Titel: Die onsigbare
Skrywer: PJO Jonker
Uitgewer: Tafelberg (2024)
ISBN: 9780624095439
Bederfwaarskuwing: Lesers word gewaarsku dat hierdie LitNet Akademies-resensie-essay sekere aspekte van die intrige verklap wat dalk sommige mense se leeservaring sou kon beïnvloed.
“Uit Afrika altyd iets nuuts” – so lui ’n ou Romeinse gesegde. Dit sou ’n mens ook van die Afrikaanse letterkunde kon sê. In ’n literêre landskap oorgroei met misdaadromans het daar so pas ’n debuutroman verskyn wat nuut en anders is: Die onsigbare van PJO Jonker. Vir my ’n verademing.
Daar is drie sentrale temas in die roman: die hoofkarakter, Jada, se bekering en geloofslewe; sy aktiwiteite as boer; en sy liefde vir ’n vrou wat as prostituut in die stad gewerk het. Die leser se belangstelling word deurgaans behou deur die wisseling tussen die temas en die afwisseling van suksesse en teleurstellings. In die laaste deel van die verhaal word die temas al hoe hegter met mekaar verbind en uiteindelik op ’n verrassende wyse afgesluit.
Vervolgens bespreek ek die uitbeelding van die drie temas en die afsluiting daarvan in die laaste deel van die roman.
1. Jada se bekering
Die roman kan feitlik as ’n Suid-Afrikaanse The pilgrim’s progress gesien word. Soos in die twee dele van Bunyan se werk handel dit oor die kwellinge en verantwoordelikhede van die bekeerde pelgrim en oor die redding van sy geliefde. Dis ’n tema wat maklik prekerig kan raak, maar dit word vermy deur die vlot voortgang van die verhaal en veral deur die geestige dialoog. Elke karakter praat sy of haar outentieke taal, dikwels deurspek met humor. Toe Jada as kind wegraak, was Anys, die getroue huishulp, bekommerd, en só vertel sy wat gebeur het:
Twee poeliesbakkies het eers na sont-op op die werf aangery gekom en vinnig gestop dat die wit stof verby hulle ligte dwarrel. “Die Jirre kom der middernag, die poelieste kom eers die volgende dag,” het ek hulle uitgeskel, my streste was al verby my skouers. (34)
Die pedantiese doktor Joubert met sy skyngeleerdheid kritiseer Jongdominee se sienings omdat “sy gewaande passimisme lukraak is” (118).
Heeltemal anders praat Jenovan, wat ’n tronksel met Jada deel:
Ek is nogallie mee ’n boy nie. Ek sê die dagga is flou ’n man raak fidgety en krap en kriewel waar dit nie djik nie dan merch ek ma wee vir buttons om te crush, stap ek saam met die brazze straat-af en puff so twee puffs uit die Black Label-pyp. Tot my gesig innie grond in ploeg dan skop hy in. Dan het elke vrou ’n figure like a trigger. (244)
Een van die groot plesiere in die boek is geleë in die taal wat die verskillende karakters praat.
Jada se bekering word voorafgegaan deur intense skuldgevoelens oor die angs wat hy veroorsaak het in sy agtervolging van ’n gekweste rooikat. Die bekering word voorberei deur ’n vertelling van sy besoek aan die stasie, gevul met simboliese betekenisse. Hy hoor van die sinjaalsleutel wat die koers van treine verander; hy sien hoe die treindrywer by die lokomotief inklim en hoe “die trein begin beweeg en swenk weg van die hooflyn” (36). Jada kyk na die trein “so haaks met die gebaande weg, soos ’n blinkswart hings wat vry veld-in galop met sy trop trokke agterna” (37). Ook Jada sou ’n eie rigting, “haaks met die gebaande weg”, inslaan wat vir hom vryheid sou bring.
Wanneer Oudominee hom tot bekering lei, bring dit ’n radikale omwenteling teweeg:
Daar is ’n ander skakering aan alles. Die son is skaars op, maar tog is daar ’n ligtheid wat hy nie gewoond is nie, soos wanneer die blindings in die sonkamer opgetrek word. Wil aan die hardloop raak. ’n Jong witkruisarend wat uit die nes geskop is en wonder bo wonder nie val nie, deur die lugstrome opgetel. Hy kan vlieg. (40)
Daarna word hy soos Jesus, ’n vriend van sondaars en prostitute. Hy is ook soos Moses, wat in Adam Small se Kanna hy kô hystoe soos volg besing word:
en Moses was ’n hakkelaar
ja Moses was ’n stamelaar [...]
maar God was in sy elke aar.
Jada is ’n hakkelaar soos Moses wat sy volk uit die slawerny van Egipte na die Beloofde Land gelei het – so ook wil Jada die ellendiges uit hul sondige bestaan na geestelike vryheid lei. Van Moses is gesê dat hy “volhard [het] soos iemand wat die Onsienlike God sien” (Hebreërs 11:27, 1983-vertaling). Dit sluit aan by die titel van die roman, wat suggereer dat Jada se lewe bepaal word deur sy gehoorsaamheid aan die Een wat onsigbaar is, maar wel “in sy elke aar” teenwoordig.
........
Dit bied ’n tweede moontlike verklaring van die titel – dat hy kennis maak met die mense wat vir die wit mense onsigbaar is omdat hulle ’n afstand handhaaf teenoor mense van wie se nood hulle nie kennis wil neem nie.
........
