Titel: Die pad byster
Outeur: Nicola Hanekom
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485301011
Koop Die pad byster by Kalahari.com
Dramatekste val nie dikwels onder jou leesvoorkeure nie. Waarom nie? Skuil daar nie in elke siel ’n geheime (ook nie altyd so geheim nie) drang om regisseur te wees, ’n rolprent te “maak”, ’n stelontwerper te word, die beligting op ’n verhoog te “bestuur” nie? Natuurlik het die meeste van ons wat met ’n greintjie verbeelding belas is, ’n sluimerende Steven Spielberg, of selfs ’n Marthinus Basson, in ons.
Met die lees van Nicola Hanekom se twee dramas Hol en Trippie in Die pad byster sal die geheime regisseur in ons ’n, sê maar, weghol-trippie beleef.
Hol, in die tradisie van die bewussynstroom van een karakter, speel af in ’n gimnasium waar die karakter, Liesbet, op ’n trapmeul haar diep, donker en soms lagwekkende gedagtes ontboesem.
Die stel is minimalisties. ’n Skerm dui ietsie van ’n gimnasium aan; die trapmeul staan sentraal; iewers kan ’n onsigbare TV-skerm ingelees word.
Die register van Liesbet se gedagtevlugte loop wyd van histerie, moegheid, desperate selfondersoek, grimmige verwysings na hoe Madonna gelyk het toe sy jonk was tot ’n mymering oor onder meer die tandmuis. Dis fisieke teater, want die spoedmeter van die trapmeul bepaal die trant van die Liesbet se gedagtes.
Die trapmeul is haar verslawing waar sy onder meer die stryd oor kalorieë, koolhidrate, kilojoules voer: “Hoeveel kilojoules brand my hart wat klop? Hoeveel kilojoules verbrand my ore wat luister?” (20)
Die verskiklike skuld aan ’n ou daad, die vrees/verwagting op die herverskyning van ’n geheime geliefde uit die tronk, bulimie, antidepressante, die tirannie van ’n deadline wat op haar afpeil, word deur Hanekom se vernuftige taalgebruik én ritme ’n sterk leeservaring en beslis ook ’n “hoor”-ervaring. So speel Liesbet, die karakter, ook met woorde: “Insektivoor, Herbivoor, Superkarnivoor, Totale Omnivoor!” (40)
Hanekom is meesterlik in die ontwikkeling van die oppervlakkige skyn tot die kernwaarheid. Na vyftien jaar gaan (of verwag) ’n vereensaamde Liesbet om die man wat haar as kind met haar ma verneuk het, weer te sien. Daar was ’n moord, daar was verraad, verbode seks.
Die kwasiregisseur wat die teks lees, sal hom/haar boei met ’n einde wat skrynend afwagtend kan wees. Of maar net ’n holle kreet van desperate erkenning.
Hol, banale titel, insinuasie en al, is ’n klassieke dramateks. Soos Ionesco, Jean Genet se tekste (selfs Samuel Beckett se ontwykende tekste) is hierdie teks een wat weer en weer gelees wil word.
Trippie as dramateks word op ’n makliker manier aangebied. Hoewel, soos Hanekom graag doen, die ruimte spesifiek gekies word (’n bus vir beide spel en gehoor), word die ontmoeting tussen ’ n vrou en ’n man op die bus absurde teater. Jy, die leser, voel hier is iets van ’n Beckett-dialoog. Wat is feit? Wat is nie? Wie ontmasker die ander? Hier is ook weer geleentheid vir drama-drama speel vir die leser: Hoe sal die regisseur die beweging in die bus tussen gehoor en akteurs orkestreer? Hoe werk die visuele – byvoorbeeld die bloedstreep uit die tas? Miskien ’n dralende rooi sleep eerder as regte verhoogbloed? Hoekom sal die man dood neerval as hy uitklim? Waarom verdwyn hy nie sommer net nie? (Immers herinner die stuk vaag aan die “spook langs die grootpad”-stories.)
- Weer kan – moet – gevra word met die verskyning van hierdie twee tekste: Waarom word nie meer dramatekste gepubliseer nie? Deon Opperman het wel voet in die water gesteek, maar waarom word byvoorbeeld Saartjie Botha, Hennie van Greunen se tekste nie gedruk nie? Immers kan ’n Hertzogprys ter sprake kom.
Lees wat sê Nicola Hanekom oor die film Trippie by die kykNET Silwerskermfees 2014.
Lees nog 'n resensie van Die pad byster.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.