Persvrystelling: NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater 2020)

  • 0

NATi Jong Sterre (Suidoosterfees-inryteater)
Ondersteun deur die Jakes Gerwel Stigting en Artscape

Opkomende kunstenaars word deur dié uitnemende ontwikkelingsprojek bygestaan om hul voete in die teaterbedryf te vind. Die bekwame mentors, Amy Jeptha en Rafiek Mammon, het die talentvolle jongelinge gehelp om hul tekste af te rond en vir die verhoog te verwerk. 

Die Al kind

Met Jill Levenberg, Oscar Petersen, Jurgen McEwan en David Viviers
Teks: Herschelle Benjamin
Geen o/13 T
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 21 November 12:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

Die Al Kind is die verhaal van ’n hardwerkende vrou wat as broodwinner die potte vir haar gesin moet laat prut nadat die droogte in die streek haar man se werk geëis het. Hul enigste seun, ’n student in Engeland, keer ná jare terug na sy ouerhuis. Wat gebeur as ouers al hul drome vir ’n beter lewe om hul geleerde kind bou?

Herschelle Benjamin het die Elizabeth MacLennan Internasionale beurs vir Teater aan die Universiteit van Edinburg ontvang. 

Ek, Eva

Met Wahnice du Toit, Robyn September, Brutney Singrew en Meggan Johnston
Regisseur: Stephren Saayman 
Choreograaf en verhoogbestuurder: Wyatt Afrika
Teks: Stephren Saayman en die geselskap
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 22 November 12:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

In 2019 se DKES dramafees-wenproduksie word fisieke teater met ’n lieflike poëtiese aanslag gekombineer. Wanneer Eva se oë oopgaan, is sy saam met drie ander vroue in ’n plek waar die slang hulle teister met leuens. Wie gaan voor die serpentyn swig? Soos wat die maskers sak, word die donker waarheid oor uitdagings wat vroue kwesbaar maak, in die oopte gebring.

Stephren Saayman is ’n boorling van Riversdal en maak vinnig opspraak as akteur en teatermaker. 

Jessie, die man en die maan
Met Carlo Daniels
Regie: Kanya Viljoen
Teks: Kanya Viljoen
Ontwerper: Kanya Viljoen
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 21 November 15:30
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

Van jongs af is Jessie oortuig die maan is ’n plek van misterie en verwondering. En dít, glo hy, is die plek waar hy eintlik móét woon. Jessie se pa, AB, weet egter van sy seun se geboortedag af dat die kind swaar gaan dra aan dié droom. En keer op keer, sy lewe lank, moet hy sy kind aan die maan afstaan.

Kanya Viljoen is besig met ’n meestersgraad in Teaterkunde en het al ’n string toekennings ontvang.

Kaap

Met Lee-Ann van Rooi en Faith Kinniar
Teks: Dianne Albertze
Venue: kykNET Atlantic Studios
Geen o/16 T
Datum en tyd: 21 November 19:00
Tydsduur: 60 min

Prys: R50

Geen heilige koeie word in Kaap ontsien nie: ’n Skrywer wort Kaap toe gestuu’ deur die Vrye Burgers Fees omme Cape Coloured storie te vitel. Sy storie ve’vleg met Angel, ’n voo’malige Voëlvry groupie en Faatiem, ’n charming moeilikgeitmaker. ’n Gevaa’like magspieletjie ontstaan wannee’ Faatiem en die skrywer in love raak. Kyk uit vir die Kaapse klopse, Kewpie en 'Skipskop' innie storie.

Dianne Albertze is ’n boorling van Namakwaland en het ’n Fleur du Cap-nominasie as mees belowende student op haar kerfstok.

Miela’s Box

Met Zenobia Kloppers, Gary Naidoo en Liandé Valentyn
Regie: Rafiek Mammon
Teks: Tasneem Daniels
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 22 November 15:30
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

Daar is drama in die huishouding van die Hendrickses van Woodstock. Miela, Salie en sy swanger vrou Baby stry oor wie die familiehuis moet erf. Baby en Salie het planne om die huis op te knap vir hul nageslag, maar Miela, die eintlike eienaar, klou vas aan nostalgiese herinneringe. ’n Eg Kaapse drama wat feesgangers sal meevoer.

Tasneem Daniels is ’n dramaturg, onderwyser en erfenisnavorser.

Slim mense

Met Charlene Le Roux, Stephren Saayman en Elmarie Johnson
Regie: Mercy Kannemeyer
Teks: Keanen Engel
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 22 November 19:00
Tydsduur: 60 min
Prys: R50

Cathy, die gelowige matriarg van ’n Overbergse familie, se wêreld stort stelselmatig in duie nadat sy met die bonatuurlike behep raak. Die effek wat trauma, geloof en die verlede op mense het, staan sentraal in Engel se stuk. Slim mense verken die situasie van weerloses wat nie die vermoë het om na hulleself om te sien nie.

Keanen Engel kom van Bredasdorp en het ’n honneursgraad in Drama- en Teaterstudie.

Persvrystelling: Suidoosterfees-inryteater

Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top