Uit die argief: Agaat deur Marlene van Niekerk

  • 0

agaatNa die belangstelling en waardering wat Marlene van Niekerk se vorige roman gewek het, het baie lesers na 'n volgende boek van haar uitgesien. Ons moes lank daarvoor wag, maar nou, na tien jaar, het dit verskyn, en die wag was die moeite werd. Haar jongste roman, Agaat, is 'n triomf - nee, meer as 'n Triomf.

Agaat handel (onder andere) oor Milla Redelinghuys, die boervrou van die plaas Grootmoedersdrift, wat op sterwe lê en haar lewe in haar gedagtes herbeleef. Haar oppasser is die bruin vrou Agaat, vir wie Milla as klein kindjie aangeneem het en met wie se lewe hare verstrengel is. Indertyd was Milla eensaam, kinderloos en ongelukkig getroud, en die aanneming van Agaat was deels uit filantropiese oorwegings, deels uit selfsugtige motiewe - sy wou Agaat laat wegkom uit haar ellendige huislike omstandighede, maar Agaat moes ook aan haar leë bestaan betekenis verleen. Milla se idealistiese voorneme, om soos 'n Bybelse Hanna haar kindjie vir die Here groot te maak, ontaard al gou in 'n gruwelike kondisionering van die kind, 'n opvoeding waarin Agaat volledig na die hand van haar aanneem-moeder gevorm word. Agaat, die slagoffer van verkragting in die huis van haar biologiese ma, word op 'n manier weer 'n keer, lewenslank, verkrag, wanneer sy onderwerp word aan 'n lewe waarin sy geen behae het nie.

Die verhouding tussen Milla en Agaat bestaan egter nie alleen uit verdrukking en onreg nie; dis 'n komplekse haat-liefde-verhouding, 'n tipe folie á deux waarin die twee persone so in mekaar verstrengel is dat hulle feitlik hul aparte identiteite verloor. Hulle verhouding is 'n magspel waarin hulle op mekaar spioeneer en mekaar manipuleer; waarin hulle teen mekaar stry maar ook mekaar naboots; waarin elk haar eie geheime motiewe het, maar waarin hulle ook vir mekaar omgee en mekaar versorg. Geleidelik word die magsverhouding tussen die twee vrouens omgekeer. Waar Milla aanvanklik die lewe van Agaat volkome beheer het, verkry Agaat mettertyd al hoe meer invloed, totdat sy uiteindelik, op Milla se sterfbed, totale beheer oor haar gewese meesteres het. Nou is dit sy wat bepaal wat Milla mag weet en mag doen - maar aan die ander kant is sy die enigste een wat vir Milla kan versorg en met wie Milla nog wil en kan kommunikeer.

Met Milla se sterwe tree die tema van sterflikheid en die dood sterk op die voorgrond. Milla ly aan 'n siekte waardeur sy totaal verlam word en kan uiteindelik slegs deur die knip van 'n oog kommunikeer. Onder hierdie omstandighede word tande borsel, bad en stoelgang gebeurtenisse van 'n geweldige omvang. Fisies kan Milla byna niks meer doen nie, maar sy kan nou fokus op haar innerlike lewe, sy kan haar lewe weer in oënskou neem en daaraan sin probeer gee.

Milla se aanvanklike naïewe en idealistiese godsdienssin is langsamerhand deur die lewe afgebreek, en in haar dialoog met Agaat verdraai sy nou dikwels op 'n siniese, ontnugterde manier die godsdienstige frases waarmee sy grootgeword het. In haar misrabele liggaamlike toestand word verlossing van jeuk byvoorbeeld belangriker as verlossing van die sonde (pp 314 ev). Tog is nie alle vorme van religie vir haar verwerplik nie, en in haar sterwensoomblikke is daar tekens van 'n mistieke belewing van die eenheid van die al; van 'n besef van die onderlinge verbondenheid van mense met mekaar en met die kosmos (pp 698-9).

In vele opsigte is Agaat die slagoffer van Milla se manipuleringsdrang, van Milla se hubris waardeur sy soos 'n god die aangenome bruin kind na haar hand en na haar beeltenis vorm. Agaat, gebreklik en mishandel, is 'n slagoffer van psigologiese gewelddadigheid wat haar ál haar vryheid ontneem. Sy is 'n eensame tussenfiguur, nóg kind nóg bediende, wat in die buitekamer van die woonhuis slaap en ook in die samelewing as gevolg van haar bruin vel nooit volkome aanvaar word nie.

