SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: Bekronings vir 2021

  • 2

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 15 April 2021 oor die volgende bekronings vir 2021 besluit.

Die pryse sal tydens twee virtuele bekroningsplegtighede later vanjaar oorhandig word.

Die bekroondes is waar moontlik reeds mondeling oor die bekronings ingelig.

1. HERTZOGPRYS VIR DRAMA

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na die groot kampvegter vir Afrikaans, JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die prys is vanjaar toegeken aan Nicola Hanekom vir In glas.

Die kortlys was soos volg:

  • Philip Rademeyer: Wild en Klippe wat val – Protea Boekhuis
  • Wessel Pretorius: Die ontelbare 48 – Protea Boekhuis
  • Nicola Hanekom: In glas – Protea Boekhuis
  • Marina Albertyn: Melk en vleis en Bloed en bodem – Protea Boekhuis
  • Antjie Krog: Met die oog op môre – Protea Boekhuis

Die prysgeld word geborg deur Rapport.

2. EUGèNE MARAISPRYS

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir ’n eerste of tweede bellettristiese werk of werke van ’n skrywer in enige genre en kan net een keer aan ’n skrywer toegeken word.

Die prys word toegeken aan Jolyn Phillips vir Bientang.

Die kortlys was soos volg:

  • Lynthia Julius: Uit die kroes – Kwela Uitgewers
  • Francois Smith: Die kleinste ramp denkbaar – Tafelberg Uitgewers
  • Jolyn Phillips: Bientang – Human & Rousseau
  • Madré Marais: Luistervink – Human & Rousseau

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur Rapport.

3. TIENIE HOLLOWAYMEDALJE VIR KLEUTERLITERATUUR

Die prys word driejaarliks toegeken aan die skrywer wat die beste werk in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur.

Die prys word toegeken aan Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K Steyn (illustrasies) vir Die dag toe die draak kom.

Die kortlys was soos volg:

  • Adeline Radloff (skrywer) en Alex van Houwelingen (illustrasies): Die skandalige susters Smit – Tafelberg Uitgewers
  • Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K. Steyn (illustrasies): Die dag toe die draak kom – Human & Rosseau Uitgewers
  • Gertie Smit (skrywer) en Samantha van der Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi Steyn (illustrasies): Stories vir pikkies en peuters – Tafelberg Uitgewers
  • Jaco Jacobs (skrywer) en Yolandi Prins (illustrasies): Moenie die melk vergeet nie – Pan Macmillan Uitgewers SA

Die prysgeld word gedeeltelik geborg deur die ATKV.

4. ELSABE STEENBERGPRYS VIR VERTAALDE KINDER- EN JEUGLITERATUUR IN AFRIKAANS

Dit is vir die doel van die prys geoorloof om uit enige taal werke in Afrikaans te vertaal. Hierdie werke word gemik op lesers in die ouderdomsgroep 5 tot 12 jaar (kinderliteratuur) en tieners en jong volwassenes (jeugliteratuur). By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid, oorspronklikheid en gehalte van die vertaling.

Die prys word toegeken aan Gunther Pakendorf vir sy vertaling Die eindelose storie.

Die kortlys was soos volg:

  • Kobus Geldenhuys se vertaling: Brug na Terabithian (deur Katherine Paterson) – Protea Boekhuis
  • Gunther Pakendorf se vertaling: Die eindelose storie (deur Michael Ende) – Protea Boekhuis
  • Philip de Vos se vertaling: Die nagbeer (deur Ana en Thiago de Moraes) – Human & Rousseau
  • Nathan Trantraal: Lang pad onnetoe (deur Jason Reynolds) – Lapa Uitgewers

Die prysgeld word geborg deur Kraal Uitgewers.

5. M.T. STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan dr. FS (Francois) Malan van Pretoria. Dr. Malan vertolk tans verskeie rolle in die dieregesondheidsbedryf van Suid-Afrika, vernaam in die veebedryf wat bydra tot voedselsekuriteit en -veiligheid in die land.

