Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Saartjie Botha

  • 0

Foto van Saartjie Botha: Johan Kotze

Saartjie Botha praat met Naomi Meyer oor vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees. Vanjaar se feestema is "deel".

Saartjie, een van die dae is dit weer Woordfees in die lente. Wil jy iets omtrent die feestema ... deel?

Die Woordfees word vanjaar vir die 25ste keer aangebied. Ons wou ’n tema hê wat ’n viering is, en hoe meer ons daaroor gedink het, hoe duideliker het dit geword dat viering nooit behoorlik in isolasie kan gebeur nie. Dat sosiale media verdere dimensie aan die aksie van deel gee, is ’n lekker bonus.

"Deel" is ’n woord met so baie betekenisse. Mense kan ’n liefde vir die kuns deel. Mense deel ervarings op sosiale media. Mens kan ’n groot geheel in verskillende dele verdeel. Mens kan uitdeel, mens kan deel met andere wat nie gewoonlik iets het nie. Mens kan te veel deel (oversharing ...). Wat beteken "deel" vir jou?

........
Die een groot voor-“deel” van ’n kunstefees is die gedeelde ervaring van uiteenlopende gehoorlede. By ’n tradisionele teater of konsertsaal is daar dikwels homogene gehore, of dan gehore wat mekaar mettertyd leer ken. By ’n fees werk dit heeltemal anders. My nommer 1-"deel" is ’n gedeelde ervaring met mense wat kultuur waardeer en ag.
........

Die een groot voor-“deel” van ’n kunstefees is die gedeelde ervaring van uiteenlopende gehoorlede. By ’n tradisionele teater of konsertsaal is daar dikwels homogene gehore, of dan gehore wat mekaar mettertyd leer ken. By ’n fees werk dit heeltemal anders. My nommer 1-"deel" is ’n gedeelde ervaring met mense wat kultuur waardeer en ag. Ons deel wel uit – gratis feesgidse en ’n volgepakte diskoersprogram – alles mahala. Ook heelwat gratis films. Ons het ’n projek waar jy onbenutte kaartjies deel met feesgangers, veral leerders en studente, wat nie noodwendig kaartjies kan bekostig nie. Daar is oversharing op die skrywersprogram, groot sosiale-media-veldtogte, en ons gaan natuurlik almal vra om tydens die fees wild en wakker te deel.

Retoriese vraag. Hoe baie deel kunstenaars, skrywers, akteurs en ander skeppendes na buite – en hoe ruimhartig om die kuns met die gehoor te deel? As jy aan vanjaar se program dink, en jy kan enkele produksies in die verskillende afdelings op die program uitsonder – produksies waar die skeppers/kunstenaars/akteurs/musikante hulle siele blootlê: wat sal dit wees?

Kunstenaars is groot delers. Nie net van hulleself nie, maar ook van kollektiewe ervaring wat artistiek verpak word. Ons het vanjaar ’n besondere fokus op werke met ’n letterkundige inslag. Daar is beslis baie van Danie Marais in Ek is nie Danie. ’n Ander prominente tema is die Noord-Kaap. Lynthia Julies deel van haar familiegeskiedenis en herkoms in Kinderlê, en Dianne Du Toit Albertze deel ook ’n persoonlike verbintenis en waarneming van Noord-Kaap in Huis van sand, wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys vir 2025. Ook in die dansproduksie Gat deur die Garage Dance Ensemble van Opkiep kry ons ’n blik op ’n deurleefde Noord-Kaapse ervaring. Daar is ook Kompoun, geïnspireer deur Ronelda Kamfer se eie grootwordjare. Athol Fugard het Boesman en Lena geskryf na ’n gesprek met ’n ontheemde vrou wat hy jare gelede langs die pad opgelaai het. Nico Scheepers het Dana Snyman se weermagwedervaringe in Seun gestalte gegee. Karen Zoid deel ’n persoonlike belewing in Zoid Psalms; so ook is Jolyn Phillips se huldiging van Sathima Africa baie persoonlik. Valiant Swart se oorspronklike band, met die uitsondering van Vernon Swart, kom bymekaar om die legendariese Deur die donker vallei-album te herdenk. Janine Neethling gebruik kunstenaars, oa Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Lynelle Kenned, se musiek wat rigtinggewend in hulle lewens en loopbane was, in die produksie Een deel dit, een deel dat. En so kan ek aangaan.