Agaat is egter nie net 'n slagoffer nie, maar ook 'n spieëlbeeld, 'n omgekeerde parallel van Milla. In haar eensaamheid leer sy om, soos Milla, die spel van manipulering te speel; haar invloed en mag neem steeds toe, totdat die verhouding tussen haar en Milla presies omgekeer word, met haar in die posisie van volslae beheer, en Milla as die volledig afhanklike kind. Agaat is ten slotte die baas van die plaas Grootmoedersdrift; sy, veel meer as Milla, word die ware moeder van Jakkie, Milla se biologiese kind; sy vorm die lewe van almal ná aan haar, soos wat Milla eers gedoen het. Daar is suggesties dat Agaat as eienaar van die plaas net so outokraties, of selfs meer, as Milla en haar man sal wees (p 455). Sodoende word die tirannieke patrone van die verlede skynbaar voortgesit, met geen vooruitsig op bevryding nie.

Tog is Agaat meer as spieëlbeeld van Milla. Sy kom in opstand teen die ongewenste patroon waarin sy geforseer is. Sy verwerp die dominerende godsdienstige voorskrifte en ontwikkel tot 'n "heks" met haar eie geheime religieuse praktyke waarin sy haarself met natuurelemente verbind - met vuur veral, ook met water, wind, son en skoenlappers. Dis 'n terugkeer na die Onbewuste, na 'n kragtige natuurlike lewe, na 'n natuurmistiek, en 'n wegkeer van die fasiele orde wat aan haar opgedwing is.

Hierdie tekens van verset bring nie vir haar totale bevryding nie, want haar lewe word in sekere opsigte nog steeds bepaal deur die orde waarteen sy opstaan. Daar is 'n oomblik in die roman wanneer Jakkie, Milla se seun, haar op 'n vliegtuigrit neem, 'n simboliese aanbod van totale vryheid, volledig vry van al die invloede wat op haar ingewerk het (pp 630 ev). So 'n vryheid is vir Agaat egter skrikwekkend, en sy moet noodwendig terugkom na die mense wat haar lewe bepaal het en aan wie sy gebonde bly. Deur haar terugkeer kan sy die rol van redder, wat sy telkens vroeër op die plaas moes vervul, hervat, en die leiding neem in die blus van die brand wat uitgebreek het (pp 639 ev).

Agaat se naam bevat 'n verskeidenheid assosiasies, en ek gaan hier net op enkele daarvan in. Agaat is 'n halfedele mineraal met verskeie gekleurde lagies - so ook is Agaat van die roman 'n persoon met baie skakerings. Die woord agaat is verder etimologies verwant aan goed: waar mense tradisioneel 'n suiwer edelmetaal soos goud of silwer as die waardevolste beskou, is Agaat se boeiendheid juis in haar "onsuiwerheid" geleë, in die subtiele onderstrominge wat gepaard gaan met haar sorgsaamheid teenoor Milla. Die woord agaat is ook verbonde aan god - en inderdaad heers Agaat soos 'n god oor die wêreld van die roman. Die verbinding van agaat, goed en god herinner ons daaraan dat begrippe soos "goed" en "god" geskep word deur die mense wat in beheer van sake staan. Die wêreld waaroor Agaat heers, is 'n mensgemaakte wêreld, geskape deur Agaat. Geen wonder haar van is Lourier nie, want sy is die een met die lourierkrans, die wenner in die wedloop om mag.

Agaat bestee besonder baie tyd en energie aan haar borduurwerk. Sy werk in die geheim daaraan en voltooi dit volgens haar eie insigte en verlangens, wat dui op die ontwikkeling van 'n eie individualiteit en 'n eie skeppingsvermoë. Die kleed waaraan Agaat byna lewenslank borduur, waarin sy die essensies van haar lewenservaring tot skoonheid transformeer, en waarin Milla uiteindelik begrawe word, is 'n simbool van die kuns. Die kleed is as 't ware die roman Agaat in die kleine: soos wat Milla in die veelkleurig-geborduurde kleed begrawe word, word die sterwende Milla in die teks Agaat in 'n rykgeskakeerde patroon "omvou".

