Suidoosterfees 2024-persverklaring: ATKV gee jong teatermakers gul geleenthede op Suidoosterfeesverhoog

  • 0

Foto: Suidoosterfees-jeugteater

Jong teatermakers kry elke jaar by die Suidoosterfees geleentheid om hul werk aan die publiek bekend te stel en om waardevolle ervaring in ’n professionele teateromgewing op te doen. Op vanjaar se ATKV Jeugteaterprogram – van 26 April tot 1 Mei aangebied as deel van die 21ste Suidoosterfees – is studente, skoliere en amateurgroepe se werk op die Artscape-verhoog.

Die Jeugteaterprogram word deur die ATKV na die fees gebring en dit word ondersteun deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. Sonél Brits, die ATKV se besturende direkteur, verduidelik: "Daar lê ’n magdom feeslekkertes vir besoekers aan vanjaar se Suidoosterfees voor. Ons is ’n vennoot van die kinder-en-jeugfees, is met jeugteater gemoeid, en die Jakes Gerwel-gespreksreeks word in die ATKV-Innovasiespasie gehou."

Die Suidoosterfees verwelkom vanjaar ’n groep studente en alumni van die Koningstheateracademie in Nederland nadat ’n samewerkingsooreenkoms tussen die fees en die akademie gesluit is. "Dié ooreenkoms stel ons in staat om kruisbestuiwing tussen internasionale en plaaslike studente te bewerkstellig," sê Jana Hattingh, die feeshoof. “Dit verbreed ons horisonne en bied ekstra geleenthede vir plaaslike kolleges en universiteite met wie die fees reeds nou saamwerk.”

Die jong Nederlanders span kragte saam met studente van Northlink Kollege om die opwindende "doku-opera" deur Minou Bosua, How to raise our parents, op die planke te bring. Hierdie multidissiplinêre produksie stel vrae oor die rampspoedige gevolge wat gebrekkige ouerskap vir die samelewing inhou.

Nog drie verhoogstukke deur Northlink Kollege is Kinnes deur Chester Miggels en Corne Hardnick, Lammie Beukes deur Serverius Majiedt en Rauche Coetzee se Testament van ’n Nama. Kinnes handel oor ’n jong man van die Kaapse Vlakte wat op die harde manier van die liefde leer. Lammie Beukes is ’n ma van drie kinders, almal van verskillende pa’s, en met ’n vierde op pad, en Testament gaan oor ’n ma wat haar kinders vanuit die graf regeer.

Die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) word deur NT Jikwa se The funeral: is he being reasonable? verteenwoordig. In dié drama word Bathini, ’n gelowige jong man, met vertwyfeling gekonfronteer nadat hy teenspoed in die lewe optel.

Twee dramas wat met Romeo & Juliet in gesprek tree word deur jong teatergeselskappe na die fees gebring. Mikyall David Harris se Su’Walla kassam en Gita Fourie se Anglo angst verplaas Shakespeare se beroemde liefdesverhaal na ’n plaaslike konteks, en die resultaat is jong liefde, misleiding en familie-onenigheid.

Die ATKV Jeugteaterprogram bied ook ’n veilige hawe vir skoleproduksies wat presteer. Brandmerk, wenner van Artscape en Suidoosterfees se Hoërskool Dramakompetisie, is op die planke. Dié stuk deur Stephren Saayman handel oor ’n gesin se trauma nadat die pa en tienerseun op ’n roomys-uitstappie gegaan het. Keanon Brandt, Rowan Mentoor, Bronwynne Neer en Bruzonia Britz van Bernadino Heights Hoërskool tree daarin op.

Hoërskool Jan van Riebeeck en Paul Roos Gimnasuim is onderskeidelik teenwoordig met As die donker my roep en Broers. In dié produksies kom tienerkarakters voor belangrike besluite te staan.

Met die Suidoosterfees se reputasie as ’n fees wat ontwikkeling fasiliteer, word amateurteatergroepe ook elke jaar op die program verwelkom. Die wenner en naaswenner van die Departement van Kultuursake en Sport se Dramafees-kompetisie word opgevoer – die Artistic Rural Talent-groep van Dysselsdorp se Tussen strome, en die Swellendam Shack Theatre se ’n Myl in my skoene.

Keuses en P.O.S.T. word aangebied in samewerking met gemeenskapsprogramme in die Kaap. Lede van die Neighbouring School-program tree op in Keuses, wat handel oor ’n jong man wie se wêreld in duie stort wanneer sy meisie swanger raak en hy dwelms begin verkoop om haar te ondersteun. Die akteurs van P.O.S.T. is deelnemers van die Oasis Reach for Your Dreams-program wat met hawelose mense werk om hulle by die gemeenskap te herintegreer. Toegang tot beide hierdie aanbiedinge is gratis.

Die ATKV bied ook ’n opleidingspakket vir jong regisseurs en teatermakers aan. Van 26 tot 28 April kan kursusgangers teen R1 200 werkswinkels en verskeie feesproduksies meemaak. Liezl de Kock is die aanbieder van ATKV-Toneelpakket, waarin sy leergieriges touwys maak oor visuele, voorwerp- en fisieke teater, materiaalmanipulasie en maskerwerk. Besprekings kan by suidooster@media24.com gedoen word.

Besoek suidoosterfees.com om die volledige feesprogram onder oë te kry; kaartjies is beskikbaar by Webtickets of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.

Die Suidoosterfees se hoofborge is die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top