Titel: Onrus op Steynshoop
Skrywer: Ingrid Winterbach
Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184731
’n Mens kan nie anders nie: As jy Onrus op Steynshoop begin lees, word jy ingetrek, betower, gemesmeraais. Ek gee nie om wat mense van Winterbach se romans sê of wat ek al self tevore daaroor geskryf het nie, daar is iets aan haar jongste roman wat ’n mens tot aan die einde boei, wat jou laat wens die boek hou aan en aan, wat jou laat voel asof jy deurentyd op die randjie van ’n verhelderende insig is, dat jy iets groots gaan ontdek.
Maar daardie ontdekking word nie in ’n helder oomblik as ’n idee aan jou gegee nie. Dan sou dit immers nie ’n goeie roman gewees het nie. Soos met die meeste groot kunswerke is dit eerder ’n gewaarwording dat jy in die omgewing van iets groots is wat veel meer as ’n verwoordbare insig is. (Oor hierdie gewaarwording later meer.) Jy maak die boek toe met die wete dat jy iets belangriks belééf het, iets baie betekenisvol wat moeilik verduidelik kan word.
.........
Soos met die meeste groot kunswerke is dit eerder ’n gewaarwording dat jy in die omgewing van iets groots is wat veel meer as ’n verwoordbare insig is.
........
Dit is die taak van literatuurkritiek om onder meer hierdie “iets baie betekenisvol” van daardie belewenis wat so onverwoordbaar is, tóg onder woorde te probeer kry en om sommige implikasies daarvan in die huidige situasie te bedink. Dit sal altyd ’n voorlopige poging wees. Veral in ’n resensie soos hierdie, wat ’n haastige reaksie op ’n eerste lees van ’n boek is. Die uitdaging is om vas te stel hoe Winterbach dit regkry om ’n mens so te betower. Hoekom is hierdie roman (soos trouens ook talle van haar ander romans) so “vreemd”, so snaaks, so vervreemdend – en tóg ook so bekend en so roerend?
Wanneer mense oor hul leeservarings praat, is hul eerste reaksie dikwels ’n emosionele een: Die roman het my betower, dit het my laat huil, laat lag, woedend gemaak, koud gelaat (of soos ek hier bo in die eerste sin geskryf het – dit het my gemesmeraais). So ’n emosionele reaksie van lesers hang dikwels saam met ’n belydenis van hoedat hulle met een of meer van die karakters kon identifiseer. (Nie in my geval met Onrus op Steynshoop nie!)
Die emosionele eerste reaksie word dikwels gevolg deur ’n tweede reaksie: om “die storie” op te som. Hieragter lê die aanname dat ’n roman ’n storie vertel – wat natuurlik nie sonder meer vir alle romans geld nie. Maar die poging behels meestal ’n beskrywing van hoe die verhaal ’n mens intrek, hoe spannend die verhaal is, hoeveel verrassende wendings daar was, en hoedat dit jou uiteindelik heeltemal uitgeboul het. Maar dit moet jy natuurlik met omsigtigheid doen as jy nie die storie wil verklap en sodoende die pret vir ander lesers bederf nie.
Die derde reaksie is dikwels om te beskryf waaraan die roman jou alles laat dink het – hoe dit jou oor aspekte van die lewe, die liefde, die dood, die land, die politiek, die geskiedenis, aspekte van menswees laat nadink het en jou vermoedens oor enige van hierdie sake bevestig het (dikwels) of jou tot ander insigte daaroor gebring het (soms oorskat). Hierdie “insig” wat die roman gebring het, blyk dan dikwels vasvangbaar te wees in ’n gemeenplasige aforisme: “Die boek laat mens net weer besef hoe nodig dit is dat ons deernis met mekaar moet hê”; of “Dit is skrikwekkend wat mense in staat is om aan mekaar te doen”; of “Mens sien hoedat ideologie mense se lewens verwoes”; of “Die ware liefde is al wat ons teen verganklikheid het.” Hierdie soort redusering tot ’n cliché laat mens onwillekeurig wonder waarom dit dan nodig is om die hele boek te lees – het die skrywer regtig 300 bladsye nodig gehad om dít gesê te kry?
Die probleem is dat al drie hierdie reaksies saam – hoedat die roman mens laat voel, ’n oorvertel van die verhaal en ’n beskrywing van die idees – nog nie genoeg is om te laat reg geskied aan die leeservaring nie. Veral nie as mens probeer verduidelik hoedat Winterbach al hierdie dinge in woorde en ’n bepaalde vormgewing regkry nie. Die leeservaring is nog veel meer, maar dit kan dien as vertrekpunt vir ’n gesprek oor die leeservaring en die belang van die roman.
Ek gaan dus nou probeer om iets oor die verhaal te sê. Moet jou nie bekommer nie. Die een besef waartoe pogings om die “storie” van Onrus op Steynshoop te probeer vertel mens bring, is dat jy nie eintlik die storie kán oorvertel nie. Om ’n storie te vertel is immers ’n rangskikking van gebeurtenisse in chronologiese en kousale verband, met ’n begin, middel en einde, sodat elke individuele gebeurtenis betekenis kry in die lig van daardie slot waarop alles afstuur. En hierin lê al die eerste knoop met ’n poging om die “verhaal” van Onrus op Steynshoop te vertel. Daar is nie net een einde waarop alles afstuur en wat terugskouend sin gee aan alles wat vertel word nie. Tsjechof het boonop ook opgemerk dat mens nie “onnodige” dinge in jou storie moet insluit nie: As daar ’n pistool in die eerste bedryf gewys word, moet dit in die derde bedryf gebruik word.
