
Foto van Nicola Hanekom: Grant Swanby
Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.
Die prys is vanjaar toegeken aan Nicola Hanekom vir In glas.
Nicola praat met Naomi Meyer oor hierdie toneelstuk, asook haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse teater.
..........
Iewers in matriek het ek ’n interessante plakkaat vir ’n teatervertoning gesien. Ek het dit gaan kyk. Dit was dit.
...........
Baie geluk met die groot toekenning, Nicola. Jy word vereer vir jou drama In glas. Hierdie stuk handel oor ’n paartjie wat sukkel om kinders te hê, om ’n nageslag voort te bring, wat alternatiewe maniere probeer vind om reg te kry wat vir ander mense vanselfsprekend lyk. Waar is die stuk gebore – en hoe?
’n Paar jaar gelede het goeie vriende van my hierdie pad geloop. Hul het my vertel van hul ondervinding. Dit was die vertrekpunt, maar dan het ek ook baie bygelieg.
Dis ’n kleinverhaal, maar dis ook ’n verhaal oor veel meer as net twee mense wat nie kan kinders kry nie. Waarom wil die menslike spesie bly voortbestaan? Hoe selfsugtig is dit, of hoe altruïsties, om kinders in die lewe te bring? Sal die gemeenskaplike doel om kinders te kry, uiteindelik ’n paartjie nader aan mekaar kan bring, of uitmekaar kan dryf? Watter vrae het jy alles ondersoek terwyl jy aan hierdie teks geskryf het?
.........
Die tema wat vir my uitstaan bo die ander in jou lys, is hoe die behoefte om ’n kind te hê uiteindelik die paartjie verwoes. Ek dink mens moet soms aanvaar dat nie alles wat jy wil hê, vir jou bestem is nie.
............
Die tema wat vir my uitstaan bo die ander in jou lys, is hoe die behoefte om ’n kind te hê uiteindelik die paartjie verwoes. Ek dink mens moet soms aanvaar dat nie alles wat jy wil hê, vir jou bestem is nie. ’n Mens se onvermoë om te skik met die noodlot of realiteit kan groot fisieke en psigologiese skade berokken. Wanneer stap jy weg voordat begeerte en drang ’n buite-beheer-obsessie raak?

Nicola Hanekom (foto: Grant Swanby)
Van sukkelende geboortes, of die onvermoë om geboorte te skenk, gepraat. In die tyd van ’n pandemie, in ’n tyd van teatervertonings agter glas – hoe sukkelend is dit om teaterstukke te laat ontkiem en lewend op die planke te bring? Hoe laat dit jou voel om juis in hierdie dae vir ’n drama ’n toekenning te ontvang?
.........
Die wêreld is vir my deesdae so ’n banale warboel. Binne die konteks van teater tydens en na die pandemie – dit gee my hoop.
..........
Ek het glad nie hierdie toekenning verwag nie. Nie in hierdie dae of enige dae nie, maar ek weet wat jy bedoel. Dit voel vir my ongelooflik waardevol dat so ’n toekenning in die eerste plek nog bestaan. Die wêreld is vir my deesdae so ’n banale warboel. Binne die konteks van teater tydens en na die pandemie – dit gee my hoop. Hoop in my eie skryfwerk en dat daar ’n plek gaan wees vir my woorde op die planke iewers. Ek is baie dankbaar.
Waar het jou pad met teater en met drama begin? Wat was die heel eerste teaterervaring wat jy onthou?
Ek kom uit ’n gesin waar daar geen tradisie van teaterbywoning was nie. In ons huis het sepies op die kassie gespeel. My suster Sandra Hanekom is ’n visuele kunstenaar. As kind het sy vir my stories opgemaak en tydens die vertel daarvan bypassende prentjies geteken. Ek vermoed my passie vir stories is dalk daar gebore en my liefde vir teater in gimnastiek. Toe ek klein was, het ek gimnastiek geneem en orals op my hande geloop. Iewers in matriek het ek ’n interessante plakkaat vir ’n teatervertoning gesien. Ek het dit gaan kyk. Dit was dit.
En wanneer het jy besef dis wat jy met jou eie lewe moet doen?
Ek het vanaf wat toe nog standerd agt (graad 10) was tot matriek vir Sandra Temmingh en Marthinus Basson leer ken. Dit het my laat besef dat mens hierdie wonderlike ding, teater, as ’n loopbaan kon kies. Ek het net na matriek gehoor dat daar oudisies is om by UK drama te studeer – en gegaan.
