Ingrid Winterbach: Portret van die skrywer as kunstenaar

  • 2
Ingrid Winterbach se kunsuitstalling I’ve got the darkness Baby word tot 19 Maart 2023 by die Gallery @ Glen Carlou ten toon gestel. In aansluiting by dié spesiale geleentheid skilder Lien Botha ’n woordportret van Ingrid Winterbach as kunstenaar.

Januarie flits rooi benede ’n hemelruim waarin ’n klein god deur ’n honderd blou woorde wentel. Die satelliet ignoreer die titaanwit voertuig wat deur Festivalstraat kruip. Verby die park met ’n wipplank, rondomtalie en glyplank … in die rigting van Ingrid Winterbach se Imaginarium.

Die meedoënlose dromer se vier dekades van arbeid strek van Klaaglied vir Koos (1984) tot Voorouer. Pelgrim. Berg (2021); asook myle gemeet in tekeninge en skilderye. Art in the time of weeping. Die tydlyn lewer kinders, kleinkinders, ontwykende motte in die digte naglug van KZN, lewende wesens waaronder palings, sprinkane, wurms en ’n walvis. Romans waarin karakters name het soos Geelgert, Karolina Ferreira, Helena Verbloem en Ester Zorgenvliess. Versamelaars en artefakte, reise deur sneeu, katedrale, ruïnes, droë Karoodorpe, slagvelde, geweld en verlies. Die motorbestuurder wonder of sy ’n reis na Mars sou oorweeg. Stop voor die huis; uitgeput deur die malende gedagtes rondom Winterbach se veelseggende volharding op die sweefstok tussen woord en beeld. Boot en Pharos. Leksikon en kwas. Die bestuurder beur deur toe en word verwelkom deur ’n hond met die naam Daphne – godin van die Vlakwater.

Ingrid Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

I’ve got the darkness Baby. #Dragon in foreground, volcano at the back (een van die kunstenaar se Instagram-plasings rakende ’n tuisgemaakte bordspel vir haar kleinkinders).

Just drink it up, Leonard Cohen. Die bestuurder, nou besigtiger, het altyd ’n flits byderhand – ’n mens weet nooit. Vandag is dit egter oorbodig, want ’n trapskag lei na die studio waardeur somerlig ruim val.

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

In ’n artikel vir Stilet (2008) bied haar eggenoot en medekunstenaar, Andries Gouws, onomwonde insig oor die parallelle tussen Ingrid Winterbach se teks en beelde. Dit sluit in: fokus op die nutteloosheid van aksie, geestelike nood, skaarste eerder as oorvloed, beperkte ruimtes, sowel as dood en verval. Daar is ook velerlei formele ooreenkomste tussen die twee mediums. In beide vind ons die jukstaposisie van verskillende elemente en enigmatiese inventaris, ’n palimpses van veelvuldige lae, voorkeur vir dissonansies, en die neiging om rigsnoere te ondermyn en risiko’s te neem. Winterbach se humoristiese werk, met die aweregse estetika en subtiele styl, ondermyn voortdurend die verwagtinge van die leser en kyker.

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

’n Alternatiewe titel vir hierdie uitstalling sou kon wees Dora and the painter; dwalende manifestasie van die onderbewussyn in ’n klimaat van onmin en ontbering. Sigmund Freud se Ida Bauer (gevallestudie Dora) het twintig jaar gelede reeds in Winterbach se werk gemanifesteer. (Dora was Freud se pseudoniem vir ’n pasiënt wat hy met histerie gediagnoseer en in 1900 vir ongeveer elf weke behandel het.) Haar mees prominente “histeriese simptoom” was afonie, of verlies van stem. Winterbach trek haar uit die gemuilbande afgrond deur die klanktinte van Laurie Anderson, Nick Cave, Jakub Orliński, Caroline Shaw se avant-garde-komposisies en John Lee Hooker, onder andere (sy dans dikwels terwyl sy skilder).

In die aangrensende ateljee luister Andries Gouws na die heilige: Machaut, Ockeghem, Dufay, Orlando di Lasso en heelwat Bach. Anders as Ingrid hou hy van jazz, ten spyte van die feit dat sy, volgens Gouws, “skilder soos wat ’n jazz-musikant improviseer”.

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

Winterbach is ’n ondernemende kunstenaar met ’n aweregse lading in vertolking en verbeelding. Sy herbesoek deur middel van ’n robuuste benadering. Kill your darlings. Herhalende gedagtes sluit in spraakborrels, wolke, ingewande, morfologie en die grys materie van die amigdala. Sy maak gereeld gebruik van ’n skematiese of strokiesprent-uitleg, maar sonder die narratief. In beeld en teks word anekdotiese elemente doelbewus uitoorlê.

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

Wees verseker: Winterbach ken haar storie. Haar tegniese vaardigheid is gelykstaande aan wat vereis sou word van studente in ’n 19de-eeuse kunsakademie. ’n Mens kan visualiseer hoe sy haar hand uitsteek na die hart se pulmonêre arteries tydens ’n Ruskin College-besoek aan die lykshuis. Die ingeligte besigtiger, konstant op soek na maniere om die grense van haar medium te versit en die kantlyn te wysig. En moontlik is dít Winterbach by uitstek – ’n taal van die dissonant in plaas van die rigsnoer. Hier lê haar uitdaging: Vir Winterbach sou die lewensgetroue weergawe moontlik te liggewig wees.

 

Invloed van ander kunstenaars

Winterbach se ontginning van ’n onderwerp is dikwels voortvloeiend, soortgelyk aan Julian Schnabel se obsessiewe herdeurwerk van The Swedish house, 2022.