In Dana Snyman se toneelstuk Die klaagliedere van dominee Tienie Benade, wat later verfilm is, kry dominee Benade aan die einde die opdrag om na die oorkant van die spoorlyn te gaan – die spoorlyn wat die rykes van die armes skei. Dit is presies wat Jada doen – hy gaan oor die skeiding tussen die bevoorregtes en die ellendiges, en so word hy ’n vriend van hulpbehoewendes en sondaars. Hy besoek die baksteenbuurt waar die bruin mense woon, en Duiwelskamp, die woonplek van plakkers. Dit bied ’n tweede moontlike verklaring van die titel – dat hy kennis maak met die mense wat vir die wit mense onsigbaar is omdat hulle ’n afstand handhaaf teenoor mense van wie se nood hulle nie kennis wil neem nie.
Jada preek vir die mense van die baksteenbuurt oor die liefde van God wat met elke mens ’n verhouding wil aanknoop. Hy leer die ellendes en nood ken, byvoorbeeld van Miriam, wie se kind deur die “welfare” gevat is en wie se man haar aanrand. Die bruin evangelis, Arendse, hou nie daarvan dat hierdie wit man vir bruin mense kom preek nie, maar Jada hou vol daarmee, en daar is tekens dat sy besoeke waardeer word. ’n Man vra dat Jada vir hom moet bid, en ’n maer vrou met woeste hare sê: “Die Jirre het pastor vandag na ons toe gestuur.” Dit is betekenisvol dat daar ’n orkes is wat “Amazing grace” speel, want Jada se preke handel juis oor ’n verstommende genade.
Hy besoek ook die plakkers in Duiwelskamp, waar dit inderdaad lyk of die duiwel los is, met geweld en dronkenskap wat hoogty vier. Maar ook by hierdie mense is die genade aanwesig. Die vrou wat hom innooi, se naam is Grace; sy het ’n engelagtige voorkoms en laat hom anders kyk na alles rondom hom (85). Verskeie mense vra dat hy vir hulle moet bid, en hy ervaar ’n “heilige teenwoordigheid van vrede” (92). Hy reël ook dat Luckyboy, wat by hom skaap skeer, werk by die koöperasie kry. Grace se reaksie op sy besoek is: “Thank you, sir. You feed us” (160). Die besoeke verander ook vir Jada. Hy besef dat hy vir hierdie mense goed moet wees, so “vuil en verniel” soos hulle is; hy kry die insig dat hy almal “voetstoots” moet liefhê (162).
........
Die houding van die lede van die wit mense se kerk staan in skrille kontras met Jada se deernis teenoor die mense van die baksteenbuurt en Duiwelskamp. Op ’n kerkraadsvergadering is die twee belangrikste besprekingspunte die vraag of die kerkgebou geverf moet word en die ondersteuning van die sending in Indië, maar daar is geen belangstelling in die nood in hul onmiddellike omgewing nie.
........
Die houding van die lede van die wit mense se kerk staan in skrille kontras met Jada se deernis teenoor die mense van die baksteenbuurt en Duiwelskamp. Op ’n kerkraadsvergadering is die twee belangrikste besprekingspunte die vraag of die kerkgebou geverf moet word en die ondersteuning van die sending in Indië, maar daar is geen belangstelling in die nood in hul onmiddellike omgewing nie. Jongdominee se ideaal vir die kerk stem ooreen met Jada se siening, maar dit vind nie by die gemeentelede byval nie. Die dominee preek oor die voorbeeld van die vroeë Christelike Kerk en gebruik daarvoor die kiepersol langs die kerk as beeld:
’n Kiepersolkerk, noem hy dit. Eenvoudig en eg. Jesus se kaalvoetbruid. Adel en armes. Raadslede en skandelikes. Recces en tollenaars. Hensoppers en oudvyande. ’n Nuwe familie van onwaarskynlikes. In eenvoud. Wat alles gemeenskaplik met mekaar gedeel het. Kiepersolbruid, met haar foute en al is sy lief vir Jesus, bied sy haar kroon vir hom aan. (89)
Wanneer Jada in die hitte van die stryd oomblikke van twyfel ervaar en dit moeilik vind om te volhard, is die huishulp, Anys, wat in ’n mate die plek van sy oorlede moeder inneem, vir hom ’n voorbeeld:
Anys twyfel nie. Sy stik weekliks die verandering in die wolke en die voëlsang en die miere se gedrag en die leraar in die sinkkerkie se preke aan mekaar vas en is dan oortuig van wat God vir haar wil sê. Sy gryp die geringste ingewing met ’n gretige gees, ’n onsigbare betrokkenheid van die hemele in Erfdeel se kombuis. (100)
2. Die boerdery
Dit is nie maklik om Jada se geloofslewe van sy boerdery te skei nie, want ook op die plaas is daar allerlei tekens van die geestelike reis van die pelgrim. Dit blyk reeds uit die inset van die roman, wat die leser na sentrale temas in die boek lei. Daar is die motief van die angs om by ’n afgrond af te val, wat kontrasteer met die vryheid van die arend wat in die lug bly hang (10); daar is die gevaarlike Klipgang, met angs vir die “niksheid” (9) – maar dis ’n “pad na die einde waar die lig anders skyn” (9).
Op die plaas gaan dit egter nie net oor geestelike dinge nie, maar ook oor die strewe om ’n sukses van die boerdery te maak. Sy ouers se dood in ’n motorongeluk bring ’n omwenteling in sy lewe, want hy moet nou sy pa se plek as boer oorneem en die uitdagings van die boerdery met sy Christelike plig versoen. Die plaas se naam is Erfdeel, en dit dui daarop dat dit ’n erfenis is wat ’n verpligting teenoor die voorgeslagte meebring. Hy is “die vierde Jan-Dawid Olivier van Erfdeel” (52), en die plaas mag nie uit die hande van die familie gaan nie; hy het dan ook aan sy vader belowe dat hy nooit die plaas sal verkoop nie (10). Die plig om die plaas te behou het nie net met die Oliviers te make nie, want ook die werkers op die plaas het ’n stamboom wat hulle aan die plaas bind (72). Erfdeel is ook húlle erfenis.
