Persverklaring: SA Akademiepryswenners vir 2024

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kondig met groot genoeë die gesogte Akademiepryse vir 2024 aan.

Die pryse sal by ’n bekroningsplegtigheid in September in Pretoria aan die wennersoorhandig word.

Hertzogprys vir drama

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en word jaarliks om die beurt vir poësie, drama en verhalende prosa, in dié volgorde, toegeken.

Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys vir Drama gaan vanjaar aan Nicola Hanekom vir Mirre en aalwyn.

Nicola Hanekom

Die kortlys vanjaar is soos volg:

  • Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom (Protea Boekhuis)
  • Droomwerk deur Pieter Odendaal (Protea Boekhuis)
  • Opdrifsel deur Philip Rademeyer (Protea Boekhuis)
NP Van Wyk Louwmedalje

Die prys is een van die toppryse van die Akademie en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word. Dit word toegeken vir ‘n betekenisvolle bydrae in die geesteswetenskappe, maar kan ook toegeken word aan persone wat werk van die hoogste gehalte gelewer het ter bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Die prys word vanjaar toegeken aan Heinrich van der Mescht, emeritusprofessor, Universiteit van Pretoria.

Heinrich van der Mescht

Erkenning word aan Heinrich van der Mescht gegee vir sy uitsonderlike bydrae tot die ontginning, organisasie en uitbouing van kunsmusiek in Suid-Afrika. Hy is ‘n voortreflike kandidaat vir hierdie eer, omdat sy leeftyd van toewyding en harde werk kunsmusiek en ook Afrikaans en geesteswetenskappe in die breë binne Suid-Afrika bevorder het. Hy is een van min Suid-Afrikaanse musiekdosente wat volhoudend navorsing geskryf en gepubliseer het.

MT Steynprys vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband soos in landsbelang. Die prys word gesien as ’n kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Ian Dubery, Direkteur van die Navorsingsentrum vir Plantmetabolomika, Universiteit van Johannesburg.

Ian Dubery

Ian Dubery het al verskeie toekennings ontvang as ’n uitnemende navorser. Sy navorsingsfokus behels die biochemie van stres-metabolisme in plante. As biochemikus bring hy nuwe benaderings en insigte na die interdissiplinêre veld van plantmikrobe-interaksies. Dubery het ’n beduidende bydrae gemaak tot die bou van navorsingskapasiteit om aan die behoeftes van die Suid-Afrikaanse navorsingsektor te voldoen deur die opleiding van ’n nuwe generasie wetenskaplikes, gefokus op die toekomstige behoeftes van die land.

SA Akademieprys vir visuele kunste

Die SA Akademieprys vir visuele kunste is een van die toppryse van die Akademie en word toegeken vir ’n lewenslange bydrae tot die visuele kunste en kan daarom slegs een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar toegeken aan Carin Smuts.

Carin Smuts

Carin Smuts is ’n professionele argitek en deeltydse dosent aan die Universiteit van Kaapstad. Sedert 1989 bedryf sy CS Studio Argitekte en is internasionaal bekend vir haar baanbrekerswerk in argitektoniese gemeenskapsontwikkeling. Carin se gemeenskapsargitektuur is bekend vir die manier waarop dit in besonders uitdagende plekke, en gekonfronteer met karige begrotings, lewenslustige omgewings skep.

Eugène Maraisprys vir poësie

Die prys word toegeken vir ’n skrywer se eerste of tweede bellettristiese werk in Afrikaans.

Sedert 2023 word die prys jaarliks om die beurt toegeken vir prosa die een jaar en vir poësie en drama die volgende jaar.

Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Pieter Odendaal vir Ontaard.

Pieter Odendaal

Die kortlys is soos volg:

  • Wanneer woorde asemhaal deur Maritha Broschk (Turksvy)
  • Ontaard deur Pieter Odendaal (Tafelberg)
  • Opdrifsel deur Philip Rademeyer (Protea Boekhuis)
CL Engelbrechtprys vir taalkunde

Die prys word om die beurt vir letterkunde en vir taalkunde toegeken. Elke afdeling kom elke vyfde jaar aan die beurt.

Die prys word toegeken aan Eleanor Cornelius vir Gewone taal: ’n Oorsig.

