Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke

  • 0

Foto: Nardus Engelbrecht | KKNK

...
As die brandende bos die wekroep van ’n leier in die Ou Testament was, sou die kruis die simbool van leierskap in die Nuwe Testament kon wees. Sou emotikons dan die simbole wees van ’n religie gebaseer op die aantal likes wat ’n mens op die internet kan kry?
...

Resensie 1: Lara Aucamp

Resensie 2: Izak de Vries, in gesprek met Lara Aucamp

Mirre en aalwyn is by verre die vreemdste stuk wat ons by die KKNK gesien het. Dit is ook die een wat ons die meeste laat gesels het.

Die stuk speel af op ’n plaas buite Oudtshoorn.

Jessie (Amalia Uys) daag by haar ouerhuis op. Sy is geklee in ’n broekie, ’n bra en stewels. By haar aankoms slaan ’n bos aan die brand – ’n mens sou kon dink aan Moses. Is Jessie dus hier om iemand na ’n beter plek te lei?

...
Daar is baie trekke op Nag van Legio in hierdie stuk. Is Jessie dus ’n Dogoman-figuur?
...

Haar ma (Daneel van der Walt) is nie opgewonde oor Jessie se tuiskoms nie, maar haar sussie, Doedoe (Alyssa van Reenen) is ekstaties.

Daar is nog ’n ouma (Gretha Brazelle) ook – sy dra ’n ketting om haar voet en is feitlik blind.

Wat dan gebeur, is bisar, effens verskriklik, ook uiters interessant.

Kwessies soos verkragting, bloedskande en aborsie kom ter sprake.

Mirre en aalwyn is sonder twyfel ’n protes teen gendergeweld, maar dit is ook veel, veel meer.

Die "stel" van Mirre en aalwyn (Foto: Izak de Vries)

Soveel vlakke, soveel vrae

Jessie was by meer as een geleentheid in Stikland, ’n bekende psigiatriese hospitaal waar Ingrid Jonker ook by geleentheid was. Die ouma was ook daar. Het Jessie dus weggeloop van daar? Is sy manies? Haar kleredrag dui daarop, maar dit is teater, so ’n mens moet ook versigtig wees om nie te enkelvoudig te dink nie.

Jessie sien haarself beslis as ’n leier (onthou die Moses-oomblik) en sy gebruik die sosiale media om haar volgelinge te verkry. Is dit waar, of is dit als deel van haar maniese verbeelding?

Wat my opgeval het, was dat daar vreemde bandjies vasgestik is op die klere van Ma, Ouma en Doedoe. Ek het aanvanklik gesukkel om dit uit te pluis, tot ek uitgewerk het dat die bandjies moontlik dwangbuise voorstel. Is almal dus in ’n gestig?

Daar is baie trekke op Nag van Legio in hierdie stuk. Is Jessie dus ’n Dogoman-figuur? (Vir diegene wat nie PG du Plessis se drama ken nie: Nag van legio speel af in ’n gestig en Dogoman is ’n charismatiese figuur wat die ander manipuleer. Een persoon waarsku teen Dogoman en vir hom is die prys van verset hoog.) Oor Du Plessis se drama sê Temple Hauptfleisch:[1]

Die sin van die gebeure in so ’n stuk lê nie in die realistiese konsekwentheid daarvan nie, maar juis in die teatrale onvoorspelbaarheid van die totale religieuse ervaring. Daarom speel Nag van Legio in ’n gestig af, waar die eise van die realisme tot oppervlakkighede beperk word, waar sin en sien by "normaliteit" verby kan beweeg, en waar religie en geloof nie Calvinisties geïnstitusionaliseer is nie.

Bostaande kon ook ’n opsomming van Mirre en aalwyn gewees het.

As Jessie ’n moderne Dogoman is, is haar invloedsfeer die internet. Dit is skynbaar hoe sy mense manipuleer.

Ek wil die einde nie verklap nie, maar daar is ’n oomblik waartydens sy Doedoe probeer manipuleer op ’n manier waarop Dogoman trots sou wees.

Ook die ouma se lewe sou dalkies in gevaar wees deur Jessie se optrede, maar hieroor wil ek ook niks verklap nie. Gaan kyk die stuk.

Die vrae ontstaan dus:

  • Speel hierdie stuk werklik af op ’n plaas in Oudtshoorn?
  • Speel dit moontlik in iemand se kop af?
  • Speel dit dalk af in ’n gestig?
  • Is dit als dalk ’n simulasie in die kuberruim?