Ingrid: “Ja, ek bewonder die vryheid en vindingrykheid van Schnabel se kwashaal (hoewel hy nie my mees gunsteling kunstenaar is nie). Cormac McCarthy beweer boeke word geskep deur ander boeke, en ek vermoed dit is hoe ek voel oor skilder; dat skilderye deur skilderye gevorm word (in my werk in elk geval). Ek leen van wie ek bewonder. Dit is ’n saak van skaamtelose roof en plunder.”

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

- Die ongebreidelde styl van Philip Guston

- Die herhalende skedel, met verwysing na Hans Holbein die Jonger se verwronge anamorfose soos uitgevoer in Die ambassadeurs (1533)

- Die dy of rib van een of ander heilige in die Bargello-museum, Florence (Instagram-plasing, Winterbach)

- Skilders wat oorboord gaan in hul uitbeelding van bloed – “wat spuit in ’n helderrooi boog, of helder pomp, stroom of drup”

- Die ophoping van vlees en bloed in Anish Kapoor se onlangse werk in Venesië? Dit vind sy sonder variasie en té grusaam … dié bloedbad

- Neem ook in ag die biomorf van Miro, Dali en Picasso

- Francis Bacon se ruwe, onthutsende figure

- Moenie haar liefde vir Romaanse, Bisantynse en vroeë Gotiese kuns vergeet nie

- Die lewenskragtigheid in die werk van Artemisia Gentileschi.

Artemisia Gentileschi, Judith beheading Holofernes, ca. 1620 (Foto in die openbare domein; kopieregtermyn verstreke)

Joy McCullough se 2018-roman, Blood Water Paint, weerspieël Gentileschi se perspektief as volg:

the woman in the bath
is no exalted doll.
She is all light and terror,
the Susanna I finally summon
from stories,
from first fire,
and finally,
from paint mixed with
my own sweat.

Vir Winterbach: “Jy kan nie die hele doek op dieselfde wyse benader nie; laat ruimte vir oop areas en negatief teenoor positief. Ek is nie juis ’n aanhanger van koel kleure nie, maar eerder ’n palet van die binnegoed.” Newelkleurig die flets van Napelsgeel; fusie, arsering, toepassing van lywige impasto – soms direk uit die verfbuis, afgewissel met lae lampswart. Water trap water; sommige skilderye word redelik gou afgehandel en ander neem veel langer … tot by Quinacridone Deep (2023).

Quinacridone Deep, Ingrid Winterbach

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

Winterbach se studio, Januarie 2023 (Foto: Lien Botha)

Groeperings vertoon soos verwante legkaarte of sleutels op soek na poolshoogte. Sy wys na ’n vorm wat begin het as ’n klein skaduwee en toe in ’n onheilspellende, tongvormige objek ontaard het. Sal kykers dit ontstellend vind, dié kykspleet; terrein van die rima oris?

 

En leitmotiv?

Death and the maiden, tonele uit die alledaagse Suid-Afrikaanse bestaan, speelgoedsoldaatjies, skedels, skulpe, die dolende/wonderende lyn, gestroopte interieur as landskap, die voorouer, teks as leidraad of vorm. The remains of the day. En wolke. Dora under dark cloud.

Soggens sit ek in my bed en kyk na die veranderende tafereel van die sonsopkoms. Op ’n oggend is daar in die lug ’n enkele pienk veegsel wolk, met ’n donkerder kern. ’n Wolk so yl soos ’n nagedagte, ’n argelose spatsel uit ’n oormaat van moontlikhede. ’n Speelse herinnering aan gotweetwat. En sommer op die koop toe, hoër op in die lug, ’n uitgelate helderpienk wolk – rosig, stralend verlig deur die opkomende son.’n Wolk wat gloei in die nog onbeskrewe, helder, uitgebleekte lug. (Vlakwater, bl 253)

Buite in die straat versamel ’n stem skroot.

Ons weifel. Ons luister.

’n Mens kan die snikhete hoor. Jy kan dit sien stoom afblaas teen die Stellenbosch-berge en ruik in die deurweekte reuk van die sipresbome buite Winterbach se studio. Die beskouer wonder of die Cederberg se Winterbachpiek, 1 487 meter bo seevlak, ’n bloedlyn na die kunstenaar loop.

Die metaalstem in die straat neem vorm aan in een van haar skilderye; die kleur van die stem is vermiljoen.

 

Raise the body. The glass. The spirit. To Ingrid Winterbach.

 

Bronne:

- Andries Gouws. 2008. Ingrid Winterbach as skrywer en as beeldende kunstenaar – enkele beskouings. Stilet, 20(1):8–41.

- https://www.litnet.co.za/ingrid-winterbach-19481/

- https://en.wikipedia.org/wiki/Dora_(case_study)

- https://www.youtube.com/watch?v=8LylW6OQsP4

- https://en.wikipedia.org/wiki/Death_and_the_Maiden_(motif)

- #otherwiseoccupied op 3 Desember 2022, Instagram

- Gesprek met Winterbach en Gouws, Jamestown, 18 Januarie 2023

 

Lees ook:

Frustrate the expectations of the public! – Ingrid Winterbach as a writer and artist

  • 2

Kommentaar

  • Dankie vir hierdie insiggewende stuk, Lien. Jou lieflike foto's, indrukke en woorde maak inderdaad 'n waardige portret van 'n woord- en beeldkunstenaar wat in die geheue sal agterbly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top