.......
Sy ouers se dood in ’n motorongeluk bring ’n omwenteling in sy lewe, want hy moet nou sy pa se plek as boer oorneem en die uitdagings van die boerdery met sy Christelike plig versoen.
.......
Die plaas is nie al erfenis wat Jada van sy ouers ontvang nie; hy het ook hulle voorbeeld wat hy moet navolg. Sy vader is ’n sorgsame man wat hom wys waar die geheimnisvolle Klipgang is, wat Jada se troetelrooikat red met ’n “plaasvervangende ramlam” (14) en hom troos toe hy ’n gekweste rooikat moet skiet. Sy moeder is ’n liefdevolle mens wat almal “onder een kombers van koestering saambrei” (17). Ook dit is deel van die erfdeel wat Jada moet bewaar.
Vol idealisme spring hy aan die werk. Die huise van die werkers word reggemaak, en hy lei Hans op om sy regterhand te word – maar Hans is ’n teleurstelling. Die werklose Jonathan, wat hy op die plaas in diens geneem het, doen nie sy plig nie, en Luckyboy, vir wie hy werk by die koöperasie gekry het, maak nie van die geleentheid gebruik nie. So word Jada se idealisme deur die werklikheid getemper.
’n Belangrike deel van die spanningslyn in die roman word geskep deur die vraag of Jada die plaas sal behou. Daar is ’n voortdurende wisseling tussen hoop en teleurstelling; die uitdagings op die plaas word beskryf deur ’n skrywer wat kennelik weet van die probleme van ’n boer. Die spanning word versterk deur die buurman wat telkens op Erfdeel inloer wanneer dit lyk of daar teenspoed is en met ’n aanbod kom om die plaas te koop. Wanneer Jada die idee kry om genesende kruie te bemark, en daar belangstelling uit Nederland en China is, en wanneer hy tot Jongboer van die Jaar gekies word, lyk sukses gewaarborg en sy vooruitsigte uitstekend. Maar die triomf lei tot ’n skynbaar uitsiglose situasie, gevolg deur ’n gelukkige einde waar die tema van genade sterk op die voorgrond is.
3. Die liefde
Jada se houding teenoor rooikatte is anders as dié van die mense in die buurt. Die buurman, oom Butch, vertel “dit is ’n gebruik hier op die distrik se plase om ’n jakkals of rooikat teen ’n paal of grensdraad op te hang” (13) – byna soos die gekruisigde Jesus. Op ’n jagtog saam met oom Butch kwes oom Butch se seun ’n steenbok wat ’n lammertjie het, en oom Butch jubel daaroor (27); Jada, daarenteen, wil die gewonde rooikat volg en red. Dit lei tot ’n tipe “dialoog” tussen hom en die rooikat, waaruit Jada se besorgdheid oor die dier blyk.
........
Die keuse van God, op wie Jada wag, kom as ’n verrassing, want hy raak op ’n prostituut verlief. Dit gaan met hom soos met die profeet Hosea, vir wie die Here beveel het om ’n prostituut as vrou te neem sodat hy kan leer van God se troue liefde ondanks die mens se ontrouheid.
........
Wanneer Jada hubare leeftyd bereik, word daar druk op hom geplaas om ’n vrou te kies, ook van Anys se kant. Jada verseker haar dat God die keuse vir hom sal maak, soos wat God vir Isak voorsien het van ’n vrou vir wie hy liefgekry het (64). Die keuse van God, op wie Jada wag, kom as ’n verrassing, want hy raak op ’n prostituut verlief. Dit gaan met hom soos met die profeet Hosea, vir wie die Here beveel het om ’n prostituut as vrou te neem sodat hy kan leer van God se troue liefde ondanks die mens se ontrouheid. Die Here se woorde aan Hosea aangaande sy liefde vir Israel herinner sterk aan Jada se gehegtheid aan die vrou wat hy liefgekry het: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? [...] Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk (Hosea 11:8, 1983-vertaling).
Terwyl Anys besig is om hom oor die telefoon te vertel dat Jada se rooikat dood is, sien hy in Kaapstad die vrou raak wat die liefde van sy lewe sal word – en deur hierdie gelyktydigheid word die rooikat en die vrou onmiddellik met mekaar verbind. Verder heet die rooikat en die vrou, wat nie haar naam wil sê nie, albei Meisiekind; die vrou het rooi hare soos ’n rooikat; en sy lei ’n “wilde” lewe as prostituut. Jada se troeteldierrooikat, wat hy wou leer om teen haar natuur in te gaan en nie skape te vang nie, is deur aggressiewe polisiehonde bedreig, met die gevolg dat sy gevlug, in ’n slagyster beland en gevrek het. Die begeerte om haar mak te maak het dus uiteindelik op ’n teleurstelling uitgeloop. Sal iets soortgelyks met die vrou gebeur? Sal sy haar “wilde lewe” laat vaar? Sal die liefde wat aan haar bestee word, tevergeefs wees? Die res van die verhaal suggereer dat ’n wesenlike verandering wel moontlik is as die “wilde” een nie met die aggressie van polisiehonde hanteer word nie, maar met geduld en liefde.
