Die onsigbare: ’n onderhoud met PJO Jonker

  • 0

Die onsigbare
PJO Jonker
Tafelberg
ISBN: 9780624095422


Toe hierdie boek die dag deur die koerier by my voordeur afgegee is, het dit my drie minute geneem om vir my man te sê dat hy my vir die res van die dag moet verskoon, en my ander werk moet maar wag, want ek het intuïtief geweet ek het hier ’n besonderse boek in my hand. En ek was nie verkeerd nie; inteendeel.

Trisa Hugo praat met PJO Jonker oor Die onsigbare.

Jou Facebook-status lui: “PJO Jonker verbeeldingsvlugteling van Koffiefontein. ’Broer in fiksie’ van Philip Jonker.” Die eerste vraag wat by my opgekom het, was jou naam. Wie is PJO Jonker? En waarom PJO, die geheimsinnigheid, as jou naam klaarblyklik Philip is? Is dit jou naam, of ’n skuilnaam?

Daar moet onderskei word tussen Philip Jonker en PJO Jonker. Philip is wynmaker, oggendmens en woon tussen die Chardonnay-wingerde van Weltevrede op Bonnievale. PJO het ’n matriek in letterkunde. Hy is vernoem na sy oupa, PJ Olivier. (Julle ken sy naam dalk van die PJ Olivier-kunsgebou in Stellenbosch.) PJO Jonker is voltyds skrywer, al skryf hy nie altyd nie, ’n Karooboer wat verkies om te skuil op sy plaas buite Koffiefontein in die Vrystaat.

Wanneer het jy besef dat jy hierdie moontlike talent het om woorde in te span, en boonop hierdie verhaal in jou kop?

Van kindsbeen het ek grootgeword in ’n huis waarvan die mure boekrakke vol boeke is. ’n Familie van storievertellers. Waarnemers. Mense met respek vir skrywers. ’n Liefde vir taal. Vir woorde. Die spasies tussen woorde. In ons familie is skryf ’n ding van oorlewering en oorlewing. Die reglê van ’n sin soos musiek. Moedersmelk. Ons skryf onsself los uit engtes van versteuring. Soek betekenis in die spasies tussen woorde. In die stiltes.

...........
In ons familie is skryf ’n ding van oorlewering en oorlewing. Die reglê van ’n sin soos musiek. Moedersmelk. Ons skryf onsself los uit engtes van versteuring. Soek betekenis in die spasies tussen woorde. In die stiltes.
............

Enige leser sal besef hoeveel feite daar net oor skaapboerdery is, so tussen die verhaal deur.

Die onsigbare is so goed soos ’n ware verhaal vir my. Daar is nie navorsing wat hierin gegaan het nie, liewer belewing en inlewing. Ek weet hoe ruik skaapwol, hoe dit voel as ’n skaap jou kaal voet raaktrap. Feite is terloops. Ek weet in elk geval nie meer wat is waar en wat is verbeelde werklikheid nie. Uitgewer Etienne Bloemhof sê ek het ’n natuurlike vertelstyl, en hopelik is dit alles sommer soomloos, so amper onsigbaar ingeweef.

Hoe lank het jy hieraan geskryf en geskaaf? En die berugte oorskryf ... Hoe het jy die skryfproses aangepak?

Die ingewing van die storie was baie jare gelede al. Ek was nog jonk. Die storielyn was in ’n oomblik duidelik. Maar die karakters moes ek oor tyd leer ken. Jy begin leef met hulle in jou kop. Daar is die beetpakking en dryfkrag, die innerlike aansporing om die storie in sy volle omvang te skryf. Maar ek moes my losworstel uit my eie onbeholpenheid. Moes by wyses se voete gaan sit, die kuns leer ken. My jong stem moes ek speen, ’n meer volwasse stem oor jare ontwikkel.

Daar was soveel lemme en slaggereedskap, soveel keer se terugstuur om alles geheel oor te skryf vanuit ’n ander perspektief, vanaf verskeie vertrekpunte in die verhaal. Vandag besef ek dit was waardevolle vingeroefeninge. In die proses dink jy verskeie kere die werk is nou reg, nou moet dit net boek toe.

..........
Daar was soveel lemme en slaggereedskap, soveel keer se terugstuur om alles geheel oor te skryf vanuit ’n ander perspektief, vanaf verskeie vertrekpunte in die verhaal. Vandag besef ek dit was waardevolle vingeroefeninge. In die proses dink jy verskeie kere die werk is nou reg, nou moet dit net boek toe.
...........