'n Sentrale karakter in die roman is Jakkie, die seun van Milla en haar man Jak. Jakkie word, soos Agaat, vasgevang in die magspel op Grootmoedersdrift: sy pa en ma en Agaat (wat hom soos haar eie kind liefhet) probeer almal om hom onder hul beheer te kry. Aanvanklik is Jakkie veral onder sy ma se invloed, maar later word hy "sy pa se seun", met rampspoedige gevolge. As soldaat neem hy aan die grensoorloë deel, waaroor hy veel wroeging moet verduur, sodat hy hom verset teen die patroon waarin hy gedwing is en uit die land vlug. In Kanada word hy 'n musikoloog wat veral in etniese musiek belangstel, dus in die verband tussen musiek en identiteit. Dit is Agaat wat hom uiteindelik (tydelik) uit Kanada terug kry (byna soos wat in Adam Small se Kanna hy kô hystoe gebeur), met 'n boodskap dat sy ma op sterwe lê. In die stryd rondom Jakkie is Agaat die oorwinnaar, want Jakkie voel hom mettertyd veel nader aan haar as aan enigeen van sy ouers.

Die romangebeure word deurgaans uit die perspektief van Milla aangebied, behalwe in die proloog en 'n epiloog, wat uit Jakkie se perspektief gegee word. In die proloog is Jakkie op pad na sy sterwende moeder op Grootmoedersdrift; in die epiloog is die begrafnis verby en is hy op pad terug na Kanada. Soos Agaat, is hy 'n tussenfiguur, afgestoot sowel as aangetrek deur sy geboortewêreld, op reis tussen Kanada en sy vaderland.

In die epiloog word vertel hoedat Jakkie ná die begrafnis sy ma se kamer besoek en allerlei dinge daar aantref, onder andere sy ma se dagboeke, wat sy jeuglewe helder voor die gees roep. Hy neem, op aandrang van Agaat, 'n paar aandenkings met hom saam op die vliegtuig, onder andere 'n horing en 'n blaasbalk. Hierdie aandenkings, die lees van sy ma se dagboeke en veral die herinnering aan die storie wat hy telkens as kind by Agaat gehoor het (haar lewensverhaal in sprokiesvorm), sit sy verbeelding en sy kreatiwiteit op die vliegtuig aan die gang. Met verwysing na die blaasbalk en die horing roep hy homself op tot die herskepping van sy jeug. Die blaasbalk suggereer wind en vuur, die kragtige natuurdinge wat in sy skepping opgeneem moet word; die horing sluit aan by die blaasmotief, maar voeg iets daaraan toe. Soos met Des Knaben Wunderhorn, 'n versameling Duitse volksgedigte wat onder andere deur Mahler in toonsettings gebruik is, moet die wonder gebeur: herinnerings moet tot kuns getransformeer word. Tussen die proloog en die epiloog is die kunswerk wat tot stand gebring is, Jakkie se herskepping van sy herinnneringe - 'n polifoniese komposisie waarin musiekterme telkens voorkom en waarin 'n aantal sentrale leidmotiewe ontwikkel word.

Dit is dan die antwoord vir prosaïese lesers wat gewonder het hoe die verlamde Milla haar verhaal vir die lesers kan vertel en neerskryf. Agter Milla staan Jakkie, die skepper van die verhaal. Die feit dat die perspektief tussen "ek" en "jy" wissel, kan beteken dat Milla soms na haarself as "jy" verwys (dus met haarself praat); of die "jy" kan "'n mens" beteken; of dit kan daarop dui dat die roman 'n tipe tweegesprek tussen Jakkie en sy moeder is waarin hulle na mekaar uitreik en mekaar verwyt. In sommige tonele waar die "jy" besonder opvallend is, slaan 'n verwytende toon deur en word die noue betrokkenheid van Jakkie by die gebeure gesuggereer (bv p 335).

Jakkie staan dus "agter" die verhaal van Milla en Agaat; maar Agaat staan in 'n sekere sin weer "agter" hom. Daar is 'n suggestie dat Agaat hom ná die begrafnis na sy moeder se kamer gelok het, dat sy die kamer so ingerig het dat sy herinneringe in 'n bepaalde rigting gestuur word; daar is selfs 'n aanduiding dat Agaat met Milla se dagboeke gepeuter het.

