Commendatio: Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2025

  • 1

Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2025
Wenner: Danie Marais vir ek en jy bestaan nie (Tafelberg)
Commendatio: Ryan Pedro 

ek en jy bestaan nie is ’n hoogtepunt in Danie Marais se oeuvre. Dis ’n gesofistikeerde en moderne bundel; een waarin die spoke waarmee hy so gereeld stoei al hoe moeër raak; en dis ’n bundel waardeur een van my gunsteling- moderne sêgoed eggo: “The call is coming from inside the house” – ’n pittige brainrot-adjacent colloquialism wat sy oorsprong in Wes Craven-tipe slasher-flieks het. Dié’s waarin die mooi meisie alleen by die huis is wanneer sy ’n oproep ontvang van die moordenaar af. “Are you home alone?”; “What’s your favourite scary movie?”; “Do you want to die tonight?” Hierdie is die vrae wat die moordenaar vir sy prooi vra wanneer hy rééds in die huis is, tien teen een in ’n hangkas iewers, of agter die stortgordyn, of onder die bed …

“The call is coming from inside the house” – die een wat jou einde gaan beteken, wat jou wêreld, soos jy dit ken, uitmekaar uit gaan skeur. So terwyl die spreker in hierdie bundel na homself verwys as ’n “ou vampier”, ’n “sentimentele roofdier”, wil ek graag ’n ekstra een in die smeltkroes gooi: die self-aware slasher. Die een wat in die huise van tradisie en bevoorregting, in die suburbs van hiërargie en oorvloed, rondhol met woorde soos vlymskerp messe.

“The call is coming from inside the house”, en dit klink so:
Deesdae is ek diep onder die indruk daarvan
dat ek vir mense soos ek skryf
mense wie se dae getel behoort te wees
[…]
sentimentele roofdiere
skandalig goed beloon

Hierdie versreëls som die etos van die bundel en die digter heel goed op, deurdat dit illustreer hoe die hegemoniese magsposisie ontleed en gekritiseer word deur ’n individu wat toegang het tot die sosiale, politieke en ekonomiese voordele wat die hegemonie bied. In ek en jy bestaan nie kry die leser plekke in die voorste ry vir ’n toutrekwedstryd tussen die hegemoniese subjek en die marginale ander. En omdat dit duidelik is wie die wenner gaan wees, plaas Marais eerder die fokus op die tou sélf, en vra vrae soos: 1) hoekom is daar stééds so baie afstand tussen ons?; 2) hoekom is daar stééds so baie spanning tussen ons?; en 3) hoekom staan ek, as ’n wit man, stééds met so baie tou in my hande?

In ek en jy bestaan nie word broodnodige introspeksie en enorme eksistensiële vraagstukke verpak in poësie wat bedrieglik eenvoudig oorkom. Terwyl Marais nie te veel steun op geykte literêre praktyke nie, en terwyl hy deurgaans gebruik maak van nie-literêre intertekste, loop hierdie bundel stééds oor van die literêre meriete. Die digter se meesterlike handhawing van ritme en struktuur in die kortste én die langste van sy praatverse is indrukwekkend. Een van my kollegas lê in hul keurverslag klem op Marais se uitstekende gebruik van die “turn of phrase” wat beide verrassend én vanselfsprekend voorkom. Asof die filosofiese ontknopings en eksistensiële mymeringe wat daarin geslote lê, iewers, vóór die bundel, in klip uitgekap was.

ek en jy bestaan nie bevat genuanseerde verse wat ontbloot en ontstook, geskryf met ’n soortgelyke sosiale bewustheid, politieke betrokkenheid, en selfspot van die digter na wie hierdie prys vernoem is, en wat dit ook vorentoe dryf tot in verrassende ruimtes.

Al die bogenoemde punte – die akademiese, die literêre – is die soort goed wat mens van ‘n commendatio verwag. Maar noudat dit gesê is, wil ek afsluit met ’n laaste paar woorde van ’n aanhanger:

In hierdie bundel is die horrors van suburbia op full display. En terwyl ek góéd weet waar al die jumpscares is, kon ek steeds nie ophou kyk nie. Dis unsettling, maar exciting. Brash, maar tóg só stylish en elegant. Hierdie is, vir mý, jou coolste, most punk-rock boek to date.

So daarmee dan, die eerste, en welverdiende wenner van die Breyten Breytenbach prys vir 2025: Danie Marais.

’n Hartlike geluk.

 Lees ook:

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top