Dan volg nog ’n keurverslag. Heuning om die mond. Maar hulle stuur die bye agterna. Die teleurstelling. Skryf oor. Skryf oor. Dis ’n bitter lydensweg. Maar in die proses leer jy. Jy raak heeltyd beter. Wat jy dan nog nie besef nie, is: Dit is dalk net nog nie jou beurt nie.

Wat mens nie laat ophou nie, is die karakters. Jy skuld hulle ’n lewe. Jy kan hulle nie in die steek laat nie. Uiteindelik, as die storie in ink op papier kom, is dit soos ’n geboorte. Nou kan jou karakters leef. Hulle kan nou die lewe ingaan en lesers ontmoet. Die onsigbare was nogal ’n storie. 19 jaar. Ek is nou 51.

..........
Uiteindelik, as die storie in ink op papier kom, is dit soos ’n geboorte. Nou kan jou karakters leef. Hulle kan nou die lewe ingaan en lesers ontmoet. Die onsigbare was nogal ’n storie. 19 jaar. Ek is nou 51.
............

Deon Meyer skryf met behulp van Scribd om sy karakters en hoofstukke te orden; party skrywers maak ’n mood board; ander werk met streng beplanning en ’n spreivel. Self gebruik ek MindMaps; ander weer het honderde notas en papiertjies. Hoe het jy dit aangepak? Hoe lyk jou skryfproses?

Ek vind my lewe
verlore
op los papiertjies.

Wat kom vir jou eerste: die storie of die karakters?

Karakters is soos mense wat jy ontmoet. Party se name onthou jy die eerste keer. Iets bly jou by omtrent elkeen. Ander se name onthou jy eers later. Daar is baie karakters in Die onsigbare, maar elkeen is hopelik verwerklik in hul dialoog en karakterisering.

..........
Karakters is vir my selfs belangriker as die storie. Dis immers húlle storie, nie my storie nie.
.............

Karakters is vir my selfs belangriker as die storie. Dis immers húlle storie, nie my storie nie. Ons het almal merkwaardige mense in ons lewens wat ’n impak op ons het sonder dat hulle dit weet, bloot deur wie hulle is. Ek wil glo die karakters in Die onsigbare gaan lesers se beste vriende word wat hulle tot aan die einde van hul lewens bybly.

Daar word deur lesers en resensente kommentaar gelewer oor die besondere Afrikaans wat jy gebruik. Ek wil nie te veel oor die roman uitwei of iets verklap nie, maar jou karakters is so lewendig. Soos Lucky – ek kan my verbeel hoe hy stap, met so ’n swenk in die lyf. Want hokom (Luckyboy se woord), jy het hom deur sy dialoog laat lewe, al was hy net ’n newekarakter. Is hy, Anys en die Kaapse een geïnspireer deur spesifieke mense? En ander newekarakters soos Ou Leen? Vertel ons daarvan.

Ek kan nie so sê nie. Maar ek is seker jy sal hulle nog raakloop. Eendag. Iewers.

Ek wil die stories vertel van karakters wat jy voel jy lankal ken, karakters wat spontaan en eg hul eie Afrikaans praat. Jy hoor hulle. ’n Prokureur, ’n versekeringsmakelaar en ’n bankbestuurder praat dalk almal Afrikaans, maar hulle praat nie noodwendig dieselfde taal nie. Wat nog te sê meer uiteenlopende karakters. Die stemme in die storie moet so praat dat jy later self weet wie aan die woord is.

Daar is vir my ’n visuele vorm en ritme aan ’n sin. Nie net in die dialoog nie. In die res van die teks ook. Partykeer is ’n sin presies wat daar moet staan, maar dit moet anders lyk. Of hardop is die ritme verkeerd vir die atmosfeer van die oomblik.

’n Wenk: Dis anders as mens Die onsigbare hardop vir jouself lees. Probeer dit.

Anys is ’n sterk en geliefde karakter. Is sy op iemand spesifiek gebaseer?

Nie een persoon spesifiek nie. Maar baie van ons het aan die voorskootpante van sulke sterk, formidabele vroue grootgeword. Die lesers gaan besef hulle is lankal lief vir Anys.

Oor die omslagontwerp, die rooikat en die jong vrou op die omslag: Wat kan jy vir ons van hulle vertel? Ek het dadelik dieselfde gevoel gekry as wat ’n amper soortgelyke tipe voorblad belowe het – SP Benjamin se Dinge van ’n hond. Net soos Benjamin doen jy daardie belofte gestand, op ’n unieke manier.