Dr. Malan se loopbaan strek oor meer as 50 jaar sedert hy sy opleiding as veearts voltooi het. Na ’n loopbaan van agt jaar in ’n privaatpraktyk, was hy daarna in diens van farmaseutiese maatskappye waar hy as navorser, wetenskaplike bestuurder, tegniese bestuurder en uiteindelik as ontwikkelingskoördineerder vir die Suidelike Halfrond aangestel was. Die mees opvallende komponente van dr Malan se skeppende bydrae tot die natuurwetenskap lê in die ontwikkeling van die FAMACHA-sisteem om weerstandigheid teen haarwurminfestering by kleinvee te bepaal, die gebruik van media om die boerderygemeenskap te bereik en toe te rus, asook die Nasionale Maandelikse Siekterapporteringstelsel wat opgebou word uit inligting verkry van bykans 160 veeartspraktyke en ander instansies. Hierdie siekterapporteringstelsel is ’n belangrike hulpbron vir alle instansies en individue betrokke by dieregesondheid, insluitend die regering en die Fakulteit Veeartseny by die Universiteit van Pretoria. Op 75-jarige ouderdom is hy nog elke dag besig om ’n bydrae te lewer op die gebied van parasietbeheer deur die beginsel van Doelgerigte- Selektiewe Dosering (DSD) wat wêreldwyd gebruik word.

Die prysgeld word geborg deur Sanlam.

6. HAVENGAPRYS VIR LEWENSWETENSKAPPE

Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied. Die prys kan net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan prof. J.M.M. (Marion) Meyer verbonde aan die Departement Plant- en Grondwetenskappe, Universiteit van Pretoria.

Prof. Meyer se navorsing in die veld van farmakologie en toksikologie het tot verskeie patente gelei. Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat metabolomika begin toepas het en die eerste publikasie op dié gebied gelewer het. Hy was altyd gereed om nuwe terreine te betree, maar het nie weggeskram van ou probleme nie. Hy het ’n groot deurbraak gemaak om die verskynsel van kaal kolle in Namibië te verklaar in ’n gesaghebbende wetenskaplike tydskrif.

7. HAVENGAPRYS VIR GESONDHEIDSWETENSKAPPE

Die prys word toegeken aan prof. O.B.W. (Oppel) Greeff, HUB van Medwell SA en direkteur van Cytespace SA en Indië.

Prof. Greeff het ’n Bachalareus graad in Medisyne en Snykunde verwerf en verskeie nagraadse kwalifikasies in onder andere Primêre Gesondheidsorg, Farmakologie, Farmaseutiese Medisyne en ’n doktorsgraad in Psigiatrie.

In 1978 word prof. Greeff aangestel as Mediese Adviseur by Wellcome Suid-Afrika, ’n farmaseutiese maatskappy, en toe as Mediese Direkteur by Roussel Laboratoriums van 1981 tot 1990. Gedurende hierdie periode word hy aangestel as hoof van die Departement Kliniese Farmasie by die Aptekerskool van die Universiteit van Pretoria en later as buitengewone professor. In 1990 stig hy Clindepharm Internasionaal, die eerste kontraknavorsingsmaatskappy in Suid-Afrika wat hy in Augustus 1997 verkoop aan Quintiles Transnasionale Korporasie en staan voltyds in hulle diens tot 2008.

In 2002 word hy aangewys as die Hoof- Uitvoerende Beampte van Vroeë Ontwikkeling en Laboratoriumdienste wêreldwyd vir Quintiles in die VSA (waar hy woonagtig was) en aangestel as President van Globale Produk- ontwikkelingsdienste. Prof. Greeff was voorsitter van die Bestuursraad van Quintiles Transnasionaal (Asië-Stille Oseaanstreek) van 2005 tot 2013 en ook die voorsitter van die direksie van Cenduit, ’n interaktiewe responsetegnologie-onderneming tussen 2007 en 2013 in die VSA. In 2008 word prof Greeff aangestel as professor en departementshoof van die departement Farmakologie, Skool vir Medisyne by die Fakulteit van Gesondheidswetenskappe, UP. Prof Greeff is ’n wêreldkundige op die gebied van geneesmiddelontwikkeling en dien tans in verskeie direksies van gesondheidsorgmaatskappye in Suid-Afrika, die VSA en Indië.

