Die eenpersoondrama: ’n onderhoud met Nicola Hanekom

  • 0

Daar is nog betreklik min navorsing gedoen oor die eenpersoondrama, maar die voorkoms van dié subgenre in die teaterwêreld is opvallend.

Só skryf Marcel Spaumer en Bernard Odendaal in die artikel “Die eenpersoondrama as (steeds ontluikende) subgenre: ’n skets van sy ontwikkelingsgang en kenmerke”, wat op LitNet Akademies verskyn het.

Die skrywers bevind onder meer dat al meer dramaturge hulle tot die eenpersoondrama wend omdat dit ’n ekonomies meer haalbare formaat van teaterskepping is. Die artikel noem dat ’n groeiende getal eenpersoondramas jaarliks suksesvol by feeste en in teaters aangebied word, en die artikel poog dus om dié subgenre se kenmerke en dies meer te verken.

Nicola Hanekom, aktrise, regisseur en dramaturg, deel haar insette en ervarings met betrekking tot die subgenre van die eenpersoondrama. Sy het in haar loopbaan onder andere ’n eenpersoondrama, Hol, op die planke gebring, wat handel oor ’n vrou se obsessie met haar liggaamlike en geestelike beperkinge. Broksgewys word die karakter se lewensomstandighede onthul terwyl sy in ’n gimnasium op ’n trapmeul hardloop.

Nicola Hanekom (Foto: verskaf)

Nicola, in die artikel word daar onder andere die volgende stelling gemaak: “Om ’n gehoor manalleen, of vroualleen, as akteur te wil boei, is ’n uitdagende onderneming.”

Jy het self al ’n eenpersoondrama op die planke gebring. Wat is jou mening oor hierdie stelling? Watter uitdagings is daaraan verbonde om ’n eenpersoondrama op die been te bring?

Dis beslis waar dat ’n eenpersoondrama baie uitdagend is op alle vlakke. Daar is geweldig baie druk op die speler wat alleen die gehoor moet boei. Mens het ’n goeie teks nodig voor jy met énige stuk wegtrek, maar veral met ’n eenpersoondrama, omdat dit een van die min dinge is wat die speler het om aan vas te klou. As die teks, die vertrekpunt, sterk is, is mens reeds halfpad daar.

Ek dink die grootste beperking is dat jy net een mens is. ’n Groter rolverdeling bring met dit die luuksheid van ’n verskeidenheid energieë, teksture, prentjies en vaardighede binne die verskillende spelers. Variasie. Wanneer daar net een speler is, hoop mens dat die akteur ’n groot boog opsies binne homself dra. Mens hoop dat daar ’n verskeidenheid moontlikhede binne die een speler opgesluit is. Dis hoekom ’n akteur soos ’n huis moet wees met baie kamers en boonop oor die vaardigheid moet beskik om die deure na daai kamers in ’n oogwink oop te ruk en die gehoor daar toe te laat. Anders is dit soos om vir die gehoor net nog en nog van dieselfde pampoen op te skep vir ’n uur. Moed is ’n ander ding. Op die verhoog is ons mekaar se vangnet. Alleen is daar net voorbereiding en waaghalsigheid.

Wat maal deur ’n mens se kop as jy alleen op die verhoog staan voor ’n optrede en weet dat dit vir die volgende uur of wat net jy en die gehoor is? Is dit nie vreesaanjaend nie? Wat het die proses vir jou as teaterskepper oor jouself geleer?

