
Foto van Dianne du Toit Albertze: Jeremeo le Cordeur
Die wenner van die gesogte Nagtegaal-teksprys vir 2025 is die Namakwalandse skrywer, aktrise en teaterskepper Dianne du Toit Albertze. Naomi Meyer het met Dianne oor hierdie groot toekenning gepraat.
Dianne, baie geluk met die wen van die Nagtegaal-teksprys! Dalk ken lesers jou as die skrywer van Bottelnek breek bek – ’n boek. Wat is jou eerste liefde: die verhoog, of die boek? Loop die toneelspeel en die skryf so saam-saam?
Baie dankie, Naomi. Dit is ’n groot eer en ek is ongelooflik dankbaar vir die erkenning.
Die verhoog sal altyd my first love wees. Ek kan nie beskryf na watter vreugde-plekke drama my neem nie. Dit was van kleins af my voorliefde. Malan Steyn het al vanaf my eerste professionele produksie waarin ek was uit sy pen, Bos, my as graad nege-leerder aangemoedig om aan te hou skryf, destyds met groot ywer gelees aan my handgeskrewe tekste “Doringkroon” en “Refleksies”. Ek sou ook later my eerste eenpersoonstuk Die meermin kompleks skep in sy Kreatiewe Skryf-klas in my finale voorgraadsjaar.
Van daar af was dit ’n mengelmoes van genres en to be honest, solank ek skryf en iets kan gesond maak en ’n geldjie kry, is ek happy.
...........
Van daar af was dit ’n mengelmoes van genres en to be honest, solank ek skryf en iets kan gesond maak en ’n geldjie kry, is ek happy.
..............
Jy het drama studeer en as ek deur inhoud op LitNet blaai, sien ek jy skryf al lankal toneelstukke. Wat was die eerste teks wat jy geskryf het, of die eerste keer wat jy enigiets geskryf het? Hoe verskil die proses van skryf in die stilligheid vir ’n boek van wie jy nie die lesers tydens die leesproses sien nie, tot skryf vir ’n gehoor wat sit en kyk en wie se reaksies beleef kan word?
Ek dink hierbo noem ek my eerste skeppings. Dan het ek ook my volwasse debuut by Woordfees gemaak as tweede- / derdejaarstudent met Kommapunt, waaroor julle op LitNet en Klyntji in diepte kan lees.
Die skryf van drama is net so afgesonder aanvanklik as prosa. Ek het wel ’n meer driedimensionele aspek van inkleding en omskrywing geleer met die skryf van ’n langer formaat, soos ’n roman, wat ek probeer inbring by my verhoogaanwysings. ’n Verhouding met die onsigbare leser / kyker is altyd belangrik regoor genres.
.............
Ek het wel ’n meer driedimensionele aspek van inkleding en omskrywing geleer met die skryf van ’n langer formaat, soos ’n roman, wat ek probeer inbring by my verhoogaanwysings. ’n Verhouding met die onsigbare leser / kyker is altyd belangrik regoor genres.
...............
Vertel asseblief van die ontstaan van die pryswenteks van die Nagtegaal-prys. Die ma en die dogter in die karavaanpark. Waar kom die storie vandaan, en wat behels dit?
Dit was veronderstel om my tweede roman te wees, maar die karakters wou net eenvoudig nie alleenlik op papier lewe nie. En toe ontmoet ek vir Tinarie by laasjaar se teksmark en ons begin skryf e-briewe vir mekaar en kort voor lank het ek ’n muse gekry. Die pragtige skryfwerk van Welma Odendaal en die musiek van Koos du Plessis en Gert Vlok Nel het my verder gelei.
Het jy karakters in jou kop gehad en ’n omgewing toe jy dit geskep het? Wie en waar was dit?
Ons bly anderkant die koppie van die slagpale besaai met aasvoëls wat oorkant die caravan park is. Daai kraaie en aasvoëls het my vir amper ’n jaar lank elke oggend wakkergemaak en by my begin spook. Toe begin ek skryf aan my Namakwalandse Trilogie, waarvan Huis van sand deel is, wat die kraaie / raven bird as simbool deurdra. En by ons in Springbok is die wêreld maar donners droog. Verlate en verniel. Dis ’n innerlike landskap to die for, as skrywer, as plein en simpel inwoner weer iets anners. Toe volg my karakters: Rodney, wat ’n trokdrywer is op die N7; en Babs, wat klasgee by ’n arm publieke skool. Mense wat hike langs die pad en hoop op iemand om hulle stories ’n lift te gee.
Dis een ding om ’n storie in mens se kop te hê, maar iets anders om dit te skryf en te visualiseer vir die verhoog. Dink jy visueel? Hoe dink mens anders as mens iets van gewone op-papier-storie omskep in ’n op-die-plank-verhaal? Vertel asseblief van tegnieke en werkswyse.
Vir die verhoog moet jy prakties raak met jou prosa. Karakters en vertellers kan nie net sit en vertel nie. Jy moet daai beeldspraak kan lewe gee. As jou karakter sien hoe die skaduwees lank raak en mensvorms aanneem, dan moet dit gevisualiseer word en ’n kyker is luier as ’n leser; jy as skrywer moet aandui hoe dit in praktyk gedoen kan word op verhoog.
.............
Vir die verhoog moet jy prakties raak met jou prosa. Karakters en vertellers kan nie net sit en vertel nie. Jy moet daai beeldspraak kan lewe gee. As jou karakter sien hoe die skaduwees lank raak en mensvorms aanneem, dan moet dit gevisualiseer word en ’n kyker is luier as ’n leser; jy as skrywer moet aandui hoe dit in praktyk gedoen kan word op verhoog.
.............
Hou egter altyd in gedagte dat ’n regisseur nie altyd ’n dramaturg se aanwysings volg nie, so stel dit liewer voor of bied verskeie opsies. Daar is nie ’n handleiding van wat reg en verkeerd is nie, slegs dit wat jou drama dien. Dus is dit altyd die beter opsie om meer simplisties te gaan, dink koste-effektief.
Lees ook:
Persverklaring: Die wenners van die Diana Ferrus-prys 2024 aangekondig
Persverklaring: Nagtegaal-tekspryswenner Dianne du Toit Albertze betower met "uitmuntende tegniek"