Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

  • 0

In ’n aand vol opwindende eerstes vir Afrikaanse boeke is Nathan Trantraal en sy ma, Charmaine Africa, Saterdagaand albei vereer met Netwerk24 kykNET Rapport-pryse.

Trantraal het die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke ontvang vir sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang, terwyl Africa vanjaar se niefiksieprys wen met haar memoir Amma. Trantraal se vrou, Ronelda Kamfer, het in 2022 ook die Jan Rabie-Rapportprys gewen vir haar roman, Kompoun.

Trantraal en Africa is twee van die sewe pryswenners wat Saterdagaand 27 September 2025 op ’n glansfunksie by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad bekroon is vir skryfwerk wat gedurende 2024 verskyn het. Altesaam vyf boekpryse en twee resensiepryse met ’n totale prysgeld van R1,4 miljoen was op die spel.

Die hooffiksieprys is gewen deur Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop, terwyl Danie Marais die eerste Breyten Breytenbach-prys vir digkuns ontvang het vir sy bundel Ek en jy bestaan nie. Die werk met die meeste filmpotensiaal was PJO Jonker se debuutroman Die Onsigbare.

kykNET het reeds die regte bekom om Die Onsigbare as rolprentteks te ontwikkel – nog ’n eerste vir hierdie boekpryse wat vanjaar vir die twaalfde keer toegeken is.

Die beoordelaars vir die fiksieprys sê Onrus op Steynshoop is nie net die hoogtepunt van 2024 se fiksie nie, maar ook ’n hoogtepunt in Winterbach, ’n tweemalige Hertzogpryswenner, se oeuvre.

“Dit is die soort roman wat diepgewortel Afrikaans is (en soveel registers en moontlikhede van Afrikaans ontgin, ook die jargon van sielkunde en literêre teorie, van filosofie en selfhelp-retoriek, die taal van auras en chakras en dekonstruksie), maar wat nieteenstaande, of juis danksy, dié Afrikaansheid maklik kan saamgesels met die pryswenners in ander tale van reg oor die wêreld.”

Onrus op Steynshoop, wat deur Human & Rousseau uitgegee is, is ook reeds met die UJ-prys vir Afrikaans en die ATKV-prosaprys bekroon.

Saam met Winterbach op die kortlys was Jaco Fouché met Die katartiese metode (Protea Boekhuis) en Gaireyah Fredericks met Een voet innie kabr (Kwela). 

By niefiksie het die beoordelaars Amma deur Charmaine Africa beskryf as “een van daardie seldsame tekste wat ’n wêreld vir jou oopskryf”. Hulle sê ook: “Charmaine Africa oorrompel en ontwapen jou. Die ritme en tempo van haar sinne suig jou na binne en draai jou vas in die maalkolk van Bishop Lavis en die Kaapse vlakte; apartheid se menslike stortingsterrein ... Geen ander skrywer sou dieselfde kon doen nie, geen ander taal as Kaaps sou hierdie verhaal kon vertel nie.”

Africa het pas ook die ATKV-prys vir niefiksie ontvang vir Amma, wat by Tafelberg verskyn het.

Haar medebenoemdes was Albert Blake vir Jopie Fourie: ’n Besinning (Protea Boekhuis) en TJ Strydom vir Capitec: Stryd met die grotes (ook Tafelberg).

’n Baie besonderse oomblik was die oorhandiging van die nuwe Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, wat ingestel is om die nalatenskap van dié geliefde digter te vier.

Die beoordelaars sê Danie Marais is ’n welverdiende wenner van dié prys met Ek en jy bestaan nie. “In dié bundel word broodnodige introspeksie en enorme eksistensiële vraagstukke verpak in poësie wat bedrieglik eenvoudig oorkom. Dit bevat genuanseerde verse wat ontbloot en ontstook, geskryf met ’n soortgelyke sosiale bewustheid, politieke betrokkenheid en selfspot van die digter na wie hierdie prys vernoem is, en wat dit ook vorentoe dryf tot in verrassende ruimtes.”

Ek en jy bestaan nie is deur Tafelberg uitgegee. Die ander digbundels op die kortlys was Kinderlê deur Lynthia Julius (Queillerie) en Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé (Human & Rousseau).

In die kategorie vir debuut- en tweede prosawerke is daar vanjaar geskiedenis gemaak met die toekenning van die Jan Rabie-Rapportprys aan Nathan Trantraal vir sy grensverskuiwende grafiese roman Die man wattie kinnes vang, wat by Kwela verskyn het. Dit is die eerste sodanige bekroning van ’n grafiese roman in Afrikaans.

Volgens die beoordelaars word die omvang en kwaliteit van TrantraaI se kunstenaarskap hier tot nuwe hoogtes gedryf. “Dit is ’n werk wat getuig van narratiewe kompleksiteit, meesterskap van visuele én literêre verteltegnieke, en besondere toewyding ... Die potensiaal om die visuele elemente te gebruik vir verdieping en om addisionele lae betekenis te skep, word ten volle deur Trantraal ontgin.”

Die ander boeke op die Jan Rabie-Rapport-kortlys was Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks en Die Onsigbare deur PJO Jonker.

Oor die wenner van die filmprys sê die beoordelaarspaneel dat die veelvoud unieke karakters in PJO Jonker se roman Die Onsigbare aan ’n rolprentregisseur ’n merkwaardige kans gee om ensemble-spel te verfyn. “Jada, met sy innerlike worstelinge en sy strewe na betekenis, is n protagonis met diepte en kompleksiteit. Daarby skep sy dinamiese verhouding met Katryn, wat hy uit die stad probeer red, sowel as met Anys, sy lojale bondgenoot, dramatiese en emosionele hoogtepunte waarvan ’n akteur maar net kan droom.”

Die Onsigbare het by Tafelberg verskyn. Die ander benoemdes vir die filmprys was Die katartiese metode deur Jaco Fouché (Protea Boekhuis) en Onder water deur Henda Olivier (Human & Rousseau).

Resensies

Vanjaar se wenners van die Netwerk24 kykNET Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is:

  • Fiksie: Paul Kammies: “Nathan Trantraal se graphic novel oo hoe Bruin seuns ’n wound asse gift gegie is” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Klyntji, 15 Julie 2024.
  • Niefiksie: Willie Burger: “Daar is nie iets soos ’n ‘mooi dood’ nie” oor Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus in Plus 50, Junie/Julie 2024.

Die individuele prysgeld beloop R350 000 elk vir die roman- en niefiksieprys onderskeidelik, R200 000 elk vir die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, die Herman Binge-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R50 000 elk vir die resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik.

Die beoordelaarspanele was: Fiksie: Willie Burger, Ena Jansen, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; Niefiksie: Jean Meiring, Lindie Koorts, Kerneels Breytenbach en Kirby van der Merwe; Breyten Breytenbach-prys: Johan Myburg, Bibi Slippers, Andries Visagie en Ryan Pedro; Herman Binge-prys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys: Jolyn Phillips, Francois Smith en Bibi Slippers; Boekresensent van die Jaar: Bibi Slippers, Azille Coetzee en Kirby van der Merwe.

Lees ook:

Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

Ek en jy bestaan nie: ’n onderhoud met Danie Marais

Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal

Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Persverklaring: Lof vir woordmeesters

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top