En dit is die volgende probleem: Dit is nie so maklik om aan te toon wat die belang van elke gebeurtenis in die roman vir die “verhaal” is nie.
.........
Winterbach se vertellings oorvleuel in dieselfde plek, Steynshoop, in dieselfde tyd (die onrus), en raak mekaar, is op ’n manier vervleg, maar nie een is regtig ’n volledige losstaande verhaal nie.
.........
Die verhaal is beslis nie onoorvertelbaar omdat daar ’n gebrek aan gebeure in die roman is nie. Inteendeel, daar gebeur baie. Dit is net dat al die gebeure nie so gemaklik deur oorsaak en gevolg aan mekaar verbind kan word nie, byna asof ’n klompie lukrake gebeurtenisse uit verskillende stories saamgegooi is. Maar die verskillende verhaallyne is ook nie, soos in byvoorbeeld Anne Michaels se Held of in Olga Tokarzuk se Flights, losstaande verhaallyne uit verskillende tye en plekke wat die sentrale idee op ’n bepaalde manier belig nie. Winterbach se vertellings oorvleuel in dieselfde plek, Steynshoop, in dieselfde tyd (die onrus), en raak mekaar, is op ’n manier vervleg, maar nie een is regtig ’n volledige losstaande verhaal nie.
Enersyds vertel Onrus op Steynshoop die verhaal van ’n dorpie langs die N3 tussen Durban en Bloemfontein wat, soos talle plattelandse dorpe, ontvolk word en verval. Maar dan belê Chinese op groot skaal daarin en bou ’n geheimsinnige aanleg op die dorp wat volgens gerugte ’n dwelmmiddel vervaardig waarvan niemand regtig iets weet nie. Al meer Chinese werkers en sakemense vestig hulle op die dorp. Interessante Chinese winkels en restaurante maak oop, ’n goeie hotel en casino word onder Chinese bestuur oopgemaak, en die dorpie word ’n bedrywige toerismebestemming. Maar die inwoners van die township voel uitgesluit uit die welvaart wat in die dorpsekonomie geblaas word en van die voordele wat die korrupte dorpsraad en vooraanstaande sakelui geniet. Dit lei tot die “onrus” van die titel, onrus wat aangevuur word deur ’n groep regsgesinde boere (die geheimsinnige “Boerebond”).
Ná voorvalle van brandstigting en plundering onttrek die Chinese beleggers hulle. Die dorpsekonomie verval, die Oosterse eetplekke verdwyn, die interessante Chinese winkels word deur Somaliërs en Nigeriërs oorgeneem. Die hotel verloor sy sterre en die toeriste verdwyn; die infrastruktuur verval. So is die verhaal van Steynshoop dan die verhaal van baie dorpe in Suid-Afrika wat op minder korrupsie en meer dienslewering bly hoop.
Direk nadat ek die bostaande neergeskryf het, besef ek dat dit onbevredigend is, en misleidend, want hierdie verhaal is nie regtig waaroor die roman gaan nie. Die boeiende van die roman lê nie hierin nie. Wanneer hierdie verhaal oorvertel word, so in isolasie van die res van die gebeure, klink dit na die alledaagse clichés van (wit, bevoorregte) klagtes in sosiale media oor die agteruitgang van die land.
Maar die roman is allesbehalwe dit.
Die boeiende van hierdie verhaallyn lê in die manier waarop dit aangebied word. Dit is nie ’n verhaal wat direk deur ’n eksterne verteller meegedeel word nie. Die verhaal oor die groei en kwyn van Steynshoop, oor die onrus op die dorp, soos ek dit hier vertel het, is afgelei uit ander vertellings. Die leser beleef hierdie verwikkelings deur hoorsê en toevallige mededelings, deur skindernuus en beskrywings wat as agtergrond vir ander gebeurtenisse in ander “verhaallyne” aangebied word. Dit sluit skindernuus uit die dorpsraad in wat deur die onderburgemeester se vrou aan haar haarkapper, Benna, vertel word. Ook die skinderpraatjies wat ’n ander kliënt van die haarkapper, Marietjie Malan, aan hom vertel oor haar “dom boetie” se geheime bedrywighede in die Boerebond en haar gespog met haar buite-egtelike verhouding met die rykste Chinese sakeman wat vir haar ’n goeie woonstel gee in ruil vir die voortreflike seks wat sy hom bied. Benna kry ook skamper inligting oor wat in die Chinese gemeenskap gebeur by sy vriend Chaoxing, die seun van die ryk sakeman. Verder kry die leser inligting oor die dorp se ekonomie en onrus uit agtergrondbeskrywings van ander storielyne, soos oor die ontstaan van kunstenaarskommunes en die kunsuitstalruimte op die dorp. Een van Benna se ander kennisse, ’n argitek wat op die dorp se estetiese komitee dien, se klagtes en verduidelikings oor spesifieke geboue en ontwikkelings vertel ook indirek die dorp se verhaal. Die ekonomiese groei en kwyn van Steynshoop blyk ook byvoorbeeld uit die wyse waarop die eetplekke waar karakters in ander verhaallyne mekaar ontmoet, uitgebeeld word.