8. STALSPRYS VIR SIELKUNDE

Die prys word toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte wat ’n buitengewone bydrae tot wetenskapsbeoefening lewer.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof. W.J. (Wilhelm) Jordaan, Buitengewone Professor in die Departement Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Prof. Jordaan het die veld van sielkunde vir die algemene publiek toeganklik gemaak deur sy bydraes in die Afrikaanse media. Hy het verskeie artikels gepubliseer rakende menslike, samelewings- en godsdienstige probleme. Hy word vereer vir sy bydrae tot die daarstelling van afstandsonderrig in Afrikaans en sy betrokkenheid by SAQA, NQF en die Nasionale Opleidingsbeleid. Hy is outeur/mede-outeur van 15 wetenskaplike boeke en 30 artikels in die veld van die Sielkunde en is redakteur van twee nasionale Sielkundejoernale. Hy het ook gedien op die Vaktaalburo se redakteurskomitee, asook op die Raad van die Sielkunde-instituut van Suid-Afrika en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

9. STALSPRYS VIR MULTI- EN INTERDISSIPLINÊRE SPANWERK

Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Juanita (Juan) Bornman, van die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie, Universiteit van Pretoria.

As internasionaal-bekende spesialis in aanvullende en alternatiewe kommunikasie fokus haar navorsing daarop om ’n verskeidenheid van strategieë te ontwikkel om die stemme van mense met gestremdhede, wat oor min of geen funksionele spraak beskik nie, te laat hoor. Haar navorsing was veral daarvoor verantwoordelik dat aanvullende en alternatiewe kommunikasie sentraal geplaas is in die arena van Buitengewone Onderwys in Suid-Afrika en in die buiteland. Sy is sedert 2008 lid van die Raad van die internasionale vakvereniging International Society for Augmentative and Alternative Communication en was die Visepresident van die vereniging van 2018 tot 2020 en is tans die President. Prof. Bornman is ook lid van die SA Speech-Language-Hearing Association en van die American Speech-Language-Hearing Association.

10. STALSPRYS VIR KUNSTEWETENSKAPPE

Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Janine Allen-Spies, verbonde aan die Departement Visuele Kunste, Universiteit van die Vrystaat.

Prof. Allen-Spies word vereer vir haar waardevolle rol as beeldende kunstenaar, kunstenaar-akademikus, mentor, lektor, aktivis en blywende passievolle ondersteuner van uiteenlopende huidige en voormalige studente wat aktief is as kunstenaars op die Vrystaatse kunstoneel, sowel nasionaal as internasionaal. Prof. Allen-Spies se akademiese loopbaan word gekenmerk deur haar konseptuele vermoë om teoretiese kennis met ateljeenavorsing te integreer. Sy het met haar filosofies-teoretiese begronding ’n nuwe geslag akademies goed gefundeerde kunstenaars begelei wat bydra tot die nasionale kunstoneel.

11. C.J. LANGENHOVENPRYS VIR TAALWETENSKAP

Die prys word toegeken vir taalwetenskaplike en/of taalskeppende werk in Afrikaans, met inbegrip van die leksikografie.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof. W.A.M. (Wannie) Carstens, emeritus professor van die Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit.

Prof. Carstens word in Afrikaanse taalkundekringe beskou as skrywer van baanbrekersboeke en as redakteur van kernpublikasies in die Afrikaanse taalkunde. Van sy boeke word wyd as die gesaghebbendste bron oor ’n besondere komponent van die Afrikaanse taalkunde geag: normatiewe taalkunde, tekslinguistiek, teksredaksie. Prof. Carstens speel ook ’n belangrike rol in die popularisering van taalkunde, bv. deur rubrieke en meningstukke in die pers.

12. TOON VAN DEN HEEVERPRYS VIR REGSWETENSKAP

Die prys kan driejaarliks toegeken word vir oorspronklike regskundige werke in Afrikaans en/of vollengte artikels of ’n artikel van hoogstaande gehalte in Afrikaans wat in geakkrediteerde regstydskrifte verskyn het; en/of baanbrekende regsuitsprake in Afrikaans.

Die prys word toegeken aan prof. Johan Scott, verbonde aan die Fakulteit Regsgeleerdheid van die Universiteit van Pretoria.