Enige praktiese kwessies waarvan mense moet kennis neem as hulle Stellenbosch toe kom? Parkeerplek, kaartjieverkope, venues wat dalk geskuif het, pendeldienste, spys en drank? Is daar iets wat anders is vanjaar, of iets wat jy wil uitlig, ook al het dit in die verlede op ’n sekere manier gewerk?

Stellenbosch is ’n ou dorp met min parkering. Selfs al is die geluksgodin gewoonlik aan jou kant, is die kans beter dat jy die Lotto gaan wen as wat jy ’n parkeerplek gaan kry. Gebruik gerus die Toyota-pendendiens en ontspan. Laat genoeg tyd om tussen venues te beweeg. Veral die venues in die middedorp is stapafstand – trek gemaklike skoene aan. Bring iets warms saam vir buitelugvertonings. Woordfees is kontantloos – maak dus seker jou bankkaart is in jou sak, of jou selfoon is gelaai. Kaartjies is aanlyn by Quicket (www.quicket.co.za) beskikbaar, asook by die Quicket-verkooppunt in die Woordfees-kaartjieskantoor in die Erfurthuis by Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Die kaartjieskantoor se handelsure is van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00. Gedurende die fees is dié kantoor daagliks van 08:00 tot 19:00 oop. As kaartjies vir ’n vertoning nie uitverkoop is nie, is dit teen ’n effens hoër prys by die deur beskikbaar. Beplan en bespreek dus vroegtydig en bespaar. Put die meeste uit die fees deur ons webwerf, sosiale media en WhatsApp-kanaal dop te hou vir aanbevelings, programveranderings en uitverkopings.

Die feeskern in die middedorp lyk vanjaar ’n bietjie anders as gewoonlik.

Die EasyEquities Skrywerskamer (en -fees) word vanjaar gehuisves in Die Khaya reg langs die Kruiskerk in Ryneveldstraat. Die Khaya-kafee (die parkeerterrein voor Die Khaya) huisves vanjaar die Exclusive Books Boekwinkel. Daar is ook ’n gesellige restaurant met koffie en heerlike eetgoed. Ons Diskoersprogram, wat die Netwerk24-gespreksreeks insluit, vind hoofsaaklik in die Netwerk24 Diskoerstent agter die US Museum plaas. Die Netwerk24 Feeskafee is ook vanjaar hier. RSG saai uit vanaf die RSG/ATKV-vierkant agter die US Museum. Science Café en Studentediskoers vind in die US Konservatorium se amfiteater plaas. Afterpaartie is Maandag- tot Vrydagaand om 22:00 in Die Khaya-kafee. Maak seker dis jou laaste stop.

Die kunste moet voortgaan, the show must go on. Elke jaar wonder mens of die Woordfees weer so suksesvol sal kan wees soos die vorige jaar. En elke jaar is daar so baie om daaroor te sê, te beleef en te deel. Hoe doen julle dit? Wat is die Woordfees se geheim om aan te hou, om te kyk na voorheen en na die toekoms, en tred te hou met vandag? Deel ’n paar geheime uit die Woordfeeskantoor.

Wat my betref, hang die sukses van ’n fees baie daarvan af of die fees lojale feesgangers steeds kan verras. ’n Fees kan nie elke jaar dieselfde wees nie. Programsamestelling is wonderlike lokaas om feesgangers terug te lok.

........
Ons kan net die fees aanbied omdat kunstenaars bereid is om te deel en die Stellenbosse gemeenskap feesgangers jaarliks met soveel opregte Bolandse gasvryheid ontvang.
........

Ons kan net die fees aanbied omdat kunstenaars bereid is om te deel en die Stellenbosse gemeenskap feesgangers jaarliks met soveel opregte Bolandse gasvryheid ontvang.

Lees ook:

Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 – Literatuur is steeds die hart

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en die EasyEquities-skrywersfees: ’n onderhoud met Bibi Slippers

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top