Jada se kennismaking met Meisiekind is aanvanklik sterk ironies. Hy besef nie dat sy ’n prostituut is nie, en wanneer hy haar die oggend ná die eerste aand sien terwyl ’n man met haar seks het, is hy seker sy word verkrag – hy besef nie sy is net besig om haar werk te doen nie. Hy “red” haar deur die man te moker, en omdat daar geen tuiste vir haar te vind is nie, neem hy haar na Erfdeel.
........
Die bloedmotief kom telkens in die roman na vore. Dit is ’n komplekse motief, wat onder andere dui op die verwonde mens wat hulp nodig het, en ook op die helper wat in die proses verwond word.
........
In sy geveg het sy hand aan die bloei geraak, en op pad na die plaas kom sy bloed ook op haar (140). Die bloedmotief kom telkens in die roman na vore. Dit is ’n komplekse motief, wat onder andere dui op die verwonde mens wat hulp nodig het, en ook op die helper wat in die proses verwond word. Dit herinner ook aan die bloed wat Jesus gestort het. Die suggestie is dat die volgeling van Jesus verwond moet word, soos Jesus, uit simpatie met die verwondes. Jada word herinner “die voetspoor van Jesus is ’n bloedspoor” (242). Hierdie motief sluit aan by Henry Nouwen se vermaning aan predikers:
For the minister is called to recognize the suffering of his time in his own heart and make that recognition the starting point of his service. Whether he tries to enter into a dislocated world, relate to a convulsive generation, or speak to a dying man, his service will not be perceived as authentic unless it comes from a heart wounded by the suffering about which he speaks. (The wounded healer, xvi)
Meisiekind se verblyf op die plaas lei tot ’n helingsproses, nie net vir haar nie, maar ook vir Jada. Hy is aanvanklik patroniserend en disrespekvol teenoor haar – hy vra hoekom sy nie ’n ander werk doen nie, een wat vir haar selfrespek kan gee, en dit lei tot ’n woedende reaksie: “Selfrespek? Wat weet jy van my af? Fuck all! As jy my wil betaal om my te vertel hoe sleg ek is, vat jou fokken geld. Ek is nie so cheap nie. Ek haat perfekte mense [...] Hou op om my te judge” (137).
Haar woorde moes hom diep geraak het, want kort daarna kry hy ’n betekenisvolle droom wat herinner aan ’n verhaal wat in die Evangelie van Johannes vertel word. Die skrifkenners en die Fariseërs het ’n vrou na Jesus gebring wat op owerspel betrap is en wou sy oordeel oor haar hoor. Dit was ’n poging om hom in die moeilikheid te bring, want volgens die wet moes sy gestenig word, en hulle het geweet van Jesus se barmhartigheid teenoor sondaars. Jesus se antwoord was: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ’n klip na haar gooi” (Joh 8:7, 2020-vertaling). Jada droom dat hy ’n dreunsang hoor waarin ’n skare ’n vrou uitjou met die woorde: “Onrein! Onrein!” Hy word dan deel van die skare wat klippe na haar gooi, totdat sy in ’n plas bloed op die teerpad beland. Hy hoor haar sê: “Vergewe hom want hy weet nie” (140), woorde wat herinner aan een van Jesus se kruiswoorde en impliseer dat Jada opnuut vir Jesus kruisig met sy wreedheid teenoor die veroordeelde vrou.
Hierna begin Jada se houding verander. Hy besef dat ook hy heling nodig het, dat ook hy ’n gekwelde is, en dat hy nodig het om sy hart uit te praat. Hy doen dit teenoor Meisiekind terwyl sy bewusteloos in die hut lê wat hy vir haar voorberei het:
Daar langs haar bed praat hy sy hart uit oor die skielike verlies van Vader en Moeks, die verlies van al sy drome wat saam met hulle graf toe is. Vir die eerste keer huil hy gemaklik oor dit alles [...] Hy hoor homself selfs sy twyfel voor haar uitpraat. Is sy geloof alles verdigsels en sy dilemma sy eie toedoen? (167)
........
Anys, die huishulp, speel ’n sentrale rol in die genesingsgeskiedenis van sowel Meisiekind as Jada. Dit begin op ’n fisieke vlak – sy was die vuil Meisiekind skoon en versorg haar sere.
........
Dié ontwikkeling in Jada herinner aan Anna M Louw se Wolftyd, waar Leonie haar eie liefdeloosheid leer ken en waar haar woede teenoor haar man verander in mededoë en begrip. Albei romans beeld die moontlikheid uit van heling vir traumaslagoffers en redding vir sondaars.
Anys, die huishulp, speel ’n sentrale rol in die genesingsgeskiedenis van sowel Meisiekind as Jada. Dit begin op ’n fisieke vlak – sy was die vuil Meisiekind skoon en versorg haar sere. Met groot begrip verduidelik sy Meisiekind se toestand:
Kneetserig. Sy’s vol kaktiste, die kind, die ene fyndorings. Kan nêrens vattigheid kry nie of jy sit met dorings in jou eie siel. Daar’s nie bossiegoed vir dit nie. Wil my nie haar naam sê nie. Die bek is vuil. Klomp kwaad wat uitkook. Wou weet waar sy is, of sy ’n gevangene is. En dan foeter sy kort-kort afgrond se kant toe, my swak hart sal dit nie hou nie, netnou donner sy altemit daar af. (171)
Mettertyd sal Anys wel Meisiekind se vertroue wen, en kan Meisiekind haar traumatiese verlede aan die huishulp vertel. Anys hoor hoedat Meisiekind se ma swanger geraak het terwyl sy verloof was; die man het haar in die steek gelaat en in ’n kasteel in Skotland gaan woon. Anys hoor ook hoe Meisiekind se ma later met ’n leeglêer getrou het en hoe die stiefpa se vriende die kind herhaaldelik verkrag het. Met hierdie vertelling konfronteer Meisiekind die pyn wat in haar onbewuste onderdruk was en bring dit onder woorde; die isolasie wat haar trauma meegebring het, word oorkom deur die pynlike verlede met iemand te deel.
