Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

  • 0
Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees

Die Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers bederf boekwurms op 13 en 14 November met ’n uitstekende skrywersprogram. Die jaarlikse Jakes Gerwel-gesprekke word gratis by kykNET Atlantic Studios aangebied, en spog met gunstelinge soos Deon Meyer, Antjie Krog, Diana Ferrus, Dana Snyman en Ryan Pedro.

Deon Meyer praat met Elna van der Merwe oor sy nuwe trefferboek, Donkerdrif, en Dana Snyman gesels met Erns Grundlingh oor sy 100 gunstelingstories wat in die bundel Onder een dak opgeneem is. Nuwe lig word gewerp op die verhaal agter Nelson Mandela se vrylating tydens ’n gesprek tussen Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert. Vir die boek Prisoner 913 het skrywers Riaan de Villiers en Jan-Ad Stemmet in voorheen geheime rekords oor die oudpresident gedelf.

Ivor Swartz se aangrypende verhaal, Die verlore seun vannie Gaatjie, kom onder bespreking wanneer die skrywer deur Frazer Barry uitgevra word. In Vers & vrou kom van Afrikaans se gewildste digters byeen om te gesels en voor te lees. Digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus, Shirmoney Rhode en Truise Prinsloo word deur die uitgewer Nèlleke de Jager oor die bloemlesing Vers & vrou gepols. Ryan Pedro, wie se debuutbundel Pienk ceramic-hondjies groot opspraak verwek, is ook aan die woord.

Die jongspan sal gaande wees oor Rafiek Mammon se Faizel en die sterre. Dié hartroerende verhaal gaan oor ’n seuntjie wat sy pa en die lewe met moeite in die oë kyk omdat hy “anders” is.

In Grendeltyd in woorde deel Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going menings oor die gewraakte Covid-19-virus wat die hele wêreld op sy kop gedraai het. Hulle boek Lockdown Collection kyk na die emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie wat soos ’n veldbrand versprei.

Willem Anker, wat onlangs op die langlys van die gesogte Bookerprys was, kom praat oor sy jongste roman, Skepsel. Tertius Kapp vra Anker uit oor die boek wat deur kritici hoog aangeprys word. SJ Naudé beskryf Anker se boek as “’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer.”

Kom ervaar Afrikaans se voorste skrywers by die Suidoosterfees en verruim jou perspektief op die wêreld.

Alle gesprekke is gratis, maar sitplekke is beperk.

Om teleurstelling te voorkom, bespreek nou by [email protected]

Lees die PDF-weergawe van die program hier.
Program:

Donkerdrif
Met Deon Meyer en Elna van der Merwe
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Iemand skiet vir adjudant-offisier Milo April by die Kaapse Waterfront. Koelbloedig, helder oordag. Is ’n senior SAPD-offisier daarvoor verantwoordelik? En hou dit verband met geheimsinnige briewe wat die geskorste Valke-speurders Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het? As jy Griessel en Cupido is, doen jy wat jy moet. Kom luister hoe gesels Deon Meyer oor sy jongste trefferboek. 

Onder een dak
Met Dana Snyman en Laetitia Pople
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Die geliefde skrywer Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories in ’n buksie van ’n bundel, net betyds vir Kersfees – van ou familiestories, reisverhale uit Dana se Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk. Dana laat jou met nuwe oë na gebeure en mense om jou kyk. 

Nelson Mandela – Die storie agter gevangene 913 se vrylating
Met Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Die onvertelde verhaal agter die vrylating van Nelson Mandela, soos geopenbaar in voorheen geheime rekords. Kobie Coetsee, destydse minister van justisie, het obsessief ’n geheime argief op “Prisonier 913” gehou, waaruit die skrywers – ’n historikus en ’n joernalis – hierdie verhaal kon put. Hier is geskiedenis soos dit werklik gebeur het, in teenstelling met hoe dit tot nou toe uitgebeeld is, selfs in geskrifte deur Mandela self. ’n Fassinerende gesprek. 

Die verlore seun vannie Gaatjie
Met Ivor Swartz en Frazer Barry
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 14:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

“Gaatjie-kinders word mos nie gekies nie.” Ivor Swartz kom van die Gaatjie in Grabouw, ’n plek sonder hoop. Sy pa is vroeg dood en sy ma maak hom en sy sibbe alleen groot. Hulle oudste broer, hul selfaangestelde “oppasser”, terroriseer die gesin. Een aand besluit Ivor hy kan net nie meer nie. Hy en sy vriend neem ’n vreeslike besluit wat sy lewe ingrypend verander. Dié aangrypende verhaal, eerlik vertel deur Ivor self, sal jou aan die hart ruk en verwonderd laat. 