Die antwoord is waarskynlik: Al bogenoemde, en veel meer.

Nicola Hanekom se stukke is enkelvlakkig nie.

Op 20 Februarie 2023 het Hanekom self op Instagram geskryf:

Mirre en aalwyn is my eerste stuk in ligjare. My broek bewe en terselfdertyd voel ek amper roekeloos en vry, verheug om weer iets te kan maak. Dis dalk ’n kreet, dis dalk protesteater, dis dalk ’n raaiselagtige evangelie.

Skynbaar ’n “plekspesifieke drama”

Mirre en aalwyn is ’n “plekspesifieke drama”, aldus die programnotas van die KKNK. Ek vind die term interessant, want hoewel hierdie teks smeek om nie ingehok te word in ’n gebou nie, sou dit sekerlik moontlik wees om sekere van die verbluffende effekte te herhaal – al sou dit ook wees via skerms wat van die beelde projekteer.

Maar goed, die stuk wat ek gesien het, is in die buitelug opgevoer en dit was puik. Ons is selfs getrakteer op ’n vuurwerkvertoning. Ek sou dit nie anders wou hê nie.

Daar is egter op die aarde nie ’n rede waarom dit nie ook elders opgevoer sou kon word nie. Mirre en aalwyn se teks is onlangs deur Protea Boekhuis gepubliseer, en is by Graffiti te koop. Ek het die teks nog nie gelees nie, maar indien van die dorpe wat by tye genoem word, ook in die teks voorkom (ek vermoed dit sou), kan die stuk steeds elders werk. As dit in Gauteng opgevoer sou word, kan die gehoor steeds glo hulle is op ’n plaas in Oudtshoorn.

...
Hierdie stuk moet toer. Daar is nog baie verstande wat geblaas kan word op ander dorpe.
...

Hierdie stuk moet nie bloot moet verdwyn nie. Soos Nag van legio kan dit vir jare nog mense laat praat en wonder.

Is die “plekspesifieke drama” dus ’n deel van die illusie? Ek vermoed so.

’n Uitpluis oor taal en die semiotiek van emotikons

Ek en my geliefde, Elma, hou daarvan om vriendskappe te vorm met mense van ander generasies. Daar is veel wysheid te leer by ouer mense en talle opwindende ontdekkings by ’n jonger generasie.

Lara Aucamp is 15 jaar jonger as ons. Ek het haar verlede jaar aan die US Woordfees bekendgestel, en sy het toe aangebied om my “feesmaatjie” te wees. Ek kon dus haar kennis van emotikons tap om Hanekom se stuk beter te probeer verstaan.

Een van die fassinerende aspekte van Mirre en aalwyn is dat taal stadigaan verdwyn:

  • Die ouma begin kla oor haar eie vermoë om sinne behoorlik te konstrueer. Doedoe bevestig dit – sy hoor ook hoe die ouma se sinne verbrokkel.
  • Taal, of die skynbare gebrek daaraan, kom ook onder die loep wanneer die ma vir Jessie daarvan beskuldig dat sy nooit in jare enige iets gestuur het nie. Jessie en Doedoe kap terug: Kyk na al die emotikons wat Jessie gestuur het! Bosse en bosse blomme is gereeld per emotikon gestuur.

Ek is skynbaar meer soos die ma. Emotikons het min betekenis vir my. Lara beskryf egter haar selfoon as “deel van haar brein”. Sy het die emotikons verstaan wat op die ruite van die huis begin flits het. Ná die vertoning, in die motor op pad na die gastehuis, kon sy my help om van die goed uit te pluis. Sy het toe reeds die resensie wat hier heel bo geplaas is, geskryf en vir my gestuur. Dit is ’n “mind blown”-emotikon vir diegene wat, soos ek, nie die nuwe taal verstaan nie.

Daar is ook talle ander simbole in Mirre en aalwyn.

Die kruis, ’n Bybelse simbool, word ook in die stuk ingespan.

  • Daar hang ’n groot houtkruis op die stoep.
  • Doedoe sê ook dat Jessie van kruise hou, vandaar ’n geskenk van twee oorbelle in die vorm van kruisies.
  • Jessie, ’n uitstekende paaldanser, “kruisig” haarself by geleentheid onderstebo op ’n paal.

Onthou ook die brandende bos aan die begin van die stuk.

As die brandende bos die wekroep van ’n leier in die Ou Testament was, sou die kruis die simbool van leierskap in die Nuwe Testament kon wees.

