Titel: Die pad byster
Outeur: Nicola Hanekom
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485301011
Koop Die pad byster by Kalahari.com
'n Verkorte weergawe van hierdie resensie het in By verskyn.
Hier is twee toneeltekste oor mense wat die pad sielkundig byster raak.
Hol is Liesbet se monoloog terwyl sy in ’n Kaapse gimnasium op ’n trapmeul hardloop. Ons hoor haar gedagtes as ’n bewussynstroom aan. Deur haar reaksies “beleef” ons van die ander interessante mense om haar, en lei af wat sy op ’n TV-skerm sien. Soms word sy ’n ander persoon. Ook ’n klankbaan help om haar gedagtegang ’n fel werklikheid te maak.
![]() |
![]() |
![]() van onthou. |
![]() |
Soos dit in ’n monoloog hoort, onthul sy die verlede broksgewys. Naas haar klomp uitlatings oor eetgewoontes stel sy ons tussendeur voor aan haar suster, Ragel, wat haar oorheers, haar ma wat haar nie vertrou het nie, en dan, ’n voorbeeld van iets wonderliks in ’n goeie drama: Sonder dat ’n karakter ooit verskyn, beleef ’n mens hom helder déúr ’n ander sentrale karakter. Liesbet roep in ’n paar verspreide tonele vir Gary op. Ons kom agter hoe die tragedie in haar lewe begin het. Sy was 15 toe sy by dié polisieman en seksmaat van haar ma betrap is. Van bladsy 47 tot 51 word ’n traumatiese gebeurtenis in kort sinne voorgestel.
’n Mens kan ’n bloemlesing saamstel uit die spreker se spitsvondighede en poëtiese stelwyses. (Dis karakteriserend, want sy skryf artikels.) Sy meng ook baie oortuigend haar Afrikaans met al die Engelse woorde uit haar leefwêreld.
Haar soms emosionele taalgebruik word visueel gemaak met verskillende lettertipes en -groottes, met kursief en vetdruk. Dit kan mos die aktrise help om die teks in te bestudeer!
Trippie word taalkundig en tipografies heel konvensioneel aangebied. Dit behoort wel tot Hanekom se vernuwing met haar “plekspesifieke teater”. Die gehoor reis in ’n bus saam met twee spelers. In die beperkte ruimte sal die vrou en die man as vreemdelinge vir mekaar ’n konfrontasie hê.
Groot gedeeltes bestaan uit die geestelik onstabiele vrou se gespot met die man. Die onrealistiese inhoude herinner aan die Afrikaanse Teater van die Absurde uit die jare sestig en sewentig. Die vrou se swaar koffer is vol gille. Of nee, daar’s die halwe lyk van ’n man in. Die dialoog prikkel nie juis met oorspronklike segswyses soos die vorige teks nie. Eers van bl 92 tot 100, wanneer hulle van hulle verledes vertel, begin die stuk vanweë groter realisme te boei. Sy beskryf ’n verkragting en hy sy lyding met sy vrou wat maande lank sterwend was.
Die tekste is goed versorg deur redakteur Danél Hanekom en proefleser Martjie Bosman. Hanli Deysel se ontwerp en tipografie is voortreflik. Menige toneelpraktisyn sal die groter bladspieël as gewoonlik verwelkom. Hulle sal Nicola Hanekom dankbaar wees vir hoogs bruikbare tekste.