dit alles in die jong man se drome afspeel nie.
Die karakters speel ook verskillende rolle.

Jill Levenberg (regs) as die verpleegsuster
Wat meer is, die een verpleegster verskyn aan die jonger Odendaal as ’n slavin. Hy sê dan die volgende oggend vir haar: “Jy was in my drome.”

Levenberg as slavin en Albertyn as ’n voorouer
Die einste verpleegster klim later weer in die rol van die slavin en vertel aan Odendaal hoe sy deel geword het van die stamboom. Die kyker weet egter dat die verpleegster self nie daardie kennis het nie, dit is dus ’n ander karakter, dalk ’n droomkarakter, wat dit aan die pasiënt vertel.
Die psigiater speel ook die jong man se pa, en natuurlik die oupa se seun. Is die pa werklik? Is die voortdonderende oupa werklik? Is hulle slegs drome?
Die swart verpleegsuster is die een wat die reiniging uitvoer. Gebeur dit werklik of is dit deel van sy drome?
Hierdie wonderlike spel tussen werklikheid en realiteit het my ook vroeër vanjaar opgeval in Nicola Hanekom se Mirre en aalwyn. Die gehoor was nooit seker wat werklik is en wat moontlik in ’n karakter se kop sou kon afspeel nie.
Die gehoor
Dit het my opgeval dat die teater gepak was – dit was die enigste stuk wat ek gesien het waar daar nie meer sitplekke oor was nie. Daar was ook baie Engelssprekende studente in die gehoor. Na die tyd het ek gesprekke afgeluister – diegene wat geen Afrikaans kon verstaan nie, het wel die breë trekke van die stuk verstaan en het gretig na sekere aspekte uitgevra.
Daar was skynbaar ook ’n groot skoolgroep wat dit die vorige aand gesien het, en dit baie geniet het.
Vir ’n Afrikaanse stuk om vol sale te trek op die baie Engelse National Arts Festival is nogal iets.
Dit het gehelp dat Jill Levenberg die een suster speel. Sy is veral bekend vir haar rolle in Suidooster en in Ellen: Die storie van Ellen Pakkies. Talle mense het na die tyd selfies saam met haar geneem.
Pieter Odendaal het self al opspraak gemaak en Kanya Viljoen se naam sal ook aandag trek, om nie te praat van Johann Nel nie.
Kritiek?
Ek het baie van die stuk gehou en ek beveel dit sonder enige skrome aan.
My kommer was dat van die belangrike tonele, soos die reinigingsritueel, te ver voor op die verhoog plaasgevind het. In The Box, wat ’n baie steil stellasie het met die verhoog aan die onderpunt, was dit soms moeilik om te sien.
Die ander stuk kritiek is dat die veelkleurige kerse tydens die reinigingsritueel bog is. Dit maak die toneel goedkoop, so of ’n klompie studente met daggazolle ’n seance wil hou in ’n koshuiskamer. (Die res van die ritueel is smaakvol gedoen.)
’n Goeie vriendin wat self al vir die verhoog geskryf het en die vorige aand by die vertoning was, het laat weet dat sy meer verwag het. Ek was egter beïndruk met Droomwerk, dalk juis omdat ek gefassineer is deur die spel tussen Westerse psigiatrie en Afrika-kennis oor die behandeling van familieprobleme.
- Fotografie: Izak de Vries
Sien ook:
Jakob by Michael Taylor-Broderick at the National Arts Festival, Makhanda
The king of broken things by Michael Taylor-Broderick at the National Arts Festival, Makhanda