Hierdie proses word soos volg deur Pumla Gobodo-Madikizela beskryf: “Indeed, the process of healing trauma is directly linked to the process of finding language to narrate it. It is about telling the story so that it becomes part of one’s identity and part of one’s life narrative” (Van der Merwe en Gobodo-Madikizela, 30).
Meisiekind moes egter ’n lang pad loop voordat dit kon gebeur. Die eerste stap in die konfrontasie van trauma is meestal woede, dikwels geprojekteer op die een wat jou wil help. Dit is ook met Meisiekind die geval – sy reageer soos ’n tipiese rooikat:
Die kat kap-kap met elke sinsnede na hom, haar woorde soos naels. Dan krop sy weer haarself op, asof sy op haar tone wil staan, gereed om met elke gelade sweepslag diep vanuit haar onsekerhede haar wapens te lanseer. Aanklag. Belediging. Vloek. (173)
Haar woede teenoor Jada word verbind met ’n woede teenoor die God oor wie hy vir haar preek. Soos die Bybelse Job, maar veel radikaler, gee sy uiting aan haar woede teenoor God. Sy vat Jada se Bybel uit sy hand, en dan gebeur die volgende:
Sy stap daarmee uit, so kaalvoet deur die koue, al die pad tot voor by die krans, draai om na hom om seker te maak hy kyk, en slinger die Bybel weg om met die blaaie fladderend, soos ’n gewonde duif wat nie hoogte kon kry nie, te val tot in die Groot-Karoo. (175)
Op die lang duur kan ’n algemene woede wat gekoester word, egter die heling van trauma verhinder. Die ideaal is dat woede gevolg word deur vergifnis. Gobodo-Madikizela stel dit soos volg:
Forgiveness allows people to have a new relationship with their trauma; it is a liberating act, a choice for freedom. Some people ask, why should victims be free of their anger and hatred? Why should we promote this kind of freedom from anger? It has been proven that forgiveness helps the victim to heal. The freedom from being captive to anger and hatred as a result of the trauma liberates people to embark on a new journey of healing. (Van der Merwe en Gobodo-Madikizela, 50)
Meisiekind slaag uiteindelik daarin om die mans wat haar as kind verkrag het, te vergewe. Sy en Anys maak ’n ritueel van die vergifnis. Anys vertel:
Sy het daardie mansmense nie geken nie, net om die beurt byname vir hulle in haar kop opgemaak. Maar kan jy glo, ons het boontjies opgekerwe en onse meisiekind het daai manne vrygespreek. Een vir een. Met elke boontjie noem sy ’n naam en vergewe hom, dan kerf sy ’n volgende boontjie met ’n naam, en vergewe hom. (204)
Te midde van al die spanninge ontwikkel ’n liefde tussen Jada en Meisiekind. Jada kan sy gevoelens nie bly wegsteek nie: “‘Ek het jou lief,’ glip dit uit soos ’n lam by ’n maklike geboorte, dié wat so verrassend gladweg kan uitsjloep uit die ooi. ’n Bevalling van woorde sonder enige emosie. Net die daarstelling van ’n feit” (188).
Meisiekind antwoord nie op sy liefdesverklaring nie, maar daar is tog tekens dat sy nie ongeneë is nie. Wanneer hulle saam in ’n bergpoel swem, gee sy uiting aan haar gevoelens, hoewel dit nie met woorde geskied nie:
Dan trek sy asem op, stoot haar van die rotswal af vorentoe en sink met klere en al in die koue bergpoel weg. Sy kom op, vee die water uit haar gesig en hou haar hande na hom toe uit, sonder om hom in die oë te kyk, en trek hom in. Sy kom staan teen hom met haar kop in sy nek. (202)
Dit lyk of ’n finale gelukkige einde nou op hande is, maar dit is nie die geval nie. Sy verlaat skielik die plaas en laat ’n raaiselagtige briefie agter sonder om die rede vir haar vertrek te verduidelik – maar sy gee wel haar ware naam te kenne: Katryn. Sy het haar identiteit herwin.
4. Afsluiting
Nou volg die laaste gedeelte van die roman, waarin Jada waardevolle kennis opdoen en lewenslesse leer. Hy gaan soek na Katryn, soos die herder in Jesus se gelykenis wat die verlore skaap gaan soek het – ’n gelykenis waaraan Anys hom moes herinner. Hierdie soektog lei hom na Kaapstad, waar hy die skadusy van die stad leer ken: prostitute, haweloses en tronkvoëls. In ’n mate herinner sy reis aan die ervarings van Henry van Eeden, die reisende karakter in Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, wat ook ’n pelgrimstog onderneem, sy onskuld verloor en insig in ’n verbrokkelende samelewing verwerf. In sy soektog verloor ook Jada sy onskuld en onkunde, en leer hy die skadukant van die samelewing ken. Anders as in Sewe dae by die Silbersteins word die uitgeworpenes van alle rasse en klasse in die verhaal betrek; Jada se kennismaking met die mense van die baksteenbuurt en van Duiwelskamp word na die uitgeworpenes van die stad uitgebrei.
