Die plat, grys landskap wat die kuns raam: Nicola Hanekom gesels oor Aardklop

  • 0

Nicola, jy het Fiësta-toekennings gekry, en ABSA KKNK-Kannas gewen. Hoe voel jy oor die erkenning wat deur pryse verleen word – en wat is die effek daarvan op jou werk of op die bywoning van jou vertonings?

Ek geniet die erkenning, maar is versigtig dat my kop nie te groot word nie. Soms voel ek ook dat dit my nog harder laat werk, want ek is bang die gehoor daag op en “verstaan nie hoekom dié stuk kastig so goed is dat dit pryse moes wen nie”. Op die ou end dink ek tog dit bring groter gehore en daarvoor is ek verskriklik dankbaar. “Almal is lief vir teater, al weet hulle dit dalk nog nie.” Dis my slagspreuk. Basuin dit asseblief uit.

Wat sou jy graag wou verander omtrent die drama-industrie in SA?

Ek dink ons is goed op pad, veral in Afrikaanse teater. My broek bewe as ek bespiegel oor wat sou gebeur sou die borge onttrek van die feeste. Maar “as” is vir nonsens soek. Genoegsame ondersteuning is ’n manier om vervlakking te voorkom. Hoe beter die gehalte werk wat ons vir die mense gee, hoe meer sal die standaard verhoog. Daar is op die oomblik baie wonderlike jong kunstenaars wat hulle beste lewer. Ek wil byvoeg dat goeie werk al hoe meer populêr word. Ons kuns is nie dooie kuns nie. Dis vir die lewende, honger massas wat gatvol is om na snert te kyk.

Hoekom skryf jy nog in Afrikaans?

Ek is ontsettend lief vir my taal. Ek gaan op die oomblik ’n bietjie deur ’n krisis waar ek bewus gemaak word van hoe my taal my beperk om buite ons land te werk. Só word dit gestel aan my: “beperk”. Vir my voel dit of my taal my optel, my groter maak as wat ek is, my bemagtig. Sonder dit weet ek nie altyd wie ek is nie. Mense se ore is partykeer toe. Dit het onlangs vir my gevoel asof mense na my kyk en dink: “Van Afrika. Hoe skattig, hoe fraai! Waar is die gumboot dancing?” Dis seker in my eie kop en ek behoort van beter te weet en aan te beweeg.

In watter mate is die Afrikaanse dramabedryf afhanklik van kunstefeeste?

Dis noodsaaklik. Die gewone teatermaker sal nie sy werk daarsonder kan skep nie. Daar is natuurlik uitsonderings, maar die meeste werke word met die ondersteuning van ’n fees geskep voor dit aanbeweeg na teaters toe.

Wat verkies jy: film of verhoog? (Of skryf ...?)

Ek kies alles! Ek is ’n totale vraat. Gee my meer!

Wat is vir jou persoonlik lekker van die Clover Aardklopfees, of wat is anders hier as by ander feeste?

Dis in Potchefstroom!  Dat hierdie plat, grys landskap die mooiste kuns raam, maak dit meer besonders.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top