Skrywers gesels oor kykNET-reeks Dwaalster

  • 8

Dwaalster is die nuwe Afrikaanse televisiereeks wat kykers elke Dinsdag vasgenael voor die televisie hou. Die reeks, deur die aktrise en dramaturg Nicola Hanekom en skrywer Retief Scholtz geskryf, speel af op Maanhaarsdrif, ’n dorpie waar almal behep is met die sterre.

"Ons hoofkarakter, Annabel Loots, vlug uit die stad omdat sy in gevaar is weens haar werk as ’n ondersoekende joernalis. Terwyl sy op Maanhaarsdrif laag lê, word haar string plofbare artikels oor skaliegasontginning en korrupsie gepubliseer, met dramatiese gevolge," vertel Hanekom.

"Sy kan ook nie haarself weerhou om te krap aan onopgeloste raaisels uit haar verlede nie. Al is Maanhaarsdrif ligjare verwyder van die stad, dreig die donker om haar te kom haal.

"Dan is daar natuurlik ook ’n tikkie liefde, want wat sal ’n storie wees sonder liefde?"

Die karakter Annabel Loots, gespeel deur Tinarie van Wyk Loots

Die hoofkarakter Annabel Loots

Volgens Hanekom kom die konsep van Dwaalster al sowat tien jaar aan.

"Ek en my man het sowat tien jaar gelede op die dak van ons plaashuisie in die Hoekoe-vallei buite Ladismith in die Klein Karoo lê en sterre kyk met rugby op die radio.

"Iewers tussen ons gesprek, die kommentaar en die verskietende sterre het ons aan die idee gedink. Ons het dit toe aanmekaar verbeel, gelieg en besprinkel met waarheid en uiteindelik ’n voorstel uitgedink vir ’n televisiereeks. Die meeste van die karakters was toe al gebore. Die voorstel was onsuksesvol en hulle moes lank in die laai wag."

Erica Wessels vertolk die rol van Ragel-Lee

Uiteindelik word die idee van Dwaalster toe onlangs tot televisiereeks vir KykNET ontwikkel. Scholtz verduidelik dat die produksiemaatskappy Zebra Worldwide vir wie hy gewerk het, die geleentheid gekry het om saam met Hanekom die idee van Dwaalster te ontwikkel tot ’n 13-episode-dramareeks vir kykNET.

"Dit was baie opwindend om van dag een af deel te kon wees van die skryfproses. ’n Televisiereeks was ’n eerste vir beide van ons en ’n wonderlike geleentheid om saam te leer," sê Scholtz.

"Ons het vir maande om ’n tafel gesit om die idee te ontwikkel tot ’n volwaardige reeks met interessante karakters en boeiende storielyne. Dit was wonderlik om by te kon dra tot ’n proses waar karakters lewe kry en volwaardig ‘mens’ word, waar saam besluit word waarheen hulle volgende gaan en saam te droom 'wat sal gebeur as …’

"Daarna het ons die tekste opgedeel en begin skryf. Ek het ses eerste drafts gedoen en Nicola sewe. Dit was opwindend om woorde in die monde te sit van karakters wat ons vir so lank aan gebou en geskaaf het."

Die akteur Neels van Jaarsveld

Die karakters Ruan (Terence Bridgett) en Luan (Neels van Jaarsveld)

Scholtz vertel hulle het tekste uitgeruil en voorstelle gemaak op mekaar se tekste. Daarna is hulle deur nog rondtes van terugvoer van die kanaal en ander betrokkenes. Die reeks is uiteindelik afgeteken deur die kanaal, en is toe oor na Marche Media, wat dit vervaardig het saam met Jaco Bouwer as regisseur.

Hanekom verduidelik dat die skryf van ’n teks vir teater egter baie verskil van die skryf van ’n teks vir televisie.

"Eerstens het ’n mens baie meer tyd met ’n reeks van 13 episodes om vir elke karakter diepte te gee. ’n Mens kan vir elke karakter ’n gedetailleerde storieboog uitdink. In teater het ’n mens minder tyd om dieselfde te probeer doen. Tweedens, wanneer ek ’n teks vir teater skryf, weet ek dat ek self die regie gaan behartig. Ek het beheer oor elke aspek van die stuk. Soos die repetisie vorder, kan ek aanhou tokkel, aanhou kreatief wees en veral die styl, ritme en spel beheer.

"Met Dwaalster was die teks net die vertrekpunt. Dis soos ’n argitek se plan vir ’n gebou. Jaco Bouwer het sy groot stem, vaardigheid en interpretasie as regisseur na die teks gebring en van daar was dit regtig in sy en die wonderlike span se hande. Dit was vir my interessant en opwindend om te sien hoe almal van die verskillende departemente onder sy leiding die woorde interpreteer."

June van Merch as Ivy en Albert Maritz as Frans

Hanekom vertel om uiteindelik die eerste episode van haar eerste televisiereeks die eerste keer op televisie te sien, is tegelyk opwindend en skrikwekkend.

"Meestal waardeer ek die feit dat ek bevoorreg genoeg is om die geleentheid te kry om my werk te kan doen."

Ook Scholtz is bly en dankbaar oor dié ervaring, en vertel om saam met Hanekom aan die teks te werk was vir hom ’n unieke ervaring.

"Elke projek waaraan jy skryf, is uniek en vind sy eie manier en ritme. Dís vir my interessant van skryfspanne. Wanneer jy alleen skryf, is dit net jy. Wanneer jy in ’n span skryf, moet jy nie net die projek verstaan nie, maar ook die span. Dit verskil elke keer. Dit was die eerste keer wat ek deel van ’n span was wat ’n projek saam aangepak het. Dit was ’n baie goeie leerskool, een wat ek altyd sal onthou."

Jacques Bessenger vertolk die rol van Stian

Albert Pretorius as Charlie en Tarryn Wyngaard as Gina

En is dit te vroeg om te vra wanneer Hanekom se volgende TV-reeks verwag kan word?

"Ek wens ek kon sê dat ek reeds daaraan skrywe! Ek het ’n paar voorstelle voorgelê. Ek hou nou maar asem op en hoop dat een van my voorstelle suksesvol is en dat ek ’n skrywerskontrak kry. Daar is ’n hele ’n klomp stories wat by my spook om gemaak te word."

Dwaalster is elke Dinsdag om 20h00 op kykNET, DStv-kanaal 144 te sien.

  • Foto's: verskaf
  • 8

Kommentaar

  • Ons is bly julle het op jul plaashuis se dak na die sterre gekyk, en rugby geluister - ons sien uit na die volgende reeks!

  • Avatar
    Jeanette Snyman

    Karakters is juwele – elk skyn uniek, party eksentriek. Lekker met magiese elemente. Ons ry graag op die Karoo-mallemeule wat die menslike kondisie vasvat – sonder swaarwater.

  • Avatar
    Linda van Wyk

    Ek het die reeks baie geniet. Baie ooreenkomste met televisiereeks waar Tinarie doofstom was agv gebeure by plaasdam.

  • Ek verstaan ook nie. Oor die radio se hul die redakteur is dood en iemand gewond, maar niks van die Rus nie. Gaan daar 'n opvolg wees? Anders is dit 'n baie stomp einde?

  • Ja, ek stem saam. Dit was 'n stomp einde. Het die volgende week ingeskakel om verder te kyk en toe begin 'n nuwe reeks?!

  • Wat 'n mooi storie, ek hoop van harte daar is 'n tweede ... derde ... ens reeks. Uitstekend julle!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top