Al is hierdie verhaallyn glad nie so belangrik as wat dit nou klink in die oorvertel nie (dit maak maar ’n baie klein deel van die bladsye van die roman uit), is dit ook meer as toevallige agtergrond vir al die ander storielyne. Dit is belangrik omdat die roman daarmee kennelik ook betrokke is by die eietydse Suid-Afrikaanse gegewe, waaroor ek hier onder meer sal skryf.
........
As hierdie eerste poging om die verhaal van die roman op te som onvoldoende was omdat dit die verkeerde indruk oor die roman wek, is ’n tweede poging nodig: Onrus op Steynshoop gaan oor Benna.
........
As hierdie eerste poging om die verhaal van die roman op te som onvoldoende was omdat dit die verkeerde indruk oor die roman wek, is ’n tweede poging nodig: Onrus op Steynshoop gaan oor Benna. Hy is die besonder begaafde kind van die dorp se motorwerktuigkundige en die haarkapper, Vera. Hy hou veel belofte in, studeer vir twee-en ’n halwe jaar voor hy opskop, terugkom na Steynshoop en opgelei word as sowel motorwerktuigkundige as haarkapper en vir albei ouers werk. Hy is een van drie broers. Soos in byna alle Winterbach-romans is daar ingewikkelde verhoudings tussen gesinslede – klassieke vader-seun-kompleksiteite en broederlike twiste wat psigoanaliste kortasem sal laat met moontlike interpretasies. Benna werk selfs aan ’n roman “oor die konflik en misverstand tussen vader en seun” (295) wat soos ’n sleutel vir interpretasie van die roman lyk.
Sy jongste broer sterf op jeugdige ouderdom, ’n terugslag waarvan sy pa nooit herstel nie. Sy oudste broer bots erg met hulle vader en verlaat die dorp. Soos talle ander Winterbach-karakters raak die ouer broer telkens by “schemes” betrokke waarmee hy verwag om “groot geld” te maak, maar wat nooit werk nie. Hy sukkel met ’n drankprobleem en het swak menseverhoudings. Benna se pa word by sy werk doodgeskiet.
Al die onverwerkte smart en verydelde verhoudings laat psigiese letsels op die karakters. Die botsings lei nie noodwendig tot meer insig in die psigiese letsels nie, en die konflik lei nie na ’n klimaks en groot veranderings of oplossings nie. Dit is asof elke klein stukkie inligting oor ’n karakter nog moet storie word, nog opgeneem moet word in ’n groter plotstruktuur. Maar dit is juis wat nie gebeur nie. En daarom is dit so moeilik om die psigiese letsels en persoonlike indrukke en weersin en ambisies en gedagtes van karakters samevattend op te som. Dit word alles byna sydelings betrek as deel van die onrus op Steynshoop.
Benna is onrustig op Steynshoop. Maar hy kan ook nie wegkom daarvandaan nie. ’n Kortstondige poging deur ’n vriendin om hom van die dorp af weg te neem na Stellenbosch sodat hy die “schackles” wat hom vashou kan afwerp, slaag nie. Die onrus is in Benna se gemoed. Hy weet hy kan en behoort meer te wees as ’n haarkapper. Maar hy kom nie weg nie.
In ’n verdere verhaallyn rig Benna en sy vriend Sarel (wat ’n obsessie met wellusmoordenaars het en navorsing vir ’n boek daaroor doen) ’n tydskrif op en publiseer intellektuele en estetiese bydraes met redelike sukses totdat Sarel deur sy ma gedwing word om saam met haar na Ladybrand te verhuis. Daar aanvaar Sarel (ook onder sy ma se dwang) ’n werk as rekenmeester; hy trou en word verhinder om verder aan sy boek oor wellusmoordenaars te werk – wat bes moontlik daartoe aanleiding gee dat hy “gesertifiseer” word en in ’n gestig beland. Van die artikels wat Benna en Sarel skryf en uitgee, is bydraes oor taaleksperimentering en Kontinentale filosofie – Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas – terwyl Benna ook probeer om “Standaardafrikaans ’n skop onder die gat te gee”. Sy volledige artikel is skreeusnaaks en bied kritiese kommentaar op huidige taaldebatte (32).
Verder is daar is ook sprake van ’n liefdesverhaal tussen Benna en die kunstenaar Fonny. Hulle ontmoet as jongmense by kunslesse, ’n verhouding ontstaan oor ’n lang tyd heen, maar dan verlaat Fonny sonder waarskuwing die dorp (en Benna) sonder om te groet. Benna sukkel om die verwerping te verwerk. In die romanhede keer Fonny egter skielik terug en die verhouding hervat nieteenstaande Benna se pogings om nie weer betrokke te raak nie. Fonny het haar eie worstelinge met ’n geskiedenis van misbruik en verlies. Haar pa is in die struggle teen apartheid dood – met onafgehandelde gevolge wat met die onrus op Steynshoop verband hou. Hy het haar geleer om die gemeenskap te dien. Sy het egter ook ’n drang om kuns te skep, en wanneer sy daarmee besig is, ervaar sy vreugde, maar word verskeur deur ’n skuldgevoel omdat sy nie daarmee die gemeenskap dien nie.
