Clover Aardklop 2013: Nicola Hanekom gesels oor Land van skedels

  • 0

Land van skedels is ’n ruimtelike drama wat in die veld net buite Potchefstroom opgevoer gaan word.  Die drama fokus op die ervaring van vroue in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog.  Dit val saam met die honderdjaar-herdenking van die Vrouemonument vanjaar.  Naomi Bruwer het vir skrywer en regisseur Nicola Hanekom daaroor uitgevra.

Daar is al heelwat geskryf oor die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe. Op watter bronne het jy staatgemaak vir jou navorsing vir die teks?

Ek begin die teks so:

Met groot dank aan Louis Changuion, Frik Jacobs en Paul Alberts vir hulle boek Suffering of war, JEF Grobler vir sy boek The war reporter, Elizabeth van Heyningen vir The concentration camps of the Anglo-boer war, Maria Fischer vir haar Kampdagboek, Sol Plaatjie vir sy Boer war diary, Thomas Pakenham vir Die Boere-oorlog. Dankieook aan Jan FE Celliers, CL Leipoldt, DJ Opperman en al die dooies vir die woorde wat hulle agterna gelaat het.

Verder het ek baie gelees op die internet en hier en daar by mense stories gehoor. My ander bron was maar my verbeelding. 

Die kritieke ding wat my genoeg moed gegee het om te skryf is my besef dat ek nie ’n dokumentêr maak nie maar ’n toneelstuk. Voor dit het my broek meer gebewe.

Wat is die sentrale boodskap wat jy aan die gehoor wil oordra? Waarmee moet hulle huis toe gaan?

Ek dink ons moet besin oor die dierlikheid binne ons en wat ons toe in staat is – goed én sleg. Ons moet probeer om die slegte dinge in toom te hou en die werklike gesig van oorlog te probeer onthou sodat ons so min moontlik ons gruwels herhaal.

Braam du Toit het musiek vir die stuk gekomponeer. Hoe inkorporeer jy dit by die drama?

Dis sentraal. Ek dink sy musiek hou die breë doek bymekaar. Goddank vir Braam. Dis amper op die nippertjie om in ’n opera te ontaard as ek nie pasop nie. Ek spot net. Dis ’n drama, maar daar is baie musiek met Magdalene Minnaar wat Emily sing en Vasti Knoesen wat Langkappie sing. Ons het ook ’n kinderkoortjie. Ons het ook bietjie viool en Tinarie probeer om betyds die trekorrel baas te raak.

Ek wil ook net sê dat James Webb die klankontwerp doen vir die eerste gedeelte.

Jy het reeds baanbrekerswerk gedoen met dramaproduksies buite die teater, soos in jou trilogie Lot (2009), Betésda (2010) en Babbel (2011). Wat is vir jou die grootste uitdaging wat die ruimte sonder tradisionele verhoog vir hierdie produksie bied, en wat is die grootste pluspunt van die buitelug-ruimte?

Dis groot, en enigiets groots beteken meer om te beheer en oor te dink. (Basies meer en harder werk.) Soos die ruimte vergroot, word ek banger en banger en al hoe meer opgewonde terselfdertyd. Klein goedjies soos om die gehoor te beheer word moeilik; daar is nie mure om agter weg te kruip tot ons reg is om hule in te laat nie. Daar is nie ’n gordyn waaragter mens probleme kan wegsteek nie. Ons raak bevrore om middernag tydens ons tegniese tyd wanneer ons belig. Goggas. Geraas. Bergies. Sand. Muskiete.

Die pluspunt is dat dit eg is. Dis klaar die waarheid, want dis regte sand, regte bome, regte vuur – en die gehoor weet dit. Omdat die omgewing eg is, kan jy verder reis met die gehoor. Jy hoef hulle nie om die bos te lei nie. Jy kan die waarheid opdis. 

Vertel ons meer van die stelontwerp?

Daar is eintlik nie ’n “stel” nie. Ons gebruik regte tente uit die Boereoorlog, maar op ’n effe surrealisties manier. Ek wil hê dit moet voel asof die gehoor deur ’n museum stap wat dan lewe kry. Buiten dit is dit baie eenvoudig: een hoë stoel waarop Brit sit en een marionet-perd waarop Boer sit. Hulle is die vertellers.

Hoe lyk die rolverdeling en teaterspan?

Dramatis personae:

Sophia: Tinarie van Wyk Loots
Boer:  Deon Lotz
Brit: Grant Swanby
Emily Hobhouse: Magdalene Minnaar
Moeder: (ma van Sophia en Alie) Gretha Brazelle
Alie:  Bronwyn van Graan
Lenie:    Hannah Barnard
Sussie: Christia Visser
Boetie:   Wilhelm van der Walt
Tommy:  James McGregor
Bokamoso (Hoop) Lerato Motshwarakgole
Langkappie Vasti Knoesen

Dan is daar ook vyf dansers: Tebogo Munyai, Nkosinathi Sangweni, Nceba Ngubombini, Siyabulela Sikawuti en Shaun Smith.

Choreograaf: Fiona du Plooy

Vervaardig deur Haas en Kaas (Nicola Hanekom en Grant Swanby).

Verder oor Clover Aardklop 2013: Waarna sien jy uit op vanjaar se fees?

Na oorlewing. Ek dink ons gaan ons disnis werk. Ek wéét ons gaan ons disnis werk. Ek hoop net dis mooi.

Lokaal: Slagveld Duur: 80 min Ouderdom: A
Taal: Veeltalig Prys: R 100.00    
24/9/2013 - 17:45 24/9/2013 - 20:00 25/9/2013 - 17:45 26/9/2013 - 17:45
26/9/2013 - 20:00 27/9/2013 - 17:45

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top