Die nag van Legio deur PG du Plessis

  • 0

Gerben Kamper, Hein Poole en Francois Jacobs

Die nag van Legio deur PG du Plessis

Innibosfees en Vryfees

André Roothman, Gerben Kamper, Duncan Johnson, Deon Lotz, Francois Jacobs en ander

Innibos 4 – 8 Julie 2017 en Vrystaatse Kunstefees 19 – 22 Julie 2017

Regie: Albert Maritz

PG du Plessis se Die nag van Legio het Pretoria in 1969 tot stilstand geruk, met kwessies en taal wat vir die publiek ongekend was. In plaas daarvan om die rebelse stuk te staak, soos die owerheid wou hê, verkoop die speelvak uit en is die grysskoene magteloos.

Die nag van Legio tref Innibos nou, met 'n indrukwekkende rolverdeling. Sien hoe André Roothman, Gerben Kamper, Deon Lotz en Francois Jacobs die goue geskiedenis van teater in Pretoria  laat herleef met die beste uit die pen van PG du Plessis.

Die dramaturg was 'n student van NP van Wyk Louw, vir wie protes ‘n móét was. En Legio wás dìt.

Die nag van Legio is 'n sielkundige riller, met manipulasie as die hooftema.

  • Foto's is deur Heidi Boonzaaier

 'n Innibos- en NATI-produksie.

Die nag van Legio

Kommentaar deur Temple Hauptfleisch (Die Burger, 13 Mei 1991)

Oor Die nag van Legio het Temple Hauptfleisch (Die Burger, 13 Mei 1991) geskryf dat ’n mens hierdie drama uit die perspektief van twee "vreemde verskynsels" moet beskou:

’n Mens moet eers ’n vinnige draai gooi by Calvyn: die herrie rondom die Afrikaner, sy gewete en sy Calvinisme loop soos ’n leitmotiv deur die geskiedenis van die Afrikaanse drama. Die konfrontasies oor die jare met hierdie vreemde wese in ons midde strek van naïef en enkelvoudig (veral in studente- en 'protes'-teater), tot kompleks en verdoemend in die ryper werke van die gevestigde dramaturge. Maar interessant genoeg kom een van die mees fundamentele pogings om iets van die kompleksiteit en obsessionele mag van die religieuse ervaring te ondersoek, voor in ’n oënskynlik vreemde gedaante: dié van ’n drama oor duiwelsaanbidding. Nag van Legio praat oor ’n menigte dinge – die mooi, demokratiese beginsels van eensgesindheid en naastediens, van laer trek en saamstaan, van die vyand daar buite, van eendrag wat mag maak, van kragdadigheid wat alles oorkom, en so aan – maar vanuit Beëlsebul se perspektief. Dis sekerlik een van die meesterwerke van die moderne Afrikaanse teater, en tog: wanneer laas is dié stuk professioneel opgevoer (benewens ’n SUKOVS-aanbieding van die vroue-teks verlede jaar) – ten spyte van die oënskynlike relevansie van die tema vir ons vandag?

Amnesie – Dit is vir my ’n eerste "vreemde verskynsel" – in die tydelike amnesie wat ons kunste getref het tydens die worsteling van die struggle, het ons skynbaar die rug op die kanon van Afrikaanse dramatekste gedraai, om ten alle koste "oorspronklikheid", betrokkenheid en jeug na te jaag. As gevolg hiervan het baie van ons toneeltekste (noodgedwonge) rak toe gegaan om stof te vergaar. In heelparty van die gevalle is dit moontlik ook maar goed so, aangesien van die werk duidelik tot ’n verbygaande era behoort. Maar daar is ook ander wat gewis tot ons verlies agter gelaat is, werke wat nie omgaan met trivia nie.

Een hiervan is juis, glo ek, Nag van Legio. Die sentrale kwessies wat hierdie stuk opper – waaronder massahisterie en (demoniese) besitname, magspel en manipulasie, en die onderwerping van die individu – tel onder die mees relevante temas vir die "nuwe" wêreld wat ons almal nou moet betree.