Dan is daar ook die storie van drie ouens wat saam met Benna in Steynshoop op skool was en wat nou in Bloemfontein en Fouriesburg woon en dan vir ’n naweek na Steynshoop kom om partytjie te hou. Een van hulle sterf byna na oormatige drankgebruik saam met inname van die Chinese dwelmmiddel, terwyl ’n ander een niks van Benna hou nie – maar dit word nooit duidelik waarom nie.
Tussendeur verskyn Jonah Voorsanger ook van tyd tot tyd op die dorp. Elke keer bring hy stories van eksotiese ervarings in Tibet of Amerika. Hy het baie kennis van die kunswêreld en wil Fonny se kuns internasionaal bemark. Hy is ’n soort filosoof, en af en toe is daar kort hoofstukke in die tweede persoon geskryf wat oënskynlik sy filosofiese mymeringe oor menslike bestaan, die dood, en oor kuns is. Benna het hom voorheen bewonder, maar Jonah vervul hom nou sonder enige verduidelikings of opgaaf van rede met afsku. Voorsanger bring ook onrus op Steynshoop – vir Benna en vir Fonny wat aanvoer dat hy haar “harass”.
Benna, Fonny en Chaoxing bestudeer saam comics en hulle elkeen begin om hulle eie comic te teken/skryf. Elk van hierdie drie comics word ’n nuwe verhaal: Fonny se grafiese roman gaan oor die heilige Katarina de Sanguin wat na talle lande vlieg, soms erg ly, maar telkens mense tot troos en redding lei. Chaoxing se comic gaan oor bloedige veldslae in die Chinese geskiedenis. In die gedetailleerde tekeninge is dit moeilik om te sien wie die oorwinning behaal, al is dit volgens hom die gewone mense wat in opstand teen die onderdrukkende stelsel kom wat uiteindelik gaan wen. Benna se comic gaan oor drie klein menslike figuurtjies in ’n oorweldigende kliplandskap waarin gevaarlike kuborge dreig. Al drie comics kan kennelik as sleutels tot die drie karakters se onderskeie innerlike psigiese worstelings gesien word. Maar betekenisvol genoeg voltooi nie een van hulle hulle werk nie.
Die verhaal van die “Brakpan Strangler” oor wie Sarel navorsing vir sy boek doen, word ook nog tussendeur vertel. Ook die voltooiing van hierdie boek word verydel. Dit is duidelik dat nie een verhaal ’n slot het nie, net soos die roman ook. Selfs die verhaal van Benna se ouer broer wat wapens smokkel en wat sy hippievrou en haar verskrikte kind in die steek laat, word onvoltooid gelaat. Tussendeur is daar telkens vertelling oor die legendariese Jan de Dood se musiekoptredes op die dorp en oor hoe hy in ’n grusame ongeluk gesterf het.
Chaoxing se perspektief op sy pa se egbreuk bring ’n heel ander verhaal oor die oneer waarin sy ma en haar hele familie gebring word as die vrolike Marietjie se vertellings oor hulle seks. Tussendeur is daar beskrywings van die Boerebondlede wat brand stig by die gholfklub en hulle sodoende almal se argwaan op die hals haal en insinuasies dat hulle in die vorige bedeling ook by misdaad betrokke was.
In tipiese Winterbach-styl is elkeen van hierdie uiteenlopende beskrywings van insidente en karakters nie net interessant nie, maar dikwels skreeusnaaks, selfs wanneer dit oor ernstige sake gaan (kindertrauma, moorde, liefdeskrisisse, psigologiese versteurings). Bloot die name van sommige karakters – soos Jonah Voorsanger, Jan de Dood – maak dit moeilik om hulle ernstig op te neem. Dit wil voorkom asof hulle soos verteenwoordigers van idees of deugde in ’n Middeleeuse allegorie verstaan moet word, eerder as mense in ’n verhaal.
........
Belangrik is egter dat Winterbach op meesterlike wyse daarin slaag om elk van die verhale so boeiend te vertel, en om ’n spanningslyn deur die hele roman vol te hou wat veroorsaak dat ’n mens ten spyte van die versplintering, die boek nie wil neersit nie, maar dit soos ’n wafferse speurverhaal haastig wil lees asof dit op ’n enkele ontknoping afstuur.
........
My poging om alles wat onrus in Steynshoop veroorsaak te vertel, laat dit lyk of ek in klein stukkies besonderhede vassteek en die groter prentjie van hoe hulle almal met mekaar verband hou, nie raaksien nie. Dit is egter nie so eenvoudig om nou ’n enkele deurlopende verhaal uit al hierdie losstaande gebeure as opsomming aan te bied nie. Belangrik is egter dat Winterbach op meesterlike wyse daarin slaag om elk van die verhale so boeiend te vertel, en om ’n spanningslyn deur die hele roman vol te hou wat veroorsaak dat ’n mens ten spyte van die versplintering, die boek nie wil neersit nie, maar dit soos ’n wafferse speurverhaal (wat speels deur die titel gesuggereer word) haastig wil lees asof dit op ’n enkele ontknoping afstuur. Winterbach is ’n meesterverteller en skep spanning nie met ’n oorkoepelende spanningslyn nie, maar sommer op sinsvlak.
