Dwaalpoort moontlik die heel beste roman van 2010

  • 0

Dwaalpoort
Alexander Strachan
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049210
Prys: R195.00

Klik hier en koop Dwaalpoort nou van Kalahari.net!

 

Dwaalpoort is Alexander Strachan se eerste roman sedert Die werfbobbejaan,wat in 1994 verskyn het. In 1997 het hy wel ’n kortverhaalbundel, Agter die suikergordyn, gepubliseer en nou het hy sy drama Kloof (2003) herskryf en goed daarin geslaag om ’n drama van gemiddelde gehalte in ’n spogroman te omskep. Dwaalpoort is een van die beste Afrikaanse romans wat in 2010 uitgegee is, moontlik selfs die heel beste.

Dwaalpoort is ’n wildplaas, vermoedelik in KwaZulu-Natal, waar ’n regter, Jurgens van der Beul, en sy vrou, Anne, opdaag om ’n hartbees vir Jurgens se uitspattige trofeekamer te skiet. Strachan se roman oor ’n jagepisode op ’n wildplaas is dus die jongste toevoeging tot die lang tradisie van sowel die plaasroman as die jagliteratuur in Afrikaans. Dwaalpoort tree wel deeglik in gesprek met die konvensies van die plaasroman, maar danksy die besondere aandag wat Strachan aan die diere op die plaas gee, slaag hy tog daarin om dié gevestigde genre te verryk. In die Afrikaanse letterkunde is daar talle voorbeelde van aangrypende dierekarakters, maar te midde van heersende kommer oor jagpraktyke wat diere soos renosters bedreig, is Dwaalpoort ’n tydige besinning oor die etiek van jag en die bewaring van wild op die groot aantal wildplase in Suid-Afrika.

Die verhaal word beurtelings vanuit die perspektief van ses verskillende karakters vertel en een van hierdie karakters is ’n dier, die mitiese albino-hartbees genaamd Mhlophe (wat “wit”in Zulu beteken). Mhlophe waak sedert die vroegste tye reeds oor Dwaalpoort en dit word gou duidelik dat hy die oergees van die ewige natuur verteenwoordig, terwyl die menslike bewoners van die plaas aan sy mag uitgelewer is.

Rentia het Dwaalpoort van haar pa, die landdros en boer, Ludwig, geërf en weerhou nou haar man, die papbroekige Henning, daarvan om volledige eienaarskap van die plaas op te eis. Henning se naam is ’n ironiese verwysing na die plaaserfgenaam in CM van den Heever se klassieke plaasroman Laat vrugte wat, anders as Henning in Dwaalpoort, wel daarin slaag om ’n seun te verwek en sodoende te verseker dat die plaas in familiebesit bly.

Dit blyk uiteindelik dat die jaggids, Bullet, wat op Dwaalpoort grootgeword het en in sy jeug ’n verhouding met Rentia gehad het, ’n sterker aanspraak as Henning én Rentia op die plaas het. Erfopvolging en die doen en late van die boerepatriarg is gevestigde temas in die Afrikaanse plaasroman en Strachan is vernuftig genoeg om hierdie standhoudende diskoers te verruim deur dit te laat aansluit by sy persoonlike mitologie oor die vaderfiguur wat geslag na geslag in verskillende gedaantes terugkeer. Hierdie mitologie het reeds in sy debuut, ’n Wêreld sonder grense, ontstaan en is gaandeweg in sy hieropvolgende romans ontwikkel. In Dwaalpoort is dit dan nie om dowe neute dat Rentia se terugkerende vader ook as Mafik’ ungamboni(“hy wat opdaag sonder dat jy hom sal herken”) bekend staan nie.

Ook die vroulike pendant van die patriarg blyk in Dwaalpoort ’n ewigheidsaanspraak te hê. In die geskiedenis van die plaas is daar telkens sprake van ’n hoer wat die erfgenaam van die plaas verwek. Dié “oerhoer” is Henriette, wat tydens die Anglo-Boereoorlog van Dwaalpoort weggevoer word en in ’n konsentrasiekamp swanger word met ’n seun, Lodewijk, by ’n Engelse offisier. Anders as die oerpatriarg leef die oerhoer onder die beskerming van die oerbok, Mhlophe, en hulle albei spook steeds op die plaas. Die spanning in die roman kan vernou word tot die boeiende interaksie tussen patriarg, hoer en bok, oftewel man, vrou en natuur.

Deurdat Strachan gereeld inspirasie uit die Jungiaanse psigologie put, is hy daartoe geneig om ’n voorkeur vir argetipiese karakters te koester. Die vraag is egter of lesers wat deur die feminisme ’n sterker gevoeligheid vir stereotipes ontwikkel het, vandag nog veel geduld sal hê met die hoer as ’n argetipiese vroulike karakter. Is dit nog aanneemlik om die vrou óf as hoer óf as heilige uit te beeld? Gelukkig staan die karakter Rentia in Dwaalpoort buite hierdie diskoers en al is sy nie die interessantste personasie in die roman nie, word sy ten minste nie vasgevang binne die figuur van die hoer nie. Tog is haar rol as vroulike plaaserfgenaam van korte duur en moet sy die veld ontruim ter wille van die onverbiddelike voortgang van manlike erfopvolging.