Eleanor Cornelius

Gewone taal: ’n Oorsig kan as pionierswerk beskou word en bevorder dus nie net die veld van gewonetaalstudies nie, maar verteenwoordig ook ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling en verryking van die Afrikaanse taallandskap. Nie net is hierdie boek van onskatbare waarde vir die Afrikaanse taalkunde landskap nie, die relevansie daarvan is ook onmiskenbaar in die internasionale veld van gewone taal.

Hugenote-Vereniging-en-DF-du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing

Die prys word toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks van hoogstaande publikasies in Afrikaans op die gebied van die genealogie. Die publikasie(s) moet duidelike bewys lewer van oorspronklike navorsing.

Hierdie prys word vanjaar toegeken aan die werk van Katja Rossouw, naamlik die Rousseau/Rossouw Familieregister.

Katja Rossouw

Genealogiese navorsing soos dié van Katja Rossouw spreek van jarelange toewyding en navorsing. In hierdie register maak die leser nie net kennis met bekende Rossouws wat uitgeblink het op die rugby- en krieketveld nie, maar ook met die wat naam gemaak het op die verhoog en in die akademiese wêreld. Hierdie register maak ’n reusebydrae tot die navorsing oor die groot Hugenote-families en hul nalatenskap.

Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur

Dit is vir die doel van die prys geoorloof om uit enige taal werke in Afrikaans te vertaal. Hierdie werke moet gemik wees op die lesers in die ouderdomsgroep 5 – 12 (kinderliteratuur) en tieners en jong volwassenes (jeugliteratuur).

Die prys word vanjaar toegeken aan Zandra Bezuidenhout vir Lampie.

Zandra Bezuidenhout

Die kortlys is soos volg:

  • Lampie vertaal deur Zandra Bezuidenhout (Protea Boekhuis) (Uit Nederlands vertaal. Skrywer: Annet Schaap)
  • Skerwe vertaal deur Zelda Bezuidenhout (LAPA) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Sally Partridge)
  • Die brief vir die koning vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis) (Uit Nederlands vertaal. Skrywer: Tonke Dragt)
  • My eerste Afrika-avontuur vertaal deur Nandi Lessing-Venter (LAPA) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Riaan Manser met Murray Williams en Chantal Tarling)
  • Hotel Ietermagô vertaal deur Elsa Silke (Tafelberg) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Dianne Hofmeyr)
Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur

Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir ’n Afrikaanse kleuterboek in alle genres, onder meer kleuterversies, verhale of drama.

Die prys word toegeken aan Antjie Krog en Ingrid de Kok (skrywers) en Fiona Moodie (illustreerder) vir Vetplantfeetjies.

Antjie Krog Ingrid de Kok   Fiona Moodie

 

Die kortlys is soos volg:

  • Daar’s ’n towerponie in my bed deur Martelize Faber (Illustrasies: Elsabé Ebersöhn) (LAPA)
  • Die hond met die stert sonder swaai deur Paula Fourie (Illustrasies: Emily House) (Tafelberg)
  • Net nie ’n hond nie! deur Jaco Jacobs (Illustrasies: Patrick Latimer) (Pan Macmillan) ▪
  • Vetplantfeetjies deur Antjie Krog en Ingrid de Kok (Illustrasies: Fiona Moodie) (Penquin Random House SA)
  • Saartjie, die spinnekop met sewe bene deur Riana Scheepers (Illustrasies: Elsabé Ebersöhn) (LAPA)
Protea Boekhuistoekenning

Die prys kan jaarliks toegeken word en roteer tussen ’n gepubliseerde werk, die beste magisterverhandeling, en die beste doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis in Afrikaans.

Karina Sevenhuysen, verbonde aan die Universiteit van Pretoria, ontvang vanjaar die prys vir haar PhD-proefskrif met die titel: “Model native townships” in Suid-Afrika: “The pinnacle of perfection”? ’n Historiese evaluering, ca. 1900’s – 1940’s”.

Karina Sevenhuysen

Karina Sevenhuysen is ’n gerekende jong Afrikaanse historikus op die terrein van verstedeliking, en in die besonder swart verstedeliking in Suid-Afrika. Beide as student en later ook dosent in die Departement Geskiedenis van UP, het sy reeds vroeg met navorsing begin op die problematiese terrein van swart verstedeliking en stedelike owerheidsbestuur in Suid-Afrika. Vanaf haar magisterstudies het sy veral gefokus op die segregasie era (1905–1948), ’n tydvak wat dikwels afgeskeep word weens ’n dominante en dikwels misplaaste aksent op die geskiedenis van apartheid.