Daar is ’n mooi verband. Ek laat net die kat se ore uitsteek, gaan nie te veel verklap nie. Die jong vrou sonder naam skud Jada se gevestigde raamwerk van liefde en dop sy lewe om. Sy breek sy binnegrense. Haar bestaan (of nie) dryf sy hele rede vir alles enduit in Die onsigbare.

Jada boer met skape in die Karoo, aan die voet van die Swartberge. Dit was nogal ’n skok om te besef wat skaapboerdery alles behels! Jada is ’n vreemde naam vir ’n boerseun. Dis nou wel afgelei van Jan-Dawid, tog is daar ook iets Bybels aan. Wat was jou inspirasie vir hierdie karakter, die vonk wat Jada aan die lewe gekry het?

Jada was maar net van die begin van die storie se ingewing af daar. Hy is die vierde-geslag Jan-Dawid Olivier van Erfdeel. Sout van die aarde. Uit ’n lang geslag van swygers. Spraakstram. Sukkel met hoogtevrees. ’n Jongman met werklike onsekerhede en uitdagings.

Jada was ’n moeilike prater, soos jy sê, maar in sy kop kon hy liries raak. Dit was ’n lekker kontras met die staccatoagtige dagboekinskrywings. Dit alleen vertel ’n verhaal.

Saans sit Jada met sy dagboek waarin sy skaaptellingaantekeninge is. Dan skryf hy enkelwoorde neer. Een woord kan soms meer as ’n boek sê. Hierdie enkelwoorde is funksioneel deurdat dit Jada se woordekonomie uitbeeld, maar dit vang baie keer ’n hele week van gedagtes vas.

Een voorbeeld is waar hy die middag met sy bakkie die sinkplaatgrondpad plaas toe ry en die gevolge van sy keuses bedink. Daardie aand skryf hy in sy dagboek “Reperkussies”. Dit verwoord sy hele gedagtegang van die middag. Maar daar is ook ’n bepaalde tekstuur, klank en ritme aan die woord. Reperkussies. Sinkplaatpad. Die woorde is vir my sinoniem.

Jada is ’n bietjie van ’n randfiguur; word vroeg al leer ken as ’n alleenloper wat hom besig hou met ander dinge as die meeste kinders, ’n belangstelling in die anderse. Hy maak homself ongewild deur ’n rooikat tussen skaapplase groot te maak. Selfs ’n leek soos ek weet wat die gevare van ’n rooikat is op ’n skaapplaas. Later in sy lewe besoek hy weer gereeld Duiwelskamp, ’n informele nedersetting, en spandeer tyd daar met karakters wat ons in die storie leer ken. Wat doen hy daar? En hoekom?

Jada is nie die uitgeknipte opvolger vir die boerdery nie. Mens besef van vroeg af dat dit vir Jada ’n swaar mantel gaan wees. Hy is anders. En die sinjaalswenk bring veral ’n wending wat hom op ’n syspoor neem wat haaks is met ander se verwagtinge. Hy ontwikkel ’n reddingsgenooptheid wat hom na die mense van Duiwelskamp neem. Ironies genoeg is dit daar waar Jada redding vir homself vind. Vryheid in anonimiteit. Al staan hy soos ’n seer vinger uit. Daar is hy nie die vierde-geslag Olivier van die plaas Erfdeel nie. Hy is net Jada.

Bladsy 1 begin met die volgende woorde: “Diep in die nag het dit gereeld gebeur. Hy droom hy val.” Jada se vrees vir val is ’n tema regdeur die boek. Vertel ons hiervan.

Van die eerste sin af raak mens bewus van Jada se onsekerhede. Hy het nie net hoogtevrees nie, maar ook valvrees. Vrees vir val as mens. As opvolger van Erfdeel. ’n Belangrike plek in die storie is dan ook die veepos bokant die loodregte krans, wat die plaaswerkers die Groot Afwesigheid noem.

Die titel: Die onsigbare. Verwys dit na iets of iemand spesifiek, of het dit ’n breër verwysing? Dit voel asof hier ’n laag-op-laag-tipe betekenis is.

Daar is verskeie moontlikhede, miskien laag op laag soos jy daarna verwys. Ek laat dit aan die lesers oor om uiteindelik hul gevolgtrekkinge te maak.

Mens kry die indruk dat Die onsigbare kommentaar lewer oor verskeie dinge. Louise Viljoen verwys ook in haar resensie in Rapport daarna dat die boek debat gaan ontlok. Wat dink jy, watter aspek(te) van die boek gaan mense aan die praat kry?