Prof. Johan Scott is ’n deskundige op die gebied van die Suid-Afrikaanse Privaatregn en het deur die loop van sy loopbaan 120 portuurgeëvalueerde publikasies gelewer. Op grond van sy navorsingsprestasies is hy talle male deur die Universiteit van Pretoria as buitengewone presteerder vereer. Prof Scott is een van min moderne Suid-Afrikaanse regsgeleerdes wat nog die oorspronklike bronne van die gemenereg (Latyn en oud-Nederlands) kan hanteer.

As redakteur van die standaard ensiklopediese werk, The Law of South Africa, het prof. Scott belangrike werk verrig om hierdie publikasie, wat vandag waarskynlik as die belangrikste regspublikasie te lande beskou word, sistematies op en uit te bou. Nie net word prof. Scott gereken vir die akademiese uitnemendheid van sy publikasies op die gebied van die Regswetenskap nie, maar hy geniet ook wye erkenning vir die keurige en presiese wyse waarop hy meerdere tale beheers en gebruik.

13. MARKUS VILJOENMEDALJE VIR JOERNALISTIEKE PRESTASIE

Die Markus Viljoenmedalje vir joernalistieke prestasie word toegeken vir langdurige hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante of tydskrifte.

Die prys word toegeken aan die spotprentkunstenaar Fred Mouton van Kaapstad.

Dit bly een van die verstommendste stukkies statistiek in die wêreldjoernalistiek dat die Kaapse dagblad Die Burger in sy bestaan van 106 jaar sedert 1915 tot dusver slegs drie spotprenttekenaars gehad het: D.C. Boonzaier, T.O. Honiball en Fred Mouton.

Mnr. Mouton beklee hierdie posisie reeds 51 jaar, en sedert 1970 kan Die Burger se lesers elke dag nadenking en plesier put uit sy pen. In Fred Mouton se prente sien ’n mens die groot politieke strominge, maar ook die kleiner temas wat hulself herhaal: die droogtes en vloede, die ekonomie wat stotter, die goudprys en inflasie wat styg en daal, die Springbokke wat wen en verloor, en bowenal die politici wat kom en gaan. Hy het reeds meer as 10 000 spotprente vir Die Burger geteken en ook illustrasies vir onder meer Landbouweekblad, Weg! en Huisgenoot gemaak. Hierdie sketse vorm ’n visuele geskiedenis van Suid-Afrika.

14. HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK

Die veld van toekenning dek die klassieke musiek. Die prys word vanjaar toegeken aan ’n opleier/onderwyser van klassieke musiek.

Die prys word toegeken aan H.D. (Hennie) Loock, dirigent van die Tygerberg Kinderkoor.

Mnr. Loock se bydrae tot klassieke musiek, nasionaal en internasionaal, is onberekenbaar. Hy was vir 46 jaar die dirigent van die Tygerberg Kinderkoor en het die koor, wat in 1972 gestig is, uitgebou tot wat vandag beskou word as die beste kinderkoor in die wêreld. Op die lys van die duisend beste kore in die wêreld, soos saamgestel deur Interkultur van Duitsland, beklee die Tygerberg Kinderkoor tans die vierde plek. (Die Universiteitskoor van Stelllenbosch beklee tans die eerste plek). Die koor word dan ook met reg beskou as die maatstaf vir kinderkore wêreldwyd en mnr Loock as ’n gerekende dirigent van kinderkore.

Die prysgeld word deur die Rupert Stigting geborg.

15. EREPENNING VIR VISUELE KUNSTE (Skilderkuns)

Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan die kunstenaar, Johann Louw.

Johann Louw is ’n gevestigde en ’n gerespekteerde kunstenaar in die Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstoneel en sy werk word op nasionale, asook internasionale vlak uitgestal. Sy werk is opgeneem in gerekende versamelings en sy invloed en bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns is van onskatbare waarde. Hy is bekend as skilder, maar lewer ook werk van hoë gehalte wat betref tegniese vernuf en inhoud in tekenkuns en drukkuns. Tegnies is Johann Louw ’n skilder van internasionale gehalte en inhoudsgewys bemoei hy hom met relevante kwessies in ’n Suid-Afrikaanse konteks.

16. HUGENOTE-VERENIGING EN D.F. DU TOIT-MALHERBEPRYS VIR GENEALOGIESE NAVORSING

Die prys word postuum toegeken vir die genealogiepublikasie Barkhuizen familieregister deur wyle mnr. Johan Barkhuizen.