Onvermoë – ’n Tweede "verskynsel" wat my pla, is die onwilligheid en/of onvermoë van soveel kritici en teatermense om by die lees van ’n toneelteks by die woord op papier verby te kyk. En gaan jy met PG du Plessis om, moet jy juis daardie vermoë besit – of dit aankweek. Die aankoms van PG du Plessis op die Suid-Afrikaanse teatertoneel op 27 Augustus 1969 was miskien nie heeltemal so formidabel-boos soos dié van sy Dogoman nie, maar daar is min twyfel dat sy invloed op die Afrikaanse toneel ingrypend was. En kontroversieel. Vandag – na twee dekades van 'alternatiewe' en ander ’nie-literêre' vorme van teater – is dit byvoorbeeld moeilik om die ware impak van die skrywer se besondere teatrale aanslag op die gehore van die tyd ten volle te kan begryp. Maar dit bly ’n feit dat die energieke, vloeiende en speelbare dialoog, die kernagtige dramatiese struktuur, en die fyn komiese aanvoeling van Du Plessis, die gehore teater toe laat stroom het om met oorgawe saam te huil en te lag.

En dit is juis hierdie algemene gewildheid wat skynbaar die kritici van die tyd gepla het. Dit was natuurlik ’n geslag kritici wat grootgemaak is op die 'ou' kanon van die Afrikaanse literatuur – die versdramas van Van Wyk Louw en Opperman, die swaarwigtige prosa van De Klerk en Bartho Smit en die ontgogelde wêreld van die Absurde, soos vergestalt in die beste werk van André P Brink en Chris Barnard – werke wat diep deurdenk, maar swak bygewoon was. Vir diesulkes was werke soos Nag van Legio en Siener in die Suburbs net té vermaaklik, té populêr, om goed te kan wees. Ek oorvereenvoudig natuurlik en ek het my tong goed gebêre in my kies. Maar tog is daar steeds ’n blywende ongemaklikheid met Du Plessis se werk, en in min gevalle so ontsenuend as met Nag van Legio, vir baie mense steeds sy beste werk.

Fyn balans – Dit is die een drama waarin hy sowel literêr as teatraal gesproke ’n fyn balans getref het: ’n universele (selfs kosmiese) tema, aangebied in ’n hegte, teatraal-gekonsipieerde teks, wat die leser én die teaterganger direk en verbeeldingryk by sy oorredingsprosesse betrek. Die ongemak wat klaarblyklik by soveel akademiese skrywers bestaan, het nie werklik te make met die tema of die manier waarop die drama gestruktureer is nie, maar met die feit dat baie nie die werklike vernuwing wat Du Plessis in Afrikaans gebring het, wil herken en benut nie.

’n Onwilligheid skynbaar om te aanvaar, of te besef, dat Nag van Legio sy eie teatrale eise stel. Die stuk vereis sy eie "willing suspension of disbelief" (in Eliot se effe oorwerkte term) en wil sy gehoor – saam met sy spelers, en die personasies wat hulle vertolk – deur ’n eie, unieke, meesleurende Walpurgisnacht voer. Dis tyd dat ons ons ophou blindstaar teen die oppervlakkige fieterjasies van die sogenaamde 'sosiale realisme' in die teater. Hierdie stuk behoort as teaterervaring ’n werklike kans gegun te word. Dis slegs dan dat die gordyne wat groei, word wat hulle bedoel is om te wees: ’n sinnelike simbolisering van oorgawe en lidmaatskap – nie ’n bedenklike 'realistiese truuk' nie. In die werklikheid van die opvoering word die slot nie ’n 'mislukking' en ’n 'epiloog' soos Kannemeyer dit noem nie, maar ’n onstuitbare en emosie-belaaide golf wat voorafgaande handeling saamsnoer, om dan gehoor en spelers te oorweldig en mee te voer, die nag in.

Die sin van die gebeure in so ’n stuk lê nie in die realistiese konsekwentheid daarvan nie, maar juis in die teatrale onvoorspelbaarheid van die totale religieuse ervaring. Daarom speel Nag van Legio in ’n gestig af, waar die eise van die realisme tot oppervlakkighede beperk word, waar sin en sien by "normaliteit" verby kan beweeg, en waar religie en geloof nie Calvinisties geïnstitusionaliseer is nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top