Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 – Literatuur is steeds die hart

  • 0

Die program vir die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees is omvangryk met nagenoeg 400 items in 12 genres. 

Kaartjieverkope het gister geopen en elke jaar kry ons die vraag: “Wat moet ek gaan kyk?” Elke persoon is egter uniek, met eie belangstellings en voorkeure. Daarom gaan ons elke week op ’n ander deel van die program fokus en ’n paar temas uitlig wat jou dalk met jou keuses kan help. 

“Die fees het rondom boeke ontstaan en literatuur is aan die hart van die fees,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees. 

Die bekroonde digter Bibi Slippers het ’n eklektiese program vir die EasyEquities Skrywersfees saamgestel. Die fees spog vanjaar vir die eerste keer met twee feesdigters. Antjie Krog en Siphokazi Jonas deel vanjaar hierdie posisie van feesdigter.

Nog ’n nuweigheid is die Dag van poësie. Digters van Suid-Afrika, Kanada, Peru en Vlaandere kom byeen om digkuns te lees, te bespreek en uit te voer. ’n Dagkaartjie gee jou toegang tot al die voorlesings en besprekings. Daar is ook vir die eerste keer ’n Geskiedenisdag waarin historiese boeke gevier word. Die Skrywersprogram is propvol besprekings, partytjies, voorlesings, samekomste en gesprekke. Feesgangers gaan selfs in stilte sit en saam lees en skryf. Soggens is daar ’n oggendkoffie saam met jou gunstelingskrywers en saans ’n glas wyn in die gewilde Boekklub-reeks. 

Fiksie, niefiksie, digkuns, paneelbesprekings, leefstylboeke, partytjies en deelname aan allerlei aktiwiteite is vir jou beplan. Bespreek en kom net. 

“Met ons 25ste verjaardag is dit dan juis ook gepas dat daar in baie van die genres ’n sterk literêre aanslag is,” se Saartjie. “Dis nie net van toepassing op die EasyEquities Skrywersprogram nie – daar is ook ’n sterk literêre inslag op die Spier Toneel- en Klassieke musiekprogramme.”

Breyten Breytenbach se toneelstuk Boklied word ná 28 jaar by die Woordfees aangebied met Marthinus Basson as regisseur. Ander sterk literêre skatte sluit in Lynthia Julius se verdere uitbreiding van haar digbundel Kinderlê en die verwerking van Ronelda Kamfer se bekroonde roman, Kompoun. Chris van Niekerk en Joanie Combrink gee lewe aan die enigmatiese digter Peter Blum in Hortjies dig: Die storie van die digter Peter Blum. In Die siel van Eugène Marais verken Daniel Anderson die lewensreis van dié veelsydige en veelvlakkige skrywer. Albert Pretorius is te sien in Ek is nie Danie, ’n verwerking van Danie Marais se poësie, terwyl Sandra Prinsloo die Nobel-prysbekroonde Annie Ernaux se Die ander dogter, lewe gee op die verhoog.

Athol Fugard word gehuldig deur ’n aanbieding van die ikoniese Boesman en Lena met Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Wiseman Sithole in die rolverdeling en Christo Davids is die regisseur. Twee wenners van die Reinet Nagtegaal-teksprys is op die program ingesluit: Dianne du Toit Albertze se wendrama, Huis van sand met Tinarie van Wyk Loots, en die naaswenner André Gerber se satire Die kabinet. Die Woordfees bedank Dirk Nagtegaal vir die herlewing van die Reinet Nagtegaal-teksprys.

Ons hou almal van ’n lysie

Benewens die volledige EasyEquities Skrywersprogram, is hier ’n lys van die produksies met ’n sterk literêre inslag. Hou dit byderhand wanneer jy jou shows bespreek.

Teater met sterk literêre meriete:

Boklied – Breyten Breytenbach
Boesman en Lena – Athol Fugard
Bridling – Nadia Davids
Die ander dogter – Annie Ernaux
Die kabinet – André Gerber
Die siel van Eugène Marais
Ek is nie Danie – Danie Marais
Hortjies dig: Die storie van die digter Peter Blum
Huis van sand – Dianne du Toit Albertze
In die naam van vrede – Diana Ferrus
Kinderlê – Lynthia Julius
Kompoun – Ronelda Kamfer
Moedswil en muitery – Ingrid Winterbach
My naam is Lucy Barton – Rona Munro
Seun – Dana Snyman
The Fugue of Tjebolang – Mandla Mbothwe

Kontemporêre musiek:

High school poetry slam
Omwentelinge
Ontaard – Pieter Odendaal
Taalgenoot-Ruk en Rym-finaal

Klassieke musiek:

Afrikaans 100
Die deurstraalde woord
Songs of love and solitude

Kinderfees:
Die woordedief

Dans:
GAT

Die volledige feesprogram kan hier afgelaai word. Bespreek by Quicket of by die Woordfees se kaartjiekantoor in die Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top