Die vlak van navorsing, die breedte van die veld wat gedek is, sowel as die wyse waarop die Barkhuizen familieregister aangebied is, stel ’n standaard waaraan toekomstige genealogie gemeet sal word.

17. DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE ROLPRENTDRAAIBOEK IN AFRIKAANS

Die prys word toegeken aan Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder vir hulle rolprentdraaiboek Kanarie.

Christiaan Olwagen en Charl-Johan Lingenfelder het ’n skitterende roldraaiboek geskryf wat nie net relevant is nie, maar die onwankelbare bene is waarop hierdie treffende rolprent staan. Die sterk karakters wat in die teks geskep word, is volkome driedimensionele mense. Selde sien ons ’n teks waarin elke karakter in soveel detail en soveel akkuraatheid en omgee uitgebeeld word. Daar is geen randfigure nie; elke karakter is onontbeerlik, volrond en deeglik omlyn. By die lees van die draaiboek weet jy reeds dat hierdie teks en rolprent ’n ommekeer teweeg gaan bring in die maak van rolprente in die Suid-Afrika. Filmmaak gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Die prysgeld word geborg uit die Deleen Bekkerprys Trustfonds.

18. EREPENNING VIR WETENSKAPLIKE VAKBEVORDERING

Die Erepenning vir Wetenskaplike Vakbevordering word toegeken vir die bevordering en ontwikkeling van ’n spesifieke vakgebied deur medium van Afrikaans op enige terrein van die onderwys. Die Erepenning kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

Die prys word toegeken aan prof. Carolina Koornhof, Uitvoerende Direkteur: Finansies en Studente-administrasie, Universiteit van Pretoria.

Prof. Carolina Koornhof is ’n uiters ervare bestuursleier, akademikus en navorser wat reeds langer as drie dekades by die hoëronderwyssektor in Suid-Afrika betrokke is. As akademikus het sy nuwe kurrikulums vir Rekenkundige modules ontwikkel, nuwe programme in Afrikaans en Engels ingestel en innoverende benaderings tot onderrig toegepas, asook verskeie toonaangewende Rekenkundige handboeke geskryf om die studenteslaagsyfer te verbeter en onderrigaktiwiteite te ondersteun.

In 2003 word prof. Koornhof as die eerste vroulike dekaan in die geskiedenis van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria aangestel en dien met onderskeiding in dié posisie tot 2011, toe sy as lid van die Hoofbestuur van die Universiteit aangestel word. Onder prof. Koornhof se leiding het die Departement, en later die Fakulteit, ’n fase van ongekende vooruitgang en groei beleef, iets wat voortduur tot op hede. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is tans een van die grootste fakulteite by UP wat geregistreerde kontakstudente betref.

19. BESONDERE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

’n Besondere Erepenning word toegeken aan mev. C.E. (Rina) Loader, woonagtig in Wene, Oostenryk.

Die prys word aan haar toegeken vir haar inspanning oor 23 jaar met betrekking tot die bevordering en bekendstelling van Afrikaans in Europa en in die besonder haar betrokkenheid by die opleiding van Afrikaans aan die Universiteit van Wene waar sy sedert 1998 die vak Afrikaans uitgebou het en dus oor meer as twee dekades Afrikaans onderrig het. Hierdie betrokkenheid het, geografies gesproke, verder gestrek as Wene omdat sy ook akademiese aksies rakende Afrikaans onderneem en/of georganiseer het in Duitsland (Leipzig, Hamburg), Hongarye (Boedapest) en Salzburg.

20. BESONDERE EREPENNING VAN DIE SA AKADEMIE

’n Besondere Erepenning word toegeken aan Marius Weyers vir sy uitsonderlike bydrae tot rolprent- en TV-kuns.

Marius Weyers word beskou as ’n meester van TV- en rolprentkuns met ’n loopbaan wat oor ’n periode van veertig jaar strek. Weyers was nooit ’n eensydige akteur nie. Hy kan die dramatiese, die komiese, die ironiese óf die uiters sensitiewe rolle op ’n manier vertolk dat die kyker altyd meegevoer word, maar terselfdertyd verras, onthuts en onverhoeds betrap word. Al hierdie fasette kan hy in één karakter vertolk. Marius se individualiteit en veelsydigheid word weerspieël in meer as 50 rolprente en televisiereekse.