Jy is bekend vir konfronterende teater wat mense ongemaklik laat voel omdat dit hulle hulle buite hul gemaksone laat beweeg. Ek dink aan ’n busrit met Trippie, waar die gehoor nie kan uitklim en wegstap nie. Wat dink jy moet teater doen, hoe moet dit mense laat voel?
Elke produksie is anders. Solank teater iets te sê het, hou ek daarvan. Ek sluk moeilik aan iets wat net vir vermaak daar is, alhoewel dit duidelik ook meriete het. So het ons almal ons eie smaak. Party mense wil net lag en dis ook in die haak. As ek ná ’n stuk voel dat ek op ’n reis gegaan het, nie net emosioneel nie maar ook intellektueel en geestelik, as die stuk met my gepraat het op baie vlakke sonder om pretensieus te wees, dit my laat dink het en boonop laat lag en huil het en ’n fees vir my sintuie en oë was, as dit my wegblaas … dan is dit vir my merkwaardig soos net teater kan wees. Ander kunsvorme kan nie dieselfde dinge doen nie.
Jy skryf teater, en jy is aktrise. Wat is vir jou die plek waar jy die gemaklikste is: agter die rekenaar, op die verhoog, of voor die kamera? Wat is vir jou die beste en moeilikste aspekte van die skep, skryf en opvoer van drama?
Ek is gemaklik met skryf, speel en regie. Deesdae kom spel vir my moeiliker, veral omdat ek lanklaas ’n groot rol gehad het waarin ek myself kon verloor. Vermoedelik kom die spel ook sukkel-sukkel omdat ek te veel regie doen en dan alles wat ek as aktrise doen, oordeel eerder as om dit te geniet. Ek is op my gelukkigste as ek my tyd kan neem om te skryf en dan in die repetisielokaal (of op stel) is met wonderlike akteurs en ’n teks waarin ek glo. Die ontdekkingsreis van die stuk aanmekaar sit, die spelleiding, die deeglike, heerlike, gekke proses van repeteer is vir my fantasties. As dit by die opvoer kom en ons dit met die gehoor moet deel, raak ek gespanne. Dis soos om geboorte te gee. Nogal skrikwekkend. Hulle praat van skoenlappers op die maag; vir my is dit meer soos groot krewe.
Hoe skryf mens ’n drama? Wat is die heel belangrikste?
..........
Jy agtervolg jou idees, jy bly op hul hakke as hul wil weghardloop.
............
Jy agtervolg jou idees, jy bly op hul hakke as hul wil weghardloop. Wanneer die bui jou vang, los jy alles en tik laat dit bars. ’n Ou met die naam van Jack London het gesê: “You can’t wait for inspiration. You have to go after it with a club.” Ek dink hy’s reg. Ek kry soms ’n idee, maar dis asof ek dit net sien uit die hoek van my oog. Ek kan nie agterkom wat dit is nie. As ’n idee so wegkruip, is dit gewoonlik die moeite werd. Die truuk is om dit te gryp en te ontsyfer voor dit wegglip.
Hoekom skryf mens drama? Wat van gedigte, wat van prosa? Wat onderskei drama, wat die aard van die genre betref, van ander skryfwerk?
Gedigte en prosa is om te lees. Dramas is in ’n boeke slegs sodat dit behoue kan bly sodat akteurs dit kan optel, interpreteer en opvoer. Akteurs blaas lewe en waarheid in die karakters in met hul sweet en al hul eie lewenservaring. Daardie bydrae kan nie onderskat word nie. So daar is ’n definitiewe en kritieke middelman voordat die woorde deur die gehoor ervaar word. Met die ander vorme is die leser die een wat direk die skryfwerk ontvang en interpreteer.
Is daar enigiets van drama en teater wat jou in hierdie dae, soos wat dit is, hoop gee?
.........
Teater is lewende kuns. Dit sluimer hopelik net tydens die pandemie ’n bietjie. Teater is alles vir my. Dis kerk en kulkuns, konfrontasie en ontvlugting, droom en nagmerrie.
...........
Teater is lewende kuns. Dit sluimer hopelik net tydens die pandemie ’n bietjie. Teater is alles vir my. Dis kerk en kulkuns, konfrontasie en ontvlugting, droom en nagmerrie. Dit herinner my dat ek nog skop soos niks anders nie. Hoekom sal ek op ’n tuimeltrein klim as ek eerder teater kan bywoon? Teen die tyd dat dit terug is in volle stoom, sal ek al vir maande kwylend gewag het met stertgeswaai, hopelik soos baie ander. Dan kom ons terug met meer woema as ooit.
Lees ook:
Die plat, grys landskap wat die kuns raam: Nicola Hanekom gesels oor Aardklop
Clover Aardklop 2013: Nicola Hanekom gesels oor Land van skedels