........
Hy leer die onsigbares van die samelewing ken en voel asof hy self ook onsigbaar geword het – hy het een van die verlorenes geword om die verlorenes te kan help.
........
Sy bakkie word gesteel, en so word hy een met die haweloses; hy beland in die tronk en word een van die gevangenes. Hy leer die onsigbares van die samelewing ken en voel asof hy self ook onsigbaar geword het – hy het een van die verlorenes geword om die verlorenes te kan help. Dit gebeur wanneer hy die prostituut Zoë ontmoet, wie se naam “lewe” beteken, maar wat hom opval, is haar “vernieldheid” (227); om haar te troos, doen hy ’n gebed vir haar, gee haar ’n bemoedigende teks uit Jesaja en laat sy selfoonnommer vir haar agter. Helaas lei sy besoek tot haar dood, omdat sy nie meer die baas se opdragte slaafs wil gehoorsaam nie; maar danksy Jada se besoek het sy skynbaar ’n beter lewe gevind, soos gesuggereer in haar nagelate boodskap aan hom, gelewer in ’n taal wat net sommige kan verstaan: “x higher than ever be4. You r my hero. x i nuwe mens. Z” (231).
Daar is ook goeie mense in die skadukant van die stad. Aunt Mavis met haar “Dirty laundry” weet van vuil wasgoed, letterlik en figuurlik, maar sy veroordeel niemand nie en is welwillend teenoor almal. Steeds hoop sy op die verbetering van haar omstandighede; sy speur naarstig alle kennisgewings van veilings na en droom van ’n ou man in ’n rooi kar wat haar uit haar armoede sal verlos. In die ontknoping van die verhaal het sy ’n belangrike funksie.
Jada se ontwikkeling as boer word nóú verbind met sy geestelike ontwikkeling. Sy aanvanklike sukses met die genesende kruie verlig sy gemoed, maar vergroot ook sy ego – hy word ’n gierige kapitalis: “Skielik praat hy in miljoene wanneer daar sake gesels word, en sy gemoed en ego word saam opgelig soos ’n rolbos in ‘n warrelwind [...] Nou nie meer sosialis nie. Kapitalis. Gaan nou geld maak soos bossies” (277).
Sy finansiële sukses rig egter skade aan in sy siel:
Tog kan al die voorspoed hom nie bluf nie. Neem die wêreld en gee my net Jesus, probeer hy die ou refrein nasê, maar hy weet hy jok. Hy klou vas aan al hierdie dinge net om staande te bly. Diep hier binne is hy ’n vlugteling. Wegkruiper. Gekwes. Aan die doodbloei. (278)
Hierdie gedagtes herinner aan Jesus se vermaning aan sy dissipels: “Wat baat dit die mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Matteus 16:26, 1933/1953-vertaling). Jada het die wêreld gekry, maar skade gely aan sy siel. Die keuse tussen wêreld en siel kom ook na vore in Van Melle se Bart Nel. Fransina, Bart se vrou wat hom verlaat en met ’n ander man getrou het, het ryk en welvarend geraak, maar haar siel verloor; Bart, daarenteen, het sy vrou sowel as sy plaas verloor, maar sy siel behou. Die roman eindig soos volg: “Hy sien in verbeelding homself daar loop oor die donker veld, swaar en swart, vermoeid, alleen in die wye eensaamheid, maar algaande na die ver ruim lig; en sy siel in hom.”
Anys lewer, kombuismes in die hand, ’n boodskap wat Jada weer van rigting laat verander. Sy vertel van die pastoor se preek oor Abram wat sy seun Isak moes offer, soos vertel in Genesis 22:
“Die dienaar het annerdag gepreek oor so ’n slagmes,” sê sy as aanhef tot nog ’n oorgelewerde kombuispreek. “Oor Abram wat die slagmes en vuurmaakhout gevat het, maar die vleis by die huis gelos het, want God het gesê vat jou kind, jou hart se punt, en gaan slag hom met ’n slagmes [...] Die dienaar het gesê daardie was net ’n toets gewees. Die Jirre toets onse harte, kom sê ons moet elkeen die heel lieflikste ding vir hom slag om te kyk het ons Hom liewer, of houvas ons ons eie lieflikste ding. Dan kyk Hy wat maak ons. Kaantie, daar sit klaar ’n skaap in die doringbos vas.” (291–2)
Wanneer Jada skynbaar vir Katryn en die plaas verloor het, lyk dit, in die pastoor se woorde, of sy twee “heel lieflikste” dinge van hom weggeneem is. Maar miskien is Anys se pastoor reg, dat Jada eers moet aflê wat vir hom die naaste aan die hart is, om dit in vryheid terug te kan ontvang – die vryheid van iemand wat geleer het om af te gee in plaas van vas te klem.
Daar is ook ’n derde verlange (naas Katryn en die plaas) wat Jada in sy hart koester: die verlange na die oorskryding van verdelende grenslyne en versoening in die gemeenskap. Hierdie ideaal is skynbaar in skerwe wanneer ’n opstand uitbreek en haat van alle kante losbars. Die opstandiges gooi klippe en steek bande aan die brand; die wit mense rig staalheinings op en kry diefwering, baie soos wat in Elsa Joubert se Die laaste Sondag gebeur wanneer opstande dreig. Dit is heinings wat nie net die opstandiges buite hou nie, maar vreesagtiges binne – twee vyandige groepe word van mekaar geïsoleer. In teenstelling hiermee bring Jada sy boodskap van liefde, wat tot albei kante spreek. Vir die protesterendes sê hy: “Jou broer en jou suster is daar aan die ander kant van die vuur” (304); by die vergadering van die Boerevereniging vra hy vermanend: “Waar is die liefde? As ons geloof nie tel in tye soos hierdie nie, is dit ’n windeier” (308).