Vers & vrou
Met Diana Ferrus, Shirmoney Rhode, Antjie Krog, Truise Prinsloo en Nèlleke de Jager
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 13 November 16:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis 

Vers & Vrou is ’n versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef. Dit gaan oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. Kom luister hoe van hierdie digters uit hul werke voorlees en daaroor gesels. 

Faizel en die sterre
Met Rafiek Mammon en Diaan Lawrenson
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 10:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Faizel wou nog altyd net skitter, soos die sterre waaroor hy so dol is. Dis die dag voor sy vyfde verjaarsdag. Vir hom is dit ’n gewone dag. Hy speel pop met sy ouer suster, Fatima, en help met graagte sy ma, Shamiela, met die wasgoed. Maar wat van sy norse pa wat altyd iets te sê het omdat Faizel “so” is? En wat presies bedoel sy pa met die woord “so”? Wat is in die toegedraaide geskenk waarmee sy ouers hom die volgende oggend, op sy verjaarsdag, verras? En wat van sy toekoms? Sal sy droom waar word om te skitter soos ’n ster? 

Pienk ceramic-hondjies
Met Ryan Pedro en Alfred Schaffer
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 11:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf. 

Grendeltyd in woorde
Met Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 13:00
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

In Lockdown Collection deel verskeie skrywers hulle menings oor die gewraakte Covid-19-virus wat die hele wêreld op sy kop gedraai het. Dié historiese boek kyk na die emosionele, spirituele en selfs humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie wat soos ’n veldbrand versprei.

Skepsel
Met Willem Anker en Tertius Kapp
Venue: kykNET Atlantic Studios
Datum en tyd: 14 November 14:30
Tydsduur: 60 min
Prys: Gratis

Skepsel is ’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer.” So skryf SJ Naude oor die multibekroonde skrywer, Willem Anker, se nuutste roman. Kom luister hoe Anker – wat onlangs ook op die langlys vir die International Booker-prys was – gesels oor Skepsel met sy interessante vertakkings.

Special treat for booklovers at Suidoosterfees

The Suidoosterfees, the Jakes Gerwel Foundation and NB Publishers will treat booklovers on 13 and 14 November with an array of excellent authors discussing and reading from their work. No entry is charged for the annual Jakes Gerwel discussions at the festival, which will be held at kykNET Atlantic Studios. South African favourites like Deon Meyer, Antjie Krog, Diana Ferrus, Dana Snyman and Ryan Pedro will be present.

Deon Meyer will be in conversation with Elna van der Merwe about his latest nail-biter, Donkerdrif, and Dana Snyman will tell Erns Grundling all about his 100 favourite stories collected in the volume, Onder een dak. During a conversation with Jan-Jan Joubert, Riaan de Villiers will shed new light on the story behind Nelson Mandela’s release. They will discuss De Villiers and Jan-Ad Stemmet’s Prisoner 913, for which the authors had access to official documents released only recently.

Some of the most popular Afrikaans poets will read from the collection Vers & vrou. Antjie Krog, Diana Ferrus, Shirmoney Rhode and Truise Prinsloo will be intervieved by publisher Nèlleke de Jager about the anthology. Ivor Swartz will talk to Frazer Barry about his gripping tale, Die verlore seun vannie Gaatjie. Ryan Pedro, whose poetry debut, Pienk ceramic-hondjies, is causing a stir amongst booklovers, is also on the programme.

Rafiek Mammon’s Faizel en die sterre, a moving story about a boy facing challenges because he is “different”, will appeal to young book enthusiasts.

In Grendeltyd in woorde, Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer and Tracy Going will share their impressions about Covid-19 that has turned the world upside down. Their book Lockdown Collection explores the emotional, spiritual and even humorous aspects of the dreaded pandemic that keeps spreading like wildfire.

Willem Anker, recently longlisted for the prestigious international Booker Prize, will be in conversation about his latest novel Skepsel. Tertius Kapp will probe Anker about the book which is enjoying high praise from critics. SJ Naudé described Skepsel as “a novel that will bother, amaze, disturb and teach readers about strange things.”

This year Suidoosterfees authors will undoubtedly broaden your perspective on the world.

Entry to the discussions are free, but seating is limited.

To avoid disappointment, book now at [email protected]. For the full programme, visit www.suidoosterfees.co.za.

Read the PDF-version of the programme here.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top