Ek het meer geleer as aktrise as teaterskepper. Mens moet hare op jou tande hê. Twee dinge is belangrik vir ’n akteur: dat jy op een of ander manier jou sensitiwiteit moet behou, binne jou ’n besondere broosheid moet dra, en empatie met jou medemens. Die ander eienskap, wat die teenpool is, is dat jy ’n hardekoejawel moet wees. Ek sê altyd vir my studente: “Toughen up and be sensitive.” Die hardekoejawel-deel het nie net met die uithouvermoë en durf van alleen speel te doen nie, maar met jou hele lewe as kunstenaar waar jy herhaaldelik verwerp sál word en uitgedaag sál word. Dis nie vir sissies nie. ’n Eenpersoondrama is ’n lang resies (fisiek agt kilometer in Hol se geval), maar so ook is om akteur te wees. Voor ek speel, is my vrees meestal dat ek nie my beste sal speel nie. Ek vind dit vermoeiend. Dis iets wat mens geen beheer oor het nie, want dit gebeur in die oomblik. Mens kan net opwarm, fokus en alles gee. Die res is in die gode se hande. Soos ek ouer word, leer ek om myself te vergewe as alles nie presies uitwerk soos ek beplan het nie. Toneel het te doen met impuls en die waarheid in ’n reeks momente. Dis lewend. Dis wat dit so gek, beeldskoon en gevaarlik maak.

Die artikel verwys daarna dat eenpersoondramas telkens met die toestand van die “self” worstel en selde die self as ’n voltooide wese uitbeeld.

Die artikel verduidelik dat Howell (1979:153) praat van “personalism” in hierdie verband. Met ander woorde, die karakter openbaar sy/haar diepste gevoelens, dit wat hy/sy andersins nie aan ander sou blootlê nie.

Verder meld die artikel dat Pauw (1994:139) ’n soortgelyke siening het en verduidelik dat “die alleenspraak op ’n dramatiese wyse die konflik en wroeging binne die gemoed van ’n persoon openbaar”. Van daar dat Pauw (1994:139) praat van ’n persoon se “verborge gedagtes”.

Was dit die geval in Hol?

Juis. Die meeste drama is op konflik gebaseer. Omdat daar net een karakter is, moet die konflik binne die karakter afspeel. Hoe dan anders? Die gehoor sien die worsteling omdat die karakter die moed het om die masker te laat glip en nie op te sit nie.

Die artikel ondersoek ook die neiging dat die “personal as political” gesien moet word. Volgens Sandahl (2003:29) wil die karakter in die eenpersoondrama die gehoorlede van hul persoonlike ervarings bewus maak, om hulle sodoende moontlik uiteindelik tot politieke of maatskaplike optrede te laat oorgaan.

Het jy met Hol probeer om op hierdie manier sosiale kommentaar te lewer?

Met Hol was daar heelwat sosiale kommentaar. Meestal wou ek mense laat twee keer dink oor hoe behep ons met die uiterlike is. Ek kan nou lag, want die stuk is voor Instagram geskryf! Ek vind hierdie beheptheid met die uiterlike so banaal en gevaarlik en dit neem net toe. Ek stel belang in wie jy is, nie hoe jy lyk nie. Jy is jou woorde, drome en dade, nie die Instagram-kiekie wat jy ge-PhotoShop het nie. Ek voel jammer vir jonger mense. Hulle leef binne die internet- en sosiale-media-bubble. Hulle weet letterlik nie hoe dit daarsonder is nie. Niks is meer werklik nie. Dis hoekom teater so spesiaal is. Dis onmiddellik en waar. Regte sweet, regte mense, regte woorde in real time.

Is dit belangrik dat toneelstukke sosiale kommentaar van een of ander aard lewer?

Ek dink dis belangriker dat skrywers en teaterskeppers luister na hulle harte en van binne buitentoe werk. Dis belangrik om jou stem te vind en nie na te boots nie, wat ook al daai stem mag wees. Sommige mense skryf net om ander te laat lag, vir vermaak. Daarmee is niks verkeerd nie. Daar is plek vir alles en nog meer op die planeet.

Die artikel verwys ook na die volgende aanhaling: “The monodrama has the special ability to communicate with the audience because it is the essence of theatre: script, performer, and audience. […] [T]here is an intimate communication, a one-to-one relationship of character and audience” (Catron 2009:21-2).

Sou jy die intimiteit tussen die karakter en die gehoor in ’n eenpersoondrama as ’n voordeel beskou?