Jakkie en Agaat het 'n uiters komplekse verhouding. Agaat het, deur haar hulp aan Milla by Jakkie se geboorte, Jakkie se lewe gered, hom as 't ware die lewe geskenk; sy het, meer as Jakkie se ouers, tot sy opvoeding bygedra; tussen hulle was 'n veel inniger band as wat ooit tussen Jakkie en een van sy ouers bestaan het. Nou is Jakkie die een wat gunste verleen: hy skenk op sy beurt aan haar 'n lewe deur die vertelling van die verhaal. Maar hierdie verhaal word op Agaat se terme vertel, veral met die gegewens wat sy verskaf.

"In die begin was die verhouding," het Martin Buber gesê. So is dit ook in hierdie roman. Die wêreld wat uitgebeeld word, word fundamenteel deur verhoudings bepaal, deur mense wat mekaar vorm en mekaar reflekteer, wat die wêreld na hul eie sin beskou en herskep. Daar is 'n oneindige verstrengeling van perspektiewe: agter Milla se gedagtes is die skrywer Jakkie; maar Milla word ook deur Agaat bepaal, en Agaat deur Milla; en die invloed van beide vroue op Jakkie is deurslaggewend. Wat die roman wil weergee, is nie "die werklikheid" nie, maar refleksie op refleksie op refleksie van die werklikheid - of, anders gestel, die "werklikheid" van verhoudings.

Van Jak, die man van Milla en die pa van Jakkie, het ek tot dusver geen melding gemaak nie. Hy is dan ook van minder belang in die boek. Jak is nie 'n baie aangename persoon nie - hy is gewelddadig teenoor sy vrou, rassisties teenoor Agaat, en lei sy seun op 'n katastrofiese weg. Op 'n hele paar plekke kom Jak erg karikatuuragtig voor (pp 25, 441, 525), en ek het my soms afgevra of die vaderfiguur nie nou al genoeg in die Afrikaanse letterkunde gely het nie. Tog is daar suggesties dat Jak 'n eie boeiende lewensverhaal het wat heeltemal anders is as die storie wat Milla van hom vertel (bv pp 367-375, 430-3). Hy is 'n slagoffer van Milla se manipulasie, en die skuld vir sy laakbare optrede lê kennelik vir 'n groot deel by sy vrou. Jak sien self in dat die storie van Agaat nie in die eerste plek sy storie is nie (p 565), maar dat dit fokus op twee fassinerende vroue teenoor wie hy maar bra petieterig vertoon.

Die storie van Milla en Jak, Agaat en Jakkie kan ook as die storie van die Afrikaner van die afgelope halfeeu gelees word. Die psigologiese geweld wat in die huisgesin op Grootmoedersdrift plaasvind, weerspieël op mikroskaal die strukturele geweld wat in die tyd van apartheid in die samelewing plaasgevind het. Jak verteenwoordig in 'n groot mate die konvensionele beskouings van 'n ouer geslag Afrikaners (hoewel daar by hom suggesties van 'n innerlike verskeurdheid is); Milla die Afrikanervrou probeer die harde hand van die pa versag, maar haar seun volg uiteindelik tog in die spore van die vader. Agaat se geboorte val saam met die begin van die apartheidsbewind in 1948; sy is die bruin Afrikaanssprekende, half aangeneem maar grotendeels verwerp deur die Afrikaner, gevorm na die hand van die meester, tot wie sy in 'n haat-liefde-verhouding verkeer. Jakkie, in 1960 gebore, is 'n Verwoerd-baba; hy is, soos Boetman, die bliksem in; hy verwerp sy ouerlike opvoeding, maar dit bly by hom spook.

In die uitbeelding van die Afrikaner-verlede sluit Marlene van Niekerk aan by die tradisie van die Afrikaanse plaasroman, maar sy bring 'n sterk eie aksent in die gesprek met hierdie genre. Tradisioneel is die Afrikanerman baas van die plaas; Grootmoedersdrift, soos wat die naam dan ook suggereer, is in wese 'n matriargie. Die vaderfiguur is óf telkens afwesig, óf doen die verkeerde ding as hy wel aanwesig is, sodat vroue moet inspring en die tradisionele "mannewerk" verrig. Veral Agaat neem telkens die leiding wanneer daar 'n krisis is.