Kyk na hierdie voorbeeld:
Een aand in die middel van die winter, nadat hulle ’n tydjie in Fonny se kamer aan hulle comics gewerk het, en sy voorgestel het dat hulle ’n entjie gaan stap, en hulle ’n hele ent deur die verlate dorpstrate gestap het, die maan byna vol, die nag sag en windloos, maar ysig koud, die koue verfrissend, en hulle pas tee gedrink het, draai Fonny ineens na hom, neem sy gesig in albei haar hande, lig haar gesig na hom, en soen hom vol en diep op sy mond. (199)
Die roman is vol verrassende wendings – heel dikwels het dit te doen met ’n nuwe karakter wat skielik verskyn, een wat ook weer sy/haar eie vreemde storie het, hulle eie psigologiese pyne of tekortkominge. Ander kere lê die verrassende wendings in oënskynlik voorspelbare karakters wat skielik ’n ander dimensie openbaar, wat om onverklaarbare redes tot ander besluite kom. Die verrassings lê ook soms daarin dat wendings voorberei word, selfs onafwendbaar begin lyk, en dan nie gebeur nie, dat alles tóg maar net aangaan soos tevore.
Omdat die verhale so moeilik vaspenbaar is, kan mens redeneer dat die boeiende van die roman juis in die karakters lê: eienaardige karakters, uiteenlopend, raaiselagtig in hulle beperkings en motiverings. Al die karakters is diep gewonde mense wat elkeen bewuste en onbewuste psigiese letsels dra, wat dit stoïsyns onderdruk en praktiese besluite neem, soos Benna se ma, of wat aktief op soek gaan daarna om ’n “dieper bewussyn” van hulself te te bereik (215), wat op soek is na “helderheid oor my lewe en my choices” (214). Iewers diep in hom moet daar redes wees waarom Sarel byvoorbeeld so gefassineerd is – in Benna se woorde selfs “geobsedeer” is – met die Brakpan Strangler:
Dalk word sy brein deur skokbehandeling in so ’n mate heringestel, herskommel, heroriënteer, herkalibreer, dat die Brakpan Strangler, die vaalbleek Johannes Moolman soos onder ’n sementlaag in die heel onderste verborge lae van sy psige toegegooi word, en hy nooit weer in Sarel se bewuste gedagtes ’n rol speel nie. Net af en toe in ’n nagmerrieagtige droom met harige tande en gruwelike uitstraling na bowe kom, die foto van sy mammie teen sy bors vasgeklem (207).
Soos met die meeste beskrywings van karakters is ook hierdie een uit die oogpunt van ’n ander karakter, eerder as inligting wat deur ’n eksterne verteller aangebied word. Die geloofwaardigheid daarvan hang dus af van die waarnemer se kennis en insig en vooroordeel. Dit is bloot Benna se mening – die paragraaf begin immers met “Dalk”.
Op soortgelyke wyse is daar telkens onsekerhede oor elke karakter. Die leser vermoed soms dat karakters se motiverings onderlê word deur psigologiese steurnisse. Sommige karakters herhaal allerlei clichés, soos Marietjie Malan, maar sy kan tóg ook verras met haar politieke oortuigings oor haar boetie. Ander karakters is heeltemal aweregs, bring weloorwoë filosofiese menings gegrond op eksotiese ervaringsvelde – soos Jonah Voorsanger. Elke karakter kry ’n unieke stem, ’n idiosinkratiese taalgebruik en gewoontes wat hulle herhaal.
Neem byvoorbeeld hierdie gesprek tussen Jakes, Salmon en Daan:
“Dit was een die mees amazing dinge wat ek al ooit ervaar het. Man, dit was next level. In al my trips het ek nog nooit so iets ervaar nie. Dit was bliss. Dit was bliss all the way.”
“My goeiste, ou Jakes,” sê Daan, “dit klink amazing.”
“Amazing is nie die woord nie, my broer,” sê Jakes.
Salmon dink, okei, daar het jy dit nou. Hy dag al die tyd Jakes het ’n kak ervaring gehad omdat hy amper dood is, en nou beweer hy dit was bliss all the way. Wat nie wil sê dat dit nie vir Jakes tog weer in een of ander psigotiese toestand kan laat beland nie. Jakes tiep maklik. Hy kan ewe maklik deur hel of bliss gegooi word. Hy was nog nooit baie stabiel nie – sy gemoed en gees was nog altyd wankelrig. (242)
Winterbach gebruik dikwels dialoog soos hierdie om te karakteriseer. En juis uit elkeen se woordkeuses, uit hulle manier van formuleer, die ritme van hul spraak, word die karakters geken. Al die karakters is onstabiel, wankelrig na gemoed en gees, ervaar probleme.
.........