Definitief. Ek hou van die gestrooptheid daarvan. Op ’n goeie dag kan mens ook as akteur meer waaghalsig wees binne die intimiteit omdat jy dinge verder kan neem in die oomblik. Jy kan dit doen omdat jy nie ander spelers het wat ontwrig kan word as jy sekere oomblikke ietwat anders plaas nie. Wanneer ek saam met ander akteurs op die planke staan, is ek baie bewus daarvan om my spel konstant te hou sodat hulle weet wat om te verwag. Dis dalk voorspelbaar, maar ek beskou dit as professioneel en beleefd. As mens alleen is en die dag braaf voel, kan mens grense oorsteek. Mens kan ook baie gou voel hoe ver mens met ’n spesifieke gehoor kan gaan. Dis soos ’n dans tussen jou en die gehoor. As speler is jy intens bewus van hul reaksie. Jy meet hulle en kies hoeveel jy van jouself wil gee. Soms is jy vrygewiger, eerliker, rou. Jy kan jou vel uittrek.

Laastens: daar word in die artikel die volgende stelling gemaak: “Die eietydse teaterlandskap, hetsy plaaslik of internasionaal, bevind sig tans in ’n kommerwekkende posisie weens beperkende ekonomiese toestande en mededingende vorme van vermaak (televisie, internet en so meer). Daarom wend baie dramaturge, produksiespanne en akteurs hulle tot ekonomies meer haalbare formate van teaterskepping, byvoorbeeld die eenpersoondrama. Hoe kleiner die ensemble, hoe groter die winsmoontlikhede.”

Wat is jou mening hieroor? Wat is die implikasies hiervan?

Dis waar en dit maak my bang. Ek wil graag na die stem binne my, die idee wat vanself by my kom spook, luister. Ek wil my verbeelding volg en kyk waarheen dit lei. Dis skrikwekkend om van buite binnetoe te hoef te werk, om eers te besin oor wat jy kan bekostig voor jy nog begin. Op die ou end soek ons vir vindingryke maniere om met gehore se koppe te goël, en bygesê, kos nie alles wat beeldskoon is, geld nie.

Máár ...

Mens kom op ’n plek waar jy wonder of teatermaak nie net vir kinders is nie en of daai ooms en tannies wat gevra het: “Maar wat doen jy nou eintlik?”, dalk ’n punt beet gehad het.

Want hoe kan jy hiermee aangaan, al het jy dit hoe lief, as dit nie volhoubaar is nie? So gaan al die liggies een vir een af en is daar nie meer narre oor nie.


 

Nicola Hanekom het haar diploma in drama aan die Universiteit Kaapstad met akademiese lof behaal. Haar drama Hol was in 2008 op die kortlys vir die Nagtegaal-prys. Sy het ook ’n Fleur du Cap-toekenning en ’n Standard Bank Golden Ovation-prys vir haar spel in Hol gewen. Haar verhoogtekste Hol en Trippie, wat onder die titel Die pad byster gepubliseer is, het ook die Eugène Marais-prys verower.

Marcel Spaumer het in 2017 sy meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit behaal. Hy is tans die storieontwikkelaar en tekskoördineerder vir die kykNET- en kykNET & Kie-sepie Suidooster.

Bernard Odendaal is sedert 2012 verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus as hoogleraar in skryfkuns en die direkteur van die ATKV-Skryfskool aldaar. Voor dit was hy 22 jaar lank ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.


 

Bronne

Catron, LE. 2009. The power of one: the solo play for playwrights, actors, and directors. Illinois: Waveland Press, Inc.

Howell, J. 1979. Solo in Soho: the performer alone. Performing Arts Journal, 4(1):152–8.

Pauw, DA. 1994. Die term “dramaties”: terug na Aristoteles. Literator, 15(1):125–44.

Sandahl, C. 2003. Queering the crip or cripping the queer?: Intersections of queer and crip identities in solo autobiographical performance. GLQ: A Journal of Lesbian and Gay Studies, 9(1/2):25–56.

Spaumer, M en B Odendaal. 2018. Die eenpersoondrama as (steeds ontluikende) subgenre: ’n skets van sy ontwikkelingsgang en kenmerke. LitNet Akademies, 15(2).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top