Dis ’n storie. In die eerste plek moet Die onsigbare slaag as verhaal. Maar dis ook op ’n manier soos ’n filmgreep in die Karoo vanaf die tagtigerjare tot die vroeë 2 000’s, met ander woorde rondom die geboortepyne van ons demokrasie. Enige goeie foto met ’n oorspronklike perspektief van daardie tydperk sal kommentaar lewer. Hoeveel te meer nie ’n 20 jaar oue videogreep, of in hierdie geval ’n roman, nie.

Jy maak lekker gebruik van simboliek, Jada se drome en sy vrese. En daardie sinjale! Is dit so beplan, of het jy organies daarin gegroei tydens die skryfproses? Kerneels Breytenbach gee sy indrukke op die omslag van die boek en beskryf dit as “’n profetiese roman van ons tyd”.

Die storie het spontaan die allegoriese gesporileer. Ook die karakters. Ek laat dit aan lesers oor om self in die erts te delf. Ek het een van die karakters hoor sê: “Die hele wêreld is op Erfdeel vandag.”

Daar was vir my heeltyd so ’n Etienne Lerouxrige skaduwee aan die boek, dalk ook met die verwysing na Koffiefontein op jou Facebook-blad. En sowaar! In Rapport gooi jy sélf ’n skaduwee op die ingangsmuur na JaNee, Etienne Leroux se plaas by Koffiefontein. Vertel meer!

Is dit aanvaarbaar as ek nie hierop antwoord nie? Miskien net dit: Ek is nie werd om sy skoene vas te maak nie (ook nie werd om ’n skaduwee teen sy muur te wees nie).

“Die onsigbare is ’n rare spin van die tradisionele plaasroman ... bevestigend, andersmakend en uiteindelik vierend.” Dis die omslagindruk van Frederik de Jager.

Plaasroman ... Vir die afgelope honderd jaar al probeer ons die plaasroman definieer; sommiges wil dit dan finaal bekis en begrawe. Maar na 'n bui reën in die boekewêreld, as ons weer sien, spruit 'n nuwe saailing grasgroen in 'n ander gedaante uit die klam grond.

Oor honderd jaar van nou af sal daar steeds ander plaasromans opslag vind uit die puin van die voriges, stories wat ons landskap en mense op intydse wyse vertolk, waar die verteller getoets word sonder die maskers en gebrom van die besige. Waar karakters leef as nuwe-geslag vlees en bloed wat in ’n ander Afrikaans praat, kombuistaal so nuut soos UberEats. Tog steeds gestroop in eenvoud. Met aarseling en stilte. Klippe wat kommentaar lewer. Egte stories in die stof van 'n nuwe tydsgreep geteken.

Daar is geen wegkruipplek in ’n plaasroman nie. As gevolg van die stiltes, die eenvoud van plattelandse milieus, die karakters. Alles is helder en klinkklaar. Daar is ’n vergrootglaslens op elke stofdeel. Dit daag ’n skrywer uit tot akkuraatheid. Minimalisme. Dis soos Arvo Pärt se musiek: Wat jy hoor is die stiltes tussen note. Hier lees jy die storie in die spasies tussen woorde. In ’n plaasroman praat die klippe.

Die genre boor tot in die hart van die Suid-Afrikaner omdat dit tonele, temas, storielyn en karakters is wat aan mens so eg, eie en bekend is. Jy ken hulle. Hulle is jy.

Verder is Afrikaans ook so ’n geskikte taal vir die genre. Plaasromans of plattelandse romans kom in baie lande en in baie tale voor. Maar hierdie taal is anders. Afrikaans. Dis ’n gestroopte taal. English is like a ribbon floating in the wind. Afrikaans is uit klip gebeitel. Dis eenvoudig. Eg. Sterk. Waar tale soos Engels en Frans ’n melodie in mens se kop vorm, het Afrikaans ’n ritme. Daar is perkussie. Dis visueel. Daar is stemmingsvolle leegtes in die taal. Dalk is dít Die Onsigbare.

Laastens, baie dankie dat jy ingestem het om met my te gesels! Baie sterkte vorentoe met hierdie mallemeule waarop jy geklim het. Ek hoop jy is deeglik hierop voorbereid. Mag jou boek vlieg!

Lees ook:

Uit die argief: Agaat deur Marlene van Niekerk

Dwaalpoort moontlik die heel beste roman van 2010

Resensie: Dinge van ’n hond deur SP Benjamin

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top