Die gesogte Nagtegaal-teksprys herleef ná 15 jaar in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees, en daar is groot pryse op die spel. Die drie wenners ontvang onderskeidelik R100 000, R50 000 en R25 000, wat dit die grootste kompetisie van sy soort in die land maak.
Inskrywings het op Vrydag 22 November by woordfees.co.za geopen, en sluit 28 Februarie 2025 om 17:00.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is op soek na nuwe tekste 60 tot 90 minute lank wat teater as medium vir sosiale impak en kohesie verken en tradisionele beskouings uitdaag en verruim.
Diversiteit in rolverdeling is ’n vereiste en moet by die teks ingeskryf wees, en nie aan die diskresie van die regisseur oorgelaat word nie. ’n Sterk narratief, verhoogmatigheid, ’n eksperimentele benadering en literêre meriete is kriteria wat beoordelaars sal oorweeg.
Met die Toyota Stellenbosch Woordfees-gehoor in gedagte word ’n premie geplaas op tekste wat ten minste 50% Afrikaans is. Kreatiewe gebruik van meertaligheid word egter sterk aanbeveel. Rolverdelings van hoogstens sewe spelers is nie ’n vereiste nie, maar verhoog die opvoerbaarheid van jou stuk.
Saartjie Botha praat met Naomi Meyer oor die prys se visie, waarom dit nou herleef en hoekom teater lewensbelangrik is.
Saartjie, die Nagtegaal-prys is nou ’n paar jaar lank nie toegeken nie. Ter wille van agtergrond: Wat was die oorspronklike visie vir hierdie prys?
Die oorspronklike visie was om die skryf van Afrikaanse tekste te stimuleer en aan te moedig en om gehalte met aansienlike prysgeld te beloon. Wentekste is dan deur ’n proses van mentorskap verfyn en verder ontwikkel voordat dit opgevoer is. Die eindprodukte was afgerond en van hoë gehalte.
Die prys is van 2002 tot 2010 toegeken en is deur Dirk en wyle Reinet Nagtegaal geskep. Dit was die grootste teksskryfkompetisie en het ’n groot leemte gelaat toe dit in 2010 gestaak is.
Produksies waaraan die Nagtegaal-prys in die verlede toeken is, was Pieter Fourie se Koggelmanderman, Rachelle Greeff se Die naaimasjien en Daleen Kruger se Draadwerk.
Waarom die prys nou laat herleef?
Die oes van nuwe Afrikaanse toneeltekste is die afgelope paar jaar skraal. Nuwe tekste het dikwels kleiner rolverdelings, en word gekonseptualiseer met die oog op kommersiële sukses, of ten minste haalbaarheid. Nuwe tekste het ook selde diversiteit in rolverdeling, wat in ’n groot mate bepaal watter soort gegewe op die verhoog te sien is. Nuwe tekste word ook dikwels voortydig opgevoer – waarmee ek bedoel sonder deeglike redigering en sonder dat die teks selfs net vooraf deurgelees is.
.......
Alle teater dien die teks. Dit is die priem, die begin, die kreatiewe vonk. Daarom moet ons na skrywers omsien en hulle behoorlik vir hulle pennevrugte vergoed.
.......
Waarom beskou jy teater en skeppende werk vir die teater, in hierdie land, as belangrik? En waarom is geld vir die skep van ’n teaterstuk net so belangrik soos die skepping?
Teater is rou en in die oomblik. In ’n land wat worstel met ’n komplekse verlede, met baie besliste uitdagings in 2025, is teater ’n platform waar komplekse en moeilike vraagstukke getakel kan word. Al kry gehore soms ’n opstopper in die maag, of ’n lem in die hart, bly dit ’n veilige ruimte van rite. Dit vra respek van gehoorlede en kunstenaars en ’n gedeelde inkoop in konvensie. Alle teater dien die teks. Dit is die priem, die begin, die kreatiewe vonk. Daarom moet ons na skrywers omsien en hulle behoorlik vir hulle pennevrugte vergoed.
Lees ook:
Persverklaring: Nagtegaal-teksprys herleef in samewerking met Toyota Stellenbosch Woordfees
Koggelmanderman op Philippolis bevrug – ’n onderhoud met Pieter Fourie (OuLitNet)