Vir my is die krag van Dwaalpoort nie in die genderverhoudings gesetel nie, maar wel in die uitdagende representasie van die dierekarakters, spesifiek die hartbees Mhlophe wat die eerste en laaste woord in die roman voer. Al sedert die vroegste mense, die San, op Dwaalpoort gewoon het, waak dié wit hartbees oor die plaas:

Niemand kon sy oë ontsnap nie, maak nie saak waar hulle was nie. Hy hoef maar net af te kyk voor hom in die water. Hy kon die werfmense se afbeeldings deurentyd voor hom in die oog sien. Elke oggend wanneer hy bo van die plato af kom om te drink, kon hy hulle in die rimpeling van die water in die poel sien. En hy kon ook ánder mense in die poel sien. Die mense wat lank terug hier gewoon het. In die tyd voor daar opstalle gebou is. Eers die jagters met die gifpyle – die brandwonde wat moeilik herstel het. Toe die ander jagters – dié wat met die spiese gekom het, wat die breë lemwonde gegee het ... en nou die soveelste groep jagters met gewere. (10-11)

In Specimens of Bushman Folklore (1911) het Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd ’n San-verhaal opgeteken waarin die god en vabond, Kaggen, in die gedaante van ’n hartbees verskyn om ’n groep kinders se siele te versondig. Buiten hierdie assosiasie met die bonatuurlike vervul die hartbees na my wete verder geen noemenswaardige funksie in die volksverhale van Suider-Afrika nie. In Dwaalpoort is Mhlophe tegelyk ’n onheilsdier wat gevaar vir die mens beteken én ’n bewaker van deurstromende lewe. In die roman is daar heelwat voorbeelde van brande wat onder Mhlophe se oë met gereelde tussenposes alles op die plaas vernietig, maar tog nà “baie buie reën sou die as geleidelik verdwyn en die landskap sou weer anders begin lyk” (317) soos die groen grasspriete weer uitloop en die lewe vir mens, plant en dier na die plaas terugkeer.

Mhlophe en ook die ander diere op die plaas – jaghonde, hoenderhane, poue, rotte, duiwe – handhaaf ’n noue band met die mense wat saam met hulle op Dwaalpoort woon. Mens en dier leef nie in afsondering van mekaar nie en telkens is dit die diere wat teen dreigende gevaar waarsku. Wanneer Henning kommersiële jagtogte op Dwaalpoort begin toelaat en eersugtige trofeejagters soos Jurgens opdaag vir wie doodmaak nie meer bowenal die funksie vervul om kos in die hande te kry nie, is dit asof die vertroue tussen mens en dier geskend word. Henning en Bullet se plan om ’n hartbees te verdoof en op ’n strategiese plek in die veld te los as maklike teiken vir Jurgens loop lelik skeef en stel die jagters bloot aan Mhlophe se woede.

In Alexander Strachan se oeuvre is die jagtersfiguur ’n terugkerende en meestal geïdealiseerde karakter. In Dwaalpoort is Bullet die voortsetting van hierdie nomadiese jagterspersonasie met sy militêre agtergrond en sy hegte band met sy jaghonde. Alhoewel Bullet in die jagbedryf werksaam is, is hy nietemin skepties oor jag as sport en verlekker hy hom daarin om Jurgens fisiek uit te put tydens die jagtog op die plaas.

’n Sterker ekologiese sensitiwiteit en ’n steeds stygende agting vir dierelewens is opvallend in Strachan se nuwe roman en lei daartoe dat dwingende vrae oor die jagbedryf gestel word. Plek-plek gaan Strachan moontlik te ver om weersin by sy leser op te wek oor die gedrag van die trofeejagter Jurgens van der Beul. As ’n mens lees dat hy ’n vrouebroekie oor die gemsbokhorings in sy trofeekamer drapeer en sy vrou Anne minagtend soos ’n jagtrofee behandel, is dit moeilik om enige simpatie met hierdie karakter te behou.

Met Dwaalpoort bewys Alexander Strachan weer eens dat hy ’n buitengewoon begaafde skrywer is, al sal sommige lesers dalk ongeduldig raak oor die tydsame verhaaltrant in sy nuwe roman. Strachan se boeke is diep gewortel in die werklikheid en spiritualiteit van die breër Suid-Afrikaanse samelewing. Op ’n onopdringerige manier integreer Strachan sy kennis van die Zoeloekultuur en die plaaslike wildbedryf en skep hy daarbenewens ’n oorspronklike mitiese gegewe wat ten volle oortuig. Verbluffend goed slaag hy in die slot daarin om alles deeglik saam te knoop sonder om al die geheime van sy teks prys te gee. Hy gun sy leser die plesier om na die laaste paragrawe verder te dink en te fantaseer oor karakters soos Bullet, Anne en Mhlophe, wie se lewens danksy die ritualistiese onderbou van die verhaalgegewe om voltooiing vra buite die begrensing van die laaste gedrukte bladsy in die roman.

  • Andries Visagie is verbonde aan die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top