Sou emotikons dan die simbole wees van ’n religie gebaseer op die aantal likes wat ’n mens op die internet kan kry?

Jessie is ’n influencer. Sy het skynbaar derduisende volgelinge. Soos ’n slinkse prediker manipuleer sy haar aanlyn “gemeente”.

Doedoe, wat onder die spel van Jessie se magiese kragte is, verstaan al die emotikons. Die ma, wat skepties teenoor Jessie staan, snap glad nie die emotikons nie. Die ouma is te blind om die emotikons te sien en haar sinne, haar taal, begin uit haar kop verdwyn.

Is Mirre en aalwyn dus ’n wekroep vir ouer mense, soos ek, om die jonger generasie beter te verstaan?

’n Nuwe evangelie?

In Nag van legio gebruik Dogoman sy invloed om sy sin te kry in ’n gestig.

In Mirre en aalwyn bereik Jessie haar volgelinge oor die hele wêreld heen.

Jessie is nie bang om valshede op die internet te plaas in ruil vir likes nie.

Wanneer julle die stuk gaan kyk, let veral op na Doedoe se gesig oomblikke voor die ligte uitdoof wanneer sy die aantal likes op haar foon sien instroom.

...
Haar stukke is nie maklik nie, maar verdien “mind-blown”-emotikons.
...

Terloops: Alyssa van Reenen verdien ’n toekenning vir haar rol as ondersteunende karakter in die rol as Doedoe. Amalia Uys is groots as Jessie. Sy oordonder die verhoog – presies soos dit hoort. Maar tot die einde is Doedoe se gesiggie die enige bewondering. Sy speel haar rol, gekluister in ’n rolstoel, met ontsettende oortuiging.

Hanekom se spel met die realiteit

Nicola Hanekom het in 2021 die Hertzog-prys gewen vir In glas.

Sy het die ATKV-prys vir drama al meer as een keer ingepalm.

Ek weet nie hoeveel Kannas en ander toekennings ook nog op haar rak staan nie.

In 2015 het sy ook die Eugène Marais-prys vir twee van haar dramas gewen (Hol en Trippie wat saam gebundel is as Die pad byster).

Ek onthou dat ek Lot gesien het tydens 2011 se KKNK. Dit was ook in die buitelug, en dit het ook teen skemer afgespeel.

Haar stukke is nie maklik nie, maar verdien “mind-blown”-emotikons. 

Ter opsomming

Ek het nog nie eens Pierre-Henri Wicomb se klankbaan, of Jan Fouché se beligting genoem nie.

Hanekom het self die regie behartig.

Mirre en aalwyn was ’n ervaring. Dit het ons laat dink en rooiwyn drink.

Dit kon nie ’n goedkoop produksie gewees het nie. ’n Mens kan net dankbaar wees dat die KKNK en Grant Swanby, Hanekom se eggenoot, die stuk gefinansier het. Die KKNK-produksie is ook moontlik gemaak deur NATi.

Hierdie stuk moet toer. Daar is nog baie verstande wat geblaas kan word op ander dorpe. (My taal verdwyn as ek emotikons probeer beskryf.)

Die teks is by Graffiti Books te koop (https://www.graffitiboeke.co.za/af/389338/Boeke).

Eindnota:

[1] Kommentaar deur Temple Hauptfleisch (Die Burger, 13 Mei 1991), soos op 4 Julie 2017 op LitNet aangehaal (https://www.litnet.co.za/die-nag-van-legio-deur-pg-du-plessis). Ek het die stuk in Die Burger se elektroniese argief gaan soek, maar ek kon dit nie opspoor nie.

Lees ook:

Enkele onderskeidende stylkenmerke van, en die totstandkoming van sosiale betekenis in, Generasie X se SMS-Afrikaans

Die Hertzogprys vir drama 2021: ’n onderhoud met Nicola Hanekom

In glas deur Nicola Hanekom: ’n resensie

Afrikaansstudente se persepsies en gebruik van WhatsApp as platform vir (taal-)leer: ’n nuwe norm(aal)?

Die eenpersoondrama: ’n onderhoud met Nicola Hanekom

Resensie: Die pad byster deur Nicola Hanekom

Biebouw-resensie: Die pad byster deur Nicola Hanekom

Resensie van Land van skedels deur Nicola Hanekom

Wat is LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2015?

Resensie: Emoji beklemtoon unieke aanslag van Coenie de Villiers

"Wasted emoticons" by Sarah Bibi Budhia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top