Op Kersaand woon Jada nie die wittes se Kersdiens by nie, maar lê hy besoek af in Duiwelskamp, waar hy help met die geboorte van Miriam se kind. Dis byna asof Jesus se geboorte in die arm omgewing weerspieël word. Mandla, met sy mooi basstem, sit vervolgens ’n lied in: “Sizalelwe Indodana / Igama layo / nguJesu”; en dan word Jada deel van “’n menigte van stemme om die sinkhok wat dieselfde lied met ’n komplekse variasie van vele diskante bly herhaal” (319). Die Kersverhaal is nie “slegs vir blankes” nie.
Gevare word afgeweer in die Kersnag by Duiwelskamp. So byvoorbeeld loop Bunny Maarman en twee van sy gewelddadige makkers op Jada af, maar wanneer Jada sy hand na Bunny uitsteek, vat hy dit en vra onverwags dat Jada vir hom bid (316–7). Vir my is dit ’n ietwat onoortuigende toneel, soos ook enkele ander tonele in die laaste gedeelte van die roman, byvoorbeeld hoe maklik Jada toegelaat word om die woedende skare toe te spreek en hul skielike instemming met sy woorde (304–5), en die onverwagse kansellering van die dag van afrekening (310). Moontlik is die bedoeling dat hierdie tonele die mag van God en die krag van gebed moet illustreer (vergelyk Anys se dringende gebede op bl 310), maar dit is ’n strukturele swakheid as geloof as ’n tipe deus ex machina gebruik word.
Voordat die lig finaal vir Jada opgaan, ervaar hy ’n diepe innerlike duisternis. Hy “is aan die doodbloei hier binne. Die lostrek van eelte van gevoelloosheid [...] Hy kry nie gebid nie [...] Hy skryf: My God, my God. Waarom? [...] Die einde, skryf hy in sy dagboek” (328). Hy beleef iets van die Godverlatenheid van Jesus aan die kruis; maar dit is die voorspel tot ’n helder lig wat ten slotte deurbreek. Die einde lei tot ’n nuwe begin.
Jada se plaas word met inhoud en al opgeveil, maar voordat die veiling afgehandel is, is daar ’n dramatiese wending. Aunt Mavis kom daar aan in ’n bloedrooi motortjie wat deur ’n kaalkop man bestuur word – dit lyk of haar lewenslange droom bewaarheid is. Op die agterste sitplek sit ’n jong vrou vir wie tannie Martie, die vrou van die plaas langs Erfdeel, met verbasing herken. Daar word nie eksplisiet gesê wie die twee mense is wat saam met Aunt Mavis in die motor is nie, maar die feit dat hulle die plaas wil koop met geld uit die Royal Bank of Scotland, behoort genoeg van ’n leidraad vir die leser te wees ... (345)
Dit lyk of Jada nie aanwesig is wanneer dit gebeur nie, want hy loop weg van die veiling na die sinkkerkie toe, waar hy ’n helder innerlike lig ervaar: “... ’n hemelvaart van aardse stoflikheid. Binne-in hom is alles lig” (348). Sy prioriteite is nou in ooreenstemming met die preek van Anys se pastoor – hierdie aardse lig, die verlossing van “aardse stoflikheid”, is vir hom die belangrikste saak in die lewe: “Hierdie vryheid ruil hy vir niks nie. Al bied hulle hom Erfdeel aan. Al kan hy vir Katryn terugkry. Hy stap ligvoets bergop” (349).
Hy gaan die berg op, tot op die rand van die krans, maar nou is hy nie meer, soos vroeër, bang om te val nie. ’n Arend sweef voor hom, gewigloos, bo gehou deur die lugstrome, en dan is dit asof Jada ook ’n arendsvlug onderneem. “Sy vrees is weg. Hy sprei sy arms uit” (350). Hy kry ’n hemelse perspektief op aardse werklikhede, en hoor die musiek van die “All Nations Brass Band” met ’n massa mense wat sing: “Wat ’n vriend het ons in Jesus”. Onder hulle is ’n verskeidenheid mense wat sy pad gekruis het: Mandla, tannie Marie, Anys, Oudominee, plaaswerkers, maar ook vele ander wat hy nie ken nie – almal deur Jesus met mekaar verbind, almal met goue papierkrone wat op hul koningskap dui. Hierdie visioen moet verbind word met die kiepersol wat die kerkmense vroeër uitgehaal het; maar Jada het dit op die plaas geplant en het so pas die stomp water gegee. Sy versorging van die kiepersol is ’n daad van hoop op die verwesenliking van Jongdominee se droom van ’n kiepersolgemeente.
Dan, uit die bloute, maak Katryn haar verskyning; dis deel van die visioen, maar kennelik ook ’n gebeurtenis wat in die werklikheid voltrek sal word. Jada het nou alles waarop hy gehoop het: Sy plaas is behou, Katryn is terug, die kiepersol sal weer groei. Lesers mag miskien dink dat dit te veel van ’n gelukkige einde is, maar ’n mens moet onthou dat Jada hierdie geluk bereik nadat hy baie lyding ondergaan het, sy eie smart beleef het asook die ellendes leer ken het van die uitvaagsels van die wêreld. Dis nie net ’n verhaal van maneskyn en rose nie.
........