Die begin van Milla se siekte val saam met die aanvang van die "Nuwe Suid-Afrika"; die siekte is simbolies van 'n innerlike verlamming by die Afrikaner. Milla se siekte is deel van 'n meer algemene siekte. Mettertyd word dit duidelik dat die plaas volledig besmet is - die grond word totaal uitgeput en die diere vrek op 'n streep. Soos in Hamlet se Denemarke van destyds is iets hier wesentlik "rotten". Die verrotting moet tot ondergang lei, en Jak se dood, Milla se siekte en sterwe en Jakkie se vertrek uit die land voorspel die einde van 'n era van Afrikaner-oorheersing. Die plaas word aan Agaat bemaak - die bruin vrou, die dubbel-gemarginaliseerde, word uiteindelik die heerser. Soos in Etienne van Heerden se Toorberg, soos in JM Coetzee se Disgrace, het die meul gemaal, die wiel gedraai.

Uit die bespreking tot sover blyk dit dat Agaat ryk is aan boeiende karakters en menseverhoudings en aan stimulerende lewensfilosofie. Dit alles sou niks help as die skrywer nie daarin geslaag het om dit te klee in 'n toereikende struktuur en taal nie. Daarin het Van Niekerk uitmuntend geslaag. Die roman het 'n hegte struktuur deurdat al die hoofstukke 'n soortgelyke, vierdelige patroon bevat. Dit begin met Milla se gedagtes in die hede, as pasiënt van Agaat; dan dwaal Milla se gedagtes na die verlede terug; vervolgens is daar 'n liriese bewussynstroom; en ten slotte uittreksels uit Milla se dagboek. Hierdie patroon is nooit vervelig nie, omdat dit steeds afgewissel word. Dit verhoog die boeiendheid van die boek omdat die storie 'n vierledige ontwikkeling bevat, met 'n aantal kleiner klimakse en uiteindelik 'n sterk hoogtepunt in elke deel. Verlede en hede word in die verskillende dele naas mekaar gestel, en die omkeer van Milla en Agaat se rolle word sodoende sterk beklemtoon. Deur raaiselagtige vooruitwysings word spanning by die leser gewek; veral wát presies met die aanneming van Agaat gebeur het, wek vrae by die leser - vrae wat eers heel aan die einde beantwoord word. Dit alles word heg verbind deur die raam van die proloog en die epiloog. Miskien was Warren en Wellek nie so verkeerd toe hulle ons, jare gelede, geleer het van die belangrikheid van "amount and diversity of material integrated" nie. Ewenwel, dit is wat in hierdie roman gebeur.

En dan die taalgebruik. Wee die arme vertaler wat hieraan reg moet laat geskied! Kostelike Afrikaanse name en uitdrukkings word in die boek vasgelê, name soos "Twaalfuurkop" en "purperwinde", en aardse uitdrukkings soos "ek skroef jou pieletjie vir jou op soos vliegpapier" (299). In die taal van die roman word die soetheid en die wreedheid van 'n verbygaande Afrikaanse wêreld opgeroep, word weersin en nostalgie, oordeel en deernis, byeengebring. "Ek bewonder onse Liewe Heer vir sy estetiese vermoë om 'n wêreld te skep wat tegelyk hemel en hel is" - so mymer Jakkie (p 702). Dit is presies wat Marlene van Niekerk met hierdie roman reggekry het.

"Die woordrykheid van die lewendes" - so kla Milla op 'n keer oor haar buurvrou (p 285). Sommige lesers sal sê: "Hoor wie praat. Die woordrykheid van Milla is vir my eens te veel." Oor hierdie kwessie sal lesers maar met mekaar moet verskil. Op Grootmoedersdrift word inderdaad met woorde geboer - en daar is baie van hulle - maar vir my blyk die woorde tog steeds, by 'n noukeurige analise, nodig te wees.

Agaat vra wel van die leser inspanning, 'n langdurige konsentrasie, maar dit is ryklik die moeite werd. Dit is 'n monumentale werk, 'n tour de force.

 

Eerste publikasie: 12 November 2004
Oorspronklike skakel: http://www.oulitnet.co.za/seminaar/agaat.asp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top