Erepenning van die SA Akademie se fakulteit natuurwetenskap en tegnologie

Die erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskappe en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Hierdie erepenning word vanjaar toegeken aan Michelle van der Bank, professor in plantsistematiek in die departement Plantkunde en Plantbiotegnologie aan die Universiteit van Johannesburg.

Michelle van der Bank

Van der Bank is ’n wêreldleier op die gebied van plantsistematiek en haar internasionale bande en aktiwiteite het daartoe bygedra om Suid-Afrika as ’n belangrike rolspeler in die veld te vestig. Haar navorsing (wat fokus op ses van die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte),

persoonlike visie en lewenslange toewyding dra betekenisvol by tot toenemende kennis en oplossings in haar veld, asook die opleiding van ’n nuwe generasie van wetenskaplikes.

Erepenning vir geesteswetenskappe

Die erepenning vir geesteswetenskappe word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die geesteswetenskappe en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang.

Die erepenning word vanjaar toegeken aan Mariëtta Alberts, terminoloog en navorser van Pretoria.

Mariëtta Alberts

Mariëtta Alberts word wyd in Suid-Afrika erken as die doyenne oftewel “Mevrou Terminologie”, as die een wat ná die aanvanklike vestiging van terminologie in die 1960’s gehelp het om die vakgebied sigbaar te maak deur haar talle publikasies (artikels, boeke, tegniese woordeboeke), haar optredes by vakkongresse en ook haar direkte betrokkenheid as opleier van die volgende geslagte terminoloë (aan universiteite, staatsdepartemente, semi-staatsinstellings en private instansies). Haar voortgesette werk (in die besonder standaardboeke oor terminologie as dissipline) maak haar ’n kernrolspeler in die ontwikkeling en vestiging van terminologie en vaktaal in Suid-Afrika.

Erepenning vir kuns

Die erepenning word toegeken vir ’n persoon se skeppende bydrae tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die kunste (visuele kunste wat argitektuur insluit of die uitvoerende kunste wat die kunslied insluit) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband.

Vanjaar word die prys toegeken aan Jaco Meyer komponis en navorser van Johannesburg.

Jaco Meyer

Jaco Meyer is ’n Suid-Afrikaanse komponis en navorser wat hom bekwaam met die komponering van konseptuele musiek en navorsing oor musiekanalise. Meyer se werk is bedoel vir beide die algemene publiek en gehore wat hulle begrip van musiekelemente wil uitdaag, maar ook vir akademici wat belangstel in die maniere hoe hy te werk gaan om sekere konvensionele grense te verbuig.

Jacques van der Elstprys

Die prys word jaarliks toegeken vir die beste artikel wat in ’n bepaalde jaar in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) verskyn het.

Die prys is vanjaar toegeken aan Johann Beukes vir sy artikel “Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue” wat verskyn het in die TGW, Jg. 62(2), Junie 2022.

Johan Beukes

Hierdie artikel is ’n voortsetting van die outeur se reeds meermale bekroonde navorsing oor die Middeleeue in Afrikaans. Johann Beukes ontvang die gesogte Jacques van der Elstprys vir internasionaal erkende navorsing, aangebied in aanskoulike, verhelderende Afrikaans vir die fynproewer.

Douw Greeffprys

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer is.

Die prys word vanjaar toegeken aan Soané Ludick, Jacques M Berner, Roelof D Coertze en Sarel S Cilliers vir hulle artikel: “Gesondheidsevaluasie van stedelike eike (Quercus robur L.) met behulp van fisiologiese parameters: ’n Suid-Afrikaanse gevallestudie”, wat verskyn het in SATNT, Jg. 42(1), 2023.

Junior Kaptein Scott-Gedenkmedalje (dierkundige wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid-Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige en plantkundige wetenskappe).

Die prys word vanjaar toegeken aan Runé van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat vir haar verhandeling The role of body size as a life-history trait influencing within-population niche variation in mammals.

Runé van der Merwe

Poortprys

Die Poortpryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12 wat aan die Poort-kompetisie deelgeneem het.

Die pryse word vanjaar toegeken aan:

  • Poësie: Mila van Niekerk van die Hoërskool Outeniqua vir haar gedig “Sonskerm”.
  • Prosa: Aletta Smit van Afrikaans Hoër Meisieskool vir “Racheltjie de Beer”.
Lees ook:

Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top