21. EREPENNING VIR RADIOHOORBEELDE IN AFRIKAANS

Die Erepenning vir Radiohoorbeelde kan driejaarliks toegeken word. Werke wat uitgesaai is deur enige uitsaainetwerk in die drie kalenderjare wat die bekroningsjaar voorafgegaan het, kom in aanmerking.

Die Erepenning word vanjaar toegeken aan Johan Rademan vir sy hoorbeeld Breyten Breytenbach – ’n ander skakering.

Johan Rademan is een van die mees veelsydige radiopersoonlikhede op die eter. Hy is ’n bekende omroeper en aanbieder, sportkommentator, radiodramaregisseur en hoorbeeldskepper.

In hierdie besonderse hoorbeeld word die luisteraar die geleentheid gegun om ’n greep uit Breytenbach se lewe en werk te hoor. Johan Rademan se keuses in onderhoude en argiefmateriaal gee ’n heldere historiese perspektief van die verskillende dekades en die tydsgees van die eras wat opgeroep word, bied die luisteraar die geleentheid om Breytenbach as ’n mens en kunstenaar beter te verstaan. Rademan skroom nie in die onderhoud met Breytenbach (en met die ander deelnemers) om indringende vrae te vra nie en in hierdie opsig is die resultaat nie net ’n blote geredigeerde onderhoud nie, maar word dit ’n stuk mondelinge geskiedenis wat deur die eerstehandse vertellings, indringende, kritiese en kunsinnige aanbieding, insiggewende wêrelde vir die luisteraar openbaar.

22. PROTEA BOEKHUISPRYS VIR DIE BESTE KULTUURGESKIEDENIS-PROEFSKRIF IN AFRIKAANS

Die prys word toegeken aan dr. V.R. (Vicky) Heunis, museumkundige en kultuurhistorikus, verbonde aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Die titel van haar proefskrif is: Anglo-Boereoorlogboerekrygsgevangenekuns, 1899–1902.

Die prys word gedeel met dr. J.J.R. (Johan) van Zÿl, historikus en ook verbonde aan die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Die titel van dr. Van Zÿl se proefskrif is Bethulie 1896–1907, met spesifieke verwysing na die Anglo-Boereoorlog.

Die prysgeld word geborg deur Protea Boekhuis.

23. JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Plantkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

Die prys word toegeken aan mnr. J.R. (Ruan) van der Nest, student aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Agronomie. Die titel van sy verhandeling is Liming strategies for barley and canola production in no-tillage systems.

Die prys word ook toegeken aan mnr. W.B. (Wilku) Meyer, van die Departement Plantkunde, Universiteit van die Vrystaat. Die titel van sy verhandeling is Phenotypic and genotypic variation of Puccinia helianthi in South Africa.

24. DOUW GREEFF-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE SUID-AFRIKAANSE TYDSKRIF VIR NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

Die prys word toegeken aan N.J.M. Grobler, G.J. Puts en P.L. Crouse van die Departement Chemiese Ingenieurswese, Universiteit van Pretoria en H. Bissett verbonde aan die Afdeling Toegepaste Chemie, Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie, vir hulle artikel "Die effek van die skermgassamestelling in ’n induktiefgekoppelde plasma: ’n Eindige-elementanalise" wat verskyn het in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 39(1) (2020).

25. JACQUES VAN DER ELST-PRYS VIR BESTE ARTIKEL IN DIE TYDSKRIF VIR GEESTESWETENSKAPPE

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) gepubliseer is.

Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Bert Olivier van die Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat vir sy artikel "’Reaksionêre nihilisme’ in die huidige era" wat verskyn het in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 59(4) Desember (2019).

  • 2

Kommentaar

  • Johan Bezuidenhout

    Baie geluk met die bekroning vir 2021. My vraag is, of die Elizabeth Steijn-medalje vir onderwys vanjaar toegeken word? Indien wel, wie is die suksesvolle leerkrag?

  • Johan Bezuidenhout

    My vraag is of die Elizabeth Steijn medallje vir onderwys vanjaar toegeken word? Indien wel wie is die suksesvolle kandidaat?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top