Aan die begin is daar betreklike geluk en geborgenheid, dan volg die afdaal in die dieptes van ellende, en ten slotte is daar ’n terugkeer na geluk, maar dan met die wysheid wat in die dieptes verwerf is. Voorbeelde hiervan is die verhale van Josef, Job en Jesus.
........
Northrop Frye het in The Great Code geskryf oor die “U-patroon” wat kenmerkend van Bybelse verhale is: Aan die begin is daar betreklike geluk en geborgenheid, dan volg die afdaal in die dieptes van ellende, en ten slotte is daar ’n terugkeer na geluk, maar dan met die wysheid wat in die dieptes verwerf is. Voorbeelde hiervan is die verhale van Josef, Job en Jesus. Frye beskryf hierdie struktuur as kenmerkend van die komedie, in teenstelling met die tipiese struktuur van die tragedie; in dié sin is Dante se Divina Commedia ’n komedie. Die onsigbare het ’n soortgelyke struktuur, vanaf die veiligheid van Jada se jeugjare, deur die beproewings ná sy ouers se dood, tot by die slot, waar geluk en wysheid gekombineer word. In ’n roman wat so gevul is met Bybelse verwysings en eggo’s, is dit gepas dat Die onsigbare ook die tipiese struktuur van Bybelse verhale bevat.
Ek het aan die begin genoem dat dit wil voorkom of daar telkens nuwe, verrassende dinge in die Afrikaanse letterkunde gebeur. Wat vernuwing betref, is dit nodig om te onthou wat TS Eliot daaroor geskryf het. Hy verklaar in sy opstel “Tradition and the individual talent” die volgende:
No poet, no artist of any art, has his complete meaning alone. His significance, his appreciation is the appreciation of his relation to the dead poets and artists. You cannot value him alone; you must set him, for contrast and comparison, among the dead [...] The existing monuments form an ideal order among themselves, which is modified by the introduction of the new (the really new) work of art among them. (Eliot 1953:23)
’n Mens kan Die onsigbare uit verskillende oogpunte beskou; ek het in hierdie essay telkens verbande met ander tekste uit die Afrikaanse letterkunde aangetoon. Daar is die religieuse ingesteldheid wat die roman verbind met die werk van Van Melle en Anna M Louw; die verlange na versoening in die gemeenskap wat herinner aan die romans van Elsa Joubert; en die reise na die skadukant van die menslike natuur en die samelewing wat ’n verbintenis toon met temas van Etienne Leroux. Die bande strek nie net tot skrywers uit ’n vorige generasie nie. Die verskeidenheid spreektaalstemme in die dialoog van Die onsigbare, wat harmonies met Standaardafrikaans verbind word, dui op die veelstemmigheid wat in die jongste tyd in die Afrikaanse letterkunde gehoor word, waarvoor Adam Small die fondament gelê het.
Die onsigbare is ’n roman wat waarlik nuut is, maar ook geanker in ’n tradisie. Dis ’n werk wat ’n mens na meer laat verlang.
Bibliografie
Bunyan, John. 2017 (1678; 1684). The pilgrim’s progress. New Kensington: Whitaker House.
Eliot, TS. 1953. Selected prose. Middlesex: Penguin Books.
Frye, Northrop. 1982. The Great Code. The Bible and literature. Toronto: Academic Press Canada.
Jonker, PJO. 2024. Die onsigbare. Kaapstad: Tafelberg.
Joubert, Elsa. 1983. Die laaste Sondag. Kaapstad: Tafelberg.
Leroux, Etienne. 1962. Sewe dae by die Silbersteins. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, Anna M. 1991. Wolftyd. Kaapstad: Tafelberg.
Nouwen, Henry. 1972. The wounded healer. New York: Doubleday.
Small, Adam. 1965. Kanna hy kô hystoe. Kaapstad: Tafelberg.
Van der Merwe, Chris N en Pumla Gobodo-Madikizela. 2008. Narrating our healing. Perspectives on working through trauma. Newcastle: Cambridge Scholars Publishing.
Van Melle, J. 1976. Bart Nel. Tweede uitgawe, 17de druk. Pretoria: JL van Schaik.
Lees ook:
Grenselose genade en Die heiligheid van hier: Chris van der Merwe en Cas Wepener ruil gedagtes uit
Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: 'n leeskringbespreking
Na die geliefde land deur Karel Schoeman: ’n leeskringbespreking
Kommentaar
Die resensie van Die Onsigbare is waarlik baie volledig en insig-gewend met verwysing na soortgelyke temas wat anders skrywers ook hanteer het. Ek kan my egter nie indink aan 'n soortgelyke verhaal in Afrikaans nie wat so oorheersend hierdie bybelse kerntemas in prosa herverbeeld het nie. As ek mag, wil ek dit kortliks opsom soos volg: Die skrywer ken die Bybel-verhale en -metafore duidelik baie goed, en het geslaag om die waarhede daarvan in te weef in 'n eenvoudige plattelandse boereverhaal. Hy het die Bybelse verhale as't ware omgesit in 'n menslike verhaal wat in die hede afspeel, met taal en plek wat aan die moderne mens bekend is. En so die ou mitiese en religieuse verhale 'n nuwe lewe gegee waarmee moderne mense - veral soekendes, gebrokenes - mee kan identifiseer. Ek sal die boek moet aanskaf en self lees voordat mens 'n finale waardering kan maak, maar wat ek lees maak my optimisties. Wat my egter pla, is dat dit dalk tè geforseerd is, asof die ou bybelse model en raamwerk waarbinne dit geskied, die geloofwaardigheid en egtheid van die teenswoordige vertelling en huidige gebeure moontlik bederf het.