NATi Jong Sterre: Kaap-produksie by Suidoosterfees 2020

  • 0

Kaap is een van die NATi Jong Sterre-produksies, ondersteun deur die Jakes Gerwel Stigting en Kunstekaap. 

Opkomende kunstenaars word deur dié uitnemende ontwikkelingsprojek bygestaan om hul voete in die teaterbedryf te vind. Die bekwame mentors, Amy Jeptha en Rafiek Mammon, het die talentvolle jongelinge gehelp om hul tekste af te rond en vir die verhoog te verwerk. 

Kaap

Met Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar
Teks: Dianne Albertze
Regie: Dianne Albertze
Ontwerp: Dianne Albertze
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd 21 November 19:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

Hierdie geleentheid vind 21 November om 19:00 plaas by die @kykNET Atlantic Studios by Montague Gardens.

Kaartjies kos R50 per persoon en kan deur Computicket gekoop word.

Dianne Albertze

“Die titel verwys na die Afrikaapse woord djep wat ‘beroof’ of ‘steel’ beteken,” vertel Dianne Albertze oor die produksie Kaap wat vanjaar by die Suidoosterfees wys.

Die teks is deur Dianne geskryf, en die akteurs Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar verskyn daarin.

Die beskrywing op die Suidoosterfees se webtuiste lui: “’n Skrywer wort Kaap toe gestuu’ deur die Vrye Burgers Fees omme Cape Coloured storie te vitel. Sy storie ve’vleg met Angel, ’n voo’malige Voëlvry groupie, en Faatiem, ’n charming moeilikgeitmaker. ’n Gevaa’like magspieletjie ontstaan wannee’ Faatiem en die skrywer in love raak. Kyk uit vir die Kaapse klopse, Kewpie en ‘Skipskop’ innie storie.”

Dianne vertel meer.

Vertel asseblief meer oor die produksie – waaroor handel die teks?

Kaap handel oor ’n wit skrywer wat befonds word om ’n Cape Coloured play te skryf. Dinge loop egter nie uit soos die skrywer beplan nie. Twee Kapenaars word gekoek in ’n storie wat bly aan blur tussen kolonialisme, kulturele appropriasie, Johannes Kerkorrel, Kaapse klopse, Kewpie en drank. Die ruilhandel van wyn vanaf historiese tye bly net so relevant soos die skrywer al meer val in die dopsisteem. Die twee Kapenaars, Angel en Faatiem, word egter die skrywer se “mense” – al bly raak die befondsers se verwagtinge rondom die play al meer wrang.

Jy het self die teks geskryf. Wat is die inspirasie agter die produksie?

Ek het die teks begin ontwikkel toe ek nog nuut in die Kaap was – Woodstock om presies te wees. Die stad kan baie pragtig wees, maar ook baie messed up – veral as ons kyk na hoeveel vroue, soos Sarah Baartman, hier slaaf gemaak was, huise wat vernietig was (en steeds word in plekke soos Hangberg) en nuwe toerismewinkeltjies en bars wat dan op daai grond staan. Wat appropriasie aanbetref, voel ek dis belangrik dat ons mekaar se stories ondersoek, maar ook uitfigure hoe om die menslikheid van karakters te behou. Die konflik van kultuur sal altyd vir my fassinerend bly. Hennie Aucamp het eenkeer gesê dat kultuur soos die hoogste vorm van beskawing is; dan kyk ek seker na die ónbeskaafde – dié wat kultuur steel, maar ook kultuurloos is.

Verduidelik asseblief die betekenis van die naam van die produksie?

Die titel verwys na die Afrikaapse woord djep, wat “beroof” of “steel” beteken. Alhoewel die storie afspeel in Kaapstad en kyk na die klank, kleur en kolonialisme van die dorp, gaan dit oor baie meer se "djep" as net daai. Dit gaan oor die diefstal van siel en kop en menslikheid.

Lee-Ann van Rooi

Jy is verantwoordelik vir die teks, regie en ontwerp van die produksie – hoe ervaar jy dit as kunstenaar om vir alles hiervan verantwoordelik te wees?

Dinge het met die repetisieproses baie verander. Lee-Ann doen nou die ontwerp en lei die meeste van die regie. Ek en Faith voel so veilig en ons leer so baie oor mekaar, history en medemenslikheid.

Is dit nie uitdagend om verantwoordelik te wees vir soveel elemente van die produksie nie?

Met ’n ongelooflike mentor soos Lee-Ann van Rooi word daai groot verantwoordelik eerder ’n droom en ook ’n master class. Lee-Ann beoog om die volle produksie te direct, maar vir nou is ons drie mense saam in ’n spasie sonder hiërargieë, judgement en voorgee. Lee-Ann lei met ’n diep geestelikheid, wat ’n storie soos Kaap al meer connected laat voel met Kaap die Goeie Hoop, of eerder Camissa (“Die plek van soet water”).

Hoe het jy op die akteurs besluit wat die rolle vertolk?

Albei Faith en Lee-Ann werk gereeld met soortgelyke politiek en narratiewe; albei ken ook die Kaap baie goed. Lee-Ann veral het al in die meeste van die plays wat geïnterteks word, gespeel, soos Fiela se kind en Bidsprinkaan, en dan is hulle damn eerlike spelers wat nie bang is vir ’n uitdaging soos Kaap nie!

Faith Kinniar

Die beskrywing van die produksie op Suidoosterfees se webtuiste is in Kaaps – is die produksie ook in Kaaps geskryf? Vertel asseblief meer.

Jong, Afrikaaps is eintlik baie meer linguistically kompleks as die praattaal waarmee ek meestal speel. Die play is egter ’n kombinasie van Afrikaans, Afrikaaps, Engels en Gayle. Dus is dit ’n lekker mengelmoes van taal en klank. Ek loer en leer maar van Afrikaaps by meesters soos Jitsvinger, Jethrow Louw en Niko10long.

Is daar spesifieke temas wat aangespreek word in die produksie? Dalk ’n boodskap wat jul wil oordra?

Die djep van Camissa, ruilhandel wat omkoopgoed word, die soek na ’n huis, ’n plek om te behoort, ’n tong-in-die-kies kyk na wit vroue wat soos wit mans aangaan as hulle in magsposisies geplaas word, transfobie in die Afrikaanse industrie, ens.

Vir meer inligting oor die Suidoosterfees, besoek hul webtuiste.

  • Foto's: verskaf
Lees en luister ook:

Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

Jong dramaturge gesels oor Jakes Gerwel Skrywersresidensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top