Nou sou mens verwag dat ’n roman wat bevolk is met soveel karakters onder psigiese spanning en druk en benoudheid en lyding, ’n droewige boek behoort te wees, ’n somber en donker boek. Maar dit is nie die geval nie, want die humor waarmee alles beskryf word, maak dit draaglik en selfs uitbundig snaaks.
.........
Nou sou mens verwag dat ’n roman wat bevolk is met soveel karakters onder psigiese spanning en druk en benoudheid en lyding, ’n droewige boek behoort te wees, ’n somber en donker boek. Maar dit is nie die geval nie, want die humor waarmee alles beskryf word, maak dit draaglik en selfs uitbundig snaaks. Die oordrewe beskrywings van die geweld, byvoorbeeld van die lêers vol foto’s van die slagoffers van die Brakpan Strangler wat in besonderhede beskryf word, raak so oordadig dat dit moeilik is om die bloed en derms te ernstig op te neem. Die wankelrige gemoed van elke karakter word met humor beskryf, soms met clichés wat die karakters self ernstig opneem (’n wit aura wat bekom is na reiniging van die chakras).
Die ligte aanslag impliseer egter nie dat ligweg omgegaan word met pyn en lyding en gebreke nie. Die karakters wil mens tegelyk laat huil en lag. Die huil spruit uit die droewige dinge wat met hulle gebeur – die verskriklike lyding waaraan elkeen blootgestel is en die onbeskryflike verdriet van verlies, van onvermoë om werklik by mekaar uit te kom, om regtig hulself, hulle eie oorwegings en besluite en doelstellings of gebrek daaraan te verstaan. Maar sprake van empatiese meelewing, van identifisering met die karakters soos met karakters in realistiese romans is daar ook nie. Daarvoor word die karakters dikwels bloot te snaaks beskryf, hulle lyding op maniere geregistreer wat identifisering daarmee moeilik maak. Jy staan tussen die lag en die huil. Kyk byvoorbeeld na Benna se gedagtes van skok wanneer hy besef dat as Fonny haar kuns agterlaat en meer betrokke raak by die gemeenskap, dit die einde van hulle verhouding beteken:
Dit wil Benna nie hoor nie. As Fonny eers by die kliniek ingeburger raak, beteken dit die einde van hulle verhouding. As hy vroeër gemeen het hy’s gefok, dink hy, was dit ’n fout, ’n groot fout, want as dit die geval is, is hy nou so goed en solied gefok as wat dit moontlik is vir hom om gefok te wees. (273)
Dit is ’n oomblik van besondere insig; die verhouding tussen hulle val uitmekaar. Vir Benna is dit ’n enorme terugslag, maar dit word op so ’n snaakse manier beskryf dat die diep psigiese lyding wat hy ervaar, nie so swaar tref nie.
........
Uiteindelik is die vorm van die roman, die styl, die manier waarop talle mense se klein verhaaltjies met humor aangebied word, die belangrikste.
........
En dit is seker die rede waarom daar ook hoop in die titel Onrus op Steynshoop is. Want op die oog af verval die dorpie. Karakters beleef terugslae en trauma, maak planne en probeer insig verwerf; hulle lewens verander nie juis nie. Niemand is regtig suksesvol met hulle projekte om hulself te verstaan of om die samelewing te verander nie. Verhoudings val uitmekaar of is baie broos. Die hoop lê dus elders. Uiteindelik is die vorm van die roman, die styl, die manier waarop talle mense se klein verhaaltjies met humor aangebied word, die belangrikste. Of hierdie mense nou belese en berese wêreldburgers is of plaaslike prikkelpoppe, verloopte hippies of sakemanne, Chinese of Nigeriërs of Suid-Afrikaners, wit of swart, man of vrou, “normaal” of “versteurd” of in watter binêre opposisies of enige tussenposisie ook al gedink kan word, hulle droewige magteloosheid word meestal snaaks vertel, of ’n ironiese toon, byna spottend soms, versag die lyding. Hulle besluite, hulle oorwegingsredes, hulle doelwitte, hulle gedrewenheid hang nie af van hulle bewuste keuses en besluite nie. Hulle kry nie regtig verligting en helder insigte deur dwelms of deur boekekennis of filosofiese besinning of sielkundige ontleding nie. Elkeen tree bloot op en oorleef sonder om self presies te kan sê waarom. En selfs wanneer hulle tot helder insigte kom, beteken dit ook nie dat alles sonder meer verander nie. Benna besef byvoorbeeld eendag by die werk dat hy nie daarmee kan voortgaan nie, dat hy nie meer hare wil kap nie en soveel meer kan wees. Die leser wil juig, wil hom aanmoedig, voel verlig dat sy lewe nou gaan rigting kry, dat dinge beter gaan word. Maar niks verander nie. Hy gaan maar voort met sy lewe.
Dit word duidelik dat mense se motiverings en ervarings dikwels nie spruit uit hulle doelbewuste ideologiese keuses nie, nie uit selfinsig wat hulle verwerf of deur rasionele oorwegings nie, maar dat hulle keuses eerder bepaal word deur dieper psigologiese oorsake waarvan hulleself onbewus is of waaroor hulle geen beheer het nie. Die implikasie is dat mense nie so baie beheer het oor hulle bestaan as wat ons graag wil dink nie, dat die groter politieke veranderings en die beginselvastheid en koersgedrewenheid wat ons so graag van onsself en ander verwag, altyd maar deur ons persoonlikhede besoedel en ondermyn word. En dit is oënskynlik ’n stryd wat ons nie gaan wen nie.
Die jargon van sielkunde, die idees van Kontinentale filosowe, die insigte van Oosterse meditasie, die rykdom van kunswerke laat die karakters voel asof hulle hulself en hulle wêreld beter verstaan. Dit lyk asof die insigte verandering tot gevolg kan hê, die onrus kan ophef, of dit hoop kan gee. Maar dit word telkens gefnuik. Weinig verander regtig.
Om dieselfde rede is dit ook waarskynlik onnodig vir die leser om psigoanalitiese teorieë of Kontinentale filosowe se werk soos kodes aan te wend vir die interpretasie van die roman. Dit is nie asof hierdie dinge simbole is wat deur die kennis van ’n kode tot diepsinnige betekenis saamgestel kan word soos in ’n modernistiese roman uit die 1960’s nie.
Maar daarom is die oorheersende ervaring van die snaakse so belangrik. Die karakters en hulle lotgevalle, hulle oorgelewerdheid aan groter historiese gebeurtenisse en onbewuste drange bereik nie tragiese proporsies nie. Nieteenstaande hulle lyding en gesukkel is die menslike kondisie nie een om oor te rou nie, eerder om met ironiese afstand van humor te bekyk. Dit is vreeslik droef om te sien hoe mense se keuses hulle vernietig, hoedat dit pyn vir ander veroorsaak, maar selde kan hulle die oorsake of gevolge van hulle eie keuses insien. Mense maak mekaar seer en stel mekaar teleur, op gesinsvlak, maar ook op groter sosiale en politieke vlak. Hulle hou van mekaar of nie, voel seksueel of intellektueel aangetrokke of nie, kies vir sekere politieke idees of vir ander sonder dat dit op suiwer rede berus.
Die idee van “agentskap”, dat die individu die vermoë het om self rasionele besluite te neem en dan daarvolgens op te tree, word ondermyn. Soos wat obsessiewe of kompulsiewe gedrag nie geredelik onderdruk kan word nie, of iemand met depressie nie sigself sommer net kan “regruk” nie, kan ook ander optrede nie altyd verklaar of verstaan of verander word nie. En om ’n naam of oorsaak aan sekere gedrag te koppel, selfs om uitgebreide kennis daaroor te hê, los nog nie die onstabiliteit, die wankelrigheid van die gemoed op nie. Soms is juis “afwykende gedrag” noodsaaklik vir “normale” funksionering (soos Sarel se beheptheid met wellusmoorde).
Die karakters soek verheldering by sielkundiges, in intellektuele boeke en gesprekke, in reise, in die bonatuurlike, in hallusinogeniese middels of in die ervaring van die skeppende proses van kunswerke. Maar uiteindelik is daar nie sin en betekenis te vind nie – nie in enige van hierdie dinge nie.
........
Kunswerke word soms oomblikke waarin ’n blik op die menslike kondisie moontlik gemaak word, maar ook dit is eweneens soos ideologie of psigologie of religie of psigedeliese sampioene onmagtig om oplossings te bring.
.........
Soms vind karakters kortstondige vrede in ’n mooi oomblik – Benna waardeer byvoorbeeld ’n sonsopkoms – of in ’n kunswerk wat iets van ’n groter verstaan oopmaak. Maar dit is altyd kortstondig. Ook die intellektuele insig, die akademiese gesprek, die kunswerk, die ervaring van heelheid bring geen permanente verandering of gemoedstevredenheid nie. Die skoonmaak van chakras en soeke na wit auras en rituele en gewoontes bring ook uiteindelik geen oplossing nie.
Kuns en kunswerke staan soos meestal in Winterbach se romans sentraal. Baie kunswerke word beskryf, soos die skilderkuns van Ni Zan (1301–1374) uit die Joean- en vroeë Ming-periode waarin Jonah Voorsanger belangstel, en veral comics (grafiese romans) deur Marvell en DC, deur Kannemeyer en die Katzenjammer Kids, maar ook romans (Dostojewski se Skuld en boete en Die gebroeders Karazamov) word betrek. Weer, soos in byvoorbeeld Die boek van toeval en toeverlaat, word heerlik gespot met hedendaagse kunstenaars en pretensies in die kunswêreld in die beskrywings van die kunswerke in die nuwe uitstalruimte en sommige dorpsinwoners se verset daarteen. Die groot reddende krag van ’n humanistiese kunsbeskouing word ondermyn. Maar die helende krag, die moontlikhede van selfinsig, en die oomblikke van verrukking wat dit wel kan bied, word gevier. Kunswerke word soms oomblikke waarin ’n blik op die menslike kondisie moontlik gemaak word, maar ook dit is eweneens soos ideologie of psigologie of religie of psigedeliese sampioene onmagtig om oplossings te bring. (Vandaar ook al die onvoltooide kunswerke in die roman.)
Uiteindelik val almal weer terug in wie hulle is. En dit bring op ’n manier juis troos. Teen die groter kosmos waarin ons almal opgeneem word soos wat ons liggame ook uiteindelik afgebreek word deur swamme, maak dit nie soveel saak nie. Hierdie lyk na ’n cliché-interpretasie, ’n poging om die boek tot ’n klopreël te reduseer . Maar dit is nie so maklik nie. Ek het hier bo telkens iets beskryf of ’n stelling gemaak, maar dit dan dadelik met die teendeel opgevolg: Daar is geen oorkoepelende verhaal nie, maar daar is baie wat gebeur; die karakters ly en ervaar diep psigologiese insigte, maar niks verander nie; kunswerke bring insig en verrukking, maar dit is nie durend en veranderend nie. Dit is waarskynlik juis in hierdie vermoë om teenoorgestelde posisies in die lug te hou waar die oorrompelende krag van die roman lê. Dit is iets wat net in ’n kunswerk gedoen kan word, nie in ’n teorie of ’n wetenskaplike verslag of ’n logiese redenasie nie.
.........
Die ervaring van elke karakter se benoude wêreld, van binne, maak mens beangs. Maar dan sien mens dit ook van buite, deur die ironie en die humor. In hierdie dubbelblik lê die betowering.
........
Die ervaring van elke karakter se benoude wêreld, van binne, maak mens beangs. Maar dan sien mens dit ook van buite, deur die ironie en die humor. In hierdie dubbelblik lê die betowering. Ook die troos, al is dit om ’n mens te laat beter voel oor jou eie onvermoë om jou lewe te verbeter, om te lag oor ons vrugtelose pogings om onsself te verbeter of om vir groot sake en idees te stry.
Die slot bring op ’n manier tog sluiting, maar ook glad nie, omdat al die moontlikhede weer oopgelaat word. En daarom bly die lees van die roman ’n ervaring, eerder as ’n insig. En dit is goed so, want insigte verander nie juis veel nie; ervarings kan dalk wel tot verandering lei.
Die roman is inderdaad gemoeid met die politieke en sosiale werklikheid van Suid-Afrika. Anders as soveel literêre tekste wat poog om van ’n bepaalde ideologie te oortuig, om mistastings bloot te lê, om onvertelde verhale te vertel, om tot morele keuses aan te moedig, word die situasie geskets, maar die betrokkenheid daarby as die onwillekeurige oorwegings uit donker dieptes van die psige voorgestel. Keuses waaroor rasionaliteit nie veel mag uitoefen nie.
In ’n Suid-Afrika en ’n wêreld waarin helder ideologiese doelwitte selde uitgespel word en daar eerder op populistiese retoriek gesteun word, is ’n enkele, samehangende verhaal nie meer so geredelik te vertel nie. Onrus kan gesaai word, oproer kan uitbreek, maar geen helder nuwe orde word daardeur in die vooruitsig gestel nie. Individue tree in eie belang op, maar weet nie wat die beste vir hulle is nie. Die groepe wat mobiliseer (soos die Boerebond, die Hell’s Angels), is meestal negatief, afbrekend.
In hierdie omstandighede, so wil dit lyk, bring hierdie roman (en die romankuns) ontsetting en troos. Ontsettende gebeure kan beskryf word, maar individue en groepe is oënskynlik onmagtig om dit te verander. Ons kan maar hoogstens elkeen bly vashou aan dit wat ons help om bymekaar te bly. Kortstondig is daar oomblikke van genot en insig. Soms is dit nodig om net ’n paar helder woorde uit te spreek, nonsens te laat staan, en voort te gaan soos Benna se ma. Ons is altyd, soos Benna aan die einde, uitgelewer aan momente van diepste verlatenheid en van samehangende lig – en kan hoogstens met humor daarmee omgaan, eerder as om dit as tragedie of ramp te beskou.
Lees ook:
Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach
Kommentaar
Hierdie leser verskil van Willie Burger:
Die jargon van sielkunde, die idees van Kontinentale filosowe, die insigte van Oosterse meditasie, die rykdom van kunswerke laat die karakters voel asof hulle hulself en hulle wêreld beter verstaan. Dit lyk asof die insigte verandering tot gevolg kan hê, die onrus kan ophef, of dit hoop kan gee. Maar dit word telkens gefnuik. Weinig verander regtig.
Om dieselfde rede is dit ook waarskynlik onnodig vir die leser om psigoanalitiese teorieë of Kontinentale filosowe se werk soos kodes aan te wend vir die interpretasie van die roman. Dit is nie asof hierdie dinge simbole is wat deur die kennis van ’n kode tot diepsinnige betekenis saamgestel kan word soos in ’n modernistiese roman uit die 1960’s nie.
Kodes rondom kuns, komiekstrips en filosowe is belangrik.
Dit is metamodernisties en die inspeel op eie tekste ondermyn enige sluiting (closure) of 'n sogenaamde sense of an ending.
Hierom is dit opvallend dat elke resensent op ander aspekte let en iets anders sprokkel.
https://joanhambidge.blogspot.com/2024/07/resensie-ingrid-winterbach-on-rus-op.html
En dis immers altyd wat belangrike romans doen.